DA se krake word groter na Zille se verkiesing

  • 0

Die bedanking van Johannesburg se burgemeester, Herman Mashaba, uit die DA pas nadat Helen Zille die naweek verkies is tot voorsitter van die party se federale raad, het die verdeeldheid in die DA verder op die spits gedryf.

Mashaba het sy bedanking uit die DA en as burgemeester van Johannesburg Maandag tydens ’n nuuskonferensie aangekondig, enkele ure nadat Zille as die voorsitter van die DA se federale raad aangewys is.

Herman Mashaba (Foto: YouTube)

Hy het sy kommer uitgespreek oor die DA se toekoms en sê dit is dalk ’n oorwinning vir diegene wat nie met sy waardes saamstem nie. Mashaba sê hy kan homself nie vereenselwig met ’n groep mense wat glo dat ras irrelevant is wanneer die kwessie van mense se maatskaplike ekonomiese situasie hanteer moet word nie. Hy het die inwoners van Johannesburg bedank en sê dit was ’n eer om hulle van diens te wees.

Die DA-leier Mmusi Maimane se toekoms is ook op die spel. Daar is ’n faksie in die party wat sy kop eis. Die Sondagkoerante het die naweek berig dat ’n spesiale verslag oor die DA se swak verkiesingsuitslag vroeër vanjaar waarsku dat die DA net soos die ou Nasionale Party kan verdwyn as daar nie van Maimane ontslae geraak word nie.

Die verslag is opgestel deur die voormalige DA-leier Tony Leon, oud-DA-strateeg Ryan Coetzee en bankbaas Michiel le Roux. Hulle moes die verslag ironies genoeg in opdrag van Maimane self opstel, maar spreek ’n verdoemende oordeel oor sy leierskap uit.

Die verslag bevestig die verdeeldheid in die DA en die ontevredenheid oor die party se leierskap. Coetzee het op Twitter ’n lys dinge genoem wat die DA volgens hom terselfdertyd kan wees, soos liberaal, ten gunste van regstelling, gekant teen ’n rasgebaseerde beleid, passievol oor armoedeverligting, pro-mededingende markte en insigryk vir die emosionele impak van Suid-Afrika se verlede. Die DA behoort volgens Coetzee al hierdie dinge tegelyk te wees.

Sy twiet het ’n stortvloed uiteenlopende kommentaar uitgelok. Die politieke ontleder, Piet Croucamp, het getwiet: “Alle dinge vir alle mense ... sterkte”.

Die DA-leier Mmusi Maimane het Mashaba se bedanking uit die party en as burgemeester van Johannesburg betreur. Hy sê Mashaba is ’n vriend en kameraad en hy beskou hom as sy held.

In ’n onderhoud met eNCA se Tony Ndoro het Zille gesê sy het geen mag om in te meng met Mashaba se werk as burgemeester van Johannesburg nie. Sy sê hy het ook geen gesprek oor sy voorgenome bedanking met haar gehad nie.

Mashaba het in sy bedankingstoespraak gesê die DA is nie meer die party wat in staat is om te bereik wat hy graag wil bereik nie, naamlik om die land te red, die ANC uit die kussings te lig en een Suid-Afrika vir almal daar te stel.

Die ANC het intussen gesê hy is nie geskok oor Mashaba se bedanking nie. Volgens die ANC het sy bedanking bitter min te doen met die verkiesing van Zille as voorsitter van die DA se federale raad. Die ANC sê hy het bedank weens die finansiële krisis waarin hy die stad Johannesburg geplaas het. Volgens die ANC hardloop hy weg van die feit dat die stad weens sy toedoen bankrot is.

Zille se teenstander vir die pos as voorsitter van die DA se federale raad, Athol Trollip, het haar op Twitter geluk gewens met haar oorwinning. Hy sê die DA is ’n demokratiese organisasie en demokrasie het gewen.

 

Lees ook 

DA skarrel oor taal en twiets

Antie Pat wil DA weer in die hof pak gee

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top