Nadat verlede jaar sy Boekenweekgeschenk vir die Weken van de Spannende Boeken verskyn het en dit positief in die Lae Lande ontvang is, is Deon Meyer driekwartpad klaar met die volgende boek. Meyer, ’n Afrikaanse skrywer wie se werk internasionaal in aanvraag is, het met Willem de Vries oor die boek en die ontvangs van sy werk in die Nederlande gesels.
Jy is pas byna klaar met ’n nuwe boek. Waar pas dit in by jou ander verhale? Hou dit verband met enigiets rakende die Boekenweekgeschenk vir die Weken van de Spannende Boeken? Vertel asseblief iets meer oor die komende roman. Word dit ook in Nederlands vertaal?
Dit is inderdaad ’n nuwe Griessel-roman, en hou nie verband met die Weken van de Spannende Boeken in 2018 nie. Ek het my beurt in 2017 gehad, en die eer behoort nou aan ’n ander skrywer.
Die nuwe boek hou darem verband met Die vrou in die blou mantel, in dié opsig dat dit ten minste gebeure rondom Bennie se trouplanne voortsit. Die werkstitel is Prooi, en dit speel tegelyk in Bordeaux, Parys, Amsterdam en Kaapstad af. Ongelukkig kry Griessel en Cupido nie hierdie keer ook die geleentheid om te reis nie.
Ek weet nog nie of dit in Nederlands vertaal gaan word nie. My Nederlandse uitgewer sal besluit eers nadat hulle die manuskrip gelees het.
Is daar Nederlandse skrywers van misdaadfiksie van wie se werk jy hou? Indien wel, vertel asseblief wat aan hulle werk tot jou spreek.
Ek moet beken dat ek nog nie die geleentheid gehad het om Nederlandse misdaadfiksie te lees nie.
Jou werk verskyn in verskeie tale en in Europa is daar ’n groot aanvraag daarna. Die Boekenweekgeschenk se Afrikaanse variant is Die vrou in die blou mantel, waarna jy reeds verwys het. Het die Nederlandse geleentheid jou voor bepaalde eise gestel?
Die groot eis was natuurlik ten opsigte van die (kort) lengte van die novelle – onder die 30 000 woorde, teenoor my gewone romans van 100 000 of meer. Ek wou uiteraard graag dieselfde gehalte probeer handhaaf in terme van karakterisering en verhaalgegewe, en moes maar mooi meet en pas.
Wat is jou ervaring van die Nederlandse boekkopende publiek en lesers?
Ek is met groot warmte en gasvryheid regoor Nederland ontvang tydens die boektoer verlede jaar, en sal die land en sy mense ewig daarvoor dankbaar bly. Die reaksie op die boeke was ook klaarblyklik darem positief.
Hoe vergelyk deelname aan ’n Nederlandse fees met, argumentsonthalwe, ’n Stellenbosse Woordfees of ’n Oopboekfees in Kaapstad?
Ek het nog nie aan ’n Nederlandse fees deelgeneem nie.
’n Mens sou kon verwag dat jy vir die Boekenweekgeschenk vir die Nederlandse lesers iets meer sou vertel om die Suid-Afrikaanse konteks in te vul, maar dit blyk dat die Afrikaanse uitgawe langer is as die Nederlands. Waaraan is die verskil toe te skryf?
Daar was ’n spesifieke beperking op die Nederlandse lengte weens die groot oplaag (meer as 300 000). Met die Afrikaans was daar geen beperking nie, en kon ek die oorspronklike manuskrip sonder snitte aanbied.
In die Lae Lande is die “literaire thriller” ’n gevestigde genre in boekwinkels en word jou boeke telkens daaronder gelys. In jou magisterverhandeling wat jy by Marlene van Niekerk geskryf het, belig jy verskillende benamings en begrippe in die genre. Is daar vir jou ’n spanning tussen “literair” en “thriller”? En hoe voel jy oor die stand van “noir”, ’n woord wat wyd toegepas word en waarmee die “donker” kant van die genre eintlik voorop gestel word?
Ek moet beken dat ek hoegenaamd nie dink aan literêr-teoretiese definisies, genre-grense of die etikette wat my werk omgehang word nie. Nie tydens die skryfproses óf daarna nie. My verantwoordelikheid is uitsluitlik om so ’n lekker storie as moontlik te skryf. Ek het geen begeerte om “literêr” te skryf, of vir my boeke om so genoem te word nie. Met my MA-verhandeling is daar van my verwag om analitiese denke oor die vakrigting aan die dag te lê. Met die skryf van misdaadfiksie, gelukkig nie.
Die probleem met ’n term soos “noir” is dat die definisie daarvan klaarblyklik wissel na gelang van die era waaruit ’n boek kom, en selfs die land waar die bespreking plaasvind. Die stand van “noir” sal byvoorbeeld sekerlik anders in Skandinawië as in Brittanje wees. Oor die algemeen is die stand daarvan net so gesond (of ongesond) soos in enige ander era die afgelope 60 jaar.
In gesprekke en artikels oor misdaadfiksie word telkens melding van gemaak dat verhale in dié genre as ’n lens beskou kan word waardeur ’n land soos Suid-Afrika bespreek kan word. Leen misdaadfiksie hom tot ’n nuwe soort betrokkenheid? Is die beste werke in dié genre boeke wat spruit uit ’n sekere afstand of eerder ’n gevoel van deelname?
Ek dink nie misdaadfiksie is ’n beter of slegter lens (of soort betrokkenheid) as enige ander genre of literêre vorm nie. Dit is bloot eiesoortig, soos enige ander genre of literêre vorm. Nogeens moet ek beken dat dit in die skryf daarvan vir my irrelevant is. Ek laat dié debatte met verligting oor aan resensente en akademici.
Verskil in jou ervaring die gesprekke en besprekings in die Lae Lande van dié in Frankryk as dit gaan om misdaadfiksie? Jou werk is baie gewild in onder andere hierdie twee lande.
Nee, ek dink nie daar is noemenswaardige verskille nie. Inteendeel, dit is my indruk dat die reaksie op my werk – en die gesprekke daaroor – maar eintlik oral breedweg dieselfde is.
Gegewe die spesiale verwantskap wat tussen Afrikaans en Nederlands bestaan, watter soort reaksie op jou werk uit die Lae Lande is vir jou die interessantste en miskien die mees onverwagte?
Soos ek hier bo gemeld het, is die reaksie van lesers in die Lae Lande feitlik identies aan dié van lesers oral. Ek kan nie noodwendig enigiets uitsonder nie.