"Die bestaanheid is genoeg" – ’n onderhoud met Elsa Joubert

  • 0

Op 6 November 2017 het ek op versoek van die Stellenbosse Woordfees-organisasie ’n onderhoud met Elsa Joubert in haar woonstel in Berghof, Hofstraat, Kaapstad gevoer. Die byna twee uur lange onderhoud is professioneel opgeneem en volledig getranskribeer. Daarna het ek dit verkort en geredigeer. Die transkripsie is op Maandag 5 Maart 2018 om 10:30 voor ’n uitverkoopte saal in ’n PowerPoint-formaat vertoon, terwyl die klankbeeld tegelykertyd uitgesaai is. Ek het tydens dieselfde sessie ’n gesprek met Nico Steytler, Elsa Joubert se seun, en haar uitgewer by Tafelberg, Etienne Bloemhof, gevoer.  

Kort voor die sessie oor Spertyd tydens die 2018 Woordfees. Regs van Ena Jansen sit Nico Steytler, Elsa Joubert en Klaas Steytler se seun, en regs van hom sit Etienne Bloemhof, uitgewer by Tafelberg.

Die sessie oor Spertyd tydens die 2018 Woordfees.

Die aanleiding tot die onderhoud was dat die derde deel van die gevierde skrywer se outobiografie toe sopas in haar 95ste lewensjaar as Spertyd verskyn het. Dit is iets meer as 200 bladsye lank en handel oor Elsa Joubert se ervaring van die lewe in ’n aftreeoord in Kaapstad. Die herinneringe aan haar lang lewe wat dié tyd voorafgegaan het, is in twee vorige boeke as ’n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009) gepubliseer.

Die onderhoud word hier in dieselfde informele gesprekstyl soos wat dit plaasgevind het weergegee. Ena Jansen se vrae en opmerkings word in kursief gedruk, terwyl Elsa Joubert se antwoorde in gewone font is. Die opname van die gesprek sal met verloop van tyd aan die Universiteit van Stellenbosch se argiefafdeling bemaak word.

Die transkripsie van die onderhoud word later vanjaar in ’n spesiale uitgawe van die vaktydskrif Stilet gepubliseer.

Elsa Joubert en Ena Jansen in Berghof tydens die onderhoud. (Foto: Stef Glen)

Elsa, dit is vir my regtig ’n verskriklike groot voorreg om met jou vanmiddag te praat. En ek dink die beste manier om oor ’n boek te begin praat, is altyd om die skrywer te vra om self so gou moontlik aan die woord te kom. So ek wil baie graag dat jy die eerste, ek dink dit is drie paragrawe, van jou eerste bladsy lees.

Goed.

“Hulle sê jy sak terug na jou wortels wanneer die winde van tyd jou liggaam en jou gees begin skeeftrek. Die vernouing wat tyd bring. Die verminderde beweeglikheid. Verstarring van die gees. Die aflê van die ou, vertroude norme. Byna sê ek die aflê van drome. Op ’n fisieke vlak: die beperkings aan beweging wat chronies foutiewe ledemate jou bring. Om ’n onbekende paadjie te stap is moedswillig. ’n Stoel in ’n vreemde se sitkamer is ’n konfrontasie. ’n Rit in ’n vreemdeling se motor is ’n drama. ’n Afdraai van die teerpad op die sinkplaatpad is ’n katastrofe. Self bestuur, ’n eie motor, is ’n herinnering wat al lank agter die kim weggesak het. En die siddering, die vibrasie wat die vliegtuig in versnellingsrat op jou ganse gebeente afstuur, is nie meer vir my nie. My laaste rit van Johannesburg na Kaapstad het ek heelpad staande oorleef. Al pad wat met minimum angs aangepak kan word, is die pad na die verlede.”

Baie dankie. Kan jy miskien vertel hoe reis in jou skryfwerk, in jou bestaan, vir jou van belang was?

Ja, ek kan. Reis is vir my ’n belangrike ding as ek skrywe, want ek voel as jy reis is jy uit jou groef uit, en jy is bietjie ongemaklik. Daar is ’n ligte spanning by jou, want jy verken nuwe, nie wêrelddele nie, maar dele wat vir jou nuut is en al jou sintuie is verskerp. Ek dink altyd, die eerste keer wat jy ’n nuwe stad binnegaan, sien jy amper meer as die res van die tyd, want alles maak so ’n sterk indruk. So reis is nie doelbewus as metafoor gebruik nie, dis bloot die waarheid.

Ek moet sê, weet jy, dit versterk die leeservaring om tegelykertyd baie letterlik te lees, en tegelykertyd ook te weet wanneer jy vir Nico bedank hier in die erkenning, jou seun Nico, dat hy vir jou gesê het: “Ma het altyd vreemde plekke besoek en daaroor geskryf. Nou lê die kontinent van die ouderdom voor. Betree dit, en skryf daaroor.” So ook: “Gaan op reis.”

In die ouderdom in.

Ja.

Iets wat ek gevind het, en dit is my groot riglyn, is dat mens kan nie net in die algemeen praat oor die ouderdom nie. Elkeen se ouderdom is anders, jy weet? En jy kan nie jou voorberei op ouderdom na ander mense se ervarings daarvan nie, want joune gaan heeltemal anders wees.

Ja. So wat dit betref, is elke een ’n absolute nuweling, ’n amateur? ’n Novice.

Absoluut. Jy weet nie hoe om dit te hanteer nie, want soms, selfs nou, wat jy al ’n rukkie in die ouderdom is, wat ek dit nou eintlik eers begin voel, jy weet nie, moet jy nou jouself handhaaf of moet jy oorgee aan die ouderdom? Moet jy hom baklei of moet jy jou oorgee?

Wat sal oorgee inhou? Hoe sal ’n oorgee-dag verskil met aanhou baklei?

’n Paar goed moes ek oorgee, wat ek nie anders kon nie. Maar byvoorbeeld as ek nog wou skryf. Ek wil nie, want ek voel net ek moet nou tot ’n einde kom, maar dan sal jy ... By my was dit die laaste ruk, my rekenaar was vir my baie swaar. Dit was asof die rekenaar in ’n persoonlike stryd teen my was. My vingers ... Jy sien, dis al hierdie goed wat die ouderdom het. Jy besef nie, maar kyk, jou vingers is nie meer so rats nie, en as ek tik, en ek tik al van 1950 op ’n rekenaar, 1965, dan druk jy nie een sleutel nie, jy druk drie! Jou vingers kan nie so regaf peil op die sleutel wat jy nodig het nie. Jy sien oumense met hulle pyp sukkel, om te stop. Jou vingers is definitief ... Al is hulle nog sterk.  

Ja, jy haal iewers jou ma aan. Jy verwys daarna dat sy gesê het: “My fingers have lost their cunning.” Daai bedrewenheid.

Ja. Presies. Dan kan jy nie meer eintlik lekker tik nie. Jy kan nie lekker skryf nie. Ek het ook ’n probleem. Ek onthou nie meer so goed nie. Ek sal twee keer ’n toneel skrywe, ek het dit in my kop en dan vergeet ek, ek het hom al geskryf. Dan sit ek later met twee versions van dieselfde een en ek weet nie watter een is goed nie. Al twee is vir my goed. Daai soort ding is nie meer lekker nie.

Spes Bona, waar Elsa Joubert se ma as jong vrou gebly het.

“My ma beweeg dikwels deur my kop vandat ek hier in Hofstraat bly. Ons noordelike bure is die Spes Bona-losieshuis vir damestudente, met ’n ‘lady warden’ soos van ouds. Hier het my ma ’n jaar lank loseer toe sy vir haar T2-onderwysdiploma studeer het. Sy het elke dag in Hofstraat afgestap, dan Oranjestraat, daarna afgedraai in Buitenkantstraat na die Rust en Vreugd-gebou, hulle klaskamer, vandag ’n historiese erfenisgebou. Sy het hierdie ou strate, vandag herbou, goed geken, miskien selfs, soos ek dikwels maak, ’n verbintenis met die ou geboue gevorm.” (Spertyd, bl 81)

Ja. Het Nico jou kon help, en jou kleindogter, om net die teks strak te kry?

Verskriklik baie. Man, my studeerkamer, jy weet mos, daar ander kant?

Ja.

Ek het uitgevind nou is dit té lekker om my papiere neer te sit. Dan weet ek, daai papiere moet daarso gaan en daai een daar. Maar môre weet ek nie meer nie. En sy’t nou net haar LLB klaar gemaak met haar werkstukke, en sy’s in die ding.

Jou kleindogter?

Ja. Dan vat sy die hoofstuk, en dan lees sy dit, dan lees sy die ander ene, dan sê sy: “Dis die beter ene.” Dan’s ek so bly dat iemand vir my daai besluit neem.

Ja, dis ’n goeie redakteur hier op jou eie drumpel.

Ek het die boek twee keer gelees, en jy weet, as ek met jou oor die pad praat in jou werk, dan is daar byvoorbeeld ook hoofstukke: “Doodloopstraat”, “Hobbels In Die Pad”, “Kamp Opslaan”, “Saamstappers”, jy weet? Daar’s allerlei hoofstukke wat hierdie reis-idee deurtrek.

Dit is die idee, dat dit die reis deur die ouderdom is.

Ja, en dit het ’n baie kragtige soort eenheid-gevoel, hierdie boek.

Ek is baie bly.

Wil jy ’n bietjie verduidelik hoe jy by die titel “Spertyd” uitgekom het?

Ek sê nou die dag vir my seun ... Hy was baie vír die titel, en my ander dogters ook, en ek sê hier by ons is so baie Engelse mense, hulle het nog nooit van “spertyd” gehoor nie. Gee my net een gebruikswoord in Engels. Wat sal jy sê is die Engels van dit? Hy sê: “Ma, dis eenvoudig. Deadline!” Jy weet? En so is daar baie betekenisse aan “Spertyd”. Dit is tyd, amper, van vergunning wat jy jouself skenk, om soos Braam sê, tot verhaal te kom. Of om af te reken met dinge. Of met jouself af te reken. Of dinge bietjie in verband te sien. Dis vreemd hoe baie goed opkom in jou lewe wat jy nie eers gedink het jy gaan oor skryf nie. Maar dit is asof geheue vir jou baie, baie help en jou geheue ook bepaal wat moet kom.

Spertyd. Die boek is in die skrywer se 95ste lewensjaar voltooi. Kort voor haar dood het Elsa Joubert verneem dat die LW Hiemstra-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir hierdie werk aan haar toegeken is.

Jy word opgeruk, amper. Jy moet rondom jou kyk, jy moet kyk waar jy staan en wonder hoe’t jy hier gekom. En, nou goed. Wat kan jy maak van dit? Jy moet sin maak uit iets. ’n Baie groot deel daarvan is die behoefte aan, en dan die tyd word jou gegee om te probeer sin maak. Ek dink dis baie goed vir enige mens, oud of jonk, om bietjie somtyds na sy lewe te kyk en probeer die ding in perspektief sien.

Toe ek jou gevra het om die eerste drie paragrawe van jou boek te lees het ek jou gevra om te stop by daai laaste sin, “al pad wat met minimum angs aangepak kan word, is die pad na die verlede.” Sou jy kon saamstem? Dit voel of daar twee plekke is wat jou hede en jou verlede voortdurend met mekaar in verband bring. Jy sit en jy is op die oomblik hier in Berghof in die aftreeoord, en jy’s baie konkreet oor alles wat jy hier ervaar, maar voortdurend ook praat jy oor Nantesstraat, oor die Paarl, en hierdie twee plekke is eintlik ook asof hulle met mekaar in gesprek is.

Ja.

So miskien as jy eers ’n paar sinne wil lees oor hoe Berghof is, die plek waar jy jou nou bevind, die afgelope jare al.

“My aftreeoord is ’n rooibaksteengebou van vyf verdiepings hoog. Voor langs die erf is ’n ry garages, en agter die garages, maar op ’n laer vlak, nog meer garages. Want ons almal kom hierheen, blymoedig met ons motorkarre. Ons woon in woonstelle van verskillende groottes wat wes kyk na Leeukop se kant, of oos na die hospitaal en na Tafelberg. Ons woon in ’n kloof sommer hier naby die middestad, met ’n waterstroompie wat deur ons tuin loop. Hoe hoër die woonstel, hoe mooier die uitsigte. Ek het ’n tweede, kleiner woonstel net oorkant die gang van die eerste bygekoop om as studeerkamer in te rig, dus het ek hierdie verruklike uitsigte sowel na wes as oos. Van ons voorhek is dit net oor Hofstraat, deur die hospitaalterrein, dan net Moltenostraat, en ons is De Waal Park. Ek gaan stap talle kere op ’n dag in die park. Alleen, op enige uur, totdat ek ’n hou oor die kop kry, en platgestamp en beroof word van ’n goue kettinkie wat ek op die ou mark in Istanboel gekoop het.”   

Elsa Joubert se woonstel kyk uit op Hofmeyrstraat en Leeukop, wat sy dikwels in Spertyd beskryf. Een mistige volmaannag gaan sy alleen na die boonste verdieping van Berghof en kyk “heeltemal gefassineerd, gemesmeraais, bang” weswaarts.

“Die wit lig omraam en gee diepte aan die skitterende vorm. Dis ou Leeukop, net die boonste helfte, die onderste helfte is toe onder die mis.” (Spertyd, bl 165)

Dis jou onmiddellike werklikheid hier nou al vir baie jare. Jy skryf ook jou ma het hier naby in Spes Bona gebly. 

Ja, net langsaan.

Ja. En jou sussie, toe jy agt jaar oud was, is oorlede in die hospitaal wat net oorkant die pad is.

Ja.

Ek moes, toe ek nou-nou hiernatoe kom, dink wat TS Eliot geskryf het oor “in your end is your beginning” of “in your beginning is your end”.

Is your end.

Ja, dit is so ’n siklus.

Dit is. Dit was vir my snaaks, dis amper of jy tuis kom. En Hofstraat het ook vir my baie betekenis, want my sussie is begrawe in die Hofstraat-begraafplaas in die Paarl wat nou toe is. Niemand word meer daar begrawe nie. Dis baie mooi. Dis tussen die rivier en die berg. So Hofstraat was ’n emosionele woord vir ons in die huisgesin. Ons was altyd baie skrikkerig om te praat van Hofstraat, want my Ma kon net in trane uitbars, of so iets. Dis alles hoogs emosioneel belaaide plekke.

Die ou Volkshospitaal (nou Mediclinic) in Hofstaat waar Elsa Joubert se sussie oorlede is, toe Elsa 8 jaar oud was. Elsa Joubert is daar op 97-jarige leeftyd op Sondagmiddag 14 Junie 2020 oorlede. Hofstraat met Mediclinic links en Berghof en Spes Bona regs.

Hoe was Nantesstraat?

“Die boonste deel van Nantesstraat waar ek as kind gewoon het, is heilig. Net vier trappies van die stoep af na die voorhekkie. My pa wat met vertrekkende gaste by die voordeur uitkom sonder sy hoed, daarom voel-voel sy hand oor sy bles om die paar hare wat aan die een kant lank groei, oor sy kop te stryk. As ek aan hom dink, sien ek sy hand wat oor sy bles stryk. Hy’t dit by my sussie se graf gedoen toe ek agt jaar oud was. Hy’t dit op my bruilof gedoen toe ons by die voordeur uitkom, die laaste keer toe ons daar wegry, ’n week voor sy dood, het hy al koulik begin wegdraai, maar my ma het by die hekkie bly staan totdat die kinders ophou wuif, en die motor die draai gevat het na Meulstraat.”

Ek herinner my uit ’n Wonderlike geweld dat jy toe baie oor jou ouers geskryf het. Maar ook in hierdie boek sê jy ’n mens se ouers is, wat jy noem, “saamstappers”.

Ja.

Jy skryf hier in die opdrag van die boek, “aan almal wat ons bystaan op ons oudag en dit leefbaar maak.”

Jy weet dit nie voor die tyd nie, maar dis moeilik om ’n oumens te wees. Jy het iemand nodig. Hulle het in Engels die mooi frase, assisted living. Ek soek nog vir ’n Afrikaanse woord daarvoor. Assisted living, hulle maak jou reg vir die dag.

Hierdie Berghof-omgewing het vir jou groot geborgenheid gebring, selfs al is daar frustrasies. Want jy skryf ook oor die alleenheid, eintlik, dat almal op ’n stadium teruggaan na hulle eie blyplekke. Is dit moeilik om in so ’n plek vriende te maak?

Jy weet niks van die mens wat voor jou staan nie. Nou, moet jy nou begin vra om darem bietjie ’n idee te kry, of gaan jy nou net weer wonde oopkrap? Dit is vir my ’n moeilike ding daai. Jy moenie oor die toekoms dink nie. Want binne ’n paar dae het die mens ’n beroerte en hospitaal toe, en net weg.

Man, daar’s seker onderwerpe waaroor jy nie met almal praat nie. Ek meen soos godsdiens praat jy ook nie sommer nie. En ek dink die dood is ook so iets. Die mense sê nee wat, nou maak jy my bang, of so. Jy weet, dat hulle wegskram.

Ja. Om Eybers aan te haal: “As jy nie wil doodgaan nie, moet jy oud word”. Maar uiteindelik, ná die oud word, kom onherroeplik daardie laaste in-die-gesig-staar. Haar gedig wat so aangrypend is oor die laaste tyd, is “Uitsig Op Die Kade”. Dis ’n tipiese Amsterdamse soort uitsig, waar sy sê dis belangrik “om leeg genoeg te loop, om vol te loop met wat vanuit daarbuite vloei”. Dat jy oop moet staan vir wat van buite kom. Jou huis is met uitsig op Leeukop. Jy skryf so baie oor Leeukop. Jy skryf Nico-hulle eet by jou, hulle vertrek, jy skakel die ligte af, en daar is net ’n weerkaatste ... kamer. Asof, die buite het leeggeloop, jy’s gekonfronteer as’t ware met die laaste ...

Met die skyn van iets, nie met die werklikheid nie.

Jy praat van die skyn, ja. Van die skynlewe.

Man, dit is so, en ek praat van skimme. Maar jy weet, wat snaaks is vir my is hoe ons almal gewoond is aan metafore. Veral ouma is ’n begrip wat liefdevolle metafore optower, jy weet? Soos my ouma in kaneel, en dis net nie meer so nie. Oumas is deesdae nie meer in kaneel nie. Dis ’n vals beeld daai, want die tyd het dit ingehaal. Nou sê die mense nog hier: “Oe, ek is so bly die kinders kom volgende week.” Dan dink ek ja, daar was nou weer die oumabeeld en almal hang dit aan. Dis vertroostend, dis gerusstellend, maar ons taal moet heeltemal anders gemaak word, want al die begrippe het verander, of, baie van die begrippe het verander.

Elsa, mense sê dikwels daar’s ’n paar belangrike identiteitskategorieë. Dit is ras, dit is klas, dit is geslag. Maar dit voel al lankal vir my gesondheid en leeftyd is ook ’n baie belangrike identiteitskategorie.

Ja, absoluut.

Ja. Alles verander. Jy word ineens die ander.

Ek was al tagtig, en ’n vriendin sou daai jaar tagtig word, en sy sê vir my: “Elsa, is dit anders as jy tagtig word?” Ek sê: “Man, jy voel nie anders nie. Dis nog net jy wat deur daai oë kyk, maar ander mense dink jy’s anders. Hulle sit jou nou in ’n nissie. Nou’s jy van die tagtigjariges, nou is jy oud.” Maar dis nog niks nie. Kom by die neëntigerjare! Jy’s nie vandag neën-en-tagtig en die volgende dag neëntig nie. Jy bly maar dieselfde, maar jy’s dadelik in ’n ander nissie. “Wag, ek help jou op uit die stoel”, of “Wag, moenie uitklim uit die kar nie, ek sal jou help.” So, die mense sit jou in ’n ander kategorie amper. Ja, dit bring jou terug aarde toe ... met ’n boem.

Met ’n boem!

Lees jy die werk van ander skrywers? Die woord word deesdae gebruik “laat-werk”. Sê maar, selfs Breyten Breytenbach vat aan die tagtig, dink ek. Eybers, wat ek genoem het, het op negentig haar laaste bundel gepubliseer. Lees jy graag oor mense wat ook oor die, sê maar die grensaftasting van die lewe skryf?

Man, ek kan nie sê spesifiek nie. Ek lees ’n boek vir wat hy is.

Saam met jou boek het daar onlangs Karel Schoeman se boek Slot van die dag verskyn op sewe-en-sewentig. Dus heelwat jonger, maar wel op die einde van sy lewe geskryf. So, dit is opvallend dat daar ’n groot behoefte is, lyk dit, by skeppende mense, om tot aan die einde van hulle lewe te wil skryf. Jy’t so ’n mooi aanhaling van Sebald.

Ja, daai aanhaling was vir my so ’n riem onder die hart:

“There seems no remedy for the vice of literature; those afflicted persist in the habit despite the fact that there is no longer any pleasure to be derived from it, even at the crucial age when, as Keller remarks, one every day runs the risk of becoming simple minded, and longs for nothing more than to put a halt to the wheels ceaselessly turning in one’s head.” Pragtig gestel.

Ja, baie mooi.

Hierdie is vir my ’n riem onder die hart, want jy weet, ek neem nogal aanstoot as iemand vir my sê: “Maar kry jy nie end nie?”

Ja, of “Skryf jy nóg?”

Ja, of “Skryf jy nóg?”, ja. Daai “nóg” is liederlik. Maar “jy kry nie end nie” is nog erger, want dis soos ’n stout kind wat nie ophou skree nie. Ek het baie vreugde hieruit geput.

Daai wil om te skryf ...

Man, dis sterk, en ek sê vir jou, my vingers het dom geword en ek kan nie meer duidelik skryf nie. En ek het so ’n behoefte om in woorde my sin neer te skryf, jy weet, net iets vang. Want dit is die ding met skrywery, jy vang iets, jy probeer iets vang voor die stroom dit wegneem. Man, en ek kan nie meer dit self skrywe nie. Ek sê toe vir die versorger sy moet kom sit langs my bed, hier’s vir haar ’n pen en ’n boek, skryf my woorde. Jong, en sy wil nie Afrikaans skryf nie. Sy sê sy kan nie, sy kan dit nie spel nie. Ek sê: “Ek sal die woorde vir jou spel.” Nee, sy wil nie. Okay, toe sê ek dan sal ek dit in Engels sê.  

Die volgende dag se versorger kan Afrikaans skryf, toe laat ek vir haar sit langs my. Toe skryf sy dit vir my. ’n Paar van die woorde moes ek spel, maar sy kon dit skryf. Toe kon ek darem bietjie langer skryf. Maar die ongeluk is as jy so deurlees en regmaak, kan jy nie eers jou eie skrif in die regmaak lees nie. So dis nou ’n penarie om in te wees, hoor. Toe sê ek my kinders moet vir my ’n skryfboek bring met blokkies in. Toe dog ek, as ek nou drukskrif oefen ... Maar dís ’n moeilike ding, hoor. Ek het begin, ek dink ek het twee halwe blaaie vol, maar dit maak my te moeg. Dit is geweldig vermoeiend. Dan moet jy nog sit dat jou potlood nie in die skadu val nie, dat jy kan sien waar die lyne is van die blokkies.

Sjoe.

Maar ek het toe nie daarmee aangegaan nie.

Iets waaroor ek ook baie graag wou praat, is dat, ek dink vanaf die tweede bladsy in die boek, skryf jy oor Lenie. En jy skryf ’n paar keer ook oor hoe die vroue eintlik so belangrik was in wit Afrikaanse mense, Suid-Afrikaanse mense, se lewens. Jy praat oor die wit binnekante van bruin mense se hande. Sou jy iets oor die Lenie’s wil sê, jy weet dat dit my nou natuurlik as ’n onderwerp, as verhouding in Suid-Afrika, enorm interesseer.

Ja, ek sou graag wil. Ek het gedink ons sal hierby kom, want ek weet mos jou belangstelling. Man, ek het nie bedoel om eintlik oor so iets te skryf nie, want dis nou ’n ander spoor amper. Maar ek is gedwing om daaroor te skryf. Gedwing deur, amper, die meganisme van mens se geheue. Want die geheue gooi die goed op na jou. Ek het toe besluit, ek laat dit maar kom. Gaan deur met die herinnering. En eers toe ek amper klaar was, toe besef ek maar dis amper ’n subtema. Hierdie angsgevoel, of liewer hierdie skuldgevoel wat ek nie eers geweet het ek het nie. En ek het nie geweet ek onthou daai goed nie, tot dit daar uitgekom het.

Op allerlei maniere, dwarsdeur die boek, kom hierdie herinneringe deur aan situasies wat jou nog ry, kan ’n mens sê. Wat jou ...

Kwel.

Kwel, ja. Byvoorbeeld, jy praat oor die “donkiekarmense” met die “padkosboks”. Miskien kan jy daar iets oor ophaal? Byvoorbeeld, as jy na ou Lenie in haar kamer toe wou gaan.

Ja, en ook die baaibroeke. Dit het my gekwel. Die baaibroeke wat jy altyd ná die seisoen aan die bediendes gee vir die volgende seisoen. Dan sal my ma sê: “Maar anders het hulle nie baaibroeke nie”, maar dit het nog vir my gekwel. Ek weet nie of dit is, ons pas so versigtig ons baaibroeke aan, en daai is nou net wat vir jou gegee word nie. Maar elk geval, dis maar ’n klein episode daai. Maar ek het net nadat ek gesien het wat nou alles uitkom, en so, net geweet dit is ’n essensiële deel van die boek omdat dit in my ’n essensiële deel is en dit nog gekrap het. Daai goed moes gekrap het, anders het ek hulle nie onthou nie. Is dit nie wonderlik wat jou geheue doen nie?

Jy sê ook van die geheue, dis asof daar ’n soort vlies oor jou brein is wat beginne skif, so daar kom voortdurend goed uit die onderbewuste, uit die verlede na bo dryf, en klop, as‘t ware, aan jou deur van skryf daarook oor. Dit is nie Berghof se realiteit nou nie, maar dit is jou realiteit.

Dis my realiteit, ja.

Jy skryf julle speel op die strand, en as daar bruin kindertjies naby kom staan om te kyk wat doen julle, dat hulle weggejaag is.

Van die stranddienste. Daar was onmoontlike goed.

Ja, en dat mens dit normaal gevind het dat daai kindertjies weggejaag word terwyl hulle ma’s waarskynlik vir julle oppas.

En vir ons kosmaak by die huis.

Ek dink jy het ’n paar baie aangrypende herinneringe, wat dit betref, opgehaal. Jy skryf byvoorbeeld, as ’n kind slim, en byvoorbeeld in die Karoo oulik was in die kombuis, en die plaasmense kom dit agter en sê daai een is ’n voorslag, het daai kleintjie nie eers weer ’n kans gehad om terug te gaan skool toe nie, juis omdat sy so goed was. 

Dit was vir my skreinend gewees.

Ja. Een van die duidelik kritiese goed wat jy sê is dat die woorde van Van Wyk Louw, van “lojale verset” is eintlik so ...

Pap.

Pap, ja! Dis ’n baie mooi beskrywing. Iets om agter weg te kruip.

Dis altyd gebruik as ’n skild, ja, maar ons het gesê dis lojaal. Maar ons weet mos dis nie so nie. Die Broederbondmense en daai mense. Jy weet, dit is die “ons werk agter die skerms”, dit is “die lojale verset”. Dit was vir my baie flou.

 Jy praat van die versorgers en die versorgsters, en jy praat ook van die taxi-man, Dawid Klein, en jy noem hulle “die engele van die alledaagse bestaan” iewers. Dit het ek ook so mooi gevind. Jy sê jy sal nie omgee as hy eendag “die laaste knoppie van die hysbak vir my boontoe druk nie”.

Ja, dis ’n alleen paadjie. Jy weet nie wie of wanneer of hoe nie, maar dis net iets wat ... Ek brood nie daaroor nie. Wat is dit, tob? Ja, ek tob nie daaroor nie. Dit moet kom wanneer dit kom.

Ja, want jy sê ook nie hy sal saam in die hysbak wees nie. Die knoppie sal gedruk word, en ons sal elkeen alleen daai pad moet loop, daai reis moet voltooi.

Ek wou nou iets gesê het, maar ek weet nie of ek moet nie. Ek wou gesê het ... maar dit klink nou weer so sentimenteel. Belowe my jy sal sê ons hoef dit nie te gebruik nie? Ek het net een dag die versekering gekry dat die Onnoembare en die Onsigbare Krag was by met my geboorte, en dit sal by wees by my sterfte.

Dis belangrik dat jy dit noem, want ek het agtergekom in die tweede laaste hoofstuk, veral die laaste hoofstuk, daar’s ’n baie besondere introspeksie.

Dis waarom die hoofstuk se naam net “Stilte” is. Ek wou eintlik beklemtoon dat jou eie binne-stilte is die deur tot alles:  “Net ’n flentertjie van belewenis van die krag maak alles vir jou anders. Die natuur is so skoon dat dit seermaak. Mense, en menseverhoudings, word anders. Jou gemoed is anders. Hulle in my, en ek in hulle. Alles is liefde en lig. Alles is soos dit moet wees. Die bestaanheid is genoeg. En die sleutel hiertoe is in jou eie binne-stilte.”

Goed, Elsa, baie dankie.

Goed, baie dankie. Dit was baie lekker om met jou te gesels.

Bibliografie

Eybers, Elisabeth. 2004. Versamelde gedigte. Amsterdam en Kaapstad: Querido en Human & Rousseau.

Jansen, Ena. 2015. Soos familie. Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste. Pretoria: Protea.

Joubert, Elsa. 2017. Spertyd. Kaapstad: Tafelberg.

Lees ook 

Ena Jansen se Soos familie / Bijna familie in woord en beeld by Toyota US Woordfees 2020

Lees ook op LitNet

Elders gesien: In memoriam – Elsa Joubert

Elsa Joubert (1922–2020)

Buro: MvH
  • 0
Top