Ena Jansen se Soos familie / Bijna familie in woord en beeld by Toyota US Woordfees 2020

  • 0
“Met my boek wou ek wys dat outobiografiese tekste soos briewe en dagboeke, asook die letterkunde, op boeiende wyse insig gee in die omstandighede van ‘die bediende’ as ’n sosiale en ekonomiese instelling wat so ver terugstrek as die eerste jare van die VOC se vestiging aan die Kaap. Die ongelykheid wat tóé al struktureel tot stand gebring is, duur onteenseglik voort in die 21ste eeu.”

Beleef Ena Jansen se baanbrekersboek Soos familie / Bijna familie (Nederlandse vertaling) oor die rol van huiswerkers in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en letterkunde in woord én beeld by vanjaar se Toyota US Woordfees.

Feesgangers kan kyk na ’n unieke kunsversameling, byeengebring deur die Rupert Museum se direkteur, Robyn-Leigh Cedras, en Eliz-Marie Schoonbee, met van die oorspronklike werke wat in die boek gewys word.

....

Tentoonstelling: > 15 Maart 2020
11, 13 Maart 11:00 en 13:00: Rondleidings met Eliz-Marie en Ena Jansen
Bespreking noodsaaklik: 021 888 3344

Rupert Museum, Stellenbosch

....

Ena vertel meer oor die tentoonstellings.

Jou boek Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste verken die rol van huiswerkers in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en letterkunde – waarom is dit belangrik dat hierdie deel van die geskiedenis ondersoek en vertel word?

Die vanselfsprekendheid waarmee veral wit Suid-Afrikaners al eeue daarvan uitgaan dat hulle huise deur swart vrouens skoongemaak en dat hulle kinders en oumense deur goedkoop swart arbeid opgepas word, het sy herkoms in slawerny.

Karel Schoeman het baie tereg in Armosyn van die Kaap (1999 en 2001) opgemerk “dat slawerny, soos dit in 1658 aan die Kaap geïnstitusionaliseer is, die hele Suid-Afrikaanse samelewing en die verhoudings tussen alle rasse in die land uiteindelik diep, ingrypend en dikwels ook tragies sou beïnvloed”.

Historici, onder wie Anna Böeseken, Robert Shell, Leon Hattingh, Antonia Malan, Dan Sleigh, Wendy Woodward en Nigel Worden, het belangrike werk gedoen om die geskiedenis van slawerny te ontsluit, maar nog bykans niks is gedoen oor huiswerkers nie; hulle belangrike rol in die samelewing word in die offisiële geskiedenis so goed as verswyg.

Charles van Onselen en Hermann Giliomee het al opgemerk hoe belangrik hulle is, maar dis veral sosioloë en psigoloë wat die kompleksiteit van hulle werksituasie raaksien. Mense soos Jackie Cock, Shireen Ally en Tamara Schefer.

Omdat huiswerkers dekades lank en dikwels steeds die enigste swart en bruin mense is wat wit stedelinge enigsins van naderby ken en in hulle huise innooi, het hulle in die realiteit van Suid-Afrikaanse stede hoogs uitsonderlike posisies as “go-betweens”, as skakels tussen swart en wit kulture, tussen voorstede en gebiede waar wit mense byna nooit kom nie: die townships en voormalige tuislande.

Die tussengebied van huiswerk en die hoofrolspelers daarin het ’n fassinerende geskiedenis, maar mens moet wyd en diep soek om dit te ontsluit. Omdat ek wel baie in die geskiedenis geïnteresseerd is, maar veral ’n letterkundige is, het ek na hulle spore in Suid-Afrikaanse stadsboeke begin soek. En besef die letterkunde is ’n ryk argief waarin ’n komplekse mosaïekbeeld van swart en wit vroue se lewens op skrif gestel is, bewaar word en in die kollektiewe Suid-Afrikaanse geheue gevestig is. Dit beïnvloed tot vandag toe wit en swart mense se onderlinge verhoudings.

Wat Minnie Postma en Audrey Blignault oor hulle bediendes geskryf het, het byvoorbeeld beslis ons ma’s beïnvloed en steeds ook die volgende twee generasies. ’n Mens hoef maar net na Antjie Krog se reeks gedigte “bediendepraatjies” (2014) te kyk. Nie net die baasspelerige houding van baie werkgewers nie, maar veral ook hulle goedhartige paternalisme/maternalisme het te make met die enorme ongelykheid, selfs al het swart mense al ’n kwarteeu lank stemreg. Skuldgevoel speel hierin ’n groot rol. In die Rupert-museum is ’n paar van Antjie se gedigte tussen die kunswerke te sien. Dis ’n baie interessante inisiatief van die kuratore.

Wat is sommige van die sleutelpunte van jou boek wat die uitstalling aanraak?

Met my boek wou ek so na as moontlik aan die individualiteit van spesifieke vroue kom; Soos familie probeer daarom so veel moontlik vroue bevoorgrond wat anders anoniem en op die agtergrond sou bly. In alle subhoofstukke van die boek, veral waar ek romans bespreek, gebruik ek telkens die swart vrouekarakters se name as opskrifte, byvoorbeeld “Doreen en Gloria – Kaapstad, 1973” in plaas van “Mark Behr: Die reuk van appels (1993)”, of “Florence – Kaapstad, 1986” in plaas van “JM Coetzee: Age of Iron (1990)”.

Dat Eliz-Marie en Robyn-Leigh die briljante idee gekry het om hierdie organisasieprinsipe van my boek visueel uit te beeld deur die bykans 100 vroue wat ek noem se name op ’n lang lint af te druk wat om die tentoonstellingsruimte se mure gespan is, ontroer my.

Vertel asseblief meer oor die titel Soos familie, en die betekenis daarvan.

Toe ek op soek was na ’n gepaste titel vir my boek, het die familiemetafoor wat dikwels ten opsigte van huiswerkers gebruik word, my begin opval. Ek het sinne aangetref soos “She is like family” en “Sy is nader aan my as ’n suster.” Maar die punt is juis dat “sy” miskien sóós familie is, maar dit nié is nie.

Huiswerkers word baie keer soos kinders behandel, maar hulle is aan die ander kant dikwels vertrouelinge van hulle werkgewers, en word ook as “mamas” en “gôgôs” beskryf. Hulle stel hulleself – dikwels miskien aspris en strategies – as afhanklik op, waarskynlik omdat die praktyk leer dat werkgewers geneig is om toe te gee aan dié soort appèl wat aan hulle gerig word.

Bediendes is baie keer nou verstrengel by hulle werkgewers se gesinne omdat hulle geen eie familielewe het nie. Die vertroude en intieme praktyk dat swart vroue dikwels wit kindertjies op die rug ronddra, is ’n vroeë uitbeelding van die verstrengeling tussen wit en swart.

Koos Kombuis het ’n beroemde liedjie waarin hy, en duisende wat sy konserte bywoon, sing: “Kytie, jy was nie net ’n meid nie, maar ook ’n ma vir my.” Ronelda Kamfer het tereg eksepsie geneem teen die woord “meid” en ’n gedig oor haar “Antie Kytie” geskryf vanuit ’n bruin kind se perspektief. Albei hierdie uitbeeldings werk met die familiemetafoor – die ma-figuur word van teenoorgestelde kante gesien.

Die kunsuitstalling bevat van die oorspronklike werke wat in die boek gewys word, soos dié van Irma Stern, Marlene Dumas en David Goldblatt – vertel asseblief meer oor hierdie werke en waarom dit deel uitmaak van jou boek en uitstalling. Waarom is dit by die verhaal geïnkorporeer?

Terwyl ek Soos familie aan die skryf was, het elke voorstelling van huiswerkers my begin opval en fassineer. In films, toneelstukke, en kuns. Selfs die EFF-parlementslede se rooi uniforms, wat trouens nes Eve Sisulu s’n in Madam & Eve lyk! Omdat die visuele element wat kunstenaars se uitbeeldings van huiswerkers bring, so ’n fantastiese aanvulling is by die romans en kortverhale wat ek bespreek, was dit vir my vreeslik belangrik om ’n kleurbylaag in die boek te hê met ’n hele klompie ongelooflike kunswerke.

Dat Dorothy Kay se Cookie, Annie Mavata (1956) op al drie uitgawes van my boek pryk, wys hoe hoog ek dié skildery ag. Sy dra, nes Irma Stern se Maid in uniform (1955), haar werksklere, maar sy word nie daardeur gestereotipeer nie. Haar blik is direk op die beskouer gerig en haar individualiteit en persoonlikheid word stewig gevestig danksy besonderhede soos haar bril, oorbelle, die vou van haar doek, die pragtige lang voorskoot en die blou moue van haar rok. Die bak op haar skoot is leeg, maar die mes word doelgerig vasgehou – sy is gereed vir haar werk, sy weet wat sy doen.

Kay se skildery is reeds jare in die versameling van die Pretoria-kunsmuseum, maar die afgelope maande in bruikleen gegee aan die nuwe Javett-museum. Dat Eliz-Marie en Robyn-Leigh dit reggekry het om Annie Mavata uit Pretoria te laat invlieg Stellenbosch toe, is ’n groot geskenk – vir ons almal wat haar nou hier in die Boland kan sien. Marion Arnold het trouens ’n pragtige hoofstuk in haar boek Women and art in South Africa (1996) aan “Portraits of servitude” gewy. Keith Dietrich se Mmopeng, Mmamule and Mmathabeng (1985) word ook bespreek en is ook in my boek.

Een van Mary Sibande se belangrikste en grootste installasies word ook in die Rupert vertoon. Stellenbossers ken Sibande se werk, omdat sy drie jaar gelede die feeskunstenaar was. Sy het haar loopbaan gebou op die uitbeelding van haar alter ego Sophie wat in uitbundige Victoriaanse variasies op tradisionele huiswerkerdrag geklee word. Sowel Mary se ouma as haar ma was jare lank huiswerkers. Zanele Muholi se Massa and Minah II (2008), waarin ’n huiswerker deur die bene van haar “madam” loer terwyl sy op haar knieë die vloer politoer, is ’n konfronterende perspektief. Nes Sibande, vertolk die kunstenaar self die huiswerkerrol. Ook háár ma was ’n huiswerker wat 42 jaar vir dieselfde gesin gewerk het.

’n Ander belangrike swart kunstenaar van wie werk op die tentoonstelling is, is Senzeni Marasela. ’n Groot Marasela-oorsigstentoonstelling sal ook binnekort in die Zeitz MOCAA te sien wees. Op bruikleen van die Iziko-kunsmuseum in Kaapstad is haar baie besonderse Colonial tray cloths (1997). Foto’s wat die lyding van swart mense uitbeeld, byvoorbeeld die beroemde Soweto-foto van Hector Pieterson deur Sam Nzima, is deur Senzeni afgedruk op kantskinkbordlappies en op silwer skinkborde geplaas. Sowel die voorskote wat Sibande en Muholi se “karakters” dra as Marasela se skinkborde is natuurlik by uitnemendheid simbole van diensbaarheid. Dink maar aan een van die treffende eerste tonele in Christiaan Olwagen se film Poppie Nongena (2020) waar sy ’n skinkbord teen die trap opdra.

Hoe komplementeer die visuele die geskrewe? Met ander woorde, hoe dra die kunswerke by tot die verhaal wat vertel word?

Skrywers beskryf uiteraard ook soms huiswerkerkarakters se take en kleredrag; hulle verwys na goed soos besems, voorskote en skinkborde. Maar die visuele impak van hierdie tipiese elemente van diensbaarheid is op skilderye, foto’s, installasies en film net eenvoudig veel meer onmiddellik en kragtig. Trouens, in die film wat Olwagen op Elsa Joubert se roman van 1978 gebaseer het, het hy fassinerende visuele beelde toegevoeg.

Die feit dat Poppie dikwels ’n besondere kleur blou uniform en doek dra, het my uiteraard aan Annie Mavata laat dink, maar veral aan die kleur waarin beeldende kunstenaars deur die eeue heen vir Maria, die moeder van Jesus, “vrou van smarte”, geklee het. Die feit dat Poppie ’n Sint Josefslelie in die hand het terwyl sy in Koningin Victoriastraat langs die Kompanjiestuine opstap na haar werk, is ’n ander visuele element uit die Maria-ikonografie wat toegevoeg is. Die toneel waar Poppie melk uit ’n beker skink, is ’n klinkklare verwysing na Vermeer se Melkmeisje – ’n skildery wat in 1658 voltooi is – die jaar toe slawerny aan die Kaap ingestel is. Olwagen wil myns insiens ook hiermee verwys na die alomteenwoordigheid van diens en na die mense wat dit deur die eeue heen verleen het.

Ek dink dat beeldende kunstenaars en ook fotograwe, soos Goldblatt, die ambivalensie visueel vasvat van die innigheid wat met ongelykheid en verwydering verstrengel is. Dis dikwels baie konfronterend, juis wanneer die beelde nostalgies lyk – soos die abba-beeldjies van Claudette Schreuder en die “still” uit Penny Siopis se My lovely day. Sommige kunswerke, soos Kay se Annie Mavata en Dumas se klein akwarel Krotoa, is portrette – voorstellings van vroue wat aan die vergetelheid ontruk word, of wat hier en nou vereer word met ’n portret. Dumas het byvoorbeeld ook haar ma se huiswerker verewig in ’n groot skildery met die titel Martha – die bediende (1984). Dis in my boek afgebeeld.

Watter boodskap wil jul oordra met hierdie uitstalling? Wat wil julle onder mense se aandag bring?

Die “boodskap” van my boek is dat die alledaagse geskiedenis, history of the everyday, van die go-between, ontsettend belangrik is. Met my boek wou ek wys dat outobiografiese tekste soos briewe en dagboeke, asook die letterkunde, op boeiende wyse insig gee in die omstandighede van “die bediende” as ’n sosiale en ekonomiese instelling wat so ver terugstrek as die eerste jare van die VOC se vestiging aan die Kaap. Die ongelykheid wat tóé al struktureel tot stand gebring is, duur onteenseglik voort in die 21ste eeu. Die omstandighede van die miljoen vroue wat steeds as huiswerkers in meer bevoorregte mense se huise werk, is ’n konstante herinnering daaraan.

Die skrywers wie se werk ek analiseer op soek na die narratiewe funksies van huiswerkers, en my eie beskrywing van hierdie verstrengelde geskiedenis, word op ’n baie treffende manier aangevul deur die uitstalling wat Robyn-Leigh en Eliz-Marie tot stand gebring het. Die visuele komplementeer, onderskryf en stimuleer wat in my boek staan.

Waarom hierdie uitstalling na die galery bring?

Tydens die baie gesprekke wat ek op boekfeeste en by leeskringe oor my boek gevoer het, het dit my opgeval hoe onbewus die meeste mense is van huiswerkers se omstandighede. Dikwels was dit vir mense pynlik en konfronterend om regtig tydens die lees van Soos familie en Like Family na te dink oor ’n verhouding wat maklik vergoeilik word deur werkgewers wat die hef in die hand het. Baie selde besef werkgewers dat dit bloot ’n historiese toevalligheid is dat húlle nie in ’n bediendeklas gebore is nie.

Die literatuur én die skilderkuns beeld die verstrengeldheid uit van die arbeidsverhouding tussen werkgewers en werknemers in die intimiteit van huise. Vir die illusie van beheer, reinheid, skoonheid is mensehande nodig om te poets, te vee, babas op te pas, oumense te versorg. Huiswerkers wis hulle werkgewers se gemors uit. En dit gaan baie dikwels gepaard met ’n noodwendige verwaarlosing van hulle eie huise en kinders. Ingrid Winterbach se skildery van twee vroue wat iewers op die platteland by kruiwaens staan, is ’n herinnering aan die harde werk wat swart vroue ook in hulle eie agtergestelde gemeenskappe doen.

Enigiets wat kan bydra tot ’n groter insig hierin en ’n bewusmaking van versorgende vroue se eie menslikheid is uiters belangrik. Nie net ’n boekstawing in teks soos in my boek nie, maar ook ’n visuele erkenning van hierdie vroue se rol in Suid-Afrika is noodsaaklik. Die kuratore het ’n pragtige groep werke deur ’n aantal van Suid-Afrika se belangrikste kunstenaars bymekaar gebring.

  • Foto’s: verskaf
Lees ook op LitNet

LitNet Akademies-resensie-essay: Soos familie deur Ena Jansen

Ena Jansen gesels oor Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste

Lees meer oor die Nederlandse komponent by die Woordfees:

Toyota US Woordfees 2020: jongste Skrywersfees-program (Nederlandse komponent)

Toyota US Woordfees 2020: My moeder se moeder se moedertaal

Toyota US Woordfees 2020: HemelBesem en Tilman Dedering vertel meer oor Nama-vryheidsvegter Hendrik Witbooi

Toyota US Woordfees 2020: ’n onderhoud oor Blues vir die wit man deur Fred de Vries

Bloudruk vir ’n nog beter lewe by Toyota US Woordfees

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top