
Sommige vakansies verander net vir ’n wyle jou ligging op ’n kaart, maar ’n seereis – ’n regte lang seevaart waar jy vir dae nie land sien nie – verander jou hele ingesteldheid. Jy keer onherroeplik as ’n ander mens terug. In ons geval is die terugkeer boonop na dieselfde hawe – sewe dae later.
Die oomblik toe die massiewe romp van die Norwegian Bliss van die Los Angeles-hawemuur wegbeur en die skeepshoring se diep klank oor die water trek, voel en proe jy dit dadelik: die verfrissende, sout bries teen jou gesig en die grenslose blou wat voor ons uitstrek. Die stad se beton, verkeer en digitale geraas verdamp binne minute in die wit skuim van die skeepskroewe.

Daar, op die oop waters, verruil jy die alledaagse vir ’n fees vir die sintuie. Ons was nie meer net toeriste op ’n roete nie, maar moderne pioniers op soek na nuwe horisonne soos die skeepsvaarders van ouds.
Vir ’n hele week het die Stille Oseaan ons speelplek geword – ’n reis waar die koue Kaliforniese seelug stadig plek gemaak het vir die warm, geurige atmosfeer van Meksiko. Waar jy jou kan verbeel dis tequila en brandrissie wat jy op die aandwindjie ruik.
En daardie loomheid geld ook vir jou gerief: Waar ’n mens dikwels op reis jou tasse van een hotel na die volgende karwei, haal ’n luukse skeepsvaart daardie stres heeltemal weg. Jy pak net een keer uit en jou tuiste gly saam met jou oor die waters.
Elke aand wag die Freestyle Daily-nuusbrief by ons kajuitdeur soos ’n spyskaart van moontlikhede vir die volgende dag: van uitstappies tot fiksheidsklasse en laataand-komedie. Maar die ware luuksheid hier was nie styf of pretensieus nie; dit het eerder gevoel soos die gemak van jou gunsteling- ruim linnehemp.
Vir ons twee het daar gou ’n eie, gekoesterde Roberts-ritueel ontstaan. Smiddae, net voor sononder, het ons ons gunstelingdrankies gaan kry – soms ’n glas vonkelwyn of ’n G&T soos ons Nederlandse voorvaders dit sou wou hê; soms ’n goeie whisky – en met ’n bordjie happies op ons kajuit se balkon gaan sit. Die luggie koel op ons gesigte, maar die stoepie nog lekker warm gebak van die dag se son. Terwyl die skip stil oor die donkerder wordende water gly en die son agter die horison wegsak, neem ons voorraad van die dag se avonture en sien ook uit na wat die môre sou bring.
Een van ons absolute kulinêre hoogtepunte aan boord was die Blind-Black Glass Tasting in The Cellars Wine Bar. Om uit pikswart glase te drink, dwing jou om jou oë toe te maak en bloot op smaak en reuk te vertrou. Om Franse makrolletjies met uiteenlopende wyne te kombineer, was ’n sintuiglike openbaring – én ’n seldsame kans vir ons Suid-Afrikaners met ons platsak-beursies om topwyne uit Bordeaux, Australië en Nieu-Seeland te proe! Boonop was een van die sommeliers ’n meisie van Johannesburg en kon ons lekker in Afrikaans kommentaar lewer.

Aande aan boord was ’n kulinêre ontdekkingsreis. Die een aand het ons verfynde Franse geregte by Le Bistro geniet, die volgende aand vars pasta by Onda by Scarpetta, of die interaktiewe vuurwerk rondom die Japannese Teppanyaki-tafels. Vir ’n uur of twee kon ons ons verbeel ons is in die hartjie van Parys of Rome of Seoel.
En wanneer die stadsgeesdriftiges die resiesbaan op die boonste dek aangedurf het of die verhitte swembadjies opgesoek het, het ons die Broadway-treffer Jersey Boys gekyk met ’n glas yskoue vonkelwyn in die hand. Laatnag het ons die stilte gesoek op dek 15 by die Observation Lounge, waar die reuse- 180 grade vensters ’n uitsig oor die eindelose, sterrebesaaide blou gebied het. Met net die gedempte geklots van die oseaan onder ons en ’n glas verouderde whisky in die hand, het die innerlike rus finaal ingeskop.
Op ons sewe dag reis gooi die skip drie maal anker. Jy kan aan boord bly en die stiller skip geniet, in die spa gaan wegkruip, of makliker plek in die fynproewersrestaurante kry, of jy kan aan wal gaan en jou oorgee aan die kleure en geure van Meksiko.
Die geure van Puerto Vallarta
Ons eerste ontmoeting met Meksiko was Puerto Vallarta, waar welige groen berge steil tot in die blou water afsak. Naby die hawe het ons gids, Machel Roberto, ons deur die skuins, geplaveide straatjies van Gringo Gulch gelei. Tussen die rooi dakke en die ikoniese Kerk van die Maagd van Guadalupe kon ’n mens steeds die vervloë Hollywood-glans van Elizabeth Taylor se dae aanvoel.
Die grootste deel van die dag het egter in die berge by die afgeleë landgoed La Dulce Vista afgespeel. Terwyl ons na ’n kleiner bussie oorgeskuif het om die kronkelpad bergop te navigeer, kyk Machel na ons groepie (wat hoofsaaklik uit Amerikaners bestaan het) en skerts met ’n knipoog: “Welkom by die Meksikaanse ontvoeruitstappie!” Ons twee was die enigstes wat dadelik sy fyn humor gevang het, en vir die res van die dag was ons beste vriende.

By die landgoed het ons aangemeld vir ’n tradisionele kookklas. Met die reuk van geskroeide tamaties, brandrissies en knoffel in die lug, het ons vars salsa de molcajete in swaar steenvysels gestamp en ons eie enchiladas gemaak. Die daaropvolgende tequila-proe – veral die ryk, karamelagtige reposado wat in ou whiskyvate verouder is – het alles wat ons van dié drankie gedink het, heeltemal herskryf.
Koloniale weemoed in Mazatlán
Die volgende dag het ’n heel ander ervaring gebring. In plaas van die strande, het ons die binneland met die Sierra Madre- plattelandse toer aangedurf – ’n tog wat gevoel het soos ’n reis terug in tyd.
Langs die Durango-hoofweg het ons gesien hoe ambagsmanne steeds adobe-stene met die hand vorm en bak, net soos eeue gelede. Pa en seun het sy aan sy gewerk. Toe ek vra hoe oud die krom oom is, het ons gehoor hy is 85. Nadat hy met kanker gediagnoseer is, het hy ’n paar maande tuis gebly. “Maar toe word ek depressief en ek vra of ek weer kan kom werk,” het ons gids getolk. Sy seun het nader gestaan en vertel dat hy nou sy pa op sy motorfiets abba – net soos sy pa 40 jaar gelede op sy dikwielfiets gedoen het. Ek verlang opslag na my eie bejaarde pa by die huis en wil net tranerig word, toe my geliefde laat hoor hy wonder of my pa sal toelaat dat ek hom op my fiets abba ...
In die historiese goudmyndorp, Copala, wat reeds in 1565 gestig is, het ons deur nou, klipperige straatjies tussen vervalle koloniale geboue geloop. Dit het ’n mens stil gemaak voor die diepe spore van die verlede.
Hier kuier ons ook by die indrukwekkende museum. Lees meer daaroor hier: https://voertaal.nu/museums-is-kosbaarder-as-korale/
Poskaartmooi Cabo San Lucas
Ons laaste stop was Cabo San Lucas op die punt van die Baja Kalifornië-skiereiland, waar die goudgeel woestyn regstreeks in die oseaan inloop, geseël deur die beroemde rotsboog, El Arco.

Hier het ons die stofbrille en bandanas ingespan vir ’n 4x4-rit in ’n side-by-side UTV deur die Baja-woestyn. Tussen reuse-kaktusse, oor sandduine en deur droë rivierlope het die buggy gegly en gespring onder my geliefde se geoefende hande op die stuurwiel. En toe – heeltemal onverwags – het die roete oopgebreek na die Stille Oseaan. ’n Uitgestrekte, ongerepte strand het voor ons gelê. Ons het die buggies gestop en bloot in eerbiedige stilte na die branders gestaar. Op die duine het mense op kamele verbygestap, ’n onwerklike gesig wat die uitstappie net soveel meer prettig gemaak het.
Die ware waarde van die reis
Wanneer die Norwegian Bliss omdraai om koers te kry terug na Los Angeles, staan daar twee ander mense op die kajuitbalkon en kyk hoe die son vir die laaste keer oor die water sak.

Ons het die eintlike waarde van só ’n reis besef: Dit gaan nie net oor die plekke wat jy op ’n kaart afmerk nie, maar oor die rustigheid wat diep in jou lyf kom nesskop. Vir ’n rukkie het al die daaglikse verantwoordelikhede, afsprake en e-posse in die skuimende golwe agter die skip verdwyn.

Die helder kleure van Meksiko, die geur van handgemaakte salsa, die menslike stories van die Sierra Madre en die rustige wieg van die see bly nog lank in ons binneste agter. Ons het nie net ’n ander deel van die wêreld gesien nie – ons het met ’n nuwe horison in onsself huis toe gekeer.
Kitsfeite:
- Vir meer inligting oor al die vaartopsies van Amerika na Meksiko, loer by ncl.com.
- Bespreek uitstappies vroegtydig. Die gewildste toere verkoop blitsvinnig uit. NCL werk saam met uitstekende plaaslike gidse wat verseker dat jy die meeste uit jou dag aan wal kry.
- Pak vir warm én koeler weer, en onthou ’n ligte reënjas. Daggemiddelde aan wal kan warm wees, maar saans op die boonste dek is die seebriesie verrassend koud.
Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:
Groen oase in die hartjie van ou Parys berus op hergebruik en tweede kanse

