Die DBAL-reeks: Marita van der Vyver

  • 0

Hierdie is die eerste bydrae tot die DBAL (Digitale bibliografie van die Afrikaanse letterkunde)-reeks. Die doel van hierdie reeks is om enigeen wat betroubare inligting soek, ’n bietjie touwys te maak oor die navorsingsproses. Ek, Janien Linde van die Noordwes-Universiteit (NWU), doen dit deur prakties te demonstreer hoe ’n mens die DBAL as beginpunt in hierdie verband kan gebruik.

Ek spring graag weg met die gewilde skrywer Marita van der Vyver.

Vir hierdie doel begin ek deur “Marita van der Vyver” as algemene soekterm in die DBAL in te tik en te kyk watter trefslae kom voor. Daar verskyn 41 trefslae. In die eerste twee kolomme word die outeurs van ’n bron en variasies van outeursname gegee. In die volgende kolomme volg die titel van die broninskrywing, die jaar waarin dit verskyn het, die tipe bron wat dit is, die trefwoorde wat daaraan toegeken is en die URL indien dit beskikbaar is. Die bronne word chronologies uitgepak, van die nuutste na die oudste. In die geval van hierdie soektog het die nuutste bronne wat na Marita van der Vyver verwys, in 2020 verskyn en die oudstes in die 1980’s. Die oudste inskrywings verwys na Van der Vyver se debuutwerk, Van jou jas (’n jeugverhaal) wat in 1982 verskyn het, en nog ’n jeugverhaal, Tien vir ’n vriend, wat in 1987 verskyn het.

Dit is altyd ’n goeie idee om weg te spring by die outeursprofiel van ’n skrywer om jouself te oriënteer. Erika Terblanche se profiel oor Marita van der Vyver op LitNet is een van die trefslae. In so ’n profiel kan ’n mens ’n klomp interessante biografiese inligting oor ’n skrywer kry, asook verwysings na al die tekste wat uit die outeur se pen verskyn het. Van daar kan ’n mens dan leidrade kry vir ander soektogte oor Marita van der Vyver wat jy in die DBAL of op die groter internet kan uitvoer.

Hier is ’n paar interessante trefslae op die DBAL wat my lus gemaak het om verder te soek en op te lees:

  • Die uitgewer Frederik de Jager se Skoonwasgoed-rubriek waarin hy skryf oor die verskyning van Van der Vyver se bekende debuutroman, Griet skryf ’n sprokie.
  • ’n Artikel deur Burgert Senekal wat in LitNet Akademies verskyn het oor die invloed van Instagram op die Afrikaanse literêre sisteem. Marita van der Vyver se naam verskyn gereeld met ’n hutsmerk op dié.
  • Die boek As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe (2009) waarvan Danie Marais die samesteller was. Die boek bevat verhale wat geskryf is deur Suid-Afrikaners wat op daardie stadium in die buiteland gewoon het, of steeds woon. ’n Skryfstuk met die titel “Papier rym met paniek” deur Van der Vyver wat jare reeds in Provence, Frankryk woon, verskyn in hierdie versameling.
  • Die 1995-boek Keerpunt: nuwe verhale vir ’n nuwe Suid-Afrika waarvan Linda Rode en Jakes Gerwel die samestellers was. Hierin verskyn ’n verhaal deur Van der Vyver (“St Christopher op die parade”) saam met verhale deur Suid-Afrikaanse skrywers soos Hein Willemse, Johnny Masilela, Barrie Hough, Melvin Whitebooi, Elsa Joubert en Miriam Tlali.
Lees ook:

Lewende, gesaghebbende digitale biblioteek vir Afrikaanse letterkunde

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top