Lewende, gesaghebbende digitale biblioteek vir Afrikaanse letterkunde

  • 0

......

‟Die DBAL (Digitale bibliografie van die Afrikaanse letterkunde) sou graag uiteindelik so ’n omvattende digitale biblioteek vir Afrikaanse letterkunde wou wees soos wat die DBNL (Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren) vir Nederlands is.”

......

Die ontwikkeling van ’n omvattende aanlyn bron oor alle publikasies wat oor die Afrikaanse letterkunde handel, is tans goed op dreef.

Die projekbestuurder van die Digitale bibliografie van die Afrikaanse letterkunde aan die Noordwes-Universiteit is die letterkundige Janien Linde.

Sy het aan Willem de Vries vertel van die projek wat reeds aanlyn beskikbaar is en wat deurentyd bygewerk word. 

Janien Linde

Die ontwikkeling van digitale taal- en letterkundeprojekte op tersiêre vlak is belangrik vir die hoër funksies van Afrikaans asook die ander inheemse Suid-Afrikaanse tale. Wat het tot die DBAL aanleiding gegee? Wanneer is hiermee begin? Hoe vorder die projek tans en wie is daarby betrokke? Wat is die hooffokus? Wat stel julle in die vooruitsig?

Die DBAL is ’n projek wat in 2016 voortgevloei het uit ’n susterprojek, die Digitale bibliografie van die Afrikaanse taalkunde (DBAT). Die DBAT se geskiedenis strek terug tot die tydperk 1994 tot 1997 toe Wannie Carstens, in samewerking met mense van die Bibliografie van die Nederlandse taal- en literatuurwetenschap (BNTL), die Digitale bibliotheek voor de Nederlandse letteren (DBNL) en die Noordwes-Universiteit se biblioteek, begin het om ’n bibliografie vir Afrikaanse taalkunde op te stel.

Toe die BNTL later aanlyn beskikbaar word, is die proses van stapel gestuur om vir die DBAT ’n aanlyn tuiste te gee. Die eerste weergawe van die DBAT is in 2010 amptelik bekendgestel. Dit was gegrond op die modelle van die BNTL en DBNL, maar aangepas vir ’n Suid-Afrikaanse konteks. Van toe af gaan die DBAT van krag tot krag en Adri Breed tree tans as projekorganiseerder op.

In 2016 is besluit dat die Afrikaanse letterkunde ook so ’n aanlyn bibliografie benodig. Die DBAL is toe van stapel gestuur onder leiding van Hein Viljoen en die bibliotekarisse Carla Ubbink en Christine Schutte.

Van toe af word bronne wat oor Afrikaanse letterkunde handel, deurgaans in die DBAL-databasis ingetrek. Ná Viljoen se aftrede het ek oorgeneem as projekbestuurder van die DBAL. Tans is my DBAL-medewerkers Christine Schutte en Roné Wierenga.

Wannie Carstens

 Die DBAL se doel is om ’n digitale biblioteek van die Afrikaanse letterkunde te wees. Dit beteken dat dit ’n omvattende bron moet word van alle publikasies wat oor Afrikaanse letterkunde handel. Die DBAL is tegelyk ’n bronnelys en ’n inventaris van bronne oor die Afrikaanse letterkunde.

Die langtermyndoel daarmee is dat dit ook ’n databasis (en korpus) raak wat die voltekste van die bronne bevat. Die Fonds Neerlandistiek ondersteun die projek finansieel. Ons hoop is dat die DBAL eendag sal kan vergelyk met die DBNL wat omvattendheid en gebruikersvriendelikheid betref.

Dit is ’n projek wat voortgaan en wat eintlik nooit voltooid sal wees nie, aangesien nuwe bronne wat bygewerk moet word, jaarliks verskyn.

Die projek vind in drie fases plaas:

1. Die eerste fase behels die proses om alle bestaande bronne oor Afrikaanse letterkunde, (die Afrikaanse literêre tekste self daarby ingesluit), as broninskrywings op die DBAL te kry. Dit beteken dat elke bron oor Afrikaanse letterkunde by die DBAL ingetrek word en aan elkeen van hierdie bronne metadata (stelle data wat die broninskrywings beskryf en meer inligting daaroor gee, soos sleutelwoorde en tekstiperings) toegeken word. Hierdie proses is steeds aan die gang aangesien hier en daar nog ouer bronne ontbreek en ook omdat nuwe bronne weekliks verskyn. Inskrywings wat reeds beskikbaar is, word deurlopend netjies gemaak en verbeter. In hierdie fase word hiperskakels bygevoeg na waar die bronne gehuisves word, indien dit beskikbaar is.

2. Die tweede fase is om voltekste by die bronne te voeg. Omdat die digitisering en digitalisering van hardekopieë tydsaam en baie duur is, is hierdie fase nog nie ten volle aan die gang nie. Die finansiering en personeel wat tans beskikbaar is, is net nie genoeg om hierdie belangrike fase volspoed te laat plaasvind nie. Dit is egter ’n uiters belangrike fase, aangesien ons graag wil hê dat die DBAL ’n volledige en omvattende bronne van ou en nuwe bronne oor Afrikaans moet wees. Sommige ouer bronne se kopiereg het reeds verval en kan sonder probleme op die DBAL gelaai word. Dit is egter nie die geval met nuwe tekste nie. Daarom sal ’n gebruiker ook sien dat ’n hiperskakel soms nie na ’n volteks van ’n bron sal gaan nie, maar eerder na die webwerf waar dit gehuisves word, soos die biblioteek van ’n universiteit of die webwerf van ’n akademiese joernaal. Sodoende word kopiereg beskerm.

3. Die derde fase sal behels om die DBAL deurgaans netjies en op datum te hou en dit toenemend gebruikersvriendelik te maak.

Christine Schutte

Gestel ’n student, navorser of joernalis hoor vandag die eerste keer van die DBALwat bied dit hierdie gebruikers tans?

Tans is die DBAL hoofsaaklik ’n bibliografie, wat beteken dat dit funksioneer as ’n bronnelys en inventaris van bronne oor Afrikaanse letterkunde. ’n Gebruiker sal dus ’n idee kan kry van watter bronne bestaan oor ’n spesifieke onderwerp wat met die Afrikaanse letterkunde te make het. Waar beskikbaar, is skakels ingesluit na waar die bronne gehuisves word.

Gestel iemand wil navorsing opspoor wat handel oor Antjie Krog: Die persoon kan dan “Antjie Krog” in die “enige woord”-soekveld van die DBAL intik. Die DBAL gooi dan vir ’n mens 161 trefslae uit van bronne waarin Krog op een of ander manier genoem word. In die gevalle waar dit moontlik is, word hiperskakels ingesluit wat jou byvoorbeeld reguit na Versindaba, LitNet of Voertaal neem waar ’n resensie oor ’n Krog-bundel verskyn het. As iemand op soek is na tekste waarvan Krog die outeur is, kan “Antjie Krog” in die “outeur”-soekveld ingetik word. Só kan soektogte verfyn word om die outeur en die titel van die bron in te sluit, asook die tydskrifartikel waarin byvoorbeeld ’n artikel verskyn het, spesifieke trefwoorde, brontipes (byvoorbeeld ’n akademiese joernaal, digbundel of proefskrif) en publikasiejaar.

Omdat die DBAL ’n gespesialiseerde versameling van bronne is, sal dit ’n gebruiker toegang gee tot betroubare bronne wat meer spesialiskennis oor ’n onderwerp bied as wat ’n soektog op byvoorbeeld Google sal. Dit is ook ’n baie nuttige manier om ’n lys van relevante bronne op een plek byeen te kry.

Wat dien as voorbeelde vir hoe julle die DBAL omvattend wil maak? Hoe gaan julle te werk om die nodige inligting in te win vir hierdie fase van die projek? Is daar samewerking tussen die DBAL, gevestigde digitale projekte en hulpbronne elders?

In hierdie stadium van die projek steun ons sterk op die drie medewerkers se tyd en kundigheid om bronne te soek en by die DBAL in te voer. Die ideaal sou wees dat ’n mens ook ander aanlyn versamelings van bronne (byvoorbeeld by ander universiteite se biblioteke, en ook instansies soos NALN en staatsbiblioteke) by die DBAL kon intrek. Onderhandelinge in hierdie verband is deurlopend aan die gang.

......

‟Daar is reeds meer as 14 500 broninskrywings op die DBAL, van boeke, artikels en elektroniese bronne tot proefskrifte, resensies en feesbundels.”

......

Intussen werk ons gedeeltelik saam met VivA Afrikaans en hoop om in die toekoms selfs meer samewerking daar te bestendig, veral wat betref die toeganklikheid van die DBAL vir onderwysers en skoolleerders.

Ons is ook in gesprek met die South African Centre for Digital Language Resources (SaDiLaR) om te help met die digitaliserings- en digitiseringsprosesse wat deel is van die tweede fase van die projek. SaDiLaR beskik oor wonderlike tegnologie wat kan help om hierdie prosesse te bespoedig.

Indien instansies graag wil meewerk of wil help om die prosesse waarmee ons tans besig is te ondersteun en te versnel, nooi ek hulle graag uit om my by janien.linde@nwu.ac.za te kontak.

Hein Viljoen

Die DBAL kry sy beslag in ’n meer akademiese hoek van die internet aangesien dit besoek kan word as deel van die NWU se spesiale versamelings aanlyn. Dit is egter so dat die sosiale, soekbare internet ook die domein is van die hutsmerk en soorte populisme. Die gedagte aan kortpaaie het binne dié omgewing ’n eie soort gehaltemaatstaf geword. Hoe benader julle die DBAL binne hierdie aanlyn klimaat? Wat beskou julle as min of meer standhoudend in hierdie omgewing? Waarby wil jy graag die DBAL sien inskakel?

Jy is heeltemal reg in jou waarneming dat “kortpaaie” in die digitale sfeer ’n soort gehaltemaatstaf is. Die ideaal met die DBAL is dat dit uiteindelik in die volle sin van die woord ’n aanlyn biblioteek kan word wat kan dien as ’n wegspringplek vir enigiemand wat inligting oor Afrikaanse letterkunde soek. Daar is egter nog ’n pad om te stap om daar uit te kom, en daar sal nog heelwat samewerking met verskillende organisasies moet plaasvind. Ons is bereid om met enigiemand saam te werk om daardie droom te verwesenlik.

Wat vir ons van uiterste belang is, is dat die inhoud wat op die DBAL te vind is, altyd spreek van kwaliteit en betroubaarheid. Oppervlakkigheid en onbetroubaarheid kan nie geduld word in die tyd van fopnuus en misleidende inligting op die internet nie. Daarom sal dit altyd vir ons belangrik wees dat die DBAL ’n reputasie het vir akademiese betroubaarheid. Om dit te verseker maak ons gebruik van die nodige vakkennis en tegnologiese vaardigheid, en werk ons saam met organisasies wat dieselfde doel nastreef.

Inligting van gehalte is nie iets wat mense ontneem behoort te word nie, en daarom is die DBAL toeganklik vir enigeen (ook al het iemand geen affiliasie met die NWU nie).

Jy beskryf die DBAL as ’n lewende digitale biblioteek waarmee ten doel gestel word om ’n omvattende bron te word van alle publikasies wat oor die Afrikaanse letterkunde handel. En die gesag van ’n projek van hierdie aard is inderdaad gekoppel aan die integriteit en uniekheid van die datastelle waartoe dit toegang gee. Wat beskou jy as hoofvoordele van die projek, gegewe die feit dat dit suiwer digitaal is? 

Een van die langtermyndoelwitte van die DBAL is om bronne elektronies soekbaar te maak sodat ’n mens met sagteware soos R, Wordsmiths en VivA se Korpusportaal tekssoektogte daarin kan doen. Sodoende sal nuwe velde, soos teksargeologiese, edisie- en idiolektiese studies in die Afrikaanse letterkunde makliker raak om uit te voer.

Die DBAL sou graag uiteindelik so ’n omvattende digitale biblioteek vir Afrikaanse letterkunde wou wees soos wat die DBNL vir Nederlands is. Soortgelyke projekte bestaan ook vir die ander tale van Suid-Afrika, en die DBAL leer ook graag by en werk saam met sulke projekte. 

Adri Breed

Beoog julle om andersins moeilik verkrygbare bronne in te sluit op die DBAL – publikasies soos little magazines, spesiale uitgawes en geleentheidswerke wat miskien in ’n baie beperkte oplaag verskyn het? Watter kriteria volg julle by die insluit en weglaat van bronne of materiaal oor bronne? Wat is julle beleid ten opsigte van selfpublikasies? Word oudio- en beeldmateriaal by die DBAL ingesluit?

Dit is inderdaad uiteindelik die doel, ja. Sulke moeilik verkrygbare bronne soos dié waarna jy verwys, is van onskatbare Africana-waarde en moet vir seker digitaal bewaar bly en meer vryelik beskikbaar gestel word.

Ons evalueer die kriteria van insluiting krities en deurlopend. Ons fokus op gepubliseerde literêre werke in Afrikaans en bronne wat handel oor Afrikaanse letterkunde, hetsy as hardekopie of elektronies. Tans is ons aandag toegespits op hoofsaaklik akademiese bronne, omdat ons die gehalte van die inligting vooropstel, soos ek vroeër genoem het. Dit sou natuurlik wonderlik wees as die DBAL uiteindelik ook op verskillende maniere toegang kon gee tot selfs meer gespesialiseerde versamelings bronne, byvoorbeeld ’n afdeling wat spesifiek op skoolkinders gerig is.

Selfpublikasies is maar altyd ’n netelige kwessie, en ons probeer sulke publikasies op meriete beoordeel en insluit waar van toepassing.

......

‟Transnasionale samewerking tussen Afrikaans en die Nederlandse taalgebiede vind jare reeds plaas, maar nouer bande kan steeds gesmee word wat die moontlikhede betref wat digitale korpora bied.”

......

Hoeveel en watter soort broninskrywings bevat die DBAL tot op hede en vir hoeveel en watter soort maak julle voorsiening?

Daar is reeds meer as 14 500 broninskrywings op die DBAL, van boeke, artikels en elektroniese bronne tot proefskrifte, resensies en feesbundels. Soos reeds genoem, is die DBAL is nog nie 100% volledig wat die bibliografiese inligting van ouer bronne betref nie; ons is maandeliks besig om ontbrekende ouer bronne saam met die nuutstes by te werk.

Die DBAL is al beskikbaar terwyl dit nog ontwikkel en deurentyd bygewerk word. In watter formate is die inligting op die DBAL beskikbaar en wat word in hierdie verband in die vooruitsig gestel? As ek nie iets op die DBAL vind nie, hoe maak ek? Hoe kan mense tot die projek bydra?

Alles wat reeds in die DBAL se databasis ingelees is, is beskikbaar. Die DBAL se funksionaliteit is dus reeds op volle sterkte. Omdat dit egter ’n deurlopende proses is om alle bestaande inligting oor Afrikaanse letterkunde te betrek, sal dit soms gebeur dat iemand iets spesifieks soek, maar dit dalk nie daar vind nie. Indien dit gebeur, vra ons dat gebruikers ons sal help deur ’n vorm in te vul sodat ons ontbrekende bron(ne) kan inlees.

Dit is ook moontlik dat ’n gebruiker iets nie opspoor nie as gevolg van die manier waarop die soektog uitgevoer word. In daardie geval beveel ons aan dat die gebruiker die soektog aanpas. Probeer verskillende soekwoorde, of kombinasies van soekwoorde inlees, of soek onder die ander kategorieë (soos outeur, titel, tydskriftitel, trefwoorde, kategorieë, brontipe of jaar). ’n Soektog kan wyer (of oper) gelaat word, of dit kan meer spesifiek gemaak word deur meer inligting te verskaf.

Roné Wierenga

Julle stel julle ten doel om voltekste waar beskikbaar in te sluit in die volgende fase van die DBAL. Hoe belangrik is die beskikbaarheid en daarstel van ’n balans van ouer en nuwer werke en materiaal?

Ons probeer om deurentyd ’n balans te handhaaf tussen die inlees van ouer en nuwe bronne. Ons medewerkers verdeel tans hulle tyd min of meer 70/30 aan die inlees van argiefmateriaal en bronne wat nuut verskyn.

Soos vroeër genoem, is die beskikbaarstelling van voltekste ’n uiters tydrowende en duur proses wat ons nog nie volledig aan die gang het nie. Dit is uiteraard makliker om ouer bronne waarvan die kopiereg reeds verval het, eerste in te lees. Ons sal egter ook toenemend gebruik moet maak van samewerking tussen universiteitsbiblioteke om te verseker dat ons wel belangrike ouer bronne beskikbaar kan stel. 

Die beskikbaarstelling van bronne aanlyn skep ruimte vir sinergieë. Dit kan ook die versuiling van dissiplines teenwerk en demokratisering makliker na verskeie kennisvelde bring. Dit is ’n uitstekende voertuig vir interdissiplêre verkenning. Die beskikbaarheid van soekbare, gesaghebbende digitale bronne het verrykende, verreikende implikasies vir letterkundesisteme. Watter geleenthede sien jy bied hierdie soort dinamieke vir die DBAL?

Digitisering en digitalisering bied inderdaad wonderlike moontlikhede vir interdissiplinêre samewerking. Sulke samewerkingsinisiatiewe bestaan reeds tussen taalkunde en letterkunde en ook tussen die verskillende Suid-Afrikaanse tale. SaDiLaR doen byvoorbeeld wonderlike projekte oor letterkunde saam met ander Suid-Afrikaanse tale. Daar is ook reeds heelwat verskillende korpusse van Afrikaanse geskrewe en gesproke taal beskikbaar, maar die korpora wat spesifiek op Afrikaanse letterkunde fokus, is beperk of nie noodwendig aanlyn en/of digitaal beskikbaar nie. Die DBAL sal hierdie gaping uiteindelik volledig wil vul.

Transnasionale samewerking tussen Afrikaans en die Nederlandse taalgebiede vind jare reeds plaas, maar nouer bande kan steeds gesmee word wat die moontlikhede betref wat digitale korpora bied.

Uiteindelik hang die sukses en bruikbaarheid van die DBAL nie net van die medewerkers af nie, maar van die inkoop deur en handevat van verskillende organisasies en persone sodat die digitale biblioteek wat gebou word, vir geslagte lank kan voortbestaan en deurlopend kan groei in omvang en bruikbaarheid. Sinergie en samewerking is dus uiteraard onontbeerlik.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top