
In die tent
Sedert Oktober vanjaar is daar ’n pragtige nuwe aantrekkingskrag in Kaapstad. Met Tafelberg wat in die verte knipoog, is die tweede mooiste ding in die Moederstad die handgemaakte spieëltent, genaamd Magic Cristal, waarin die geliefde gravin, Zingara, by Century City gehore betower. Die pragtige spieëltent is ’n skepping van Vlaandere deur ’n maatskappy met ’n lang familiegeskiedenis van tentmakers.
Maar eers terug by Madame Zingara. Sy het haar reis in 2001 in Kaapstad begin as ’n boheemse, teateragtige restaurant wat gou legendaries geword het vir sy betowerende atmosfeer, kreatiewe kostuums en unieke geregte en was veral bekend vir die ikoniese sjokolade-en-brandrissie-steak.

Die mede-regisseurs, Valentina en Craig Leo, sit weerskante van Richard Griffin, kreatiewe regisseur en stigter van Madame Zingara.
Sy is die breinkind van Richard Griffin en was meer as net ’n eetervaring; dit was ’n viering van kuns, vertonings en menslike verbondenheid. Nadat die oorspronklike restaurant in Langstraat in 2006 afgebrand het, het Griffin die konsep herbedink en dit omskep in die rondreisende teater van drome – ’n luukse, sirkusagtige aandetevertoning wat in ’n eeu-oue spieëltent (spiegeltent) aangebied is.
Deur fynproewerskos, wêreldklas-akrobatiek, kabaret en lewendige musiek te kombineer, het Madame Zingara ontwikkel tot ’n magiese, meesleurende ervaring wat gehore regoor Suid-Afrika en verder betower het.
Vir 10 jaar het dié geliefde dame ’n skoonheidslapie geniet. Maar sy is terug in blinkers en goud, fluweel en sterstof en nou is sy boonop ’n gravin. Sy bied die vertoning, La Dolce Royal, aan en sal saam met dié mooie tent jou asem wegslaan.
Agter die fluweelgordyn tower maestro Richard nou ’n nuwe meesterstuk op wat weer sy vertroude medewerkers bymekaarbring: visionêre mede-regisseurs, Craig Leo en Valentina Love; legendariese beligtingsontwerpers, Mannie Manim en Joshua Cutts; choreograaf, Samantha Kotze; en ’n rolverdeling van wêreldklas- internasionale en Suid-Afrikaanse kunstenaars.
Maar die ware magiese ervaring gebeur as jy die spiegelpaleis in al haar glorie ervaar. Die tyd loop stadiger hier as jy behoorlik kyk: Elke stukkie van haar is liefderik aanmekaargesit.

Rik Klessens
Ek gaan snuffel bietjie en kom by ’n ander maestro uit: die tentmaker wat hierdie magiese mure van die verbeelding tot uiting gebring het, Rik Klessens.
Hy laat jou weer in sprokies en die dae van PT Barnum van Barnum & Bailey Circus, wat ons in Greatest Showman betower het, glo.
Doof die ligte!
’n Sagte wals begin speel – die klank van ’n ou dansorrel wat deur die jare weerklink.
En dan, deur die glans van spieëls en die geur van gepoleerde hout, stap Rik Klessens.
Sterk, goudbruin van al die buite werk, met hande wat nog elke kromming van ’n houtbalk en elke weerkaatsing van ’n spieël onthou. Hy lag maklik – soos net iemand wat sy lewe lank drome bou kan. Rik is nie net die bouer van die spiegelpaleis nie, hy is deel van haar storie, sedert daardie eerste tentvertonings bykans ’n dekade gelede.
Die verhaal begin lank voor hom – omstreeks 1900 – toe die eerste spiegeltents in Vlaandere verskyn het: elegante, glinsterende danssale op wiele, vol spieëls wat lig en verliefde kyke vasgevang het. Daardie tente was heiligdomme van die nag – vir geliefdes, swerwers en dromers.
Toe stap Willem Klessens op die verhoog: ’n jong wamaker uit Nederland wat in 1912 na Lommel in België trek en verlief raak: eers op ’n vrou, genaamd Amelia, en toe op ’n wêreld van musiek en spieëls. Toe ’n rondreisende kunstenaar, Oscar Horebeke van Antwerpen, sy tent en orrel te koop aanbied, waag Willem dit en onbewustelik word die Klessens-legende gebore.
Teen 1920 was Het Kempisch Danspaleis die trots van die kermisse. Skare het mal geword, spieëls het met lig gedans en die familie het die bring van vreugde as beroep beoefen. Nog ’n tent volg en teen 1930 verrys hul kroonjuweel, Nova Danssalon, ’n wonder wat die hele Vlaandere laat droom het.
Met die volgende geslag, August Klessens, het die musiek nooit opgehou nie. Hy en sy vrou, Lucienne, het saam met hul nege kinders van kermis tot kermis gereis. Ná die oorlog, toe mense weer wou dans, het August geantwoord.
Hulle koop nog tente, De Lust, Cristal Palace, Pigalle en Victoria. Sy tente het geleef van orkesklanke, gelag en hoop. Gou word hy bekend as “die koning van die spieëltente”.

Rik en Liliane neem ’n kort blaaskansie binne die tent.
En toe in 1984 kom Rik – die seun wat meer as net hout en glas geërf het; hy het die hartklop van ’n tradisie geërf. Saam met sy vrou, Liliane Van Gorp, neem hulle die Spiegelpaleis oor grense na feeste, privaat onthale en selfs teateretes. Die spieëls het nie meer net gesigte weerkaats nie – hulle het tye, kulture en lewens weerspieël.
Meer onlangs, in 2006, sluit die vierde geslag, Gerry, en in 2010 sy suster, Ariane, by die besigheid aan. Hul weerkaatsings meng met dié van hul oupagrootjie se eerste droom.
Die spieëltent is per skip van Antwerp na Kaapstad vervoer. Die reis het 14 dae geduur, voor sy per trok in drie groot skeepsvraghouers by haar bestemming in Century City afgelaai is. Die hele Klessens-gesin was hier om te help met die opslaan.
Ek gaan klop ook by Nicky-Ann de Beer, bemarkingsdirekteur, aan vir haar gevoel oor die magiese wêreld van Madame Zingara. Sy vertel: “Ons probeer om ’n goeie outydse ontsnapping uit die werklikheid aan die lewe te skep; ’n aandjie uit waar jy aan die bekommernisse van die wêreld ontsnap en nie na ’n digitale toestel hoef te kyk nie, maar eerder skouers skuur met ander mense wat ook wil ontsnap. As jy die tent instap, is dit asof jy ’n magiese koninkryk binnegaan.”
Sy sê die projek verg baie ure en beplanning, “maar om daar te wees wanneer die son deur die gebrandskilderde venster skyn en die rooi fluweel in die lug opwaai; om die gesigte van die gaste dop te hou terwyl hulle binnestap, maak dit alles die moeite werd”.

Die vertonings is wêreldklas met kunstenaars van elke uithoek van die aarde wat deelneem.
En sy gee ook ’n paar syfers en dinge:
- Dit neem tussen drie en vyf dae om die tent op te slaan en in die Moederstad moes hulle die sterk Suidooster trotseer en kon alles binne sewe dae voltooi word.
- Die hooftent is gebou om sterk winde te weerstaan, maar die sytente is minder stabiel en moes ekstra ondersteuning kry.
- Die hooftent is 23 vierkante meter groot en kan 400 sitplekke akkommodeer.
- Lees meer oor die geskiedenis van die familie hier: https://www.spiegeltent.be/nl/onze-geschiedenis-een-familietraditie-sinds-1920.
- Die magiese ervaring by Century City duur tot Mei 2026. Kaartjies kos van R1 150 per persoon en sluit ’n welkomdrankie, viergang-maaltyd en vertoning in. Daar is privaat sitkamers, die Aperoltuin en die Royal Balconies en ander BBP-ervarings beskikbaar. Bespreek by www.zingara.co.za. Daarna skuif die tent en vertoning na Johannesburg waar dit van Julie sal speel. Meer inligting word later bekend gemaak.
Foto’s verskaf deur Anton de Beer en Daniel Manners
Lees ook:
Ongewone ontwerpsentrum ook tuiste van ongewone installasies
