Ongewone ontwerpsentrum ook tuiste van ongewone installasies

  • 0

Die skaalmodel van die indrukwekkende gebou wat soos ’n vloeiende druppel kwik lyk, gee jou ’n goeie idee van hoe dit uit die lug lyk.

Ons lees in die oulike Seoel-toeristegids raak dat een van die ongewone plekke om in die stad te gaan ervaar die Dongdaemun Design Plaza (DDP) is, wat deur die Seoul Design Foundation bestuur word. Twee gesaghebbende koerante, die New York Times en LA Times, het dit onderskeidelik as “A place to go” en een van 100 moet-sien-bestemmings in Korea aangewys.

Die DDP was een van die hoofredes hoekom Seoel in 2010 aangewys is as die Wêreldontwerphoofstad (World Design Capital).

As jy by die treinstasie uitdop, is jy as’t ware deel van die gebou se kurwes, maar dis nie alles net nuut nie, die oorspronklike fondamente van die Hullyeondogam-militêre opleidingsentrum uit die Josean-dinastie is hier bewaar.

Die DDP vier vanjaar sy tiende verjaardag en toe ons by die Dongdaemun History & Culture Park-treinstasie onder die grond uitdop, is daar woelinge met tente wat opgeslaan word vir feesvieringe. Die stasie is reg onder die sentrum en is verbind via lyne 2, 4 en 5.

Jy hoef nie eers in die gebou in te gaan om die bekoring van die argitektuur te bewonder nie.

Daar is gereelde uitstallings en ervarings, maar selfs al stap jy net buite om, is dit ’n indrukwekkende gebou. Daar is drie vloere ondergronds en vier vloere bogronds en die gebou is maar 29 meter op sy hoogste plek, maar lyk baie groter.

Oral waar jy kyk is die ongewone ontwerpe en hoeke sigbaar.

Ons gaan by die deur naaste aan ons in en ’n vriendelike jong meisie verwelkom ons só hartlik dat ons amper kan glo sy het ons verwag!

“DDP is deur wyle Zaha Hadid, die eerste vroulike argitek wat die Pritzker-prys in 2004 gewen het, ontwerp. Hadid het wêreldwye erkenning vir haar organiese ontwerpe behaal, en is bekend as ’n innoverende argitek wat voortdurend die grense van argitektuur en die konsepte van stad en ontwerp verskuif. Die Pritzker-argitektuurprys is bekend as die ‘nobelprys’ vir argitektuur. Sommige van haar projekte sluit in die Argitektuurstigting in Londen, die London Aquatics Centre vir die 2012-somerspele, die Sheikh Zayed-brug en die Guggenheim Performing Arts Centre in Abu Dhabi, die Business Bay Towers in Dubai en Pierres Vives in Montpellier, Frankryk.”

Hoe vindingryk is hierdie hartjiekunswerk wat verskeie stoele insluit en waarop jy welkom is om te sit.

Sy verduidelik voorts ons staan in die wêreld se grootste 3D, amorfiese, atipiese gebou. Sy sien die vraagtekens op ons voorkoppe en verduidelik dat amorfies beteken die gebou het geen definieerbare vorm nie en met atipies bedoel die ontwerper dat die gebou anders is as wat normaalweg met gebou-ontwerp bedoel word.

Met die buite omstap, kan niks jou voorberei op die ongewone vorms wat binne wag nie.

Sy wys ons ’n aanhaling van Hadid wat in 2016 oorlede is, wat lees: “Architecture should allow people to imagine what they could not have imagined before.”

Die meisie wys op ’n kaart wat op elke vloer van die interessante gebou is en vertel: “DDP is ’n multikulturele kompleks en sedert die opening in 2014 het ons al diverse kulturele geleenthede aangebied, waaronder uitstallings, modevertonings, produkbekendstellings, forums, konferensies en verskeie kulturele geleenthede. DDP is waar nuwe ontwerpneigings begin en kulture uitgeruil word. Dit is ’n ruimte wat nuwe produkte en modeneigings bekendstel, wat kennis deel deur uitstallings en wat uiteenlopende inhoud bied om nuwe ontwerp te ervaar. Deur hierdie aktiwiteite sal DDP die middelpunt van die ontwerp- en modebedryf wees wat na Asië en die wêreld sal uitbrei.”

Ons het nog nie veel gesien nie, maar is klaar beïndruk met die ongelooflike argitektuur. Sy glimlag trots en sê ons is nie alleen nie – meer as 10 miljoen jaarlikse besoekers stem beslis saam. Ek is dankbaar ons is vroeg, want sy sê daar is soms tot 30 000 besoekers per dag.

Die gebou, wat amper soos ’n reusedruppel vloeibare kwik uit die lug sal lyk, is blykbaar ook baie gewild by wêreldbekende ontwerpers soos Lagerfeld, Alessandro Mendini en Jean Paul Gaultier en meer as 100 uitstallings en modeskoue word jaarliks hier gehou. Sy voeg by dat luukse handelsmerke soos Chanel en Louis Vuitton al hier vertoon is en nuwe modelle van BMW en Mercedes Benz al bekend gestel is.

Sy stel voor dat ons eers ’n koffie kry by die knus MoMoYa-restaurant op die eerste vloer en daarna in die ontwerpbiblioteek gaan sit. Daar is elke denkbare boek en tydskrif van regoor die wêreld wat met ontwerp, kleur, struktuur en argitektuur te make het. Voor jy jou oë uitvee, is ’n paar uur verby en die koffie in jou wegneembekertjie yskoud. As jy in die stad woon, kan jy enige van die boeke uitneem. Hemels!

Langs die biblioteek is ’n interessante video-installasie oor die sentrum se konstruksie.

Die vloer met jong ontwerpers se klere uitgestal.

Ons stap na ’n vloer waar jong ontwerpers hul klere in klein afskortings uitstal en beamptes help as jy iets wil aanpas. Dit herinner my aan die Suid-Afrikaanse Young Designers Emporium, wat ontwerpers onder een dak byeenbring en koste spaar deurdat elkeen nie sy eie winkel hoef te open nie.

Die spiraaltrap is self ’n ontwerpmeesterstuk.

So drentel-drentel sien ek daar is verskeie uitstallings waarvoor jy kaartjies kan koop, maar ons is heel gelukkig om net te kyk hoe die lig deur die reuse- ronde vensters val en die kurwes skaduwees op die vloer gooi. Op die dak sit ’n paar mense en geniet middagete-noedels en toe ons terugstap, gewaar ek die pragtige spiraaltrap waarvan die rante met ’n wit lig omraam is. Die treffende houttrap teen die spierwit mure en swart handreling is ’n ontwerpmeesterstuk op sigself.

Halfpad met die trappe af gewaar ons die bordjie vir Colors Shapes Movements deur Felice Varini. Daar staan ’n tafeltjie in die een hoek van die spierwit gang en ek neem aan dis waar jy kaartjies koop, maar die vriendelike jong man verduidelik hy is net daar indien jy iets wil weet en oorhandig ’n pamflet. “Stap net deur, stop gereeld en kyk terug; kyk op; en kyk vorentoe; en neem baie foto’s.”

Ek is steeds onseker, want ek sien nie die ingang na die uitstalling nie. Hy verduidelik geduldig: “Dit is die eerste uitstalling van die Design Dulegil Spesiale Uitstalling, en ons is trots om die wêreldbekende kunstenaar Felice Varini, wat alledaagse ruimtes in kunswerke verander, aan die publiek bekend te stel.

“Die Colors Shapes Movements-uitstalling bied vier nuwe werke aan wat geskep is deur vorms en kleure wat voortdurend verander volgens die beweging van besoekers. In hierdie spesiale uitstalling kan jy deur die kunswerke met die ruimte interaksie hê en foto’s neem met die werke en self uitvind wat deur die kunstenaar met elke kunswerk bedoel is.”

Dit blyk die vier kunswerke is teen die mure van die 165 meter lange gang in die DDP Design Dulegil-ruimte. Ek lees in my pamflet:

Varini se ruimtelike kunswerke word binne die spiraalvormige gang wat die gebou se kenmerke ten toon stel, uitgestal en laat besoekers toe om deel van die kunswerke te word onderweg na die kulturele sentrum. In hierdie werk, wat gekenmerk word deur geometriese motiewe en helder kleure, skep die kunstenaar ’n gevoel van volheid én leegheid, en ’n eindelose dialoog tussen die werk en ruimte, en die persepsie en plek van besoekers.

Die eerste kunswerk is Through the elliptical blue.

Voor my strek die reuse- blink gang spierwit in ’n elegante kurwe en eerste aan die beurt is Through the elliptical blue, wat amper soos ’n onderstebo hart met ’n potblou kern wink.

As jy terugkyk, lyk die kunswerk heeltemal anders.

Om deel te word van die kunswerk, is iets heel besonders. Dit neem my terug na my kinderdae toe daar in cartoons allerhande kleurvolle spirale geteken is wat jou oë wou mislei.

Groepe mense stap deur die werke op pad na ander uitstallings – meestal onbewus dat hulle deur ’n uitstalling stap en deel daarvan is – maar dat dié wat voor of na hulle kom, hulle op kamera verewig as deel van die kunswerke.

Gou vra ander besoekers wat sien ons neem foto’s, waaroor alles gaan en ek laat hulle ook die pamflet lees. Skielik is daar oral fone en almal wil afgeneem word binne die kunswerke. Ek glimlag. As Varini iewers in ’n operasionele kamer sou sit en ons bekyk, sou hy erg in sy noppies wees, want hy gebruik ongewone ruimtes soos hierdie een met groot trefkrag. Hier is dit nou weer eens bewys!

Soos die pamflet verklaar:

Terwyl sy kuns ’n onlosmaaklike verhouding met die argitektuur vorm, handhaaf Varini beide die realiteit van die struktuur en die onafhanklikheid van sy werk. Sy werk word gedryf deur die onmiddellikheid en terrein-spesifiekheid van die “hier en nou” terwyl hy die onveranderlike en komplekse werklikheid van argitektuur teëkom.

Langs die lang spiraalgang vorm sy stukke ritmes deur komposisie, transformasie en dekonstruksie, wat organies vervleg en mekaar beïnvloed. Die uitstalling bevat veral seldsame dubbel-perspektief werke, wat Varini se tegniese meesterskap beklemtoon.

Met hierdie uitstalling poog Varini om uitdrukking te gee aan die dialoog tussen kuns en ruimte; kognisie/persepsie en plek; volheid en leegheid. Soos besoekers deur die geboë gang stap, kom hulle die eerste installasie teë, net om ’n tweede aansig te ontdek, wat die aanvanklike betekenis ondermyn.

Die geometriese werke blyk golwend te verander soos ’n mens deur die ruimte beweeg, wat hul samehangende vorm slegs by spesifieke, dog onvoorspelbare aansigte openbaar.

Die kunswerk is egter nie tot hierdie spesifieke punte beperk nie. Dit bestaan ​​in die versameling van alle moontlike aansigte, wat ’n oneindige aantal perspektiewe skep soos besoekers vrylik deur die uitstalruimte beweeg. Hierdie reis laat die kyker toe om die wisselwerking van kleur en vorm met die argitektuur te aanskou en ’n nuwe en onbekende tydruimtelike dimensie binne die argitektoniese struktuur te ervaar.

Die tweede kunswerk het dieselfde titel as die eerste en hoewel ook blou, lyk dit heeltemal anders.

Hollowed out red square

Die derde kunswerk is Hollowed out red square en die laaste een is From corner to triangle, wat jou soos goudgeel sonstrale omvou.

From corner to triangle

Ons kyk toe inderdaad voortdurend op, vorentoe, agtertoe en neem baie foto’s.

Die inligtingsbord aan die einde van die gang met kunswerke verklaar dat Varini, ’n Frans-Switserse kunstenaar, hierdie reeks werke spesiaal vir die spiraallandskap van DDP geskep het.

Daar is ’n aanhaling van hom: “In hierdie uitstalling is ek diep geïnspireer deur die atipiese gevoel van ruimte, volume en steeds veranderende vorm van DDP-argitektuur.”

Die bord lees voorts dat Varini in 1952 in Switserland gebore is en meestal in Frankryk werk, waar hy argitektoniese ruimtes en die hele stad as sy skilderdoeke gebruik.

Hierdeur word werke aangebied wat optiese illusies gebruik, wat anders lyk na gelang van die kyker se perspektief. Werke vergestalt in drie dimensies deur noukeurige berekening en kommunikeer met mekaar deur ’n nuwe verhouding met ruimte te vorm volgens die kyker se bedoeling.

Nou is ek nuuskierig oor sy ander werke en gaan beslis meer oor hom oplees.

Natuurlik kan ek my oë nie wegskeur van die DDP Design Store waar die beste Koreaanse ontwerpe uitgestal en te koop is nie. Ek hoop aanvanklik om daar ’n boek oor hom raak te loop, maar sonder sukses.

Ek verloor natuurlik toe my hart in die ontwerpwinkel ...

Ek kry egter die mooiste handgeverfde poskaarte, wat ek sommer tuis wil raam, en ’n oulike steggie-pot vir ’n avokadopeerpit. ’n Stukkie van hierdie magiese ervaring gaan saam huis toe!

Dis etlike ure later dat ons in Cafe de Fessionaa in die kunssaal met yskoffie en ’n pragtige koffietafelboek sit.

Wat ’n vinnige besoek in ons besige Seoel-ontdekkingsreis sou wees, het ’n halwe dag se lekkerte opgelewer.

  • Die Colors Shapes Movements-uitstalling is daagliks van 10:00 tot 20:00 oop en duur tot 30 Maart by Dongdaemun Design Plaza (DDP), Design Dulegil by B2F van die museum. Maar besoek die https://ddp.or.kr/ vir die volledige program van alles wat jy daar kan sien en ervaar.

Foto’s: Clifford Roberts

Lees ook:

Ikone van straatkuns onder een dak

Reddingsbaadjies as sosiale kommentaar

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top