Dis tydens ’n kuier in Parys dat die nuushooftrekke in ’n banier onderaan die televisieskerm in ons hotelkamer verbygly. Nog vroue en kinders het verdrink terwyl hulle onwettig uit Sirië na Engeland probeer ontsnap het. Die oorsaak was vermoedelik dat die man wat hul onwettige reis gereël het, nie wou geld spandeer op duurder reddingsbaadjies wat regtig sou dryf nie. Toe hulle reeds doodmoeg, honger en uitgeput in die ysige Engelse Kanaal beland het, het vlugtelinge soos klippe gesink.
Ons sorgelose vakansie kry ’n effense donker kleur met die besef van hoe wreed en gevoelloos mense teenoor mekaar kan wees.
Die gedagte bly my by: dat jy iemand wat reeds niks oor het nie, wie se dorpe en huise deur bomme en koeëls verwoes is, se geld sal vat en dan willens en wetens hul lewe verder in gevaar stel deur aan hulle ’n foutiewe reddingsbaadjie te gee. Boonop is daar soveel desperates wat net wil wegkom, dat jy nie kan tred hou met watter bote sink of hoeveel verdrink nie, en dus nooit sal weet of hulle die reis oorleef het nie.
Ek onthou die hele gesprek met my vriendin wat in Amerika woon, oor die Amerikaners se “beheptheid” met veiligheid, maar hoe gerusstellend dit vir haar as ma van drie jong kinders is. Sy het by hul skool gehoor van die US Army Corps of Engineers (USACE) en die nie-winsgewende Corps of Engineers Natural Resources and Education Foundation (The Corps Foundation) se waterveiligheidsveldtog met die slagspreuk “Life Jackets Worn... Nobody Mourns”. Daarmee saam is die #PleaseWearIt- en #LifeJacketsWornNobodyMourns-hutsmerke by haar kinders ingedril.
Die veldtogdoelwit is om verwante sterftes op waterweë te verminder.
Dis een ding om by die munisipale swembad te gaan swem of in die vlakwater te baljaar, maar ’n ander as jy op ’n sorgelose somersdag saam met vriende op ’n jag uitgaan en dinge skeefloop. Dit is weer in Augustus bewys toe ’n luukse superjag aan die Siciliaanse kus gesink het en verskeie mense verdrink het, waaronder die Britse tegnologiereus, Mike Lynch.
Maar dat reddingsbaadjies lewens kan red, is gewis.
’n Mens wonder of daardie tipe veldtogte enigsins ’n indruk op die skelm mensehandelaars se gewetens maak wanneer hulle die foutiewe reddingsbaadjies aan weerloses uitdeel. En of hulle hierdie tipe argeloosheid jeens hul eie kinders sou openbaar.
Die hele tema van ’n reddingsbaadjie het in my eie lewe ook ’n diep betekenis. Twee jaar gelede is ons op die reis van ’n leeftyd. Norwegian Cruise Line se nuutste skip, Prima, gaan op haar eerste vaart van Ysland na Nederland en ons is genooi.
Lank voor ons aan boord gaan, kom die e-pos met die veiligheidsvideo wat ons asseblief moet kyk. Aan boord sal ons ook ’n veiligheidsoefening hê sodat alle passasiers voorbereid is op ’n noodgeval.
Dis ons eerste reis op ’n skip van hierdie grootte en wat oor sulke groot afstande oor die oop see reis, en ’n mens voel onmiddellik dat hul passasiers in baie goeie hande is.
Vir agt dae voor haar vertrek, ontdek ons Ysland. Die noorde met sy fjords en ongerepte skoonheid is ons bestemming.
Tydens hierdie besoek is een van die emmerlys-goed om te sien die Arktiese vos (meer oor dié uitstappie hier).
Ons gaan na die noordelikste park in Ysland, Hornstrandir-natuurreservaat.
Die eiland word nie permanent bewoon nie, want die weer daar is te onvoorspelbaar en as jy daar vassneeu, kom haal hulle jou weke later in ’n lyksak. Permitte word uitgereik en net gekwalifiseerde gidse en geregistreerde toeroperateurs mag tussen die eilande werk. Ook word net 20 toeriste per ferrie toegelaat om die eiland so ongeskonde moontlik te hou.
........
Jy vertrek van Ísafjörður per ferrie en die rit na Kvíar oor die ysige potblou see duur ongeveer ’n uur. As jy terugkyk na die land wat bo die skuimstreep agter die klein bootjie kleiner word, voel jy waarlik nietig.
........
Jy vertrek van Ísafjörður per ferrie en die rit na Kvíar oor die ysige potblou see duur ongeveer ’n uur. As jy terugkyk na die land wat bo die skuimstreep agter die klein bootjie kleiner word, voel jy waarlik nietig.
Maar die gedagte dat jy enigsins in gevaar kan verkeer, gaan nie regtig deur jou kop nie. Ongelukke op see gebeur met ander mense – mense wat dalk roekeloos was, in storms beland het of nie voorbereid was nie.
Halfpad deur die reis slaan daar pikswart rook onder by die enjin uit. Die reuk van diesel hang swaar in die lug en die enjin gaan staan. Ons dobber op die oopsee. Niemand het reddingsbaadjies aan nie, want niemand het enjinprobleme of ’n noodgeval verwag nie. Die meeste mense is op hul fone doenig en is heeltemal onbewus van wat aan’t gebeur is.
Die jong helper aan boord wil die enjinflap oopmaak, maar ’n Britse toeris stop hom.
Sy reël jagvaarte vir ryk toeriste in onder meer die Mediterreense See en neem vinnig beheer van die situasie, want dit lyk nie of die kaptein en sy baie onervare span besef hoe groot – en vinnig – die krisis kan word nie. Die rook dui op ’n brand in die enjinkamer en met die walms wat bo in die klein kajuit sweef, is ’n klein ontploffing heel moontlik en dan beland al die passasiers in die ysige water.
Die jonger dekhelpers lyk ook ietwat stomgeslaan en amper gevries in hul bewegings – en dit het niks met die snerpende koue te maak nie. Sy beveel hulle om vir almal reddingsbaadjies te gee en die volgende uur word gewy daaraan om almal kalm te hou en rubberbootjies per radio van Ísafjörður te laat kom om ons stuk-stuk na Kvíar te vervoer.
Die adrenalien bruis deur ons are; die proses om ses tot agt mense per bootjie te laat oorklim sonder dat fone en kameras en rugsakke oorboord val, is senutergend.
Die kuier op die eiland het almal laat ontspan, die oggend se chaos en vrees grotendeels vergete. Ses ure later klim ons terug op ’n ander ferrie, terug na Ísafjörður. Die son gaan prentjiemooi onder toe ons die hawe invaar en almal is in ’n ligte luim.
Die Brit en haar man en seun het lekker vriende geword deur die loop van die dag en ons besluit om saam ’n glas wyn te gaan drink. Toe ons almal voor die kaggel sit, bedank ons haar opnuut vir haar ingryping vroeër.
........
“Ek wou nie paniek saai nie, maar meer as die helfte van die reddingsbaadjies kon nie dryf nie. Hulle kry spesiale gassilinders in wat geaktiveer word sodra jy die water tref. Die helfte van hulle het geen silinders in gehad nie en was basies net stukke netjies gestikte onderbaadjies.”
........
“Ek wou nie paniek saai nie, maar meer as die helfte van die reddingsbaadjies kon nie dryf nie. Hulle kry spesiale gassilinders in wat geaktiveer word sodra jy die water tref. Die helfte van hulle het geen silinders in gehad nie en was basies net stukke netjies gestikte onderbaadjies.”
Die betekenis van haar woorde sink stadig in. Die dag kon soveel anders uitgedraai het. Daar kon ’n ontploffing gewees het; mense kon gesterf het; mense kon verdrink of in die ysige water verkluim het. Soos wat dit daagliks vir weerlose mense uitdraai as hulle deur geslepe mensehandelaars in onveilige bote en onveilige reddingsbaadjies na watergrafte gestuur word.
Die eerste ding wat die NCL-personeel ons op die luukse Prima vra, is of ons die veiligheidsvideo gekyk het. Ons kamerassistent wys ook waar die reddingsbaadjies in ons kajuit is. Ek maak ook sommer seker die reddingsbaadjies is in goeie toestand en kan dryf.
Die dag wat soveel anders kon uitdraai, kom weer by my op toe ek onlangs by die Icons of urban art-uitstalling in Seoel in Korea staan en daar in ’n glaskas ’n reddingsbaadjie neffens ’n welkommatjie lê.
Die uitstalling fokus op straat- of muurkuns, met onder meer werke van Banksy, KAWS, JR, Shepard Fairey en Richard Hambleton. Dit is deur die Museum of Urban and Contemporary Art (MUCA) in München, Duitsland na Seoel gebring. Voor Seoel was dit in Japan op uitstalling.
Welcome Mat is by Banksy se konsep-opskietwinkel, Gross Domestic Product, in Croydon verkoop. Dis deur vlugtelingvroue in aanhoudingskampe met die hand gestik en bestaan uit reddingsbaadjies wat op die eiland Lesvos gelos is, nadat vlugtelinge aan wal gekom het.
Slegs 500 van die kunswerke is teen 500 Britse pond elk verkoop.
Die oorspronklike beskrywing van die werk het daarop gewys dat baie reddingsbaadjies wat deur smokkelaars uitgedeel word, nie kan dryf nie en vals is. Alle opbrengs van die werk se verkope is plaaslik behou om vlugtelinge te help om toegang tot noodsaaklike dienste te kry.
Welcome Mat stel Banksy se nuutste humanitêre projek voor: In 2020 het hy ’n reddingskip gefinansier om die Middellandse See te patrolleer vir migrante in nood. Louise Michel was deel van die Franse vloot, voor Banksy haar pienk geverf het en in ’n reddingskip verander het. Dit was in reaksie daarop dat die EU-owerhede doelbewus noodoproepe van nie-Europeërs geïgnoreer het. Die opbrengs van die verkope by Gross Domestic Product is vir hierdie sending geskenk.
Natuurlik wil ek toe ook meer weet van die Welcome Mat en kom aanlyn op ’n baie interessante statistiek in ’n bloginskrywing van Jesse Car op SoleSavy.com af:
Elke mat is uniek, met verbleikte en vuil stroke van die baadjies wat in hope op die strand uitspoel, of deur vlugtelinge daar gelaat word. Die stukke vuil lap spel Welcome – ’n skreiende ironiese stelling oor die vroue wat ’n lewe van vryheid soek, maar dikwels alles behalwe verwelkom word in hul nuwe omgewing. Die buitelyn van die mat bevat swart nylonbande met gespes wat van die hoeke af hang, wat weer die simboliek van foutiewe toerusting tuisbring wat niks verseker nie.
Ek het dadelik gaan kyk na inligting oor die vroue wie se lewens ’n bietjie beter gemaak is met elke mat wat ’n gretige kunskoper soos ek gemaak het. Love Welcomes het ’n infografika opgesit oor die impak van ’n enkele mat, wat sê dat uit net die eerste 500 wat gemaak is, 33 bykomende vroue werk gekry het, 294 mense toegang tot mediese en regsdienste gekry het en drie nuwe besighede is gestig om busvervoer te bedryf vanaf die kamp na Athene.
En net daar kom die toneel uit die Netflix-film The swimmers, wat die ware verhaal is van Yusra en Sarah Mardini wat uit Sirië na Duitsland vlug om ’n beter lewe en Olimpiese droom na te streef, by my op.
Hulle het vir dae aaneen gestap, sonder water of kos en vele van hul reisgenote langs die pad gegroet wat nie die uitmergelende roetes kon volhou nie. Ma’s gee hul babas aan vreemdelinge in die hoop dat hulle ’n beter toekoms sal hê.
Heelwat van die mense in hul rubberbootjie het ook nie die seereis oorleef nie en mens kan jou nie die trauma indink van die oorlewendes wat vir dae saam met die lyke in bootjies rondgedobber het nie. Hulle arriveer ook op Lesvos en die hommeltuigskoot wys die duisende opgestapelde reddingsbaadjies waar die drenkelinge uitgehonger en moeg hulself aan wal sleep. Hulle los hul reddingsbaadjies agter, in die hoop van beter dinge wat wag. Duisende ander baadjies spoel ook uit van dié wat nooit die kus sal haal nie.
Ek het na my asem gesnak met dié toneel.
Kyk die lokprent hier:
Om daar by die glaskas te staan waar die bykans tasbare bewys van die mens se roekeloosheid met ’n ander se lewe uitgebeeld word, het my weer na my asem laat snak.
Lilly Singh, die kind van Indiese immigrante in Kanada en ook die skrywer van How to be a bawse: A guide to conquering life, het geskryf:
So if you’re drowning, keep your life jacket on and fight. But once you’re able to swim, don’t convince yourself you forgot how to. Take your life jacket off, front-crawl your way to the shore, walk off that beach, and set your GPS to the top of a hill, because you will conquer the climb.
Haar bedoeling is metafories en bedink natuurlik ’n reddingsbaadjie wat kan dryf. As hierdie woorde maar net vir meer weerloses in onveilige rubberbote ook kon waar word! Dan sou nuusflitse nie daagliks nog verdrinkings rapporteer nie en sal die wêreld al klaar ’n beter plek wees. Die oorloë en hebsug van despote gaan nie einde kry nie.
- Die Icons of urban art-uitstalling waarvan die Welcome Mat een is, is aan tot 2 Februarie 2025 by die Chungmu Arts Center, Gallery Sindang, Seoel, Korea. Dis nie Maandae oop nie en ook nie 28 en 29 Januarie nie.
- Meer inligting hier: https://www.caci.or.kr/product/ko/performance/2469
Lees ook:
Leesimpressie: Gesloten wegens omstandigheden door Mohamed Ouaamari