Filmresensie: Io Capitano by die Europese Filmfees

  • 0

Io Capitano (Ek is die kaptein)
Italië se inskrywing op die Europese Filmfees
2h 1m
2023
Regisseur: Matteo Garrone
Met: Seydou Sarr, Moustapha Fall, Issaka Sawagodo, Hichem Yacoubi, Doodou Sagna, Khady Sy, Bamar Kane, Cheick Oumar Diaw
Tale: Wolof en Frans met Engelse onderskrifte

Die Europese Filmfees is nou verby, maar ek sou soek na Io Capitano en kyk die film as jy ooit die geleentheid kry. Wees net bewus daarvan dat jy nooit weer dieselfde sal kyk na onwettige vlugtelinge nie. Io Capitano volg die brutale reis van twee sestienjarige seuns wat desperaat wil wegkom uit die krotbuurte van Dakar in Senegal om in Europa geld en roem te soek.

Vir ons hier in die suide is dit bitter moeilik om hulle reis te verstaan. Ek het dus ongeveer my eie weergawe hier aangebring na aanleiding van wat ek op Google Earth kon sien. Ek gee opsetlik nie die ware reis weg soos dit in die film gebeur nie, want wat ek hier noem, is nader aan die “eenvoudige” roete wat die twee seuns sou wou deurmaak. As ek reg is, sou die reis na Tripoli hulle oor ongeveer 7 000 km neem.

In ’n goeie 4x4 sou hierdie reis ’n mens se sitvlak deksels seermaak. As jy egter afhanklik is van ou busse, die agterkante van oop bakkies en baie stap ... Dan is dit ’n epiese tog. Die film toon dat dit inderdaad ’n rou en bitter roete is.

Dit gesê, het ek nog nie eens begin krap aan die geweld wat die twee seuns moes deurmaak nie.

Ek gaan nie die storie weggee nie

Die twee seuns werk ontsettend hard om genoeg geld bymekaar te maak om mense te betaal om hulle deur die woestyn te vervoer tot in Libië se hoofstad. Vandaar is dit net ’n bootvaart oor die middellandse see om tot in Italië te kom.

So maklik? Ongelukkig nie.

Daar is byvoorbeeld ’n baie interessante oomblik waar die twee aangeraai word om hulle geld in hul anus te bêre. Dié praktyk kom baie in ons tronke ook voor en Stefaans Coetzee se Sel ses beskryf die praktyk baie akkuraat. Dit klink slim, maar die probleem is natuurlik dat hierdie praktyk deesdae bekend is. Kyk maar self ...

Om ’n vlugteling te wees is om hel te ervaar

Mense soos Donald Trump gebruik vlugtelinge om sy veldtog te probeer red. Alles aan vlugtelinge is verkeerd volgens hom. Ons hoor dieselfde retoriek van Geert Wilders in Nederland en talle ander verregse groepe in Europa. Ook in Suid-Afrika is daar gereeld weer ’n uitbraak van buitelanderhaat.

Hoekom? Aan die een kant is dit baie nodig om arm Amerikaners, werkersklas Europeërs en werklose Suid-Afrikaners se probleem te probeer verstaan. Die hoeveelheid vlugtelinge wat dit uiteindelik maak tot in Europa, die VSA of Suid-Afrika, is oorweldigend. Hulpbronne in die VSA en in Suid-Afrika is skaars, Europa is lank nie meer die ryk geldpot van sosialisme wat dit ’n paar dekades gelede was nie.

Mag ons dus kwaad wees vir vlugtelinge?

Die groot ding is egter dat geen intelligente mens ’n dodelike reis sal aanpak as hulle nie desperaat is nie.

Dit is wat hierdie film vir ons wys. Vlugtelinge het wêreldwyd ’n probleem geword. Die desperate mense vlug nie omdat hulle toeriste wil wees nie. Hulle vlug omdat hulle nie meer in hul eie omstandighede kan bly nie.

Iets oor die einde, sonder om die storie te verklap

Io Capitano is Italiaans. Dit beteken “Ek is die kaptein”. As julle wil weet hoekom ’n minderjarige seun aan die stuur van ’n boot vol mense sulke woorde uiter aan die Italiaanse kuswag, mag julle maar die film kyk.

Die titel van die film is egter ook metafories. Elkeen van die mense wat die hellerit onderneem, is ’n kaptein van hul eie bestemming. Party kry dit reg om die storms te trotseer, ander nie.

Iets van die waarheid, iets van die mite

Io Capitano deel ’n haas ongelooflike storie met die kyker. Homerus sou die knie gebuig het as hy hierdie film kon sien. Matteo Garrone, die regisseur, het Io Capitano beskryf as ’n “poging om uiteindelik stem te gee aan diegene wat nie gewoonlik een het nie”.

Saluut! En ek is nie die enigste een wat dit sê nie.

Die film het die Silwer Leeu by die Venesiese Rolprentfees gewen en ook sewe toekennings by Italië se jaarlikse David di Donatello-toekennings, insluitend beste rolprent, beste regisseur, beste kinematografie en beste akteur.

In 2024 het dit ook die kortlys gehaal van die Oscars vir die beste buitelandse film.

’n Mens moet ook die hoed lig vir Seydou Sarr (as Seydou) en Moustapha Fall (as Moussa). Hulle speel die twee tieners met groot oorgawe en oortuiging.

Dus?

Daar is ’n rede waarom Io Capitano op die Europese Filmfees was en ook die kortlys van die Oscars gemaak het in 2024. Doen moeite om dit gesien te kry.

Lees ook:

Filmresensie: The quiet girl by die Europese Filmfees

Sweet dreams at the European Film Festival: a film review

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top