Ons sien ’n perskleurige vlag teen ’n lamppaal in die strate van Seoel in Suid-Korea wapper. Soos die wind die materiaal se voue uitblaas, is die naam Banksy en KAWS en Invader sigbaar. Ons loop by ’n hele paar van dié vlae verby, want die beskrywing is in Koreaans en sonder internet op ons slimfone, kan ons niks vertaal nie. Ek neem egter ’n foto en toe ons later die aand by Wi-Fi is, sien ons dis ’n uitstalling, Icons of Urban Art, wat skaars twee dae voor ons aankoms in die stad geopen het.
Die uitstalling het altesaam 72 kunswerke op uitstalling en bestaan uit kunswerke, afdrukke en beeldhouwerke van onder meer Banksy, KAWS, JR, Shepard Fairey en Richard Hambleton. Die volgende oggend is ons bykans eerste in die ry by die Chungmu Arts Center, Gallery Sindang, betaal die 20 000 Suid-Koreaanse won (ongeveer R250) per kaartjie en staan uiteindelik voor die werke van die grootste stedelike muurkunstenaars van die 21ste eeu. Dis deur Museum of Urban and Contemporary Art (MUCA) na Seoel gebring en was al in verskeie ander wêreldstede.
Ons lees op die reuse-uitstalbord: “Stedelike kuns verwys na verskeie vorme van visuele kuns wat in die moderne stedelike omgewing ontstaan het, geskep en vertoon in openbare ruimtes soos mure, geboue, paaie, brûe, ensovoorts. Die beweging sluit baie verskillende vorme van kuns in, tradisioneel of nie-tradisioneel, van graffiti-kuns, straatkuns en plakkaatkuns tot stensilkuns en mosaïekkuns. Hierdie werke transformeer die stadsgesig, roer die harte van die stedelinge en lewer soms sosiale of politieke boodskappe.
“MUCA, wat in 2016 deur Christian en Stephanie Utz gestig is, het een van die grootste stedelike kunsversamelings in Europa en bied nou vir die eerste keer in Korea werke van 10 ikoniese stedelike kunstenaars aan wat hulself internasionaal gevestig het.
“Die uitstalling sluit noemenswaardige werke in van kunstenaars soos Banksy, bekend vir politieke satire en sosiale kritiek; KAWS, wat popkuns met straatkuns vermeng; JR, ’n Franse straatfotograaf wat groot swart en wit portrette op stedelike geboue plak; Shepard Fairey, ’n Amerikaanse straatkunstenaar wat die lyne tussen straatkuns en politieke propaganda vervaag; en Richard Hambleton, ’n pionier van New York-straatkuns in die 1980’s.
“Die uitstalling bevat veral verskeie beeldhouwerke van Banksy, wat selde in Korea gesien is, insluitend Vandalized Phone Box, wat vir die eerste keer in Asië deur MUCA tentoongestel sal word. In 2005 het Banksy ’n rooi telefoonhokkie in ’n Londense Soho-steeg geplaas wat ooglopend bloei van ’n pik-kap. Hierdie werk lewer kritiek op die agteruitgang van telefoonbokse – eens simbole van die Britse samelewing – as gevolg van vooruitgang in moderne kommunikasiedienste.
“Daarbenewens is ander impakvolle werke soos Invader se groot LED-maan en KAWS se kenmerkende karakter 4FT COMPANION ingesluit. Elkeen van hierdie werke dra sosiale boodskappe en bied ’n lewendige, vars perspektief op kontemporêre kuns.”
Daar lees ek ook sommer meer oor die Museum of Urban & Contemporary Art (MUCA) in München, Duitsland, wat gestig is deur Christian en Stephanie Utz en op 9 Desember 2016 geopen het. MUCA is een van die grootste stedelike kunsmuseums in Europa en huisves meer as 1 200 werke deur prominente kunstenaars soos Damien Hirst, Banksy, KAWS, Shepard Fairey, Zeus, David Choe en Osgemeos. Dis in 2019 as een van die toptien-kunsmuseums in Duitsland gelys.
Ek is baie opgewonde om Banksy se werk te sien. Wie ken nie vir Girl with balloon – Banksy se werk uit 2002 – nie. Daar is selfs ’n afdruk teen ’n munisipale geboutjie in Oudtshoorn. Ons was gelukkig om Pulp Fiction by die Old Street-moltreinstasie in Londen te sien voor dit in 2007 deur die Transport for London toegeverf is. Daarin het die twee hoofkarakters in Quentin Tarantino se 1994-film, John Travolta en Samuel L Jackson, piesangs in hul hande, in plaas van rewolwers.
Dit was egter eers met die vrystelling van Exit Through the Gift Shop, waarvan Banksy die regisseur was, dat ek waarlik van sy werk begin notisie neem het. Die Britse dokumentêr vertel die storie van Thierry Guetta, ’n Franse immigrant wat oor etlike jare in Los Angeles verskeie straatkunstenaars op film vasgelê het. Hieronder was onder meer Shepard Fairey en Banksy, maar toe hy vir jare niks met die materiaal aangevang het nie, het Banksy dit glo geneem en ’n dokumentêr daarvan gemaak.
Dit sluit onder meer ook inligting in oor Guetta – nou bekend as Mr Brainwash. Die film het sy première op 24 Januarie 2010 by die Sundance-Filmfees gehad en is genomineer vir beste dokumentêre vollengte film by die 83ste Academy Awards.
Ons het drie van Mr. Brainwash se geraamde werke in April vanjaar aan boord die Queen Mary 2 gesien, toe sy in die Kaapstadse hawe aangedoen het.
Twee hiervan het sjimpansees as tema en dit herinner my weer aan Banksy, wat gereeld ape of sjimpansees in sy werk gebruik. Die bekendste hiervan is sekerlik Laugh Now – een van sy vroeë werke wat hy in opdrag van ’n nagklub in Brighton in Brittanje geverf het. Die sjimpansee dra ’n bord om sy nek met die woorde: “Laugh now, but one day we’ll be in charge.” Die aap se uitdrukking en lyftaal is een van ’n onderdrukte en heel moontlik ’n metafoor vir die onderdruktes in die Britse samelewing wat Banksy glo eendag die land gaan regeer.
Ander werke wat ons pad gekruis het, of waarvan ons ander straatkunstenaars se weergawes gesien het, is Love Is In The Air, wat in Beit Sahour in die Wesbank wat Israel en Palestina skei, gestensil is. Dis ook bekend as Flower Thrower en stel ’n man voor wie se gesig agter ’n masker versteek is, wat ’n bos blomme gooi soos wat jy ’n handgranaat of Molotov cocktail sou gooi. Dit stel die mag van liefde en vrede oor oorlog voor. Dis een van Banksy se bekendste werke en op elke moontlike manier gedupliseer. My vriendin het selfs ’n selfoonhouer gehad waarop dit uitgebeeld is.
Twee van ons gay vriende het ’n poskaart van Kissing Coppers in hul woonstel. Dit beeld twee soenende polisiemanne uit en natuurlik sien elkeen sy eie verklaring daarvoor in. Vir ons vriende is dit ’n baken van hoop, dat die wêreld minder teen gay mans sal diskrimineer.
Ander vriende van ons was gelukkig genoeg om This’ll look nice when it’s framed in San Francisco van ’n jong kind wat met ’n botteltjie spuitverf staan en redelike skewe woorde gespuitverf het, te sien voor dit verdwyn het; ons kon die tweede weergawe van Soldiers painting CND in die Tate Gallery in Londen sien en die baie verweerde Girl and Mouse in New Orleans besigtig.
Dit bring my terug na die hede en die uitstalling in Seoel.
Are You Using That Chair? is ’n reusewerk wat in die halfskemer vertrek nog meer treffend is. Ek is mal oor Edward Hopper se werk en hierdie aweregse vertolking van Nighthawks is baie indrukwekkend. Ek lees later op die webwerf: “Soos Hopper, word Banksy ook erken as ’n kunstenaar wat nie skroom om die realiteit van ons moderne samelewings uit te beeld nie. In sy weergawe van Nighthawks beeld die kunstenaar ’n dreigende mollige man uit wat net ’n Union Jack-onderbroek dra, en wys kwaad na die gebarste venster van Hopper se diner. Twee plastiekstoele is op die sypaadjie rondom hom gestrooi, en dit blyk dat hy hulle waarskynlik gegooi het in ’n poging om die venster te breek. Dit verteenwoordig moontlik die woedende Britse werkersklas wat ’n sitplek aan die elite se tafel eis.”
Ander Banksy-werke wat uitstaan, is die Welcome Mat en die bloeiende rooi telefoonhokkie Vandalized Phone Box. Ons praat so baie oor hoe die samelewing deur middel van tegnologie verander het; hoe ons minder met ons regte vriende gesels en al meer met virtuele mense tyd deurbring. Die telefoonhokkie was ook ’n groot deel van my lewe toe ons ná ons studies vir ’n jaar deur Brittanje en Europa geryloop het. Ek sal nooit vergeet hoeveel munte ek in daardie gleuf moes laat gly om net ’n behoorlike gesprek met my ouers op Upington te kon hê nie.
Dis egter by Welcome Mat wat ek die langste vertoef. Lees meer daaroor hier: https://voertaal.nu/reddingsbaadjies-as-sosiale-kommentaar/
Soos ons deur die uitstalling stap, besef ek ook hoeveel van die ander straatkunstenaars se werk is al só deel van die kunslandskap dat mens meer bekend is daarmee as wat jy besef.
Daar is ’n klein kamertjie waar ’n video van Invader speel en die donker vierkant kort-kort met pers, pienk en groen verlig word. Ek dink aan etlike maande gelede, toe ons Parys platgestap het om sy straatkuns op die onmoontlikste plekke te soek.
Hy definieer homself as ’n UFA (Unidentified Free Artist). Hy gebruik die skuilnaam en werk altyd met ’n masker sodat hy sy eie uitstallings kan bywoon en mense se kommentaar kan hoor, sonder dat hulle weet wie hy is.
Hy het die naam Invader gekies, omdat hy stede met sy straatkuns indring. Hy bring tussen 20–50 straatkunswerke per stad aan en keer dikwels terug na ’n stad om nuwes by te voeg. Sy kenmerkende ontwerp herinner aan iets tussen ’n Lego-spinnekoppie of -krappie en is geïnspireer deur die destydse blokkerige arkade-videospeletjie, Space Invaders, wat in 1978 deur Taito in Japan vrygestel is. Hy gebruik teëltjies om sy pikselkuns te ontwerp.
Daar is ’n kortfilm Art4Space wat in 2012 vrygestel is, wat meer oor sy projekte vertel.
Die ander werk by die uitstalling wat my fassineer, is die werk van Richard Hambleton wat in 2017 oorlede is. Hy word gereken as “The Godfather of Street Art” en New York was sy skilderdoek vir baie jare. Baie mense het hom as graffiti-kunstenaar bestempel, maar hy het volgehou dat hy ’n konsepsuele kunstenaar is wat beide publieke en galerykuns geskep het.
Sy Shadowman-skilderye van die vroeë tagtigs het hom bekend gemaak. Elke skildery lyk soos ’n lewensgrootte silhoeët van een of ander geheimsinnige persoon, ’n blertsige skadufiguur wat op honderde geboue en ander strukture regoor New York-stad gespat en geverf is. Hy wou die maksimum impak op niksvermoedende voetgangers hê en baie van sy figure is in ’n donker stegie of net om ’n straathoek gevind.
Hambleton het later sy projek uitgebrei en hierdie “skadumanne” in ander stede, waaronder Parys, Londen en Rome, geskilder, en in 1984 het hy 17 lewensgrootte figure aan die oostekant van die Berlynse Muur geskilder.
In 1983, tydens Malcolm McLaren se modeontwerpvennootskap met Vivienne Westwood, het hulle met Hambleton saamgewerk om ’n Shadowman-truiromp te ontwerp.
Na die paar uur in die uitstalling is ons oë skielik meer ingestel op elke moontlike teken van straatkuns in Seoel en ons vind verbasend min, hoewel die stad jaarliks die Seoul Street Arts Festival by die Seoul Plaza and Mugyo-ro, Cheonggye Plaza aanbied. Vanjaar se fees was in September met die tema “Story”.
Daar is egter ’n woonbuurt, Ihwa-dong, waar bykans elke hoek met straatkuns versier is. Een van die mooiste straatkunswerke wat ons heel toevallig met ons besoek teëkom, is onder ’n treinbrug naby die Bukchon Hanok Village, Jongno-gu, van ’n ou oom en tannie wat soen, getiteld We Are Young. Dis deur Won Yeong-seon. Dis in 2014 geverf en het al effe begin verweer, maar dié verweer dra net vir my by tot die skoonheid van die kunswerk.
- Die Icons of Urban Art-uitstalling waarvan die Welcome Mat een is, is aan tot 2 Februarie 2025 by die Chungmu Arts Center, Gallery Sindang, Seoel, Korea. Dis nie Maandae oop nie en ook nie 28 en 29 Januarie nie. Meer inligting hier: https://www.caci.or.kr/product/ko/performance/2469