Soms moet ’n stelsel ’n skok in die vorm van verlies beleef vir nuwe bloed – oftewel nuwe musiek – om gebore te word. In die jaar 2007 het Fokofpolisiekar – waarskynlik die rockgroep wat die grootste kulturele impak in Afrikaanse Suid-Afrika gehad het – aangekondig hulle onderneem ’n ruskans van onbepaalde lengte. Binne hierdie leemte het die lede van Fokofpolisiekar hul onderskeie rigtings ingeslaan – Francois van Coke en Wynand Myburgh het Van Coke Kartel gestig, Johnny de Ridder het die produksiekoers ingeslaan, en Hunter Kennedy en Jaco Snake Venter het getel onder aKING se stigterslede.
Dit klink na ’n lang aanloop om by Die Heuwels Fantasties uit te kom, maar die innoveringsgees en hoë gehalte waarmee DHF gedebuteer het, is waarskynlik toe te skryf aan die stigterslede – Kennedy, de Ridder en Pierre Greeff – se onderskeie ervaringsvelde. Greeff – ook Van Coke se neef – was voorheen saam met Alwyn Kotzé in die akoestiese duo Lukraaketaar – ’n relatief suksesvolle groep bekend vir hul treffende lirieke en melodieë.
Toe DHF dus in 2008 ’n bekendstellingsnit – “Oorlewing 101” – vrygestel het, was Afrikaanse musiekliefhebbers oorbluf deur wat hulle hoor: Klanke wat gemaklik met een been in elektroniese musiek, en die ander in die rock-aanslag staan. Kort daarna is nog drie nuwe snitte – “Pille vir Kersfees”, “Vinger alleen” en “Nare Kaskenades” versprei. Veral “Pille vir Kersfees” en “Oorlewing 101” was wegholtreffers, en ’n amptelike EP – vrygestel op ’n USB-stokkie, in die vorm van ’n pil – is uiteindelik uitgereik. Te danke aan die sukses hiervan was ’n vollengte-album kort op die hakke, met nog enorme treffers soos “Klein Tambotieboom” in die liederelys. DHF het gedien as die vlagskip-projek vir Kennedy en Greeff se platemaatskappy, Supra Familias, wat ook albums deur Jack Parow en Francois van Coke (solo) sou uitreik.
Die Heuwels Fantasties was in dié stadium ’n soort plaaslike uitskieter, en/of kopkrapper: ’n Groep wat groot aanhang in beide die alternatiewe- en hoofstroommark geniet ... En die momentum was onkeerbaar. DHF het in ’n relatief kort tyd ’n rits albums en EP’s vrygestel: Die Heuwels Fantasties [Deluxe edition] (2009), Lekker luisterliedjies vir die langpad [Deluxe edition] (2010), Wilder as die wildtuin (2011), Alles wat mal is (2012), Wens jy was hier [Deluxe EP] (2013), Ja. Nee. Lekker. (2014), die Live op Paul Cluver-DVD (2016), en Okay! (2017). Tussendeur dit als het Kennedy aKING agtergelaat en “voltyds” by DHF aangesluit. Hoewel De Ridder geleidelik minder betrokke geraak het, het die groep ook rondom 2012 twee nuwe lede gekry: Fred den Hartog (kitaar) en Philip Erasmus (tromme) – albei ook van die onderskatte rockgroep Thieve.
Verder het Die Heuwels ook ’n kulturele impak van hul eie begin maak: Onder meer het hulle reeds in 2009 die amptelike “Braaidag”-lied opgeneem saam met die gewilde rapper JR en die gevierde Soweto Gospel Choir (“Braaidag” is ’n meer informele weergawe van Erfenisdag in Suid-Afrika). Hulle is ook as “kunsambassadeurs” aangewys vir die nasionale rugbyspan, die Springbokke, se deelname aan die 2011-wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland. In 2017 het hulle ook ’n lied, “Bietjie hoop”, in samewerking met die landbougroep GWK vrygestel ter ondersteuning aan boere en kosverskaffers in die land, te midde van ’n vernietigende droogte. Eindelose landswye toere (en ook na die buiteland, onder meer Nederland) was deurentyd in die dagboek vir dié hardwerkende groep.
Die Heuwels se tog tot dusver was egter ook nie uitsluitlik fantasties nie. ’n Onverwags deurmekaar, benede-standaard optrede by 2011 se Oppikoppi (Suid-Afrika se grootste rockmusiekfees) het ondersteuners en kritici warm onder die kraag gehad, en die groep moes hard werk om hul reputasie as ’n uitstekende live band terug te wen (en hulle het ook). Verder het die verhouding tussen Erasmus en die res van die groep rondom 2014 versuur, en in ’n bisarre wraaktog het Erasmus die groep se sosialemedia-blaaie oorgeneem en ’n rits beledigende inskrywings gemaak – met die kruks dat die Heuwels net belangstel in geldmaak, en dat hy klaar is daarmee. Kennedy het in ’n mediaverklaring geantwoord dat die verbrokkeling van dié verhouding “al ’n rukkie aankom”. “Ons is baie lief vir Phil, maar ons is op die oomblik bietjie bekommerd oor hom. Miskien is dit net ’n laaste bemarkingsfoefie?”
Erasmus het uiteindelik sy spyt oor die voorval uitgespreek, maar hy was nooit weer deel van die groep nie. Sheldon Yoko – ’n bekende in Kaapse tromspeler-kringe – het aangesluit as ’n permanente lid van DHF, en die groep het aanbeweeg. Later het die saksofoonspeler Hiram Koopman ook al meer betrokke geraak by DHF se opnames en optredes.
Stoere musiekaanhangers en -kritici het ook vroeër al mond uitgespoel oor DHF se skielike gewildheid, en gemaklikheid in die hoofstroom: Dit was bloot ’n ongetoetste fenomeen in Afrikaanse musiek. Jy was óf vir die een, óf vir die ander, maar DHF het albei reggekry, en dit het sogenaamde puriste verwar.
In ’n openhartige onderhoud wat van die groeplede in 2013 met BY gevoer het, het Greeff onbeskaamd oor dié balans gepraat. “Ek is nogal ernstig hieroor. Dis wat ek doen, dis my loopbaan, en ja, die negatiewe kritiek kom vinnig by my uit. DHF is nie nie vir my ’n joke nie, die albums wat ons release is nie vir my ’n fokken joke nie, dis iets wat ek gekies het om aan te pak en baie van my emosionele energie in te invest, so ek vat dit ernstig op.” Kennedy het vroeër in dié gesprek ’n meer diplomatiese benadering ingeslaan: “Ons wou met die Heuwels spesifiek iets gedoen het wat mense nie sou affronteer nie [in teenstelling met Fokofpolisiekar] … want ons wou ’n bestaan maak. Dit is ’n groot deel van hoekom ek nou kan relax.” Greeff, besonder eerlik, het verklaar: “Jy moet verstaan, daai tyd [kort voor DHF] moes ek en Hunter terugtrek na ons ouers toe. Dit gebeur in jou vroeë twintigs, jy het nog geen bron van inkomste nie, jy bel maar en vra: ‘Hallo ma, is my kamer nog oop?’ Daai gevoel wat ons in ons harte gedra het, het daai musiek geskep …”
En dít, wat ook al die kritici sê, bly steeds die kruks van Die Heuwels Fantasties se musiek en lirieke: ’n Verkenning van wat binne en buite hulself aan die gang is, en om sin te maak daarvan – afwisselend met ’n ernstige meelewendheid, en ’n soort spottende sinisme, en ook die selfbewuste meedoen aan ontsnappingsmeganismes ... al is dit moontlik deesdae meer subtiel as met hul eerste vrystellings.
Buro: MvH