Die klassifikasie van Afrikaans

  • 0

Inleiding

Om die tale van die wêreld te onderskei en te groepeer, is ’n taak waarmee veral geolinguiste hulle reeds eeue besig hou. Enersyds is dit ’n vakgebied wat met ’n mate van wetenskaplike presisie beoefen kan word, maar andersyds is daar soveel subjektiwiteit onderliggend aan die afbakening van tale deur die sprekers daarvan dat die skrywers van ’n onlangse publikasie (Feliu en Nadal 2016), Constructing languages, in hulle ontleding drie hoofkenmerke in dié afbakening geïdentifiseer het, naamlik norme, mites and emosies.

Terwyl mites en emosies alreeds die houdbaarheid van taalafbakening onder verdenking plaas, is die eerste kenmerk, naamlik norme, wel ’n begrip wat ’n mens in staat stel om ietwat genuanseerd en met ’n mate van objektiwiteit te kyk na hoe tale in die wêreld geklassifiseer word. By die beoordeling van hoe ’n bepaalde taal, soos Afrikaans, of ‘n groep tale, soos Germaans, geklassifiseer word, moet die vraag na die norme wat toegepas word, dan voorop staan.

Hoe Afrikaans geklassifiseer kan word

’n Deeglike uiteensetting van hierdie tema word verskaf in Carstens en Raidt (2017:117–27), en die bedoeling is nie om die inhoud daarvan saam te vat of aan te vul nie. Wat hier van belang is, is om die onderliggende motivering vir die verskillende klassifikasiemoontlikhede van Afrikaans aan te dui, en moontlik tot ’n beoordeling te kom. Daar bestaan naamlik verskeie klassifikasiestelsels om die meer as 6 000 tale van die wêreld (Gunnemark 1991:102), van Abchasies tot Zulu, te kategoriseer. Saam hiermee gaan ook die groepering van tale volgens gemeenskaplikhede, waarna daar eers hier onder verwys word.

Alternatiewe benaderings

’n Oorkoepelende benadering is om die tale wat in bepaalde wêrelddele ’n tuiste het, sonder meer geografies saam te groepeer, met verwysing na die geografiese benaming van die betrokke gebied. So sou ’n mens kon praat van Europese tale, Afrikatale, Suid-Amerikaanse tale, Asiatiese tale, en dies meer. Dit is wel so dat die geografiese norm wel as ruwe groeperingmaatstaf gebruik kan word om tale van inheemse oorsprong onder een noemer te bring. ’n Probleem met hierdie benadering is egter dat daar soveel tale is wat nie tot ’n bepaalde gebied of wêrelddeel beperk (en inheems van oorsprong) is nie, byvoorbeeld Arabies, Spaans, Portugees, Engels, Nederlands en Mandaryns. Daarom het hierdie benadering beperkte toepassingswaarde, en is dit maar ’n growwe sif. Deur die toepassing van die geografiese maatstaf sou Engels (wat in verskillende dele van Afrika gebruik word) en ook Afrikaans (in meerdere mate) as Afrikatale geklassifiseer kon word.

’n Tweede (en insgelyks problematiese) benadering is die etnografiese, waarvolgens die etniese herkoms (wat sowel ras as volksverband kan insluit) aan tale gekoppel word, sodat daar gepraat word van Indiaanse tale (in Suid-Amerika), Swart tale, Kaukasiese tale, Indiese tale, ens. Ook hierdie benadering verteenwoordig ’n oorvereenvoudiging, en berus op geen taalkundig-wetenskaplike gronde nie.

Die vroegste wetenskaplike indeling wat gemaak is, het berus op die histories-vergelykende benadering, waardeur, veral op grond van woordeskat- of leksikale ooreenkomste (maar ook op grond van die woordbou en sinsbou) wat sistematies aangedui kon word, bepaalde verwantskappe tussen tale metafories benoem is, soos sustertale, dogtertale, ens, sodat die begrip en term taalfamilie tot stand gekom het. Hiervolgens kan daar dan ongeveer 200 taalfamilies wêreldwyd geïdentifiseer word, en is daar byvoorbeeld sprake van ’n Indo-Europese (of Indo-Germaanse) taalfamilie, ’n Semities-Hamitiese taalfamilie, die Paleo-Siberiese (super)familie, die Niger-Kongo-familie, ens. Daarom word dit ook ’n genealogiese klassifikasie genoem. Die diachroniese (of historiese) dimensie het dan bepaal watter tale uit watter oertale ontwikkel het.

Kreolisering en pidginisering

As gevolg van intensiewe kontak tussen (sprekers van) tale wat tot verskillende taalfamilies behoort, het daar kontaktale soos pidgins en kreole in verskillende wêrelddele ontstaan. Sulke kontaktale is normaalweg gebaseer op die woordeskat en struktuur van ’n dominante taal, of matrikstaal, maar wyk in wisselende mate van so ’n taal af. Terwyl pidgins bykomend tot ’n huistaal gebruik word, en wel in kontaksituasies met sprekers van ander (onverwante) tale, en ook grootliks afwyk van die matrikstaal, vorm kreole gewoonlik ’n kontinuum van sterk afwykend van (basilek) tot sterk ooreenstemmend (akrolek) met die matrikstaal. Kreole is ook die moedertaal van sprekers wat die matrikstaal as sodanig aanvaar het en dit gebruik met behoud van kenmerke uit die taal van hulle voorouers, dikwels as ’n omvattende uitbreiding van ’n pidgintaal. In sommige kreoolkontekste vind daar ook releksifikasie plaas (die invoer van woordeskat en grammatiese kenmerke) vanuit die matrikstaal, iets wat gebeur het in die geval van Jamaikaanse Engels en Afrikaans (vanuit Nederlands). Dit kan daartoe lei dat sulke tale wel gekreoliseerd is, maar veel nader aan die matrikstaal staan as voor releksifikasie. Hierby moet daar ook in gedagte gehou word dat ’n taalgemeenskap wat kreoliserende kontak ervaar (het), dikwels oor verskillende variëteite beskik wat die genoemde kreoolse kontinuum weerspieël. Wat ook al die resultaat is van die betrokke taalkontak, sulke tale pas nie meer so netjies in die genealogiese model nie.

Tipologiese klassifikasie

’n Meer linguistiese benadering tot taalafbakening is die vergelyking van tale volgens strukturele ooreenkomste en verskille, iets wat lei tot ’n tipologiese klassifikasie, waarby fonetiese, fonologiese, sintaktiese en morfologiese eienskappe as maatstaf gebruik word. Terwyl ’n tipologiese klassifikasie tot insiggewende taalkundige ontdekkings lei, waarby tale wat genealogies totaal onverwant is, in dieselfde tipologiese kategorie val (bv Zulu en Japannees, wat beide as sogenaamde agglutinerende tale beskou word), het dit vir die vakgebied van die geolinguistiek, wat hom bemoei met die studie van taal volgens die staatkundige indeling van die aarde, nie veel praktiese waarde nie.

Die klassifikasie van tale in Suid-Afrika

Dit is duidelik dat die tale wat in Suid-Afrika gebruik word, op verskillende maniere in geolinguistiese verband geklassifiseer kan word. ’n Kru maatstaf sou gewoon wees om tussen “swart” en “wit” tale te onderskei, iets wat geen gebruikswaarde in die taalpolitiek het nie. Aan die ander kant sou ’n tipologiese klassifikasie in die taalpolitiek heeltemal ontoeganklik wees vir die taalgebruikers van die land, en vir die doeleindes van taalklassifikasie en beleid nie veel nut hê nie.

Afrikaans en die tale van Afrika

Sou ’n genealogiese klassifikasie dan wel nut hê vir die taalpolitiek? In genealogiese verband kan ons tussen 1 300 en 1 500 tale in Afrika onderskei (Gunnemark 1991), tale wat dus op een of ander manier aan mekaar verwant is, en in vier superfamilies verdeel kan word, naamlik die Nilo-Sahariese (bv Maasai, Nubies, Dinka), Niger-Kongo- (bv Nguni- en Sotho-tale), Afro-Asiatiese (bv Hausa, Amharies, Somali, Arabies) en Khoisan-families (Khoi- en San-tale). Volgens hierdie taksonomiese model word die superfamilies weer in families verdeel, en op hulle beurt weer in groepe. So bestaan die Niger-Kongo-superfamilie byvoorbeeld uit sewe families, waaronder die Benue-Kongo-familie, waarvan die Bantu-groep (of Sintu-groep – kyk my opmerking tussen hakies net hierna) een van vier groepe verteenwoordig en ongeveer 550 miljoen sprekers het. (In Suid-Afrika is die benaming Bantu, in Afrikaans ook getranslitereer tot Bantoe, uiteraard polities gestigmatiseer, en word die term Sintu, getranslitereer tot Sintoe, nou verkies, wat ook tegnies meer korrek is.) Genealogies word Afrikaans en Engels as Indo-Germaanse tale getipeer as gevolg van die diachroniese verband met Nederlands en Britse Engels onderskeidelik (’n familie waarby ook Duits en die Noord-Skandinawiese tale soos Sweeds en Yslands ingesluit is).

Teen die agtergrond van hierdie uiteensetting, wat gebaseer is op taalkundig-historiese verwantskap as norm, is dié klassifikasie, hoewel hoogs gekompliseerd, ’n oorvereenvoudiging van die talesituasie hier te lande, omdat dit nie die taalkontaksituasie in ag neem waardeur die tale in hierdie land naas mekaar gebruik word nie.

’n Geolinguistiese klassifikasie

’n Geolinguistiese klassifikasie van tale binne Suid-Afrika laat die fokus val op die geografiese gebied wat ter sprake is, en nie die vasteland of breë taalfamilie nie. Tale wat binne die grense van die betrokke geografiese gebied onstaan het en algemeen gebruik word, is inheemse tale, onafhanklik van die genealogiese verband. As daar, om watter rede ook al, ’n verdere onderskeid getref moet word, kan die genealogiese verband as laervlakonderskeid gebruik word om byvoorbeeld te onderskei tussen Indo-Germaanse tale (bv Engels en Afrikaans) en Sintu-tale (soos Nguni, Sotho, ea). Tale in Suid-Afrika wat vir religieuse doeleindes gebruik en in die Grondwet gespesifiseer word, vorm hiervolgens ook deel van byvoorbeeld die Semitiese taalfamilie (Arabies en Hebreeus), die Dravidiaanse taalfamilie (Tamil, Telugu) of the Indo-Ariese tale, soos Hindi (wat ook deel vorm van die Indo-Germaanse taalfamilie). Om kontinentale of etniese benamings vir geolinguistiese doeleindes te gebruik, sou verwarrend en onakkuraat wees.

En Afrikaans?

Om Afrikaans as taal te klassifiseer, is dus ’n kwessie van norm. In die geval van ’n geografiese vertrekpunt is Afrikaans ’n Afrikataal wat hier ontstaan en ontwikkel het en die naam van die vasteland weerspieël (die enigste taal in Afrika waarby dié kenmerk voorkom). In die geval van ’n genealogiese benadering is dit ’n Indo-Germaanse taal (verlangs selfs verwant aan Hindi), en meer spesifiek Wes-Germaans, wat onderlinge verstaanbaarheid met tale soos Nederlands en (in ’n mindere mate) Duits moontlik maak. Vanuit ’n kreoliseringsbenadering het Afrikaans voortgekom uit ’n kontaksituasie waarin sprekers van sowel verwante as onverwante tale hulle stempel gelaat het op dit wat uiteindelik deur hulle nageslag as moedertaal oorgedra is. Die variasie wat Afrikaans weerspieël, is in ’n groot mate ook die gevolg daarvan. Geopolities is Afrikaans ’n inheemse taal van Suid-Afrika, met al sy variëteite, en deel die leefruimte met tale wat genealogies as Sintu-tale beskryf kan word.

Slot

In die bespreking hier bo het ek my beperk tot die erkende beskrywingsraamwerke vir taalklassifikasie, en probeer aandui hoe ’n verskuiwing van norme die klassifikasie bepaal. ’n Verdere aspek van Feliu en Nadal (2016) se bundel artikels is nie aangeraak nie, naamlik die rol wat mites en emosies by benamings en etikette van tale speel, en wat neerslag vind in skeppings soos “apartheidstaal”, “koloniale taal” en “Afro-Germaanse taal”, en selfs “kreoolse taal”, iets wat in die moderne tyd gestroop is van vroeëre negatiewe konnotasies. Dit is egter ’n onderwerp van ’n ander bespreking.

Bibliografie

  • Carstens, WAM en EH Raidt. 2017. Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika. Pretoria: Protea Boekhuis.
  • Feliu, Francesc en Josep Nadal. 2016. Constructing languages – norms, myths and emotions. Amsterdam: John Benjamins.
  • Gunnemark, Erik. 1991. Countries, peoples and their languages – the geolinguistic handbook. Gothenburg: Geolingua.

Lees ook:

Afrikaans: 10 kitsfeite

Lekker Afrikaanse woordeskat: kanalla, poenankies, nxa!

Buro: MvH
  • 0
Top