Die Natalse Middelland is ’n fees

  • 0

Daar is baie redes om die KwaZulu-Natalse Middelland te besoek. Bo en behalwe kuns en boeke is daar heerlike kos, lekker koffie, goeie wyn en tuisgemaakte bier. Jy kan voëls kyk, jou by vlooimarkte laat verlei, en wildfotograwe kan hul lang lense saambring.

Boekmense weet dat die Midlands Literary Festival een van dié boekgeleenthede in KwaZulu-Natal is. En dit is beslis die moeite en die ry werd om ’n slag daarheen te gaan, al woon jy buite KwaZulu-Natal.

Maar waar is die Natalse Middelland? Ek is onseker of dié vraag al ooit sonder teenspraak beantwoord is, maar in breë trekke is dit ’n wye gebied om die dorpe Howick en Hilton. Karkloof in die ooste en die voetheuwels van die Drakensberge in die weste word soms ook genoem in beskrywings van dié streek.

Howick, met sy mooi waterval, is dalk ’n goeie beginpunt.

Die dorpie lê so vyf ure se ry van Johannesburg af langs die N3. Dit is ook Suid-Afrika se Meneer Boekefees, Darryl David, se tuisdorp.

Hier moet haastige Gautengers maar rem trap, anders mis jy dit dalk. (Daar is darem drie afritte na Howick vanaf die N3.)

Howick is besig om in een van die grootste aftreeplekke in die land te word – ek vermoed selfs die Strand kan nie meer daardie titel dra nie. Vreemd genoeg is dit een van die beste dinge wat met hierdie streek kon gebeur.

Binne die aftreeoorde – wat elk soms groter as ’n Karoodorpie is – word werk geskep. Dit is welaf mense wat hier kom aftree. Hulle spandeer hulle geld, dus blom die klein besighede en so word werk ook buite die aftreeoorde geskep.

Hoewel Howick se sakekern nie veel anders lyk as dié van die meeste dorpies in die omgewing nie, is daar talle restaurante, hotelle, kunswinkels en bewaringsgebiede binne ryafstand van die dorp wat die aandag trek.

’n Vlug van OR Tambo na Pietermaritzburg se klein lughawe is verbasend bekostigbaar as jy lank vooruit bespreek, en duur maar ongeveer 45 minute.

Pietermaritzburg is self ’n oulike dorp om te besoek, hoewel ’n mens ongelukkig moet erken dat die munisipale bestuur tans nie optimaal is nie. Vele Comrades-atlete sal hierdie toring ken – al om die ander jaar is dié mooi stadsaal die begin van ’n lang wedloop na Durban.

Wanneer die Comrades in Pietermaritzburg eindig, is die eindpunt deesdae die perderenbaan in die middel bo. Vroeër was die ou krieketovaal, middel links, die eindpunt en later jare die Harry Gwala-stadion, middel-regs.

Sou jy iemand ken wat al die Dusi-kanomarathon gedoen het, dan is die oop stuk water in die voorgrond waar hulle weggespring het.

Maar wat doen jy en die telge terwyl jou genoot mal genoeg is om te sweet? Gaan loop in die Middelland rond. Dit is veilig en daar is baie vir kinders én grootmense om te doen.

Verskeie restaurante in die Middelland is kindervriendelik.

Die kos is dikwels onopgesmuk, maar meestal besonder aangenaam. Hier en daar sal jy selfs haute cuisine kry, maar dis nie algemeen nie.

Gewoonlik kan jy goeie kos verwag.

Selfs goedkoper geregte word meestal besonder goed aangebied.

Ek sou verkies om nie restaurante uit te sonder nie, maar vra die plaaslike mense.

Tans is die beste restaurantgids vir die omgewing waarskynlik die een wat deur die webruimte Midlands Meander bestuur word.

Ek wil egter een uiteet-geleentheid uitsonder: Op ’n Saterdagoggend is daar ’n “boeremark” digby Howick, op die Karkloofpad.

Hier kan jy groente koop.

Of kaas van die plaas af.

En ontbyt eet. Ham en eiers, of vegetariese broodjies, dis als daar te kry.

Ek sou beslis ’n besoek aan die mark op ’n Saterdagoggend aanbeveel.

Verblyf in die Middelland wissel ook van luuks tot basies. Die Fern Hill Hotel was goed genoeg vir Nelson Mandela, terwyl ’n mens by Wessa se hoofkantoor goedkoop kan oornag met sebras wat in die oggend vir jou loer terwyl jy koffie maak.

Wees net gewaarsku: Selfs ’n “mak” sebra skop. Waarsku veral klein kindertjies dat hulle dit nie té naby moet waag nie.

As sebras jou bang maak, is daar baie ander opsies. Weer eens sou plaaslike inwoners goeie raad kon gee, of die ruimte van die Midlands Meander is beskikbaar.

Naby die Fern Hill Hotel is ’n gedenkruimte wat opgerig is omdat Nelson Mandela op 5 Augustus 1962 daar vasgetrek is. Dit staan nou bekend as die Nelson Mandela Capture Site.

Ek het die ruimte interessant gevind. Ons kinders was minder beïndruk toe ons in hulle tienerjare daar was.

’n Besoek aan die beeld, wat uit tralies bestaan, is egter die moeite werd. Selfs die tieners was beïndruk.

Geskiedenisvrate en lugvaartliefhebbers moet beslis ’n draai maak by die gedenkteken wat die eerste Suid-Afrikaanse vlug in ’n sweeftuig gedenk. Tussen 1871 en 1875 het ene John Goodman Household skynbaar twee vlugte onderneem in ’n sweeftuig wat hy self gebou het. Blykbaar was die plaaslike gemeenskap bang dat God hulle sou straf oor Household se dade. Die sweeftuie en die meeste van sy planne is glo vernietig deur mense wat die gemeenskap wou beskerm; so het sy planne ten gronde geduik.

Praat van duik – vir langasemswemmers is die Midmar Myl ’n jaarlikse instelling.

’n Landrot soos ek sal liewers om die Midmardam stap. Daar is lieflike plekkies om voëls te kyk, of om sommer net piekniek te hou.

As jy ’n effens wilder omgewing soek, sou ek die natuurreservaat wat om die Albert Falls-dam geleë is, aanbeveel. Daar is heelwat wild.

Ook talle voëls.

Maar as jy van voëls hou, is die Karkloof Conservation Centre ’n plek om te besoek. Vra ’n kenner om jou soontoe te neem.

In die dag kan ’n mens lieflike foto’s daar neem, maar die ware lokaas, naamlik die lelkraanvoëls en die mahems, gaan jy nie sommer sien sonder ’n bietjie hulp nie.

Die idee is om teen sononder in die skuilings te wees.

Dan wag jy ... en jy wag nóg ... Klein kindertjies mag bang en ongedurig raak.

Nes jy dink dis ’n wolhaarstorie, sien jy hulle ... swerm op swerm kom hulle aangevlieg.

Fotograwe, wees gewaarsku: Dit is al sterk skemer wanneer die voëls land. Jy het ’n vinnige lens en ’n angswekkende ISO-lesing nodig.

Ek skiet voëls gewoonlik so tussen 1/800 en 1/1250.

Die laaste foto’s het ek egter op 1/50 en ISO6400 gewaag. My slaagsyfer was maar aan die lae kant.

As jy net wil kyk, en nie foto’s neem nie, sou ek ’n 8x40-verkyker aanraai. Ons het onlangs een vir ongeveer R800 gekoop – ’n fantastiese instrument in ’n situasie soos hierdie.

Daar is baie voëls in die Middelland. Hierdie wolnekooievaar het ek sommer op die dak van ’n huis in Howick afgeneem.

Die swart suikerbekkie een aand in my, onlangs oorlede, ma tuin.

En die jangroentjie het ’n lieflike dag gekies om die aalwyne in my ma se tuin te kom ondersoek.

Praat van aalwyne. Die Oos-Kaap is sekerlik bekend as die aalwynkoninkryk van die land, maar daar in die Middelland lyk hulle nie te sleg nie. Laatmiddag stap talle mense met hulle honde op die stappaadjies wat oral kronkel.

Stap maak ’n mens dors en my ma het, ná sy afgetree het, bier ontdek. Saam met haar het die uwe talle heerlike biere, in die Middelland gebrou, gaan proe.

Nottingham Road Brewery is na my wete die oudste van die brouerye in die Middelland. Hulle bier is goed en die verskeidenheid is groot, maar moenie net hier vassteek nie. Daar is ’n heelwat ander heerlike biere te drink – vra maar weer die inwoners en kry ’n bestuurder om jou rond te ry.

Vir die wynmense is daar ook ’n verrassing. Highgate-landgoed skep ’n reeks klassieke wyne op hulle grond.

As jy van koffie hou, of die bestuurder is vir die dag en dus nie kan drink nie, maak seker dat die motor na Terbodore ry.

Hulle koffie is deksels lekker en jy kan die honde, wat hulle handelsmerk is, ontmoet.

Terloops, vroegoggend is koffie nodig, veral as jy in die winter besoek aflê. Dan moet jy ook maar genoeg warm klere inpak. Dit kan tot onder vriespunt daal in die nag. Gewoonlik is dit egter baie aangenaam sodra die son begin klim.

Swaar mis kom dikwels in die aand ingerol en kan vir ’n paar uur in die oggend bly lê. Fotograwe moet dit onthou. Swart-en-wit-fotografie en mis is pasmaats.

Grys kry dan ’n heel nuwe betekenis.

Wanneer die mis weg is, sal geen mens die Middelland egter as grys kan bestempel nie. In die winter is die kleure gedemp.

In die somer is dit soms uitspattig.

Die herfs bring weer ’n totaal ander kleurskakering mee.

Daar is iets vir die meeste van ons in die Middelland van KwaZulu-Natal, veral ’n bietjie rus en vrede as jy uit die stad wil wegkom.

Lees ook:

Op die spoor van ’n wetenskaplike monnik

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top