Die politieke jagseisoen begin met ’n enkele hoëprofieloorloper

  • 0

Presies ’n week vroeër het die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, nog opgewonde die “herskikking” van die party se leierskap in die westelike “caab de goede hoop” aangekondig. Omtrent negentig lede sou nou ’n nuwe provinsiale taakspan (PTT) in die provinsie vorm – en daar is seker gemaak dat die meeste van die vorige top-leiers van die verkose provinsiale uitvoerende komitee (PUK) op die PTT verteenwoordiging geniet.

Dit het gelyk of dit deur almal aanvaar word dat dié ingryping die beste manier sou wees waarop die ANC in ’n DA-gedomineerde omgewing hernu sou kon word en in rat gekry word vir die komende plaaslike verkiesing. Maar soms misgis ’n mens jou lelik as ’n waarnemer van die politiek, want presies sewe dae ná Mbalula se aankondiging toe wys die krake – of toe val die pap op skouspelagtige wyse op die Wes-Kaapse ANC se politieke grond.

Sonder dat dit noodwendig vooraf só beplan kon word, loop die party se vorige provinsiale sekretaris, Neville Delport, toe oor na die DA op die dag dat presies een hele jaar oorbly voor die volgende plaaslike verkiesing. Suid-Afrikaners is die vorige dag deur die Verkiesingskommissie ingelig dat die voorgestelde datum vir die verkiesing die eerste Woensdag van November volgende jaar is.

Wie sou die oorlopery van Delport en ’n handvol ander ANC-lede kon sien kom? In die voorafgaande weke sou jy meer dikwels gevalle aanskou van DA-raadslede wat na die Patriotic Alliance van Gayton McKenzie oorloop. Ook ANC-lede wat soontoe koers kies. Maar om die ANC te verlaat en by die DA ’n nuwe tuiste te soek, twee partye ideologies wêrelde uitmekaar, is iets ongehoords – veral, soos in hierdie geval, wanneer dit ’n senior leiersfiguur is.

Delport is dalk nie charismaties nie en selfs in sy vorige pos was hy meestal agter die binnekamerskerms eerder as voor op die openbarebetrekkingewa van ’n eertydse bevrydingsbeweging, wat sedert 2009 reeds sukkel om weer behoorlik in die Kaap op dreef te kom. Die oorsake is velerlei, maar faksiemededinging, as ’n mens dit nie -gevegte wil noem nie, staan eerste in die ry van die ontwrigtingslyn.

Rasseverdeeldheid – vir seker ’n vloekwoord in die ANC, wat roem op sy nierassige geskiedenis en karakter – staan tweede in die ry. ’n Interessante ooreenkoms is hierin te vinde met die DA: Ook dié party, soos die ANC, glo in nierassigheid, maar glad nie, anders as die ANC, in die gebruik van rasetikette nie.

Die impak van Delport en kie se oorlopery sal eers oor ’n rukkie behoorlik ontleed kan word, maar reeds in die onmiddellike reaksie op die leierskapveranderings wat die ANC vooraf gemaak het, is daarop gesinspeel dat Delport verantwoordelik gehou word vir die ANC se laagste verkiesingsteun ooit (in 2024). Hy en sy PUK is egter maar ’n jaar vooraf aangewys en moes met karige hulpbronne die verkiesing voer – boonop in ’n provinsie waar nie slegs die DA nie, maar toenemend ook die PA en NCC van Fadiel Adams duike kom stamp het in die bakwerk van historiese ANC-steun (én tradisionele DA-steun ook, bygesê).

Ongetwyfeld moes dit Delport aangespoor het om die hasepad te kies, selfs al het Mbalula groot gewag gemaak daarvan dat die PUK nie gestraf word vir enigiets nie. Die PUK en ANC-lede in die provinsie is eerder deur hom geprys dat hulle tog so voorbeeldig – en rustig – gewag het vir die Nasionale Uitvoerende Komitee om tot ’n besluit te kom oor wat presies gedoen moet word. Dit is nou nadat hulle enkele maande tevore al bekend gemaak het dat die struktuur van die provinsiale bestuur “herskik” gaan word. Nou is dit gedoen. Oudambassadeur Ebrahim Rasool, wat ook al premier van die provinsie was én provinsiale leier, moet voor vat.

Maar sy voete het skaars grond gevat toe hy ná die naweek van oorsee af terugkeer, toe word hy gekonfronteer met Delport-hulle se onverwagse oorlopery. Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het almal teenwoordig by die mediakonferensie oor hierdie “belangrike politieke ontwikkeling”, soos die DA dit vooraf genoem het, laat glo ’n “golf” of “vlaag” oorlopers gaan Delport se voorbeeld volg. Ons sal nog moet sien.

Zille kan met reg jubel oor wat die DA reggekry het deur ’n groot vis soos Delport te vang. Sosiale media wil egter die indruk wek dat hy nou nie eintlik ’n noemenswaardige aanwins vir die DA is nie; watwou, naas sy rol as provinsiale sekretaris het hy ook vooraf drie termyne as ANC-streeksekretaris aan die Weskus gedien. Selfs al sou hy ook nie ’n watwonderse leiersfiguur wees nie, is dit die sentiment wat tel.

Die sentiment in hierdie geval is dat, wanneer ’n partyleier met ’n bepaalde statuur oorloop, daar rede is vir die politieke huis wat hy agterlaat om bekommerd te wees. En al wat die oorloper sal wil hê is ’n duidelik gedefinieerde rol, word ons vertel, nie “oorloop-” of “oorkoopgeld” nie: “Nog vier ANC-lede wou saam met Neville oorloop,” vertel Zille op RSG, maar hulle wou glo betaal word. “Die DA sal slegs betaling gee vir besoldigde werk,” sweer Zille.

Geld sal wel die praatwerk doen soos wat partye hul kanse op sukses ’n hupstoot probeer gee in die aanloop tot die komende plaaslike verkiesing, geskeduleer vir die eerste Woensdag van November in 2026. Die jagseisoen het nou formeel aangebreek – en dit sal uiteindelik die aard van die politieke herskikking in die Wes-Kaap bepaal.

Lees ook:

Bevorder ons patriotisme of paternalisme?

Waaroor is die wêreld bekommerd?

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top