Die verhaal van Janusz en Jacob

  • 0

...
Omdat die onderhandelaars met ons land se oorgang op ’n grondwetlike bestel ooreengekom het – en ons moet hulle te alle tye, ongeag hoe die bestel ook al in sommige opsigte te kort skiet, altyd daarvoor eer.
Jy, ek en ons almal moet daarom gelyk voor die reg gehanteer word, sonder aansiens des persoons, ongeag of jou naam Janusz of Jacob is.
...

Wat begin vandeesweek in Suid-Afrika gebeur het, is die verhaal van ’n land met onafgehandelde sake: Op dieselfde dag dat ’n apartheidsmoordenaar (Janusz Walus) ’n oorwinning in die hof behaal het, het ’n vryheidsvegter en voormalige president (Jacob Zuma) ’n nederlaag in ’n ander hof gely.

Oor die staat se weiering om Walus, wat die Kommunistiese leier Chris Hani in 1993 doodgeskiet het, op parool vry te laat, het ek in Junie vanjaar vir Voertaal geskryf. My slotgedagte was dat sy volgehoue aanhouding (15 jaar nadat hy die eerste keer vir parool gekwalifiseer het) indruis “teen die grondliggende waardes wat vervat is in die Grondwet waarvoor Hani geveg en gesterf het”. Dit was na aanleiding daarvan dat Walus hom tot die Konstitusionele Hof gewend het oor die soveelste weiering – hierdie keer deur die huidige minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola – om parool aan hom toe te staan.

Die afgelope Maandag het ’n volbank regters van die hof eenparig beslis dat Walus inderdaad – in ooreenstemming met die Handves van Regte – daarop geregtig is om parool te kry. Tien dae is die spertyd wat aan die minister gestel is om die uitspraak tot uitvoering te bring. Behalwe die staat en die Hani-gesin se volstrekte weiering om hom genadig te wees, het hoofregter Raymond Zondo in die uitspraak ook beklemtoon dat Walus dieselfde Hani-gesin reeds verskeie male om verskoning gevra het.

Hani se weduwee, Limpho, was egter briesend toe sy ná die hofverrigtinge met ’n TV-joernalis gepraat het. Die uitspraak was “diabolies”, het sy woedend van haar laat hoor; en daarby het sy behoorlik uitgevaar teen die regters, maar haar visier was in die besonder op Zondo ingestel. Die uitspraak sou vooraf beplan gewees het, glo sy – en dit is geen toevalligheid nie, glo sy daarby, dat ’n ander uitspraak op dieselfde dag ook (om dit sagkens te stel) die wenkbroue laat lig het nie.

Die “ander uitspraak” was dié in die Appèlhof, waartydens ’n volbank regters bevind het dat mediese parool wederregtelik op 5 September verlede jaar aan Zuma toegestaan is deur die destydse nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, Arthur Fraser. Die implikasie van die uitspraak is dat Zuma se posisie nou weer is soos voor sy vrylating: “Met ander woorde, ingevolge die reg het mnr Zuma nog nie sy vonnis voltooi nie,” het regter Tati Makgoka verduidelik. “Hy moet terugkeer na die Estcourt-tronk om dit te doen.”

Dit is by dié tronk waar Zuma homself ingeteken het aan die begin van Julie verlede jaar, maar hy het uiteindelik die grootste deel van sy twee maande “agter tralies” in die hospitaal se siekeboeg deurgebring. Vir die res van die 15-maande-vonnis, wat hy opgelê is weens sy minagting van ’n Konstitusionele Hof-uitspraak dat hy verplig is om voor die Zondo-kommissie te verskyn, was hy op “mediese parool”. In die eerste week van Oktober vanjaar kondig Korrektiewe Dienste toe in ’n mediaverklaring aan dat Zuma nou sy vonnis volledig uitgedien het en ’n vry persoon is. Hieroor het regter Makgoka  hom ook in sy uitspraak Maandag uitgelaat: “Die verklaring is betreurenswaardig en het die moontlikheid om die geregtelike proses te ondermyn – veral omdat die departement ’n appellant is.”

Die verwagting is dat Zuma – meester van die Stalingrad-spel waardeur regsprosesse vir so lank moontlik uitgerek word – teen die uitspraak sal appelleer, maar intussen sal die publiek en professionele kommentariaat aan die praat bly oor die twee opspraakwekkende uitsprake van Maandag 21 November 2022.

Limpho Hani het haar eie interpretasie – of was dit eintlik ’n vloek? – oor waartoe dit aanleiding gaan gee. “Karma” was die woord wat sy in haar reaksie op die uitsprake ingespan het: “Karma” sal sorg dat daar twee jaar van nou af afgereken word met Zondo en die res van die regbank wat as’t ware “regsverraad” (my woord, nie hare nie) met die twee uitsprake sou gepleeg het.

Dit was ook iets om op te let dat sy Lindiwe Sisulu, minister van toerisme en een van die teenstanders van Cyril Ramaphosa – geprys het vir Sisulu se onlangse bevraagtekening van spesifiek swart regters se verbintenis tot wat ’n mens seker “swart geregtigheid" kan noem.

Maar wat sou Hani bedoel het met die “twee jaar van nou af”-waarskuwing? Die kalender wys dat dit dan 2024 sal wees – verkiesingsjaar in Suid-Afrika; en dit bly ’n mens by dat sy ook in haar reaksie daarna verwys het dat die land nooit ’n eerste demokratiese verkiesing in 1994 sou gehad het as haar man nie met sy lewe daarvoor geboet het nie. Nadat haar man vermoor is, het sy gesê, het die destydse ANC-leier, Nelson Mandela, die geleentheid aangegryp om ’n ooreenkoms met die destydse staatshoof, FW de Klerk, te sluit: “Stel ’n verkiesingsdatum nou vas,” sou Madiba aan De Klerk gesê het, “tensy jy moeilikheid in dié land wil hê.” Nog skietgoed uit weduwee Hani se mond (of wond): Was dit nie vir haar man se dood nie, sou die Zondo’s van die wêreld nooit regters geword het nie; sou apartheid steeds gelewe het en swart mense almal tot sinkhokkies as woonplek gedoem gewees het.

“Twee jaar van nou af” kan dalk (spekulasie, spekulasie) een van die twee dinge beteken: dat die ANC die verkiesing mag verloor (soos wat dit blykbaar ná drie dekades met bevrydingsbewegings die geval is) en alle “swart vordering” tot niet sal gaan; of dat die huidige ANC-leierskap tot die verlede sal behoort en deur die Sisulu’s, Zumas en eendersdenkendes vervang sal wees om te verseker dat onder meer die regbank behoorlik “getransformeer” sal wees met regters wat in die belang van die swart meerderheid uitsprake lewer.

Die “onafgehandelde sake” in die inleiding van hierdie artikel is ’n verwysing na wat elders ons land “onvoltooide vrede” genoem is: Terwyl die apartheidsoortreders ook die voordele van versoening geniet, word in hierdie gedagtekringe gesê, en nie werklik iets hoef prys te gegee het nie, behalwe om (in sommige gevalle) die waarheid en niks anders nie as die waarheid oor die vergrype van gister te praat, sit die slagoffers heel dikwels nog met onbeantwoorde vrae oor wat presies gebeur het. (Soos met die dood van Chris Hani in 1993, bygesê.) Dit laat hulle voel dat hulle verneuk is. Hoe kan ’n apartheidsmoordenaar – en ’n buitelander op die koop toe – vrygelaat word, vra hulle, terwyl ’n oudapartheidsaangehoudene in die demokratiese era teruggedwing word tronk toe?

Hier is die antwoord (hanteer omsigtig dat dit nie arrogant oorkom nie): Omdat die onderhandelaars met ons land se oorgang op ’n grondwetlike bestel ooreengekom het – en ons moet hulle te alle tye, ongeag hoe die bestel ook al in sommige opsigte te kort skiet, altyd daarvoor eer. Jy, ek en ons almal moet daarom gelyk voor die reg gehanteer word, sonder aansiens des persoons, ongeag of jou naam Janusz of Jacob is.

Lees ook:

Walus se aanhouding druis in teen Grondwet se "menslike" waardes

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top