Die vlugtelinge-verhaal kry ’n ander kleur

  • 0

Rian van Heerden se dokumentêre reeks op kykNET oor die Afrikaner-“vlugtelinge” in Amerika kort ’n ekstra episode. Beloofde Land is opgeneem en vervaardig voordat die nuutste verwikkeling onder ons aandag gekom het.

Die nuutste verwikkeling is die aankoms sowat drie weke gelede van ’n bruin gesin in die dorpie Sue Hills in die staat South Dakota – in die ysige koue van ’n Amerikaanse winter – en dit is hul warm glimlagte wat jou opval in beeldmateriaal van onderhoude wat op YouTube gelaai is.

Ook hulle is nou begunstigdes van president Donald Trump se spesiale “vlugtelingaanbod” aan “wit Afrikaners” en, sedert Februarie verlede jaar, alle “rasseminderhede” in Suid-Afrika.

Anthony Muller en sy gesin is afkomstig uit ’n rasseminderheid, naamlik die bruin gemeenskappe van Suid-Afrika. Hulle is Bolanders. Hulle het grootgeword in Wellington – hy in ‘’n plakkerskamp, vertel hy, omring deur armoede en ellende, misdaad en geweld. Dit is hoekom hy en sy vrou, Alvera, onderneem het toe hulle mekaar ontmoet en later getrou het dat hulle nie hul kinders aan dieselfde soort omstandighede sou wou blootstel nie.

Die oplossing was om ’n huis te koop aan die “wit” kant van die dorp, waar dit veronderstel was om veiliger te wees, en waar daar meer openbare geriewe was. Oorkant die huis was daar byvoorbeeld ’n parkie vir die kinders om in te speel. Maar een aand in 2024 word hulle wreed ontnugter toe vier mans die gesin in hul huis aanval, hulle van alles beroof (skootrekenaars, selfone), dreig om Alvera te verkrag as hulle hul sou teësit - en vlug met die gesin se motor. Hulle hoor nou nog nie terug van die polisie nadat die saak aangemeld is nie, vertel Anthony.

Die Trump-aanbod het hom hoop gegee. Hier is ’n geleentheid, het hy aan Alvera gesê. Dit was nie nodig dat hy haar moes oortuig nie. Hy moes wel die Amerikaanse ambassadepersoneel oortuig dat hulle aan die vereistes voldoen. Die verhaal van 2024 was deurslaggewend – en, skerts hy, dalk ook sy vinnige aanleer van die Amerikaanse aksent.

Maar hy is deeglik bewus daarvan dat dit nie ’n grap is om jou geboorteland te verlaat en te trek na ’n “beloofde land” van veronderstelde beter, veiliger omstandighede nie. Hulle glo vas, hy en Alvera, dat dit die beste besluit was vir hulle kinders – en die res van die familie aanvaar dit ook so: “Ek en my vrou is pretty much on the same page,” sê hy in ’n onderhoud met Mondstuk Media. “Ons het geen desire om terug te keer [Suid-Afrika] toe nie.”

Hulle bid eerder dat meer van hulle familie en vriende dieselfde stap sal doen – en hulle bid nog – en sal aanhou om dit te doen (in Afrikaans, hul grootwoordtaal), saans wanneer hulle Bybelstudie doen. Die kinders, meen hy, “kan maar hulle Engels by die skool leer”.

Hierdie twee stellings uit die genoemde onderhoud is betekenisvol:

  • “Misdaad het normaal geraak [in Suid-Afrika] – en dit is nie normaal nie. Ons het net oorkant ’n parkie gebly en die kinders was te bang om alleen na die parkie te gaan.”
  • “Die kinders pas ongelooflik goed aan. Hulle is nie meer bang nie. Hulle is miskien net bang vir die koue, maar vir geen mens nie.”

Die rede waarom Anthony Muller instem tot onderhoude, sê hy, is “om die leuens te help afbreek dat die Trump-program slegs vir wit Afrikaners is”. Hy wil hê veral bruin mense in gebiede soos die bendegeteisterde Kaapse Vlakte moet dit hoor: “Hoekom wil jy in ’n plek bly waar jou lewe in gevaar is? Is dit hoe ’n mens jou kinders wil laat opgroei: in gangsterism, in drugs en stuff?”

Die vertrek uit Suid-Afrika en die aankoms in Amerika van die Muller-gesin is veronderstel om die narratief oor die “vlugtelinge” te verstel. Ongelukkig lyk dit nie of dit sommer gaan gebeur nie. Jy hoor weinig bruin mense daaroor praat, en waar dit wel ’n besprekingspunt is, word dit as ’n “wit Afrikaner”-kwessie aangebied. Soos op ’n TV-aktualiteitsprogram die afgelope Maandag, toe drie Afrikaner-mans deur die Afrikaner-anker genooi is om die nuutste verwikkelinge te bespreek. Die nuutste verwikkelinge – in die konteks van die program – was die uitsending van die Rian van Heerden-reeks. Saam met hom was die hoof van AfriForum, Kallie Kriel, en die politieke kommentator Piet Croucamp.

Maar die werklike nuwe verwikkeling is Anthony Muller se toetrede tot die gesprek, soos ook Sondag in Rapport berig is. Dit jaag die ideologiese skape deurmekaar, nie waar nie? Hoe moet ons nou hierdie bruin man oordeel wat weens ’n werklike traumatiese ervaring besluit het om sy gesin na groener weivelde te laat verhuis?

Rassis? Nee. Opportunisties? Nee. Onpatrioties? Nee.

Die narratief oor die Suid-Afrikaanse vlugtelinge het ’n nuwe kleur gekry. Maar dis nie duidelik of almal dit al raaksien nie.

*

Heindrich Wyngaard is voorsitter van die burgerlike organisasie Kaapse Forum, ’n susterorganisasie van AfriForum, en stigter van www.mondstuk.co.za, ’n nuwe nuusplatform vir Afrikaanssprekende gemeenskappe.

Lees ook:

Waaroor is die wêreld bekommerd?

Bevorder ons patriotisme of paternalisme?

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top