Tom Dreyer en Alwyn Roux se poësiebundels, onderskeidelik Nou in infrarooi en Weerskyn, is allerweë gunstig ontvang en onlangs in Nederland en België bekendgestel.
Tom Dreyer en Alwyn Roux in Gent (Foto: Jessica Van Wynsberge)
Willem de Vries berig oor een só ’n geleentheid in die Poëziecentrum in Gent waar Jürgen Pieters, ’n literatuurwetenskaplike verbonde aan die Universiteit van Gent, ’n gesprek met die digters gelei het.
In die Poëziecentrum in Gent. Van links: Jürgen Pieters, Alwyn Roux, Tom Dreyer en Jessica Van Wynsberge
Die Poëziecentrum-gesprek is aangebied as deel van die program van ’n internasionale studiegroep wat fokus op Afrikaanse en Nederlandse letterkunde, genaamd Samespraak, waarvan Roux die stigter en voorsitter is. ’n Opname van die gesprek is op Samespraak se webwerf beskikbaar.
Inleidend het Roux en Dreyer elkeen ’n gedig uit die ander se bundel voorgelees en hul keuses toegelig.
Spore en landskap
In Roux se lees van Nou in infrarooi rig hy sy aandag op onder meer soorte landskap in Dreyer se werk, hy verwys na liefdesverse en -verklarings en die digterlike blik op en in omgewings van “hierdie vreemde tipe wêreld”. Roux het Dreyer se “vyftien dinge om aan te dink in ’n mri-skandeerder” voorgelees, een van twee gedigte (die ander is “verdere gedagtes in ’n mri-skandeerder”) in hierdie verband waarin uiteenlopende lyste ingespan word en wat instaan vir emosionele belewenisse en herinneringe.
Oor hierdie gedigte het Dreyer gesê dit was vir hom belangrik om aan die hand van iets abstraks soos hierdie uiteenlopende lyste iets baie spesifieks te maak. “Jy gaan nie (dan) sê ek dink aan verlang, hartseer en afsku nie; dit is daardie poging van ’n goeie vergestalting van die abstrakte in ’n beeld van iets wat konkreets is en wat ’n appèl op jou doen.” Vir hom lê dit feitlik aan die grondslag van wat hy in ’n gedig telkens probeer verrig. Roux ag dit ’n “fassinerende gedig” waarin vernuwing saam met vervreemding deurwerk en wat ’n faset van die bundel is wat ’n mens laat terugkeer na die gedigte.
In Dreyer se lees van Weerskyn is die idee van spore en ontsyfering strykdeur die bundel teenwoordig. Hy vind hierdie gedagte ook terug in die intrigerende omslagontwerp en ontwerpe wat op die bundelbladsye voorkom. Konsentriese kringe op die voorblad en in die bundel self het hom aanvanklik aan vingerafdrukke herinner, maar dan bied dit vir hom ook assosiasies met planete, seepbelle en wasige kontoerlyne. In Weerskyn gaan dit syns insiens om gedigte as pogings om ’n greep te kry op ’n werklikheid aan die hand van verskillende interpretasiemoontlikhede. Soorte herskrywing het hom daarin opgeval en daarmee saam prosesse van verandering.
“Die hele digbundel raak ’n poging om iets te verstaan, selfs die struktuur van die bundel. Daarin is eggo; beeld en weerkaatsing; weerkaatsing van die eggo; verskillende perspektiewe. En soms is daar selfs niemenslike perspektiewe.” Ter illustrasie van laasgenoemde het hy Roux se gedig “Wordende hond” voorgelees.
“Woord wek woord”
Watter plek neem poësie vir albei digters in, in verhouding tot hul ander aktiwiteite? wou Pieters by hulle hoor; hy het die indruk gekry dat die narratiewe romanskrywer iets bydra tot Dreyer se gedigte, net soos by Roux sy beroep as literatuurwetenskaplike.
Roux se betrokkenheid by digkuns vloei voort uit sy pos en hy is ’n kreatiewe skryfwerk-dosent aan die Universiteit van Suid-Afrika, maar sy liefde vir die skryf van gedigte gaan sy akademiese werk lank vooraf, het hy gesê.
Dreyer sien heelwat ooreenkomste tussen sy werk as rekenaarprogrammeerder en skryfwerk. Hoewel hy destyds begin skryf het met aandag aan gedigte, het hy tot voor Nou in infrarooi heel toevallig in “prosa beland” en waaruit verskeie romans en kortverhale voortgevloei het.
Na sy gevoel het ’n impuls om al hoe meer gedronge te werk by hom posgevat tydens die werk aan sy bundel verhale Kodachrome (2022) met as die subtitel “90 flitse” en hy sê dat tydens die redigering daarvan het die verhale ál hoe korter geraak.
Nou in infrarooi is vir hom ’n tuiskoms en hy het dit die meeste geniet van wat hy tot op hede geskryf het.
Dreyer het verwys na SJ Naudé se versugting na die onmiddellikheid van ’n visuele beeld maar dan in skryfwerk.
Na Dreyer se gevoel het ’n gedig só beskou, iets van ’n “well-wrought urn” daaraan. “Ek dink met ’n gedig raak dit amper ’n objek in die wêreld soos wat ’n beeld kan wees; [iets van] daardie onmiddellikheid waarna ’n mens strewe.”
Vernuwing en tradisie
In Dreyer se beskouing van Roux se poësie val die intellektuele werking van die gedigte op, dat die lees van daardie gedigte verryk word met kennis van verskillende tradisies, waaronder dié in Afrikaans en Nederlands. Dis vir hom ’n poësie wat natuurlik is aan en sprekend van die digter se belesenheid.
Roux beklemtoon die rol van vertaling en verinheemsing in Weerskyn. Telkens wanneer hy ’n gedig lees wat tot hom spreek, hou hy daarvan om dit te vertaal en dit in ’n ander konteks te plaas soos dié van Suid-Afrika, en probeer die oorspronklike dan in daardie aangepaste konteks nuwe lewe te gee. Pieters het daarby aangesluit en gesê dat dit gaan om die nawerking van ’n gedig wat aanleiding gee tot ’n nuwe gestalte: ’n vers in ’n ander taal of konteks as die oorspronklike.
Dit sluit ook aan by ’n aanhaling van Seamus Heaney voor in Weerskyn: “I rhyme / To see myself, to set the darkness echoing.”
Roux het die gedig “Ten gronde” voorgelees, ’n gedig wat hy geskryf het ná sy lees van ’n gedig van die Poolse digter Czesław Miłosz (wat Miłosz en ’n medevertaler uit Pools in Engels as “The Fall” oorgesit het).
Vir Roux was dit asof die Miłosz-gedig ’n “abstraksie was wat wag om gekonkretiseer te word” en van daar het hy dit verinheems met ’n persoonlike gegewe wat hy aan die val van apartheid koppel, dus poëtiese terugskrywing waarin hy die vryheid opneem om op die oorspronklike terug te skryf en in te kleur met ’n eie agtergrond.
Dreyer het ’n etimologiese, assosiatiewe belangstelling in woorde vir hoe dit figureer en verskil tussen kontekste. Hy het genoem dat daar verskillende betekenisse is wat aan ’n woord soos grond geheg kan word, ook hoedat die woord in Afrikaanse poësie teenoor Nederlandse poësie anders gesteld is.
Soorte betrokkenheid
Hoewel Dreyer ’n opbloei in betrokke literatuur waarneem, sien hy homself en sy eie werk nie in daardie lig nie. “Ek is net nie geposisioneer in die wêreld soos dit nie. Ek praat nogal baie met Danie Marais en hy het ’n bundel wat binnekort verskyn en die titel is ‘Ek en jy bestaan nie’. En dis ’n bietjie oor die posisie van 50 jaar oue wit Afrikaanse mans. Ongeag hoe, jy neem ’n sekere plek op die bord in. Anders as ek, is hy nogal betrokke. Hy skryf eksplisiet: Waar pas ek nou in en wat is die houding wat ek moet inneem? Daar’s iets wonderliks wat uitkom, maar dit is dalk nié my ding nie, jy weet. Ek is bewus dat daar ’n appèl is dat ’n mens so iets moet doen. Maar ek voel net... ek vat eerder die wêreld dan.” Hy voel ook nie hy hoef oor Suid-Afrika se politiek te skryf nie.
Vir Dreyer is dit dan asof in die geval van poësie by hom “amper die hele wêreld” die speelveld is, “nie net die literêre nie, maar énige ding”. Hy noem in hierdie verband sy gedig “naby nieu-bethesda” waarin mense ’n rusbank oor ’n veld dra, en wat hy voorgelees het. Vir hom maak die onmiddellike wêreld ’n appèl op hom, hoedat daar in die gewoonheid van voorwerpe iets is wat op ’n dieper vlak by hom resoneer en dit is vir hom so te sê “die plek waar poësie wórd”.
In Roux se taksering van Dreyer se poëtika gaan dit om voorwerpe op en uit te lig soos wat ’n wetenskaplike dit sou doen, iemand wat artefakte uit die grond haal en dit as’t ware uitpak in ’n gedig om te sien wát daar is.
Aanklank
Werk Dreyer en Roux bewustelik in ’n bepaalde tradisie?
’n Skrywer word altyd binne ’n tradisie getakseer of jy erg het aan ’n tradisie of nie, het Dreyer gesê. “Dit maak eintlik nie saak nie, want mense probeer jou werk peil en beoordeel en dit word dan binne ’n tradisie geplaas.”
Dreyer spreek sy bewondering uit vir die werk van Nick Cave en Leonard Cohen en die verhale van en oor die Amerikaanse New Journalism se Hunter S Thompson.
In Afrikaans vind hy aanklank by Gert Vlok Nel. “Ek was rasend gek oor sy bundel en ek ken ook vir Gert. As jy die begin van ietsie wil sien, ’n stroom wat deurvloei (in Dreyer se werk)... dis definitief nie mainstream-Afrikaans nie.”
Dreyer sê hy het vandat hy kan onthou baie van Cohen gehou, en sê dit is een van die min plekke waar die musieksmaak van sy ouers en sy eie oorvleuel het en het die gedig “Roadtrips met Leonard Cohen” voorgelees.
Dreyer sê hy hou van die trajek van Cohen se musiek deur die jare en die ontdekking van verrassende raakpunte: Hy het in Kanada ’n vrou ontmoet wat ’n verhouding met Cohen gehad het. Sy is ’n digter wat vir ’n kort rukkie in New York in die Playboy Club werksaam was. Dreyer het haar leer ken as ’n ouer, statige dame en het gesê dat haar verhaal hom fassineer. Iemand soos Cohen of Cave se lirieke en musiek raak verstrengel met ’n mens se eie geskiedenis en dan neem dit ’n ander rol in die lewe vir jou aan, het hy gesê.
Pieters het hulle gevra oor vernuwing, om iets te wil doen, en die verlange om in ’n tradisie te wees. Van Roux het Pieters die indruk van “’n heel eksplisiete wens, nie om epigonaal te wees nie, want daaroor gaan dit nie, maar om gesprek te voer met (die werk van) ander skrywers”.
Roux tree bewustelik in gesprek met tradisies en groot figure daarin. Sy PhD is ’n vergelykende ondersoek na landskap as woon in die latere poësie van Breyten Breytenbach en Lucebert en hy moes in ’n stadium “half net ’n bietjie terugstaan om net te sien watter ander skrywers is ook hier. Hoe kan ek my stem beter vind uit hierdie tradisie? Want die stemme is gróót en dis baie maklik vir jong digters om net daardie (digters) te eggo en daardeur dan dink dis hul eie stem. So dit maak dat mens verder moet lees en verder moet skryf sodat jy uiteindelik tussen al die stemme ook jou eie stem vind.”
Roux voel dat hy in ’n volgende bundel wil verder wegskryf van ander digters om nie die gevoel te hê dat hy deur hul werk geabba word nie.
Pieters verwys na Harold Bloom se Anxiety of influence, hoedat vir ’n digter die invloede wel daar ís, maar dat jy dit maskeer of jou weg dan daaromheen vind.
Aksente van verlies
In hul gesprek noem Dreyer sy liefde vir die Namibiese landskap en dit bring Pieters by ’n vraag na ekopoësie en ekokritiek. In watter mate is die skryf van poësie gegrond in ’n plek? Is dit ’n onderdeel van betrokke skryfwerk wat tot Dreyer en Roux spreek?
Vir Roux is landskap belangrik in die sin waaroor hy in sy PhD-tesis daaroor geskryf en in ’n sekere teoretiese kader geplaas het. Een van die gedigte “kuns as oorsprong” is na aanleiding van Martin Heidegger se beskouing daarvan. Hier gaan dit oor die spanning tussen die wêreld (menslike kultuur) en die aarde (die natuur) en vir Roux beliggaam al sy gedigte hierdie spanning. “Die aarde is dít waaruit alles oprys maar waartoe alles weer teruggeneem word; die wêreld wat voortkom uit die aarde uit, skep vir ons ‘n kultuurruimte waarin ons alles kan herken. So as mens dink aan ’n ou, antieke Griekse tempel, dit maak ’n wêreld oop. Dit hóú eintlik daardie wêreld van ’n ou beskawing oop en van die gode en die mense wat beweeg het op hierdie pleine.
Terselfdertyd beweeg hierdie wêreld en wat dit openbaar weer terug in die aarde. En daar is nooit ’n manier wat ons daardie wêreld kan staanmaak soos wat dit was nie. Behalwe as ons dit laat installeer in ’n gedig, en op daardie manier is die landskap ’n manier om hierdie verlore wêrelde... enigeen wat die gedig lees, kan daarna terugkyk en sê: ‘O ja, ek herken ook hierdie landskap; ek herken dié wêreld.’ So, in daardie opsig tree ek met die ekologiese diskoers in gesprek.
“Ons is nou in die era van die Antroposeen en ek weet digters soos Pieter Odendaal veral of Dominique De Groen skryf direk in daardie tradisie van die Antroposeen: Ons moet kyk na ons effek, dit wat ons op die aarde maak. Ek skryf nie eksplisiet in daardie rigting nie, hoewel ek dink miskien in ’n volgende bundel sal ek my ore bietjie meer in daardie rigting spits.”
Dreyer het aansluiting gevind by wat Roux gesê het oor verlore of vroeëre wêrelde en by hom is dit ook belangrik vir hoe die verdwene wêreld sig bly aanmeld in woorde.
Gedigte roep wêrelde op
Is een van die funksies van gedigte vir hulle dat poësie vir verlies kompenseer? En om terug te bring wat aan die verlore gaan is? Of bied die digkuns meer ’n manier om verlies te aksentueer en te toon? het Pieters gevra.
Vir Dreyer is ’n ganse register van emosies hierby betrokke en sê dit gaan wat hom betref nie oor slegs een, enkele emosie nie. “Natuurlik sal nostalgie ’n rol speel en gewoon hartseer ook.”
Hy het genoem dat Franschhoek se vroeëre naam Olifantshoek was en dat jy vandag nog ’n Leeuspruit kry. Dit sein vir hom ’n landskap van spoke, die teloorgaan van ’n wêreld. Ter aansluiting hierby het hy sy gedig “wolfkop” voorgelees.
Die opnoem van plek- en diername en woorde het vir hom iets van ’n inkantasie of beswering, het hy te kenne gegee, en daarmee saam die besef dat dit verlore is.
Vir Roux bied poësie ’n manier om deur klank en woord ’n wêreld daar te stel wat jou terugbring na ’n moment hoewel dit ook maar net weerskyn, ’n weerspieëling is. En tog skep dit ook ’n wêreld met sy eie verstaanbaarheid.
“Jy kan daar ingaan, dis die wonder van poësie. Dit is moeilik om ’n gedig te skryf. Jy kry eintlik ’n gedig en dan moet jy daaraan gaan werk, bietjie soos ’n ambagsman. Dis nie net iets wat jy gaan sit en skryf nie. Dis nie net een dag wat jy ’n digbundel skryf en jy gaan dan ’n digbundel hê nie. Dit vat jare, dit vat dekades om gedigte bymekaar te maak. Maar dis wat ons vat van hierdie werklikheid van wat ons is. Maar ja, dit gáán oor daardie beswering van die verganklikheid.”
Dreyer wys daarop dat dit heeltemal moontlik is vir goed om moontlik én onmoontlik te wees. “Ek dink oor die vraag van kan jy met poësie iets terugbring... dit voel vir my ’n mens kán, maar jy kan ook nie. Dit is ’n bietjie soos as jy ver van jou vrou af is en jy verlang vir haar. Jy kan terugdink aan haar, aan haar nek en reuk en vel. Dit voel of sy daar is en dit is lekker. Maar daarna voel jy amper nog méér hartseer. So jy kan dit beide doen en nié doen nie.”
Dreyer het vertel van sy gedig “coccinella” met die verskillende name vir die liewenheersbesie. “Daardie name het mos nou nie uit die lug geval nie. Elkeen van daardie woorde het ’n storietjie daaragter.” Die gedagte daaraan vat vir hom iets saam van die gedeelde ervaring van ’n taalgemeenskap, iets wat ’n soort skatkis is. Hy het sy waardering uitgespreek vir woordeboekmakers en sonder die werk van die leksikograaf en rubriekskrywer Jana Luther uit.
Beswering van verganklikheid
Dit is vir Pieters opvallend dat in albei bundels pa’s ’n rol speel.
Toe Dreyer begin werk het aan ’n bundel was dit kort ná sy pa se dood en meen die werk aan die bundel bied dalk ook ’n manier om dit te verwerk. Roux het hierby aangesluit en ag dit sentraal in Weerskyn. Sy pa is in 2020 oorlede. “Ek het al voor tóé digterlike gesprekke met my pa gehad. Dit gaan veral oor my kinderherinneringe aan sy betrokkenheid by die grensoorlog waarin hy as kapelaan doodsberigte moes oordra en hoe moeilik dit moes wees, maar ook hoe ons totaal daarvan verwyderd is. Dis ’n moeilike saak en ek dink ’n gedig bied jou die geleentheid om dinge te sê wat jy nie noodwendig in gesprekke sal aanraak nie. Op daardie manier volg ek dan van my kinderherinneringe en my gedagtes wat ek dan kan gaan sit op my eie en neerskryf sonder dat ek noodwendig daaroor hoef te praat. En dan is dit ook ’n mate van verwerking. Troosliteratuur, die troos in literatuur.”
Hulle het die gesprek afgesluit met die voorlees van gedigte, Roux met “’n Vreemdeling se graf” en Dreyer met een van sy verse na aanleiding van die dood van sy vriend, die skrywer en vertaler Jaco Botha, “slaap jy solank, dan hou ek die fort”, waarmee hy in 2019 die AVBOB-digkunskompetisie in die kategorie vir Afrikaans gewen het.
Lees ook:
Fotoblad: Afrikaanse digters op literêre reis deur Nederland en België