Alwyn Roux en Tom Dreyer het in Maart in Nederland en België hul onderskeie bundels Weerskyn en Nou in infrarooi bekendgestel aan die hand van verskeie kennismakings, gesprekke en voorlesings.
Roux vertel hulle het saam met die akademikus Jos Damen in Leiden muurgedigte per fiets gaan ontdek, waar Ingrid Jonker se gedig “Die kind is nie dood nie” en Elisabeth Eybers se “Taalles” te sien is.
In Amsterdam het Roux en Dreyer saam met die digters Nachoem Wijnberg en Hannah van Binsbergen by die letterkundestigting Perdu opgetree.
Saam met die digter en joernalis Carina van der Walt het hulle in Tilburg op ’n stadswandeling gegaan saam met digters Jac van de Ven, Nick J Swarth en Jasper Mikkers wat ook hul muurgedigte voorgelees en toegelig het.
In die openbare biblioteek LocHal het hulle aan ’n poësiewerkwinkel deelgeneem waaraan Mikkers, Swarth, Herman Coenen, Hans Lodewijkx, Marja van Trier en Laurian Toorians deelgeneem het. Van der Walt het die gesprek gelei.
In die Universiteit van Gent het Roux en Dreyer aan ’n middaguurgesprek deelgeneem onder leiding van die literator Martina Vitackova wat verbonde is aan die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika.
Die letterkundige Janien Linde van die Noordwes-Universiteit het by die geleentheid ’n lesing oor Afrikaanse poësie, literêre kritiek en relasionaliteit gelewer.
Die Afrikaanse digters se toer het afgesluit met ’n geleentheid in die Poëziecentrum in Gent waar die literatuurwetenskaplike Jürgen Pieters met hulle vir Samespraak, ’n internasionale studiegroep oor Afrikaanse en Nederlandse letterkunde, ’n gesprek gevoer het.
Lees ook:
Digters Dreyer en Roux toer Lae Lande met hul bundels Nou in infrarooi en Weerskyn