Die Karoodorpie Barrydale is 245 km van Kaapstad, 203 km van George en 548 km van Port Elizabeth en kan via die N2, N1 en R62 bereik word. Hoe dit ook al sy, dit lyk my alle paaie lei na Barrydale, skryf Maryke Roberts.
Daar is oorgenoeg om te sien by Diesel & Crème in Barrydale.
As jy so teen middagete die dorpie inry, is daar baie eetplekkies om van te kies. Motors van oral staan voor piepklein restaurantjies en bierbrouerye. Ons kan egter nie ons kuier behoorlik afskop sonder ’n maal of melkskommel by die bekende Diesel & Crème nie. Die melkskommelgeure is legio, die soete troos op jou tong verslawend en die restaurant met sy memorabilia gee jou oorgenoeg om jou aan te verkyk, terwyl jou burger en skyfies alte maklik in die keel afgly.
Gasvrye wafels
Leana Pekeur bring vir nagereg ’n reusewafel met roomys en ek weet ons sal vanmiddag lank moet gaan stap om dié skuld af te stap! Gelukkig is ons verblyf so lekker sentraal, van stap kry jy beslis genoeg.
Ons ry onderweg na ons verblyf, die Karoo Art Hotel, deur die stil straatjies met pragtige klipmure en kwepers wat swaar en rond en vetplante wat blinkvet oor dié mure hang.
In ons groepie is ’n Gautengse vrou wat dreig om alles te verkoop en op Barrydale te kom woon, waar sy vry sal kan asemhaal, daar nie misdaad en verkeersknope is nie. Toe ons by ’n klein wit sinkhuisie met ’n gietysterhek vol oordadige krulle verbygaan, is haar besluit geneem: Dié huisie is waar sy wil woon. ’n Mens verstaan dié hunkering na die ooptes van die Karoo, die gawe mense en heilsame leefstyl.
Die hotel spog met ’n nuwe voorkoms en ’n nuwe lewe danksy die nuwe eienaars, Rick en Sue Melvill.
Die oorspronklike Barrydale-hotel is in 1890 gebou en in 1937 is aanbouings voltooi. Tydens Covid het Rick en Sue Melvill, wat ook die suksesvolle Melvill & Moon-safaribagasie, -kampmeubels en -leerbykomstighede vervaardig, die hotel oorgekoop en opgeknap.
Nadat ons bagasie in ons kamer gelaat is, gaan stap ons. Die beste manier om die dorp te ontdek, is saam met ’n gids, soos Doris Day, wat die afgelope vier jaar roetes onder verskeie temas doen – Kunsroete, geskiedenis en esoteries, maar so met ons kuier, doen sy iets van alles. Die esoteriese toer sluit onder meer joga, labirinte en meditasie-uitstappies in. Bespreek ’n toer met haar by die hotelontvangs, of loer op Instagram by @dorisdaytours.
Doris Day, ons toergids vir die dag. Sy bied historiese, esoteriese en kuns-staptoere aan.
Ons vertel hoe vriendelik en kunstig ons die mense vind en sy lag: “Barrydale het sy eie unieke kunstige aura. Mense noem die dorp ook Noddy Town omdat almal altyd met ’n kopknik groet.”
Ek vra oor die spoggerige 1978-Rolls-Royce Sputnik wat voor die hotel staan. Doris sê dis een van die maniere hoe belangrike mense of glanspersoonlikhede soms die dorp kan verken: Van die agterste sitplek van dié spogwa.
Doris vertel van die House of Books, ’n katspoegie van die hotel. En dit is presies wat dit is: ’n Huis vol boeke. Elke vertrek sorgvuldig ingerig met rye en rye boeke. Daar is sowat 40 000 boeke, vertel die eienaar Anton MacGruder my. Ons spoor allerhande skatte daar op en ek kan nie glo dat ’n boek, Wenke vir die huis deur Barty Phillips, net R25 kos nie. Die oumense met hul rate het darem maar net geweet hoe en waar.
Elke vertrek in House of Books is sorgvuldig ingerig om altesaam sowat 40 000 boeke te huisves.
Ons loer by die Magpie Art Collective se galery skuins oorkant die hotel in, wat spesialiseer in handgemaakte kandelabras en ander gebruiksartikels wat meestal uit plastiekrommel en optelgoed vervaardig word.
Hier word nie net uitvoergehalte produkte gemaak nie, dis ook ’n opheffings- en bemagtigingsprojek wat in 1998 deur die ontwerper, Scott B Hart, en die sosiale entrepreneur, Shane A Petzer, gestig is.
............
Die Rooi Doppies-projek het verskeie plaaslike mense opgelei en in samewerking met die Barrydale-herwinningsprojek kunswerke geskep wat selfs tot in die Withuis in Washington DC hang en deur die voormalige presidentsvrou, Michelle Obama, vir haar dogters se slaapkamers gekies is.
............
Richard Panaino en die kunstenaar, Sean Daniel, het in 2006 by hulle aangesluit en deur hul ywer die skakel tussen ontwerp en sosiale kwessies aangepak om die gemeenskap te verbeter. Hul Rooi Doppies-projek het verskeie plaaslike mense opgelei en in samewerking met die Barrydale-herwinningsprojek kunswerke geskep wat selfs tot in die Withuis in Washington DC hang en deur die voormalige presidentsvrou, Michelle Obama, vir haar dogters se slaapkamers gekies is.
Kunsroete: Magpie Art Gallery se handgemaakte kandelabras en ander gebruiksartikels wat meestal uit plastiekrommel en optelgoed vervaardig word.
Oorkant die pad is Mez Karoo Kitchen. Hier betower die kookkuns van Michelle Berry ons met geure uit Afrika in tagine-borde met ’n goeie skeut Mediterreens daarby.
As deel van die kunsroete loer jy by die Analogue Art Gallery in, waar Nicole Huke meer vertel oor die goeie ou dae van film- en plaatfotografie. Sy sê ook die vierde jaarlikse Analoog Fotografiefees word van 8 – 18 Desember gehou en dis baie gewild. Die tiendagfees het verskeie bekende sprekers, uitstallings en werkswinkels en ’n lekker nostalgiese herinneringsreis. Om meer hiervan te verstaan, gaan loer ons by Graham Abbott, die pa van dié fees, in en hy neem ons deur sy ateljees, met ’n wye verskeidenheid ou bokskameras en donkerkamers.
Kunsroete: Nicole Huke van die Analogue Art Gallery vertel meer oor die goeie ou dae van film- en plaatfotografie.
Saans kuier ons in die hotel se kroegie oor lekker ribbetjies en skyfies en luister na plaaslike musikante met ’n unplugged konsert, waar jy ook sommer die locals leer ken. Die wyne in ons glas kom van Joubert-Tradauw Wingerde & Kelder net buite die dorp. Dis op ons program op pad huis toe. Of ons skuif oor na die restaurant vir heerlike Karookos en lekker gesels.
............
Om in die vroegnag deur die stil strate te stap met die sterrehemel as jou dak is die grootste geskenk van die lewe hier.
............
Vroegoggend kuier ons op ons kamer se balkon met moerkoffie wat stoomwolkies in die koue oggendlug maak. As ek met my twee duime en wysvingers ’n raampie vorm, is daar ’n windpomp, wingerd en olyfbome in my visier. Karoo op sy bekoorlikste.
Later hoor jy die klop-klop van die barista by die koffiemasjien op die grondvloer soos sy nog louwarm koffiemoer uitkap. Die dorp ontwaak.
Onder gekom, brand die kaggel en die eetkamer is ’n gesellige plek. ’n Mens kan glo dat Rick en Sue se harte warm moet klop vir die nuwe lewe wat hulle die hotel ingeblaas het. Dis nou weer die middelpunt van die dorp se bedrywighede en ’n saamkomplek vir kunstenaars, skrywers en musikante.
Mooi detail versier ons hotelkamer
Die Jam Tarts was vir jare een van ons gunsteling-stopplekke vir iets te ete en te drinke, maar die oorspronklike eienaars, Joan Peters en Terri Williams, het nou ’n rustiger lewe gekies. Joan verf in haar ateljee waardeur die son in sulke goue strale deur die vensters loer en hul tuin is deel van die tuinfees, Barrydale in Bloom, in Oktober. Hul tuin is ’n ware oase en ’n wonderlike plek om net asem te skep voor jy die dorp en sy mense verder verken.
Ons stop ook vinnig by Johannes Marthinus se kleurvolle huis in die informele nedersetting. Hy speel met kleur en verf gereeld sy huis en besittings oor.
Ons stop ook vinnig by Johannes Marthinus se kleurvolle huis in die informele nedersetting. Hy speel met kleur en verf gereeld sy huis en besittings oor.
Aan die buitewyke van die dorp het die Barrydale Hand Weavers die afgelope paar jaar ’n nuwe tuiste gekry. Voor ons die wewers gaan ondersteun, druk ek my kop by die Joseph Barry-kelder in.
Adriaan Koppies werk sedert 2021 vir Oude Molen, maar is al veertien jaar op dié perseel waar die bekroonde Joseph Barry vir jare gedistilleer is. Ons proe van hul wen-brandewyne en jou ore tuit van al die internasionale pryse wat dié distilleerdery in sy leeftyd ingepalm het.
Jy proe die VS 3 jaar; VSOP 5 jaar; XO 10 jaar (wat ses jaar terug die wêreld se beste brandewyn was) en die Ladismith 8 jaar. Agter die proetoonbank is die wewers se klein winkeltjie ingerig.
Brandewynproe by Joseph Barry-kelder
Barrydale Hand Weavers is in 2007 met een wewer op Carol se stoep begin. Vandag is die Skot, Arran Bastable (Mnr Skots of Ouboet), en sy vrou, Kate, die eienaars en die nuwe tuiste is in 2021 betrek. Dit was sedert sy ontstaan in die dorp ingerig.
Jackie Fortuin werk al tien jaar vir Barrydale Hand Weavers. Sy neem ons rond en vertel alles wat hier geweef en gemaak word, is 100% katoen wat uit SA, Zambië, Zimbabwe en Swaziland afkomstig is.
Ons vertoef by Amanda Tawe wat ’n roomkleurige badmatjie maak en sy vertel hoe baie sy die werk en haar kollegas en samesyn geniet.
Agter teen die muur is Miriam Pieterse se ritmiese geweef amper hipnoties en ’n mens moet jouself wegskeur van die heen-en-weer en die geklap van die weefstoel.
By Barrydale Hand Weavers ontmoet ons Amanda Tawe. Terwyl sy besig is om ’n roomkleurige badmatjie maak, vertel sy hoe baie sy die samesyn by haar werk geniet.
Ná ontbyt val ons in die pad op die R62 en het drie stopplekke: Joubert-Tradauw-wynkelder, die Metanoia Distilleerdery ’n paar kilometer verder aan en dan ’n lekker wynproe by Van Loveren Familiewingerde buite Bonnievale.
By eersgenoemde maak Meyer en Beate Joubert heerlike wyne en kos en bedien albei in hul deli en restaurant. Beate het ook die kookboek, Taste the Little Karoo, geskryf.
Hulle twee het in 1993/1994 in die Napa-vallei in Kalifornië gewerk en baie van hul wyndrome is daar gebore.
Ek wonder oor die verskillende spellings van hul plaas en die Tradouwpas. Meyer vertel: “Ek het gaan oplees en gesien ‘Teras Dua’ is ’n Khoi-San-woord wat ‘voetpad van die vrou’ beteken. Die Khoi-San-vroue het uit die Groot Karoo hierdeur gestap om by die see te kom. Die naam is deur die Hollanders en Setlaars as Tradauw vertolk en natuurlik werk die Tradauw boonop vir my lekker, omdat ons van Franse afkoms is.”
..........
Ek wonder oor die verskillende spellings van die Tradauw-plaas en die Tradouwpas. Volgens Meyer Joubert se navorsing hieroor is ‘Teras Dua’ is ’n Khoi-San-woord wat ‘voetpad van die vrou’ beteken. "Die Khoi-San-vroue het uit die Groot Karoo hierdeur gestap om by die see te kom."
..........
Beate verduidelik dat Tradauw die oorspronklike naam van die plaas was (op die aktes en transport so aangedui) en die streek en pas heet Tradouw. Toe hy die hemelse R62-versnit in my glas gooi, maak die naamspelling nie meer saak nie, net die samesyn is oorgenoeg.
Ons groet swaar, maar Kenny Scheepers wag by Metanoia, wat “bekering” beteken. Lees meer oor sy brandewynreis hier.
Kenny maak ook gin en whisky.
Metanoia se gin, brandewyn en whiskies is almal ewe lekker. Ek proe die gin by die hotel en ons maak ’n afspraak om die distilleerdery te gaan besoek.
Daarvandaan ry ons suid na Bonnievale. Van Loveren Familiewingerde tussen Robertson en Bonnievale is die land se grootste wynplaas in familiebesit. Met jou aankoms by die moderne proelokaal met sy groot ruite wat uitkyk op die tuin, wat ouma Jean Retief gevestig het, kry jy ’n proeboekie met tien verskillende wynproe-opsies, wat selfs ’n proe insluit met wyne waarvan die alkohol verwyder is en ’n proe vir kinders met lekkergoed by.
Met skoonmense wat op Bonnievale woon, is dit een van ons gereelde stopplekke en die lekkerste plek vir ’n pizza en glas wyn oor ’n naweek. Die wyne is dus nie net goed bekend aan ons nie, maar ook baie geliefd. My oog vang egter die Christiena Meester-proe met Riedel-glase. Freda Jacobs, proelokaal-assistent, begelei ons proe en verduidelik hoekom elke kultivar sy eie kultivar-spesifieke glas benodig. Dit kom basies daarop neer dat sekere wyne se geure op verskillende plekke op jou tong moet land en die regte glasvorm verseker dit.
Die Christiena-reeks bestaan uit die beste wyne van die handgeplukte druiwe uit die wingerde en is vernoem na die familiematriarg, Christiena van Loveren, wat in 1699 aan die Kaap van Goeie Hoop gearriveer het. Al die wyne in die reeks word van enkelblok-wingerde gemaak en in genommerde bottels vrygestel.
Christiena se bruidskis, wat van een generasie na die ander oorgedra word en op die plaas in die proelokaal staan.
Die Van Loveren-wingerde is in die Retief-familie se besit sedert 1937, toe Hennie Retief sr die grond in die Robertson-streek gekoop en die plaas hernoem het om hulde te bring aan die stamlyn. Christiena van Loveren word onthou as ’n merkwaardige vrou wat getroud was met die eerste Van Zyl – Hennie sr se vrou, Jean, se nooiensvan – wat in Suid-Afrika gearriveer het.
Christiena se bruidskis, wat van een generasie na die ander oorgedra word en op die plaas in die proelokaal staan, dien as een van die belangrike herinneringe.
Dis die Pinotage 2022 uit dié reeks wat my die meeste bekoor en waarvan ’n boks saamgaan huis toe, met al die ervaringe nog talmend in my wese vir later weer herontdek en -oordink.
- Ons het vir dié plattelandse avontuur die geleentheid gehad om die nuwe generasie Jimny van Tread Lite 4x4 – ook ’n lid van Cape Country Routes – te toetsbestuur.
- Die Karoo Art Hotel is die nuutste lid van Cape Country Routes (CCR), ’n toonaangewende groep akkommodasie- en aktiwiteitsondernemings wat deur eienaars bestuur word. Meer as twintig hotelle, lodges en gastehuise in privaat besit, geleë op die skilderagtige en historiese roetes van die Wes- en Oos-Kaap, vorm deel van dié roete.
Elke kamer in die hotel is keurig versier in ’n ander tema.
Kitsfeite
- Gaan geniet lekker plaaslik-gebroude bier en suurdeegpizza by The Maker’s Brew, waar die bekende Kaapse fotograaf, Ryno Reyneke, saam met sy kunstenaarsvrou, Helen Vaughan, kom nesskop het. Ryno sorg vir die lekker kos en bier en Helen het ’n kunsateljee langsaan. Die bestanddele vir die pizzas kom óf uit sy tuin óf van mense ’n klipgooi van hom af.
- Barrydale in Bloom – ’n tuinsafari deur die dorp se lieflike, uiteenlopende tuine, botaniese uitstallings, kos en markte – word elke jaar in Oktober gehou. Vanjaar word dit van 7–8 Oktober gehou.
- Ons verblyf en lekker etes en kuiers by die hotel is hoogs aanbevole. Bespreek by Karoo Art Hotel, 066 189 7457 of reservations@karooarthotel.co.za, of besoek hul webwerf, www.karooarthotel.co.za. Diereliefhebbers sal verheug wees om te weet dat daar twee grondvloer-suites vir honde-eienaars is. Die hotel bied ook gereeld programme onder die “Art of”-banier aan, wat joga, kook, musiek en film insluit.
- Vir meer dinge om te sien en te doen op Cape Country Routes bespreek by: 021 023 3611, bookings@capecountryroutes.com, of gaan kyk na www.capecountryroutes.com.
Foto’s: Clifford en Maryke Roberts