COVID-19 laat duisende mense sterf weens ’n asemtekort. Hulle versmoor, daarom is suurstof nodig om die lewens te red van mense wie se longe nie meer genoeg suurstof kan inneem nie.
In die groot stede is daar dikwels enorme suurstofbanke by ’n hospitaal, maar wat doen jy in die platteland? Jy gebruik ’n suurstofkonsentreerder.
En wat doen jy as die pasiënt steeds te min suurstof kry? Dan gebruik jy twee suurstofkonsentreerders gelyk. Een gee suurstof deur die neus, die ander gee suurstof deur ’n masker.
En wat doen jy as die pasiënt steeds te min suurstof kry? Dan gebruik jy drie suurstofkonsentreerders. Een in die neus en twee in die masker ...
Hierdie vernuwende optrede in Suid-Afrika het onlangs die nuus in Nederland gehaal.
Wêreldwyd is daar ’n enorme tekort aan suurstof.
Om Suid-Afrika se slim oplossings te verstaan, moet ons egter eers teruggaan na ’n wêreld voor COVID-19, toe ’n ander virus, MIV, en ’n bakterie wat tering veroorsaak, ’n mediese dokter se lewe verander het.
Colin Pfaff die vernuwer
Colin Pfaff het in 1993 sy mediese studies aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi. Hy het daarna verder gestudeer in huisartskunde en in openbare gesondheid.
Pfaff het vir agt jaar lank in die arm, afgeleë gebiede in KwaZulu-Natal gewerk. In 2008 het hy beroemd, of dalk berug, geword toe hy geld ingesamel het om sy swanger pasiënte wat MIV+ was, toegang te gee tot AZT, ’n antiretrovirale middel.
Dit was ’n baie ander tyd in Suid-Afrika se gesondheidsgeskiedenis. Manto Tshabalala-Msimang was die minister van gesondheid en haar halsstarrige weiering om sogenaamde Westerse studies te glo in die stryd teen MIV/Vigs, is soortgelyk aan die irrasionele vrese wat ons vandag sien vir entstowwe teen COVID-19.
Die armes in Suid-Afrika het dus gewoon nie toegang tot lewensreddende medisyne gehad nie.
Colin het geld ingesamel en mense se lewens begin red, maar Peggy Nkonyeni, die toenmalige LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, het geglo AZT is giftig. Colin is van wangedrag aangekla.
Die feit dat die MIV-Doktersvereniging van Suidelike Afrika (Southern African HIV Clinicians’ Society), die Plattelandsedoktersvereniging van Suid-Afrika (RuDASA) en die Aids Law Project (ALP) vierkantig agter Colin Pfaff gestaan het, kon geen salf smeer aan Suid-Afrika se politici nie.
Colin het toe vir twee jaar in Nepal en daarna vir tien jaar in Malawi gewerk, waar hy ook deeltyds klasgegee het aan die Skool vir Openbare Gesondheid en Huisartskunde by die Universiteit van Malawi.
Hy weet dus van planne maak as daar nie genoeg hulpbronne is nie.
Vandag is hy die mediese spanleier van ’n MSF-projek in Khayelitsha naby Kaapstad. MSF staan vir Médecins Sans Frontières, oftewel Dokters Sonder Grense.
Die MSF-projek in Khayelitsha kom al ’n lang pad. Soos Colin in KwaZulu-Natal, het die MSF-span in Khayelitsha pasiënte op antiretrovirale middels geplaas lank voor die regering die kopskuif gemaak het.
MSF se behandeling was so suksesvol dat dit later nie meer moontlik was om hulle resultate te ontken nie. Vandag is die Suid-Afrikaanse MIV-riglyne in ooreenstemming met die werk wat MSF as baanbrekers gedoen het.
Maar MIV-Vigs het ’n besonder dodelike meeloper. Tuberkulose, of tering, soos dit in die volksmond bekendstaan, maak steeds duisende mense dood in Suid-Afrika, veral in digbewoonde gebiede soos Khayelitsha.
Op 5 Februarie 2021 is bekendgemaak dat daar in 2018 ongeveer 390 000 mense was wat tering gehad het.
Tering is gewoonlik behandelbaar, maar dit gebeur te gereeld dat pasiënte, weens geldnood of ander huislike omstandighede, nie vir die volle ses maande, of langer, aanhou om hulle medikasie te drink nie. Nuwe variante wat weerstandig is teen bestaande middels, ontwikkel op dié manier.
Weerstandige tuberkulose is ’n groot probleem, daarom het die MSF-span in Khayelitsha ook begin om tering te behandel.
Tering is egter ook voorkombaar en Colin in passievol daaroor. Hy het daarom aan die begin van 2020 by die Khayelitsha-span aangesluit om te gaan help. Dit was nie COVID-19 wat hom na Khayelitsha gebring het nie.
Colin kyk nie bloot na die siektes nie; hy behandel tering en MIV teen die agtergrond van armoede.
Té gereeld gebeur dit daar nie kos in ’n pasiënt se huis is nie, dan kan hulle nie die medisyne drink nie. Of daar is gewoon nie geld vir ’n taxi om kliniek toe te kom nie. Pasiënte wat nie hulle medisyne gereeld drink nie, word siek, steek ander aan en laat die siektes toe om te muteer en weerstandig te word teen die medisyne.
Saam met die res van die MSF-span werk Colin derhalwe aan maniere om seker te maak dat pasiënte genoeg het om te eet en dat medisyne by hul huise afgelewer word indien hulle nie na die kliniek kan kom nie.
Toe COVID-19 toeslaan, het Colin en sy span dadelik planne gemaak. Hulle het, in samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, een van die eerste veldhospitale in die land ingerig om pasiënte te help deur ’n sportsentrum in Khayelitsha in ’n hospitaal te omskep.
Daarna het MSF ’n span na Butterworth gestuur.
Met die tweede golf, wat veel erger was as die eerste, het MSF spanne gestuur na Livingstone Hospitaal in Gqeberha (Port Elizabeth) en na die 2 000-bed-veldhospitaal wat in die Volkswagen-fabriek in dieselfde stad ingerig is.
Hulp is ook verleen by die Mitchells Plain Hospitaal van Hoop, waaroor LitNet reeds berig het.
Ook by Ngwelezane in KwaZulu-Natal is hulp verleen met die oprig en bestuur van ’n groot veldhospitaal.
Daarna het MSF-spanne na Lesotho gereis. Lesotho se regering het twee hospitale opsygesit om Covid-pasiënte te behandel. Dáár het die personeel veral gesukkel om genoeg suurstof te kry. Daar is ’n suurstofaanleg in Maseru, maar hulle kon nie genoeg produseer nie en Afrox kon ook nie genoeg lewer nie.
Suurstof
Waarom is suurstof so ’n groot kwessie in die behandeling van COVID-19?
SARS-CoV-2, die virus wat COVID-19 veroorsaak, koppel aan ’n ensiem in jou longe, jou hart, jou lewer en niere. Die virus gebruik daardie bekende stekels om menslike selle mee oop te sluit; dit kaap dan die menslike proteïenfabrieke, maak kopieë van sigself en versprei so miljoene meer kopieë van die virus deur die liggaam.
Ons liggaam se immuunstelsel verklaar dan oorlog; dit veroorsaak inflammasie. (Die immuunrespons is in ’n artikel op LitNet verduidelik – lees dit hier.)
’n Ander woord vir inflammasie is ontsteking. Erge inflammasie in die longe is in Afrikaans bekend as longontsteking. Die virus veroorsaak soms baie erge longontsteking, so erg dat mense versmoor as hulle nie behandel word nie.
Wanneer Covid-pasiënte nie meer op hulle eie kan asemhaal nie, het hulle suurstof nodig.
Baie suurstof. Die veldhospitaal wat in Mitchells Plain opgerig is tydens die tweede golf, se suurstofverbruik was by tye meer as 1 000 kilogram per dag.
Maar hoekom so baie?
Wanneer iemand met asemnood by ’n hospitaal opdaag, sal die personeel eers probeer om suurstof toe te dien met ’n pypie in die neus. Die pasiënt haal dan nog redelik normaal asem op haar eie, maar die verhoogde suurstofvloei maak dat sy nie versmoor nie. So ’n behandeling het gewoonlik 2–5 liter suurstof per minuut nodig. Meer as 5 liter per minuut droog mense se neusgate uit, so iemand wat steeds asemnood het, sal dan gewoonlik van ’n spesiale masker voorsien word. Nou kan daar, afhangende van die beskikbaarheid, tot 15 liter suurstof per minuut gegee word.
Vir baie siek pasiënte is dit dikwels steeds te min. In groter hospitale, waar genoeg toerusting, personeel en suurstof is, sal sulke pasiënte dan gekoppel word aan ’n masjien wat hoëvloeisuurstof toedien met ’n spesiale buis in die neus; 30 tot selfs 60 liter per minuut kan so toegedien word.
In hospitale waar daar gespesialiseerde verpleegkundiges en toerusting is, ook genoeg suurstof, kan pasiënte wat steeds nie goed doen op hoëvloeimasjiene nie, opgeneem word in intensiewesorgeenhede en aan ’n ventilator gekoppel word. ’n Pyp word dan in hulle kele afgedruk en ’n ventilator help hulle asemhaal. Die pasiënt word verdoof – as hulle nie reeds hulle bewussyn verloor het nie. Só ’n pasiënt het intensiewe sorg nodig en kan niks vir hulself doen nie.
Suurstof, of die gebrek daaraan, maak of breek dus die behandeling van siek Covid-pasiënte met erge longontsteking.
By die Mitchells Plain-veldhospitaal is daar ’n massiewe silinder én ’n kleiner een opgerig wat gereeld deur lorries met tenkwaens volgemaak is.
Hierdie enorme tenks is nie altyd by alle hospitale beskikbaar nie. ’n Ander opsie is lorries wat gereeld gassilinders vol suurstof bring. Maar doen ’n bietjie wiskunde: As ’n hospitaal een ton suurstof nodig het, is dit 111 x 9 kg-bottels... per dag!
MSF berig dat daar in Nederland ’n hospitaal is wat 600 bottels per dag nodig gehad het tydens hulle piek.
Dit is waar die rustige Colin Pfaff en sy MSF-kollegas weer leierskap getoon het. MSF-Suid-Afrika het suurstofkonsentreerders gebruik waar geen ander opsie haalbaar was nie. Begin met een, dan twee en uiteindelik drie gelyk ...
En die suurstofkonsentreerders? Waar kom hulle vandaan?
MSF se logistieke hulp oor landsgrense heen
MSF is in 1971 in Frankryk gestig deur ’n groep dokters én joernaliste wat gesien het hoe oorlog en die gepaardgaande hongersnood in Biafra, Nigerië lewens verwoes. Die doel was om ’n onafhanklike organisasie te stig wat vinnig, effektief en onpartydig sou kon hulp verleen waar dit ook al in die wêreld nodig mag wees.
- Wanneer daar ’n mediese noodgeval is, soos in die geval van oorlog of ’n natuurramp of ’n epidemie, sal MSF op kort kennisgewing spanne instuur om te gaan help.
- MSF help ook oor langer periodes in gebiede waar mense nie toegang het tot mediese sorg nie. Opleiding en die implementering van volhoubare gesondheidstelsels is baie belangrik vir MSF wanneer hulle betrokke raak by só ’n projek. Dit is hoe die Khayelitsha-projek begin het.
MSF werk tans in 72 lande. Die globale netwerk word vanuit vyf ongeveer outonome beheersentrums bestuur.
MSF het kundige logistieke bestuurders en IT-spesialiste wat drie enorme logistieke sentrums, een elk in Nederland, België en Frankryk, bedryf. Van daar word verskeie ander satellietsentrums beheer. Logistieke personeel en kundiges op die gebied van inligtingstelsels vorm daarom ’n deeglike deel van MSF se personeel. Hulle is die mense wat seker maak dat spanne in die veld die nodige toerusting het.
Teringpasiënte kry huisbesoek
Colin en sy kollegas sien ménse agter die onderskeie siektes raak en besef ook hoe een probleem ’n ander kan vererger.
Op 5 Februarie 2021 is in ’n verslag bekendgemaak dat daar in 2018 in Suid-Afrika 390 000 mense met tering saamgeleef het. Ivy Apolisi en Colin Pfaff skryf toe in die Daily Maverick dat sou ’n mens aanneem dat die gemiddelde huishouding in Suid-Afrika uit 3,3 mense bestaan, daar 897 000 mense sou wees wat gedurende die inperking aan tering blootgestel is.
Die Khayelitsha-span se ondervinding met tering het dus ’n verskil gemaak toe harde inperking die land se inwoners in April 2020 getref het. Hulle het kos en medisyne na die pasiënte se huis geneem, want hulle het presies geweet waar elkeen bly.
Afskerming
MSF het in Eshowe en Khayelitsha die begrip afskerming geïmplementeer. Hulle kon aan die publiek verduidelik wie die mense is wat die swaarste deur COVID-19 getref gaan word. In Engels is afskerming bekend as shielding.
Deur opleiding, maar ook praktiese hulp soos die aflewer van kospakkies en medisyne, kon MSF dus diegene wat moontlik die siekste sou word, help om ’n mate van sosiale afstand te handhaaf en om hulle sodoende uit die hospitaal te hou.
Klein ingrypings red lewens
Bo en behalwe die aflewer van kospakkies en medisyne het MSF in Suid-Afrika ook geleer dat doodgewone mense wat bereid is om bystand te verleen, ’n baie groot verskil kan maak in die behandeling van Covid-pasiënte.
Colin het my verwys na ’n artikel wat deur ’n kollega van hom geskryf is. Giles van Cutsem, ’n leier op die gebied van tering en MIV/Vigs, het in Januarie 2019, gedurende Suid-Afrika se tweede golf, MSF se hulp by ’n groot hospitaal in KwaZulu-Natal gekoördineer.
Die tweede golf, wat veel erger was as die eerste golf, het die stelsels totaal oorweldig. In Suid-Afrika, en elders, is daar tydens gewone tye te min dokters en verpleegpersoneel. Toe COVID-19 tref, was daar doodgewoon nie genoeg hande nie.
Van Cutsem en die spanne van MSF het egter geweet dat ’n mens soms sekere take kan en moet afskuif na minder-opgeleide mense, sodat gekwalifiseerde personeel die moeilike gevalle kan hanteer. MSF het tevore baie navorsing gedoen wat bewys het dat minder-opgeleide personeel grootskaalse hulp kan bied in die behandeling van tering en MIV/Vigs. Die konsep staan bekend as taakverskuiwing. Verpleegpersoneel sal byvoorbeeld toegerus word om sekere aspekte van ’n dokter se werk te doen, en mediese hulppersoneel, met betreklik min opleiding, sal dan inspring en sekere take verrig wat gewoonlik deur verpleegsters gedoen word.
COVID-19 het hospitale oorrompel. MSF het in Ngwelezane en Lesotho weer taakverskuiwing toegepas.
In ’n oorvol saal kan iemand doodgaan as hulle hulle masker afskuif en dit nie gou genoeg raakgesien word nie. Pasiënte kan dehidreer en sterf as daar nie genoeg mense is om hulle te help water drink nie.
Van Cutsem het dus verpleegsters gebruik om pasiënte se suurstofvlakke na te gaan, en het versorgers en ander hulppersoneel gevra om seker te maak maskers is in plek, dat neusbuise nie uitval nie, of om dit terug te plaas wanneer dit wel gebeur.
Die hulppersoneel het ook gehelp om pasiënte op hulle maag te draai, wat hulle suurstofinname met tot 10% verbeter het.
Dié addisionele personeel het ook gehelp om pasiënte te laat water drink, om hulle kos te gee en om bedpanne leeg te maak.
Hierdie klein ingrypings deur mense met min opleiding het baie mense se lewens help red. (Lees Van Cutsem se eie woorde hier.)
Hoe kan gewone mense MSF help?
Vandag is MSF ’n globale organisasie wat meer as 67 000 mense in diens het.
Hulle stel graag Suid-Afrikaners aan, sê Colin. Ons mediese personeel, soos dokters, verpleegsters en maatskaplike werkers, is goed opgelei. IT-spesialiste en mense met logistieke ervaring kan ook aanmeld om te help.
Suid-Afrikaners wat belangstel om ander te dien en gemaklik is met MSF se etos, kan https://www.msf.org.za besoek.
In België is die ruimte https://www.msf-azg.be/fr, en Nederlanders kan https://www.artsenzondergrenzen.nl besoek.
Finansiële skenkings is altyd welkom en diegene wat weet hoe om fondswerwing te doen, kan ook aanmeld. Besonderhede is nogeens op MSF se webwerwe beskikbaar.
Hulp waar nodig en prakties
Colin deel toe ’n interessante stukkie inligting. MSF werk ook nie net in arm lande nie. Daar in België waar die sentrum is waarheen hy rapporteer, het MSF agtergekom dat België baie fluks vorder met die inent van hulle eie bevolking, maar dat daar geen planne is vir ongeregistreerde immigrante nie. Net daar het MSF spreekwoordelik op hulle eie voorstoep begin vee. Hulle ent nou die ongeregistreerde immigrante in.
Lees ook:
COVID-19: Die kliniese bestuurder van ’n 200-bed-veldhospitaal vertel
Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide
COVID-19: Jeremy Nel on vaccines, returning to normal and ivermectin
Waarom ’n entstof jou lewe kan red, maar nie jou DNS kan verander nie
Saphra kry pak oor ivermektien; inperking, reisbeperkings en inentings ook ondersoek