Earthbox: Eetervaring onder die grond bring nuwe perspektief

  • 0

Die son kleur wingerde en bome en die ruie plante om die kabbelende Lourensrivier mooi goud in toe ons deur die hek ry. Foto: Clifford Roberts

.......
Bo ons koppe span ’n staalstruktuur wat onder grond en gras toegegroei is, as dak vir die grondrestaurant. As jy buite van die ander kant sou kyk, sou jy nooit kon glo hierdie wonderwêreld wag hier onder die grond op jou nie.
.......

’n Nuwe eet-en-ontdek-ervaring verwelkom gaste op Lourensford-wynplaas op Somerset-Wes. Earthbox bied bedags ’n geleentheid om letterlik in die aarde na die stilte te gaan luister en na die neerlegging van miljoene jare se grond en klippies te staar. Maar dis die sjefsreeks waar ’n paar gelukkige gaste saans in die skemerte onder die grond kan eet wat altyd vir my sal uitstaan.

Earthbox het nie verniet ’n ereplekkie op die New York Times se lys van doen-dinge as jy 36 uur in Kaapstad het nie.

Die son kleur wingerde en bome en die ruie plante om die kabbelende Lourensrivier mooi goud in toe ons deur die hek ry. Ons is deftig geklee, maar weet dat as die wolkies oor die Helderberg en Hottentots-Holland-bergreeks kruip, kan dit koud en winderig word buite.

Die ontvangs deur die personeel is gul; die vure brand en ons voorgeregte word oor rooiwarm kole berei.

Die ontvangs deur die personeel by Earthbox is gul; die vure brand en ons voorgeregte word oor rooiwarm kole berei. Foto: Clifford Roberts

Maar voor mens kan eet, moet jy hande was en hierdie oulike ritueel daar in die ooptes is waarlik spesiaal. Die water het drywende roosmaryn in en die kruie vul jou neusgate. Die kulinêre reis het op alle vlakke begin!

Terwyl ons aan Hennessy VSOP-skemerkelkies of yskoue Cap Classique van Thelema Mountain Vineyards teug, ontmoet ons ander gaste wat die eetavontuur ondergronds met ons gaan meemaak.

Dis lekker luuks as jy daar aan die voet van die Helderberg aan  Hennessy VSOP-skemerkelkies kan teug. Foto: Clifford Roberts

Daar is geskroeide tuna met sjitosous en vars kruie; skaapribbetjies met gepekelde uie en swartpeperjogurt en soejavark met geskroeide lemmetjies.

Ons hoor daar dat Earthbox ’n sensoriese ervaring is wat deur die Dream Commission-span geskep is wat “projekte skep om ons gevoel van verwondering en ontsag te laat herontwaak”. Ons ontmoet dié dinamiese duo Marina Busse en Bradley Baard, die twee mees veelkleurig aangetrekte gaste by die funksie.

Die oomblik het aangebreek. Ons glase word met vonkelwyn hervul en ons kies koers na die ondergrondse gedeelte.

Soos jy met die paadjie om ’n draai onder die grond instap om die wêreld heeltemal agter te laat, raak jou oë die donker gewoond. Die kersies by jou voete wys die weg en dan ewe skielik is die grotagtige ruimte voor jou. Ek kan nie anders as om te dink dat hierdie uitgrawing werklik ’n tydkapsule is nie. Dit wys vir ons hoe die aarde miljoene jare gelede gelyk én gevorm het, maar maak mens ook weer opnuut bewus van hoe kosbaar die grond nou eintlik is wat elke dag onder ons voete verby gly.

Bo ons koppe span ’n staalstruktuur wat onder grond en gras toegegroei is, as dak vir die grondrestaurant. As jy buite van die ander kant sou kyk, sou jy nooit kon glo hierdie wonderwêreld wag hier onder die grond op jou nie.

Die tafel is gedek vir ’n fees: 34 stoele staan weerskante; swart kerse brand feestelik. Bo die tafel hang twee wortelagtige takke, amper asof ons van onder boomwortels na bo kyk.

Bo en onder: Een lang tafel met 34 stoele verseker ’n intieme ervaring. Foto’s: Clifford Roberts

Marina en Bradley vertel om die beurt hoe die hele boks in die grond nou eintlik tot stand gekom het. Hulle albei erken dat die projek aanvanklik heel eenvoudig geklink het: Hulle wou voel hoe dit sou voel om as’t ware in die aarde in te stap, maar sonder stutmure, glas of sement. Dat jy aan die aarde kon vat, die grond kon ruik – rou en eerlik soos dit is.

........
“Nou kan gaste sien hoe die grondlae oor drie miljoen jaar saam met stof, sand en slik neergelê is. Die gat is vyf meter diep en gee ons ’n goeie idee van hoe lank dit neem om grondlae te vorm.”
........

“Nou kan gaste sien hoe die grondlae oor drie miljoen jaar saam met stof, sand en slik neergelê is. Die gat is vyf meter diep en gee ons ’n goeie idee van hoe lank dit neem om grondlae te vorm.”

Marina voeg by dat hierdie ’n verbintenis met ’n oerplek is. Sy sê geoloë praat van “diep tyd” en jy kan dit voel as jy daar sit. Jy is heeltemal onbewus van die lewe bo die grond – of die wind waai, of dit koud of warm is. Al wat bestaan, is hierdie nou.

“Geotegniese ingenieurs en ander spesialiste, soos Henry Fagan, die ingenieur bekend vir die indrukwekkende Bosjes-kapel buite Wolseley, was betrokke. Earthbox is ’n ruimte vir uiteenlopende gebruike, hoofsaaklik vir introspeksie deur oudioboektoere wat jy op jou eie tyd kan geniet, maar daar is ook musiekuitvoerings en sjefsaande soos hierdie een.”

Vyf sjefs is deel van die sjefsreeks en het oor verskeie maande hier gekook: Amori Burger, Shawn Scrooby, John Joseph en Ryan Cole. Vanaand is dit sjef Vusi Ndlovu.

Lekker geskroeide lemmetjies by ons voorgeregte bring daardie ekstra tikkie geur. Foto: Clifford Roberts

Om alles oor die kole gaar te maak en die kombuis wat boonop ver van ons tafel is, het sy eie uitdagings. Foto: Clifford Roberts

Vusi, sjef en mede-eienaar van Edge, het naam gemaak deur in van die beste restaurante in Suid-Afrika en Europa te werk. Hy was ook onder die top sewe sjefs by die San Pellegrino Jong Sjef-finale in 2018. Hy is een van die stigterslede van die African Culinary Library, ’n hulpbron wat toegewy is aan die behoud en bevordering van Afrika-koskultuur en -kookkuns.

Sy sakevennoot is die charismatiese Absie Pantshwa, met ’n reuse donkerraambril, ’n groot rooilipglimlag en die vrou wat die lekker voorgeregte oor die kole berei het.

Vusi en Absie skarrel tussen die verskillende geregte, maar Vusi kom vertel darem tussendeur dat ’n eetkamer onder die grond met ’n kombuis ’n hele paar meter weg sy eie uitdagings het. Boonop is ’n lastige suidoosterwind nie die beste oplossing vir fyngoed op ’n bord nie ...

“Maar in die donker bied dit gaste die geleentheid om regtig op die kos op hul borde te fokus. Soos wat jou sig tweede viool speel, kom jou sintuie van reuk en proe sterker na vore en die geure doen die praatwerk.”

........
En as jy die rooi kleiwande so betrag, besef jy dat van die voedingstowwe wat hierdie wingerde vandag lewend hou, duisende jare gelede al hier neergelê is.
........

Sommige gaste hou vas aan hul Hennessy-konjak, ander geniet die kos en wynpasmaat met wyne van Thelema en Lourensford wat om die beurt bedien word. Tussen gange kom vertel Diaan van Zyl, handelsmerkbestuurder by Thelema, ons van elke wyn.

Die wyne is ook ’n integrale deel van hierdie reis, veral as jy dink dat van hul wortels so diep kan soek na water soos wat ons onder die grond sit. Mens kry ook nuwe respek vir wingerde wat in droëlande oorleef en ek dink hoe die grondlae voor die wortels moet wyk ... En as jy die rooi kleiwande so betrag, besef jy dat van die voedingstowwe wat hierdie wingerde vandag lewend hou, duisende jare gelede al hier neergelê is.

Ons smul aan geregte van die Afrika-kontinent – Vusi se passie – soos die plaaslike ujeqe nomsobho – ’n gestoomde broodjie met beesvleis-"elikser"; makriel met osharttamatie en ’n jollof-aftreksel; geroosterde wildsboud, soetbroodjies, gerookte beet; en hoenderjassa – hoenderdye, uiepuree, gebakte wortels, swart knoffel en hoenderglasuursel.

Die aand eindig met spanspeksaadcrême, gekaramelliseerde witsjokolade, rooibos-en-mango-gel wat met die Hennessy XO bedien word. Foto: Clifford Roberts

Ek stap in die donker nag na die kleedkamer by die ingang van die ervaring. Soos jy onder die grond uitstap, verskyn die vlieswolkies en sterbelaaide hemel bo jou kop. Die Helderberg hou agter my wag; neffens my is ’n laning bome wat silwer teen die aandlig staan.

Voor ons op die glastafel het die pikswart kerse tot klein abstrakte kunsvorme gesmelt. Sommige het die helfte van die goudgeel spyskaart oorgeneem. Elke aspek van hierdie ervaring is weldeurdag, aards en rou.

Die aand eindig met spanspeksaadcrême, gekaramelliseerde witsjokolade, rooibos-en-mango-gel wat met die Hennessy XO bedien word. Ek is traag om die mense weerskante van my aan die tafel te groet. Want dit voel asof die magiese ure hier dan weer onder die grond sal verdwyn.

En ek wil nooit weer my ontsag vir die wonderwêreld onder ons voete verloor of my respek vir die deursettingsvermoë en oorlewingsdrang van plante – en wingerde – om te oorleef nie.

Kitsfeite

  • Gedurende die winter is Earthbox Donderdag tot Sondag oop, en van Junie tot Augustus is daar 20% afslag op kaartjieprys, en dit sluit ’n oudiotoer in. Gaan verken die res van die plaas; proe hul wyne, varsgeroosterde koffie; smul aan nougat in die Wedgewood-winkel; of eet by een van die restaurante of kyk kuns.
  • Vir meer inligting oor die Earthbox-ervaring, besoek www.earthbox.co.za.

Lees ook:

Jong sjef oortref in die vlaktes

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top