As jy my sou vertel dat ek in die middel van die mooie savannavelde van die Waterberge dié innovasie met kos sou kon ervaar, het ek jou beslis nie geglo voor my besoek aan die Kingfisher Villa in Mabula-natuurreservaat nie!
Kyk, ek het al lekker geëet by lodges in die wildtuin en in privaatreservate regoor ons land. Tussen fynbos met kerse en ’n ligte seebriesie; met paraffienlampies, reusedoringbome en ’n leeugebrul as agtergrondmusiek; onder die sterre bo-op ’n klipkasteel in die rooi sandduine. Noem dit, ons het dit al gekou.
........
Dis ’n jong man wat jou hart van trots laat swel oor sy werksetiek, ywer en verbeeldingrykheid in ’n omgewing waar jy maklik robotagtig vir toeriste sal kan kook.
........
Maar die jonge Marco Venter, hoofsjef van die vyfslaapkamervilla wat jy in geheel kan huur, is ’n perd van ’n ander kleur, of moet ek eerder sê sjef van ’n ander sjefsbaadjie. Dis ’n jong man wat jou hart van trots laat swel oor sy werksetiek, ywer en verbeeldingrykheid in ’n omgewing waar jy maklik robotagtig vir toeriste sal kan kook. Sy kennis en onverskrokkenheid om te waag is iets wat jy by veel ouer en ervare sjefs sou verwag.
Maar nie hy nie.
Ek kan nie help om te dink aan ’n storie wat ek ’n paar jaar terug rondom Jeugdag moes doen en waar een van die jong mans vir my gesê het dat “ouer mense mos dink alle jong mense is oorhaastig, dom en beterweterig, maar sommige van ons is ou siele ...”
Ons is met ons aankoms by die villa deur Beverley Killian, assistentbestuurder van Mabula Privaat Wildreservaat, vertel dat die villa só werk: Jy bepaal hoe laat jy vir wildritte wil gaan – geen rigiede “die voertuig ry so laat en as jy nie daar is nie, is dit neusie verby” nie. Jy bepaal ook hoe laat én wat jy wil eet. “Sê vir Marco waarvoor jy lus is teen 16:00 en teen 18:00 is dit op die tafel.”
Mens hoor dit, maar glo?
Ons is vir drie dae in die villa. Dis warm, dis immers Limpopo-somer, so ons wildritte is soggens baie vroeg en smiddae teen laatmiddag om die erge hitte vry te spring, maar etes is uit die boeke.
Met nat voete wat pas in die swembad was, skuif jy vir middagete op die stoep reg. Met vars produkte op die platteland nie altyd beskikbaar nie, verwag ek ’n gewone slaaitjie, dalk met ’n verdwaalde olyf of blokkie feta.
O nee, dis Springbok-carpaccio met volgraanmostert-slaaisous, bloukaaskrummels en tuisgemaakte vye-confit en geroosterde pampoensade.
Dan pasta met mossels en chorizo met suurlemoenskil en pankobroodkrummels. Ja, ek weet jou mond hang oop.
Smiddae voor die wildritte is daar tee en bederf op die stoep. Onder in die watergat steek net die helfte van ’n reusekrokodil uit. ’n Visarend roep in die boom. Drie hamerkoppe kry stry met ’n kiewiet wat eiers iewers op die wal het en niemand daar naby sal toelaat nie.
Maar nog is het einde niet. Vir wildritte is die koekies en beskuit tuisgebak en nie een keer dieselfde geur of vorm nie. In jou kamer is die koekies wat neffens jou Nespresso-masjien wag, bros en amper klam in die middel.
As jy van ’n wildrit terugkom en Nicole Coetzee (butler) en Michael Shai (villabestuurder) wag met ’n yskoue waslappie vir die rooiwarm gesigte en vuil hande wat aan bossies en klippies en takkies wat jou gids vir jou optel of afbreek gevat het, en ’n glas yskoue vonkelwyn uit die Kaapse wynlande, kan niks jou voorberei op Marco se verbeeldingsvlug wat in jou bord gestalte kry nie.
........
“Ek rook gou vir julle roosmarynbotter met appelskaafsels wat ek met ’n tuisgebakte songedroogde tamatierolletjie bedien om jul monde te terg voor die hoofmaal.”
........
Terwyl jy by die reusevuur langs die watergat sit met jou gin en tonic, hoor jy die vrolike gesels uit die kombuis. Jy verwag in hierdie geweste ’n lekker koedoelende of elandpastei. O nee, hy kom uit met ’n glaskoepel op ’n skinkbord en ’n klein toestelletjie daarnaas wat my aan ’n tandeborsel op turbo herinner.
“Ek rook gou vir julle roosmarynbotter met appelskaafsels wat ek met ’n tuisgebakte songedroogde tamatierolletjie bedien om jul monde te terg voor die hoofmaal. Dan eet ons salm met hummushappies en my spesiale bederf vanaand is Bees Wellington, maar op my manier.”
Die salm- en hummushappies kom in ’n reuseskulp en word bedien op eiervrugblatjang. Ja, tuisgemaak. Seker ’n oorle ouma of ’n tannie se resepteboek waarvan die blaaie al omkrul?
Die Bees Wellington het ook ’n kinkel. Dit het bros skilferdeeg met Hickory-ham en ’n dik beef jus.
Terwyl ons soos rawe eet, hoor hy of hy vir ontbyt kan croissants bak of eerder bosbessie-pannekoeke met esdoringstroop. Hokaai perdjie, ons gaan huis toe rol!
Dan kom die bruintjies wat uit 90% sjokolade van iewers misterieus kom. Die man is nie verniet ’n artisinale sjef nie. Hy het vir drie jaar by die by Limpopo Sjefsakademie gestudeer vir ’n beroepsgerigte sjefssertifikaat en toe as lektor by dié skool doseer. “Hier het ek ander mense geleer hoe om die grondslagfase van kos te waardeer. Van gesnyde vingers na gebrande hande en trane in ’n instapyskas het die industrie my weer geroep. Ek is toe na ’n slaghuis waar ek die deli-afdeling moes begin en van varklies tot draairoomyse behartig het. Daar het ek hierdie aanbod gekry om na die mooie Waterberg-distrik te verhuis en my passie vir mooi etes en kreatief-wees uit te leef.”
Maar waar dinge regtig uniek word, is wanneer hy hoor een van sy gaste is diabeties, gluten-weerstandig of vegetaries. Dan skop sy kreatiwiteit in nog ’n hoër versnelling in en is die res van die gaste skoon jaloers as hulle op die bord langs hulle s’n loer!
........
Tussen al die lekkerbekkigheid deur, lees en droom en dut ek op die hangstoel voor my kamer aan die einde van die villa.
........
Tussen al die lekkerbekkigheid deur, lees en droom en dut ek op die hangstoel voor my kamer aan die einde van die villa. Daar is vyf suites, elkeen met ’n uitsig oor die watergat, almal ewe ver van die swembad. Tien mense is die totale kapasiteit van die lodge en dit beteken ongeëwenaarde aandag vir elke gas.
Dis doodstil, want die hitte het almal kamer toe gejaag. Ek teug aan koue vonkelwyn wat in ’n reuse-ysbak langs my staan.
Terwyl die borrels op my tong tiekiedraai, gewaar ek ’n kuifkopvisvangertjie. Sy klein verelyfie sal gerieflik op my handpalm pas. Ek wonder altyd hoe hulle regop bly, want die snawel is amper die helfte van die lyfie se lengte en sou my sekerlik van balans gegooi het! Maar dan, hy drink nie vonkelwyn nie, so sy balans is dalk beter as myne…
Hy duik in die water in, vlerkies styf teen sy lyf. Kom triomfantelik uit en sit in die doringboom en skud die oorblufte vissie hardhandig voor hy hom in een stuk afsluk. Die villa is nie verniet na hom vernoem nie! Ek wonder of hy ook soveel vreugde uit daardie vars vissie put as wat ons uit Marco se vars geregte put.
Sy waterbreekaksie het wye kringe op die oppervlak laat uitkring. Dit talm vir ’n paar oomblikke voor dit weer spieëlglad is en stilte oor alles neerdaal. Dis net ek wat in hierdie kosbare oomblik kon deel.
Ek besluit om my alewige vrees om iets mis te loop, of soos my vriendin dit noem my enigste fout, VOUTM (vrees om uit te mis), tersyde te stel en nie op die middag-wildrit te gaan nie. Dalk gewaar ek nog bokkies of voëls op die dam.
Ek gaan haal my voël- en diereboek en verkyker en so op my eentjie trek die saligheid in elke sel van my weefsel in. Dit word laataand voortgesit toe ek weer alleen in my groot swaaistoel gaan sit om die sterre en volmaan te geniet wat mooi patrone op die pikswart watergat voor my voete maak.
Ek is toe wel drie dae later swaarder toe Marco nog kougoed vir die pad in my hand stop, maar dis my hart wat nog voller as my maag is.
Dis beslis nie vaarwel nie, maar net totsiens, tot volgende keer!
Kitsfeite
- Moenie dink net omdat ek nie liries skryf oor die wildritte, al die aktiwiteite soos perdry of viertrekmotorfietsry of op die jagluiperdstap gaan, dat ek dit nie geniet het nie. Alles is daar om jou ervaring in die bos onvergeetlik te maak. Maar dis jonge Marco wat my hart op hierdie savanna-sabbatsreis gesteel het. Ons toekoms is blink as dit in sulke jong (goeie) hande gelaat word.
- Mabula Privaat Wildreservaat is gerieflik vir ’n wegbreek as jy in die Goudstad-omgewing kuier: 212 km van Johannesburg; 150 km van Pretoria; 190 km van OR Tambo en 47 km van Bela-Bela. Dis malariavry en as jy uit Kaapstad of Durban wil gaan kuier, neem die vroegoggend-vlug dat jy teen middagete in die bos is, met Marco se kos op jou bord.
- Bespreek by +27 11 516 4367, stuur ’n e-pos na res@kingfishervilla.co.za, of besoek https://kingfishervilla.co.za/.
Lees ook:
Pafuri: twee geleenthede vir onvoorwaardelik oorgee aan die natuur
Die Chobe: Hoeveel keer kan jy ’n visarend hoor roep voor dit jou nie meer diep raak nie?
Calitzdorp nie net portstylwyn-hoofstad nie, maar ook kulinêre lekkerte