Hoeveel keer kan jy ’n visarend hoor roep, dan laag oor die water sien swiep, kloue uit en ’n vis uit die water trek? Hoeveel keer kan jy hom sien terugkeer na ’n lae droë stomp wat uit die rivier steek en sy buit met sy maat deel? Hoeveel keer tot dit jou nie meer diep raak nie? Maryke Roberts het op ’n rivierboot op die Chobe tussen Namibië en Botswana gaan uitvind.
So, jy dink ek gaan nou sommer die antwoord in die eerste paar paragrawe weggee en dan kan jy aangaan met jou dagtaak / koffie maak / sosiale media. Maar nee, ek gaan nie. Ek gaan die antwoord slim iewers in die sinne versteek, want soos wat dit my ure en ure geneem het om tot die slotsom te kom, sal dit ook werk van jou kant verg.
Maar goed, kom ons begin by die begin. Dis baie vroeg een wintersoggend toe die wekker afgaan en ons van Vic Falls in Zimbabwe begin reis na die grenspos by Gazankulu, verby die rye en rye vragmotors wat hul beurt – soms vir langer as 48 uur – afwag om by die weegbrug toestemming te kry om met suiker en steenkool verder in Afrika in te ry. Die lappies aarde weerskante van die pad het tekens van verskeie vuurtjies en jy kan sien aan die T-hemde en onderklere wat lui oor droë stompe gedrapeer hang, dat wasgoed sommer hier langs die pad gewas word.
Ons paspoorte word aan die Zimbabwe-kant gestempel, ons groet ons bestuurder en stap deur die grens waar ons volgende bestuurder op ons wag. Hier gekom, moet ons ook ons stempel by die Botswana-grenspos by Kasane kry. Ons dra ons tasse oor. Die dik baadjie en serp van vroegoggend word vinnig in tasse gedruk en moue opgerol.
Jy stap deur spesiale water om bek-en-klouseer te voorkom en moet ook alle skoene uit jou bagasie haal om deur die water te sleep voor jy jou paspoortstempel kry.
Nuwe bestuurder, nuwe voertuig. Ons klim op ’n klein bootjie, al ons bagasie is daar en ons vaar vir ’n hele paar minute na die Namibiese grenspos. Dis ’n vertrekkie langs die water, skaars groter as ’n motorhuis, onder ’n boom. Ons vul immigrasievorms in, ons paspoorte word gestempel, terug in die bootjie.
Toe ons ons sit kry, vertel die bootkaptein dat ons nou vir 45 minute gaan vaar, want die Chobe Princess is reeds in die nasionale park en heelwat verder van ons af.
Dit word ’n hemelse driekwartier waar jy tussen hier en daar tuimel. Die wind is koel, die rivier is stil en die enigste patrone of skommelinge is die golfies wat ons bootjie se enjin agterlaat. Daar is seekoeie, olifante, reiers, ooievaars, koedoebulle, krokodille, kormorante, visvangers, visse, kameelperde in soveel oorvloed dat jy jou oë moet knip om seker te maak jy droom nie.
Ons ry by verskeie lodges op die rivieroewer verby; gly verby klein eilande oortrek met voëls, klein stukkies land waar olifante modderbaddens neem en kameelperde hul bene wyd strek om water te drink.
Dis skuins ná 14:00 dat die Chobe Princess in die middel van die rivier opdoem. Vinnig is ons bootjie vasgemaak, ons kamer gewys en ons bagasie afgelaai. Voor jy kan sê drieboneslaai, is ons bo vir middagete en ’n koue Tafel-bier.
Daar is ander gaste ook en ons skud oor en weer hand, maar hulle is klaar geëet en een gaan sit in die borrelbad, terwyl die ander met hul glase wyn en leesboeke op die boonste dek gaan sit.
Dis toe dat ek die visarend die eerste maal hoor roep. Voor ek nog kan vra of my geliefde hom ook gehoor het, roep hy weer ... en weer. En toe ek na my verkyker reik, sit die paartjie langs die water op dieselfde droë stomp.
Tydens ons middagete word die roep, laag oor die waterswiep en met sierlike boë, terug na die houtstomp herhaal. So asof hy sy tegniek oefen, laat my lewensmaat hoor. Ons weet die visarend is die teken van Afrika en dat daar ’n gesegde is dat as jy hom eenmaal hoor roep het, jy vir altyd aan Afrika verbind is, maar só naby, só gereeld en sóveel roepe in die bestek van ’n paar minute, is selfs vir ons Afrikane ongewoon.
Ek sien later die Duitse gaste aan boord laat sak hul kameras en laat die majestueuse vlerkspan, die lang roep en die klein rimpels op die water vir ewig op hul geheues inbrand. Mens kan nie anders as om te besef jy is iets heiligs hier beskore nie.
Teen laatmiddag kom vra die kaptein wie wil gaan tiervis vang en wie wil ’n uur of wat later eerder vir ’n sonsakvaart op een van die ander bote gaan. My geliefde se vorige tiervis-vangpogings was onsuksesvol en hy is dadelik gretig. Ek lees my boek en stem in vir die vaart met sonsak.
Die sonnetjie bak op my rug op die boonste dek. My ooglede raak swaar en voor ek my kom kry, is ek in ons lugverkoelde kamer vir ’n uur of wat se uiltjie knip.
Die reuseruite in ons kamer, waarvan een met ’n rojale muskietsif toegerus is, hou my deel van die natuur, maar in die gerief van ons kamer.
Dis die woelinge by die bootjies agter ons kamer wat my teen 16:00 wakker maak. Gou alles bymekaarkry vir die sonsakvaart.
Die volgende dag word die rituele herhaal, maar hierdie keer gaan ons albei uit vir voëlkyk teen sononder en geniet yskoue witwyn op die bootjie met die strale wat oranje patrone teen die hemel verf.
Etes by oulike lampies gee jou kans om die bosgeluide van die rivieroewer af deel te maak van jou ervaring.
Ons laaste aand sit ons tot laat op die boonste dek en kyk die sterre en hoor hoe die seekoeie in die modder beweeg.
Dis skaars 48 uur later dat al ses gaste afklim. Iewers tussen die laaste grenspos-papierwerk en my cappuccino aan boord, het net meer as twee dae verloop, maar my lyf en kop voel asof ek vir weke op die stille waters gedryf het.
Jy sien dit in al die gaste – daardie loomheid. Daardie terugdraai van ’n skakelaar na rustigheid, vóór stres en spertye en spitsverkeer en huisleningskuld.
Ons skuif aan vir nog twee nagte in Botswana, maar hulle begin ’n lang tog huis toe. Dis asof die vrede en stilte van die rivier in almal se kuite kom nesskop het, asof jy nie omgekrap kan word deur wat ook al voorlê nie. Hierdie kosbare ure om na ’n visarend te staar of te kyk hoe ’n baba-olifantjie ’n modderbad neem of seekoeie hul koppe op hul vriende se rug leun om ’n middagslapie in die wintersonnetjie te vang, is nou deel van jou. En dit sal oral met jou saamgaan, soos padkos vir die siel.
En nee, ek het nie vergeet van die antwoord nie. Met die 30ste of 40ste keer dat ons na die visarendpaartjie staar, wat eers roep, swiep, patrone kap op die stil water met hul uitgestrekte kloue en dikwels sonder ’n vis kom sit, hou ons op met tel. Laat sak ons die kamera, slimfone, verkykers en voëlboeke. Spits jy jou ore vir sy roep, ruik jy die effense modderreuk van die rivier, voel jy die son op jou rug.
En jy stuur ’n skietgebedjie op dat jy hierdie wonderlike oomblikke kon ervaar, dat Moeder Natuur en Moeder Afrika jou uitgekies het uit die miljoene mense op die planeet om vir ’n paar heilige uur na ’n ander wêreld meegevoer te kon word.
En dan besef jy: Hoeveel keer hoor jy dit voor dit jou nie meer diep raak nie? Ek weet nie, ontelbaar seker, want ek was nog nooit by daardie punt nie.
Kitsfeite
- Die boot vaar op die Choberivier in daardie nou, klein stukkie land in die Caprivi-strook bo Botswana. Dit is van verskillende lande en kante toeganklik. Jy kan jou verblyf verleng deur voor of ná die reis by die Ichingo Lodge op die rivier oor te bly, of aan te skuif na die luukse Zambezi Queen, alles deel van die Zambezi Queen Collection by Mantis. Bespreek vir die Chobe Princess by 021 715 2412 of enquiry@zqcollection.com.
Foto’s: Clifford Roberts