Met my dertigste verjaardag wat ’n week of wat voor die gevreesde Y2K-gebeurtenis was – ja, kan jy glo ons het vir maande gevrees ons rekenaars gaan nie die millenniumkiem oorleef op 1 Januarie 2000 nie – gaan daar nogal baie dinge deur jou kop.
Gaan al jou bankrekeninge, polisse, belastingrekening en paspoortdokumente soos mis voor die son van rekenaarstelsels verdwyn of gaan die lewe bloot aangaan soos elke ander Nuwejaar?
Hoe dit ook al sy, ons besluit om daardie “gevreesde” Desember/Januarie staat te maak op die tasbare: Ons paspoorte, dollars in ons beursies en reis per voertuig, eerder as vlieg… Jy weet, net nou val die vliegtuie uit die lug!
Geen besoek aan Chobe sal volledig wees as jy nie verskeie male ’n trop olifante raaksien nie.
Ons bestemming is Chobe Nasionale Park in Botswana. Die groep is 12 man/vrou/mens sterk en drupsgewys kom ons twee-twee in Bloemfontein aan vanwaar die twee Land Rovers sal vertrek voor ons Pretoria toe ry om die laaste vier op te tel.
Die twee voertuie kies koers na Botswana. Die groep is ’n proefkonyn vir vriende van vriende wat ’n toeronderneming wil begin en kyk of hulle 12 mense per toer kan bestuur en versorg.
In die voertuig.
Ons ken net die helfte van die gewillige groep en met ses in elke voertuig ruil ons gereeld by stopplekke ook sitplekke in die voertuie, sodat ons mekaar beter kan leer ken op die lang rit van Pretoria. Ons gaan vir 10 dae saam wees, elke oggend tente opslaan, vuurmaak, beurte maak om kos te maak en saans saam om die vuur sit.
Ek het vergeet van die skoene- en motorbandwassery om bek-en-klouseer te voorkom.
By die grenspos gekom, word ons papierpaspoorte met ’n rubberstempel en swart ink gestempel, geen vrees vir rekenaarkieme hier nie. Ons voertuie en ons voete met skoene aan en enige skoene in ons bagasie moet deur ’n spesiale ontsmettingsmiddel ry/stap om te verseker dat bek-en-klouseer nie die land ingebring word nie.
Onderweg na die Okavango Delta en Chobe, stop ons by klein huiskafees in klein nedersettings vir koue koeldrank of bier as die Desemberhitte ondraaglik raak. Dis reënseisoen tydens Desember en Maart en elke oggend as die sonbesies in die bome jou in jou tent wakker sing, kyk jy hoopvol na die hemele vir enige teken van ’n wolkie.
Ons ry deur vol waterpoele, kamp saans op rivieroewers en onder bome, sonder die luukse van grensdrade en wagte en elektriese heinings. Jy stap in groepies na die ablusiegeriewe, almal met ligte, en gesels luidkeels om enige wilde diere wat jou dalk agter die muurtjie wil verras te laat weet julle is baie!
Ons slaapsakke is oopgerits, dis snags effe koeler maar steeds warm en ons sit laataand onder die sterre en gesels lang stories om kampvure.
Die leeus wat ’n middagslapie geniet nadat hulle ’n buffel platgetrek het.
Die tyd in Botswana van vassit in modderpoele met die 4x4’s, hordes diere wat jy heel toevallig op jou ritte raaksien, tente op- en afslaan, saam kosmaak en baie gesels word ’n intieme, onvergeetlike ervaring. Saans sien jy naguiltjies en baie sterre in die pikdonkerte. Ons hoor leeus baie naby aan ons tente brul en soms is daar hiëna-, leeu- of seekoeispore sentimeters van jou tentflap af.
Soms is ons alleen in die kampterrein – bloot ’n oopte onder bome. Afrika op haar mees ongerepte en beslis ook gevaarlikste, maar ons is braaf...
Jong vlakvarke het vals “tande” in die vorm van hare op hul snoete om roofdiere te verwar.
Dis presies 22 jaar later dat ons terugkeer. Dié keer kruis ons die grens van die noordekant van Zimbabwe baie naby aan waar vier lande bymekaarkom: Zimbabwe, Zambië, Namibië en Botswana. Ek het vergeet van die skoene uittrekkery en ontsmetting en die herinneringe van die jaar 2000 spoel oor my.
Ons gaan by die Chobe Nasionale Park in deur die Sedudu-hek.
Chobe Nasionale Park is Botswana se derde grootste – en eerste – nasionale park en ook biologies die mees divers, vertel ons gids Sam Tawana van Kalahari Tours toe ons hom by die grenspos ontmoet vir ’n begeleide toer van die park. Dit sal ’n heeltemal ander ervaring wees as 22 jaar gelede, toe ons sonder wildbewaarder of gids die park ontgin het.
Ons gids Sam Tawana van Kalahari Tours.
Hy gee ’n bietjie agtergrond en sê die rede vir die oorvloedige dieregetalle in die park is omdat Botswana nog nooit in ’n oorlog betrokke was nie en daarom is daar so baie diere te sien. “Chobe is die helfte van die grootte van Kruger, maar het twee maal soveel olifante.”
Ons ry vir ’n paar minute al hoppende en skuddende oor ’n sinkplaat-grondpaadjie en hy lag en sê dis die verwelkoming van die dag: ’n kort Afrika-massering!
Die antistroop-eenhede werk saam met die weermag.
Ons hoor daar is geen renosters oor in Chobe nie en die antistroop-eenheid en die weermag werk skofte. “Hulle werk op skiet-om-dood-te-skiet-terme. Hier vra ons nie vrae nie. Dit hou ons stropery laag.”
As jy sou afstap rivier toe vir ’n slukkie soet, koue water, kan jy dalk hierdie verrassing kry!
Die vroegoggendkoue begin stadig wyk soos ons die rivierfront effe agterlaat en die park ’n kilometer of vyf suid- en weswaarts begin verken. Die meeste diere is vroegoggend en laatmiddag op die rivieroewers te sien en skuil die res van die dag nie ver daarvandaan nie.
Rigtingwysers in die park om te verseker dat jy nie die pad byster raak en leeukos word nie.
Die diere wat jy teëkom hier, is nie enkeles nie, dis reuse-troppe: olifante, buffels, selfs leeus in troppe. Die park spog ook met meer as 450 voëlspesies en soms sit of vlieg hulle so naby dat jy nie eers ’n lang lens op jou kamera benodig nie.
Aasvoëls en ’n maraboe-ooievaar geniet middagete op ’n olifantkarkas.
Sam vertel dat Bechuanaland in 1966 onafhanklikheid van Brittanje verkry het en as die Republiek van Botswana ingewy is. Die gebied is sedert 1961 as wildreservaat beskerm en in 1968 amptelik as nasionale park geproklameer.
Die troupant, wat ook die reënboogvoël genoem word, was altyd die land se nasionale voël, maar sy kleure gee hom weg aan sy roofdiere.
Daar is interessante feite wat Sam deel: “Die Kaapse buffel is die gevaarlikste van die Groot Vyf, omdat hy nie soos die ander vier ‘kamma’ aanval om jou te laat skrik nie: Hy val aan om dood te maak; ’n seekoei kan sy bek 180 grade oopmaak en die krag is gelykstaande aan ’n ses pond hamer wat deur ’n groot man geswaai word.
“Ek noem die buffel ‘die swart duiwel’ omdat hy so onvoorspelbaar en gevaarlik is,” verklaar hy.
Impala word hier McDonald’s genoem, omdat hulle vinnige, maklike prooi is.
Ons hoor ook: “Die park is 11 700 vierkante kilometer groot en ons land se derde grootste nasionale park en in Botswana woon 2,4 miljoen inwoners in ’n land so groot soos Frankryk, waarvan 96% Kalahari-woestyn is, daarom die lae bevolkingsgetalle.
“Hier is 265 000 olifante teenoor die 165 000 in 2010. Jaarliks vrek sowat 4–5% aan Anthrax en die Zimbabwiese of Rhodesiese kiaatbome het ’n ondergrondse tannienstelsel wat lewersiekte aan olifante besorg. Tussen die mensgemaakte Anthrax en die tannien is die natuur besig om haarself teen die oormaat olifante te beskerm,” verklaar hy.
Die park spog met 450 voëlspesies, so daar is hope te sien.
Die Seduduvallei – waar hulle die tsetsevlieg onder beheer gekry het maar baie bome in die proses doodgegaan het omdat die gif so lank in die grond bly – is stadig besig om weer terug te keer na sy oorspronklike ruigheid. “Die gif bly lank in die grond. Ek weet julle kyk ook rond en dink die park lyk droog en dor met julle Julie-besoek, maar ek verseker julle die reënwoud is in November met die eerste reën weer grasgroen.”
As ’n voertuig so skeef oor die pad staan, kan jy maar weet daar is iets in die bos wat jy ook wil sien.
Hy vertel dat hulle impalas as McDonald’s beskryf, omdat dit maklike, vinnige prooi vir roofdiere is en verklaar ook dat die Chacma-bobbejaan en impala in ’n simbiotiese verhouding leef. Die bobbejaan skud die bome en groen blare val op die grond, sodat die bokke ook kan eet. Maar teen November as die jong impalas gebore word, vreet die bobbejane die klein impalas vir yster. “Dan word vriende vyande.” Impala sal die geboorte van kalfies met tot ’n maand uitstel as dit droog is en selfs giftige bos eet om te aborteer as hulle sien daar is nie genoeg kos of skuiling vir hul lammetjies nie. Ooie soek bosse om pasgebore lammetjies teen roofdiere weg te steek.
Jare gelede is die gompou geslag wanneer ’n stam ’n nuwe leier inhuldig.
Jare gelede is die gompou geslag wanneer ’n stam ’n nuwe leier inhuldig, maar vandag is dit die land se nasionale voël en word dit beskerm. “Dit was altyd die troupant, wat ook die reënboogvoël genoem word, maar sy kleure gee hom weg aan sy roofdiere en daarom is besluit op ’n ander voël.”
Die Chobe-rivier is ’n bron van water en kos vir die gros watervoëls wat daar voorkom.
Ons hoor oulike goed soos dat die vroulike gidse in die park die “Chobe-prinsesse” genoem word, tarentale “Chobe-hoenders” genoem word en seekoeie “trapklippe” (stepping stones), want as jy in die vlak water kyk, kan jy maklik dink die ronde rûe is klippe.
Seekoeie word “trapklippe” (stepping stones) genoem.
Hy wys na ’n arend wat hoog op ’n tak sit en verduidelik dat in die arendfamilie die wyfie groter is as die mannetjie om die nes vol te sit en te kan eiers lê. Sy het ook ’n “baie groter subwoofer as die mannetjie,” verklaar Sam. Die twee manne skud soos hulle lag, terwyl ek kamma-kwaai net my tong klap.
In die warmer tye van die dag skuil al wat leef en beef in die koelte, soos hierdie pragtige koedoe.
Ons ry verby ’n bordjie vir die Chobe Game Lodge en Sam beduie dis waar Harry en Megan se wittebrood was. Nie ver daarvandaan nie, hang ’n impalavel in ’n kiaatboom van ’n vorige week se luiperdete. “Hanging out to dry,” kom dit droog van my geliefde en ons almal lag, want na die onthullings in die Netflix-doku-reeks van dieselfde naam, deur dié glanspaartjie vroeër vanjaar, voel dit omtrent of hulle uitgehang is om in die openbaar uit te droog!
Sam se dogtertjie sê kameelperde loop op stilettos.
Ons sien ’n trop kameelperde wat oor die pad stap na die rivier toe en Sam vertel sy dogtertjie sê kameelperde loop op stilettos, omdat hul snaakse parallelloop, sodat hulle nie omval nie, altyd lyk of hulle van balans af is.
Die sebra is Botswana se nasionale dier.
Die sebra het die simbool van Botswana geword omdat dit as neutraal beskou word in soverre dit stamsimbole betref en tweedens omdat sy swart en wit kleure in ooreenstemming is met die kleure van die vlag wat rasseharmonie van die land se inwoners verteenwoordig, hoor ons by Sam. Ons stop by ’n trop en hy wys na die driehoek- of diamantvorm op die dier se voorkop – die land se belangrikste mineraal. Ek sal nooit weer dieselfde na ’n sebra kyk nie!
’n Swartwitpens, ’n bok wat ek nog net een of twee keer in my lewe gesien het.
Nie lank daarna nie, stop ons vir ’n swartwitpens, ’n bok wat ek nog net een of twee keer in my lewe gesien het. Sam gee kans dat ons die blinkhaarbok afneem en sê dis voorheen vir sy vel gejag en die pragtige maanhare is ’n lewenslange verfkwas. Gelukkig het daardie gebruik ook in onbruik verval.
Die majestueuse visarend wie se roep die klank van Afrika is.
Die ure het salig verbygegly. Ons siele is net so vol soos ons kamera se geheuekaart. Net voor ons by die park uitry, draai ’n visarend laag bo ons koppe. Met ons hoogte op die voertuig is die reuse-voël só naby, dit voel asof jy elke veer kan sien wat die wind deurmekaar waai; sien hoe sy oë die waters bespied.
Ikonies.
Die voël gaan sit op ’n tak langs die rivier, gooi sy kop agteroor en roep daardie bekende roep wat so eie aan Afrika is. Sam sê so half ingedagte dat die voël vier Afrikalande se nasionale voël is. Ek kan verstaan hoekom.
Ek hoop waarlik nie dit word weer 22 jaar voor ons kan terugkeer na Chobe se vrede nie.
Kitsfeite:
- As jy uitgaan uit Botswana, is jou skoene veilig in jou tas. Dis net wanneer jy ingaan dat al jou skoene gesteriliseer moet word.
- Suid-Afrikaners het nie visums nodig vir Botswana nie, maar maak seker dat jy jou Malariatablette gedrink het en ten minste dae voor jy arriveer teen geelkoors ingeënt is.
- Wat ’n vreugde om diere te kan afneem met ’n kamera met ’n skerp, lang lens. Vir hierdie reis het ons nuwe kameras van Canon getoets – die nuutste Canon EOS R8 met drie verskillende lense het gehelp met mooi wildfotografie en die nuwe handpalmgrootte Canon Zoom – wat beteken dat jy nie met greinerige selfoonfoto’s hoef te sukkel nie. Daar is drie zoom-verstellings: 100 mm, 400 mm en 800 mm.
Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:
Groot Vyf nie al wat jou asem hier sal wegslaan nie (Mhondoro Safari Lodge & Villa, Limpopo)