Springbokkleure in gevegskuns

  • 0

“Hulle is besig om koppe te stamp.” Dit beteken hulle het ’n meningsverskil.

Dié mooi Afrikaanse uitdrukking kom natuurlik van jong, manlike diere wat mekaar uitdaag en dan werklik koppe stamp soos wat een probeer om ’n ander een te domineer.

Talle bokspesies doen dit, soms ook jong bulkalwers in die beeskamp. Kameelperde se koppe kap dawerend wanneer hulle mekaar pak.

Ek was egter verbaas om te sien hoe jong springbokke stoei – dit gaan oor soveel meer as koppe stamp.

Die sekwens wat volg, het redelik onskuldig begin met twee rammetjies wat skynbaar vir die kamera kyk, maar eintlik is dit deel van ’n stellinginname.

Hulle baken toe albei hulle gebied af – iets soos om ’n streep in die sand te trek.

Die volgende oomblik lyk hulle soos twee plastiekspringbokkies wat deur ’n peuter aanmekaar gesit is.

Hoe het dit gebeur?

Ek was onlangs in die Nasionale Bergkwaggapark buite Cradock en het by ’n aantal springbokkies gestop en hulle begin dophou. Hierdie twee rammetjies het my aandag getrek, want hulle het nie bloot gewei nie.

Ek het hulle begin afneem en was verbaas om te sien hoe hulle nie bloot kopstamp nie, maar stoei.

Dit gebeur alles soos ’n mens twee opponente aan ’n judokompetisie sien deelneem.

Eers is daar die tentatiewe groet – waar die horings mekaar ontmoet. Hulle stamp egter nie bloot kop nie, dit is ’n meer berekende nader tree, ’n deeglike kyk.

Dan word die nekke getoets.

’n Reguit linker word gegooi.

Bok 2 koes en probeer onder die ander een inkom.

Kyk hoe bok 2 sy hele lyf nou onder die ander een probeer inkry.

Nou gaan bok 1 ook laer ...

... en glip sy regterbeen oor die opponent se nek in. Kyk waar is bok 2 se regterbeen. Hy is nou van balans af.

Maar hy glip uit.

Dit gebeur natuurlik alles in breukdele van ’n sekonde. Ek het geskiet teen 1/1 600ste van ’n sekonde. Dit beteken my sluiter was vir slegs 1 600ste van ’n sekonde oop. En ek skiet ten minste 6 foto’s per sekonde. Die blote oog kan nie hierdie soort aksie vasvang nie.

Dan begin die geveg weer. Hulle kyk vir mekaar, horings baie na aan mekaar s’n.

Die horings sluit.

Die gewig en ewewig word bepaal.

Dan die skielike draai van die kop om die opponent van balans te gooi.

Onttrek.

Blitssnel glip bok 1 onder die ander een in.

Let op hoe bok 2 sy kop reguit na die opponent se linkerbeen mik.

Bok 1 gooi bok 2 van balans en kry sy horings onder 1 se linkerbeen.

Bok 2 buk laer om balans te kry en 1 verloor die voordeel.

Maar hy storm vorentoe en lig weer 2 se been, terwyl 1 se neus nog deeglik in die grond gedruk is.

Bok 1 glip nog verder vorentoe, maar 2 se horings is steeds om sy voorpoot, so bok 1 snoeker homself nou.

Bok 1 swaai sy kop en al vier sy bene is weer op die grond. Let daarop dat die horings nie gebruik word om die opponent mee te steek nie.

Bok 2 sien sy kans en glip onder 1 in.

Maar 1 draai weer sy kop en al vier pote is weer op die grond.

Bok 1 druk 2 se nek.

Maar moet koes vir die horing.

En onttrek.

Maar waag geen kans nie en sak dadelik af om ’n teenaanval af te weer.

 

Hulle het hierna tydelik opgehou, maar mekaar nog dopgehou. Ek het uiteindelik aanbeweeg.

Wanneer ek in ’n wildtuin is, hou ek gewoonlik meer as een kamera gereed. Die kamera met die lang telefotolens word altyd op ’n baie hoe sluiterspoed gestel. Ek vind 1/1600 is redelik goed, en nog stadig genoeg om die ISO redelik laag te hou. ’n Mens kan seker op 1/4000 skiet as daar baie lig is, en ek sal ook as dit moet.

Vroegoggend is die lig nog sleg en die grein van ’n ISO wat nog te hoog is, maak dat ek sou begin op 1/1000, dan 1/1250 en dan 1/1600. Op 1/1600 sak die ISO gewoonlik vinnig soos die son klim, en dan kan ek die meeste kiekies redelik skerp kry.

Die ander truuk om te onthou is om op SERVO te skiet. Dit is die stelling waarop die kamera outomatiese die fokus aanpas terwyl jou vinger op die knoppie is.

Ek gebruik ook nie ’n stelling waar die kamera besluit waar om te fokus nie – ek kies ’n fokusarea en probeer om dit op een van die bokke se gesig te plaas terwyl ek skiet.

Lees ook:

Baviane van die Krugerwildtuin: Op reis na die familie?

Daar’s ’n hiëna in my truspieël

Schoenbek: ’n Onderhoud met Joukje Akveld en Piet Grobler

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top