Naas die mens is die Kaapse bobbejaan (Papio ursinus) die grootste primaat in suidelike Afrika.
Bobbejane is hoogs intelligente diere, en hoewel die stuk se titel natuurlik tong-in-die-kies is, kan ek nie anders as om oneindig baie van onsself in hierdie pragdiere te sien nie.
Hulle is sosiale wesens wat vir mekaar omgee en hulle kan baie nuuskierig wees oor hulle omgewing.
Seks is ’n sosiale aktiwiteit onder bobbejane, net soos vir ons. Dit word nie bloot vir voortplanting gebruik nie. Tog, wanneer daar babas kom, word hulle opgepas en versorg. Nie iets waaroor ons altyd kan spog nie.
Die sorg wat aan die jongklomp gegee word, roer die hartsnare. ’n Mense sien dikwels ouer kinders wat steeds gemoeder word.
Pasgebore kleintjies klou onder die ma se pens vas. Ma’s met sulke klein babatjies is dikwels baie sku en is gewoonlik ook moeilik om af te neem.
Effens groter babas klim op die ma se rug en ry soos jokkies, hulle arms styf om ma se lyf geslaan.
Dan, soos hulle ouer word, begin hulle soos wafferse ruiters die wêreld vanaf mamma se rug beskou.
Bobbejaankleintjies is oulik. Baie oulik.
Soos met mensbabas is daar baie pienk aan hierdie lyfies.
By ouer mannetjies word die boudkussing grys.
Wyfies het afsonderlike boudkussings wat grys vertoon wanneer hulle nie gereed is vir voortplanting nie. Daardie kussings swel op en vertoon helderpienk, soms selfs rooierig, wanneer haar siklus reg is om weer ’n baba te maak.
Die mannetjies in ’n trop het ’n streng rangorde en slegs die dominante mannetjies sal met ’n bronstige wyfie paar. Die niedominante mannetjies paar met wyfies wat nie bronstig is nie. Aangesien die dominante mannetjies ten minste vermoed dat die kinders aan een van hulle behoort, tree hulle beskermend teenoor die groep op.
Die niedominante mannetjies is dikwels buite die kern van die groep, waar hulle stoei en dadelik die ander sal laat weet as daar gevaar nader kom.
Tropgroottes wissel. Soms is daar groepies van 15; by tye kan een trop meer as 100 tel.
Ek was onlangs gelukkig om oor twee dae ’n paar troppe te kon volg. Dit was in die Krugerwildtuin, naby Skukuza.
Skukuza is ’n baie groot kamp en daar is baie mense, maar as jy die agterpaadjies ry, kan jy dikwels vir ’n lang ruk geen ander motors sien nie, veral as jy vroeg opstaan en laatmiddag nog op die pad is.
In die Krugerwildtuin is die bobbejane gewoond aan motors, so hulle raak gou rustig wanneer jy baie stadig saam met hulle ry en by tye vir foto’s stop.
Hulle is boonop intelligent en kan motors uitken.
Ek het die eerste oggend noordwaarts gery en ’n trop taamlik na aan die kamp gekry. Die groot mannetjie het rustig nader gestap en ná ’n tydjie besluit die res van die groep kan volg.
Van die jonger mannetjies het naby die motor kom speel, maar die wyfies met die kleintjies het uit die pad gebly.
Uiteindelik het die hele trop weer die bosse in verdwyn.
Later die middag was ek saam met die gesin in die motor toe ons weer op ’n trop afkom. Dié keer was hulle rustiger.
Die jongklomp was maar nuuskierig, soos altyd.
Die volgende dag, toe ek noordooswaarts op ’n stil grondpad ry, was die geluk aan my kant. Ek het die trop van ver sien aankom en kon rustig aftrek, die motor afskakel en wag.
Hierdie keer het die groot mannetjie rustig vooruit gestap. Die kleintjies was aan die speel.
Ek het baie foto’s geneem, maar by tye sommer ook net die kamera neergesit en gekyk.
Die groter bobbejane het met die kleintjies gespeel, soms ook met mekaar gestoei.
Van die aksie was so vinnig dat dit moeilik was om vas te vang. Ek moes soms sterte tel om uit te werk hoeveel bobbejane ek op van my foto’s vasgevang het.
Uiteindelik het die groot mannetjie die trop weer die bos ingelei.
Veel later, met die son wat begin bed se kant toe staan, was hulle weer op ’n klein grondpaadjie, redelik na aan die kamp. Hulle was rustig. Die kleintjies het in die middel van die trop gespeel; die groot bobbejane was besig om na mekaar om te sien.
Dit is tog nodig om op dié punt te waarsku: Bobbejane is wilde diere en hulle moet asseblief nooit gevoer word nie.
Dit mag dalk oulik klink om vir hulle kos te gee sodat hulle nader aan die motor moet kom, maar dit is ten eerste onwettig en ten tweede bitter gevaarlik.
Bobbejaanmannetjies weeg gemiddeld 32 kg – dit is dieselfde as ’n stewige pitbull. Groot mannetjies kan egter tot 45 kg weeg. Daardie tande is boonop baie langer as ’n pitbull s’n. Wat meer is: ’n Bobbejaan baklei met vier hande en ’n mond.
Ek het al meer as een keer op staptogte bobbejaantroppe teengekom. As daar kinders by is, sou ek hulle agter my laat staan.
Die grootste mannetjie sal dikwels nader staan. Sy wyfies en kleintjies sal agter hom inbeweeg. Ek het nog nooit, nie een keer, moeilikheid gehad as so ’n oomblik plaasvind nie.
Maar, in die pragtige natuurreservaat aan die punt van die Kaapse Skiereiland, is dit op party plekke onmoontlik om piekniek te hou. Hoekom? Want mense het die bobbejane begin voer en ’n bobbejaan wat aggressief raak oor kos, kan uiters gevaarlik wees.
Ongelukkig moet sulke bobbejane doodgeskiet word.
In die woorde van David Kramer: “Hoekom is die mensdom so dom, dom, dom?”
By tye wonder ek selfs of ons Krugerfamilie hulle nie skaam vir Homo sapiens nie.
Gelukkig laat die Krugerbobbejane nog die mens toe om die motor af te skakel, stil te word en weer te probeer leer wat dit beteken om op hierdie mooi aarde te mag woon.
Teks en fotografie: Izak de Vries