Daar is ’n bekende Afrikaanse volksliedjie wat so lui:
As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad ...
In die veld pluk ek ’n wandelstaf van die naaste doringboompie af,
en sing my wandellied, en sing my wandellied.
Die “Wandellied” se woorde is deur Eitemal geskryf, maar die musiek is gegaps van die Duitse volksliedjie “Lippe Detmold, eine wunderschöne Stadt”.
Greyton is so ’n bietjie soos hierdie liedjie. Dit meng verskeie kulture; dit is ook naby genoeg aan die stad, maar ver genoeg van die gejaag.
Die internet is goed genoeg dat jy ’n videovergadering onder ’n boom kan bywoon, al is jou kollegas in die stad.
In die 1850’s, toe Greyton uitgelê is, was dié gehuggie nog baie ver van alles af. Nou is dié toeristedorpie met sy stofstrate en perde wat oral rondloop, slegs 130 km van Kaapstad af. Jy kan dus maklik klaarmaak by die werk in die “wunderschöne Stadt” en dan rustig op ’n Vrydagmiddag uitry om te gaan ontspan voor jy die volgende oggend op een van die vele wandelroetes gaan stap.
Jip, die perde loop steeds in die strate. Hulle kry voorkeur hier in Greyton.
Daar is talle ysterperde ook in Greyton, hoewel jy hulle gewoonlik rustig sien afkoel langs een van die talle restaurante. Die 130 km se tweewielry van Kaapstad af is ’n lekker uitstappie vir ’n koppie koffie.
Ander dagbesoekers daag flambojant in vier wiele op.
Greyton het eetplekke en koffiewinkels te kus en te keur.
Gelukkig bied Greyton baie opsies vir die kranige stapper wat van die heerlike eetgoed wil afstap. Daar is ook talle bergfietsroetes wat uitgelê is tussen die fynbos. Op die dorp se toerismeblad is daar heelwat inligting.
Jy kan van jou gastehuis af na die koffiewinkel stap, of hoog teen een van die koppies uitklouter om ’n deeglike blik op die dorp te kry.
Die blommeprag daar in die fynbos om Greyton is iets om te ervaar.
Fotograwe stap gewoonlik nie baie vinnig nie.
Selfs ’n verdorde tolbos in die natuurreservaat kan mooi wees.
Vroeg, wanneer die doudruppels nog op die spinnerakke sit, het die oggendstond diamante vir die mond, of dan vir die kameralens.
Aangesien Greyton aan die voet van die Riviersonderendberge lê, word die klam lug van die kus af hier na bo gedwing, wat dit laat afkoel en genoeg vog verskaf vir swamme om glorieryk in die skadukolle te baljaar.
Die verskeidenheid fungi wat ’n mens raakloop, is nogal indrukwekkend.
In die jare 1600 was hierdie gebied die leefwêreld van die Khoikhoi, en die geskiedskrywers vertel dat kaptein Stoffel Koekson die bewind gevoer het; ook dat hy ’n uitstekende veeteler was en baie ryk geword het deur die verkoop van sy vee aan die VOC. Vandag word hier steeds op groot skaal met melkkoeie geboer op die plase om die dorp, maar in die veld is daar min grootwild. Stappers mag dalk gelukkig genoeg wees om kleiner diere, soos die papegaaibekskilpad, raak te loop. Hulle is klein – omtrent so groot soos ’n mens se hand – en is deel van die padloperfamilie.
Van al die stap, fietsry, of motorfietsry word ’n mens honger.
Op ’n Saterdagoggend hou Greyton se inwoners mark op die meent oorkant die NG Kerk. Die gehalte van die produkte is puik. Die brood is vars gebak.
Die kaas is met die hand gemaak.
Ook die salami is uit die boonste rakke. Jy kan maar jou maag en mandjie kom vol maak hier.
Asof die soetgoed by die mark nie genoeg is nie, lê stel Von Geusau se sjokolades ’n volgende hinderlaag vir die onvoorbereide stapper.
Hierdie sjokolades word op klein skaal met die hand vervaardig.
Die stappery maak ’n mens dors, maar dan kom jy gelukkig af op die mikrobrouery wat in een van Greyton se historiese gedenkwaardighede geleë is.
Hier word elke botteltjie bier deur die brouer geteken, mits dit goed genoeg is om te verkoop.
Ná ’n besoek aan die brouery sou dit wys wees om nie te bestuur nie. Gelukkig het Greyton verskeie gastehuise en hotelle waar ’n mens kan tuisgaan. Ook op plase buite die dorp is daar uitstekende verblyf. Pryse wissel. Party verblyf is bekostigbaar; by ander plekke betaal jy ’n premie om gepamperlang te word.
Die dorp se toerismeblad verstrek meer inligting.
Aangesien dit so na aan Kaapstad is, en dus ook aan die lughawe, is Greyton ’n ideale troudorpie. (En vir die siniese lesers: ’n Vriendin het daar gaan asemskep ná ’n egskeiding.)
Die Twin Rivers-kampeerterrein buite die dorp is onlangs opgegradeer en bied ’n bekostigbare opsie wat ook hondvriendelik is. Die De Vriese en hulle woefs het al vele nagte hier deurgebring.
In Greyton kom ’n mens weg van die gedruis af.
Jy ry met die N2, draai berg se kant toe wanneer jy Caledon se windplaas bereik, en volg dan gewoon die pad tot dit doodloop in die dorp.
Hier kan ’n mens ontspan. Tog is hier mediese sorg, en sou jy iets vergeet het, is daar ’n kruidenierswarewinkel.
Hou jy van winkels, sou dit jou ook die moeite loon om te snuffel. Greyton het talle boetiekwinkels.
In Greyton, vernoem na sir George Grey, praat die oorspronklike inwoners meestal Afrikaans. Die inkommers is egter van oral. By geleentheid het ek al die mooiste Russiese musiek ontdek toe een van die restauranteienaars een middag nostalgies geraak en gaste op musiek uit sy vaderland getrakteer het.
Sir George Grey was ’n goewerneur van die Kaapprovinsie tydens die Britse bewind. Hy het ook 5 000 pond, ’n aardige bedrag in daardie jare, geskenk om Grey College in Bloemfontein op te rig, want daar was te min skole noord van die Oranjerivier.
Grey is uiteindelik teruggeroep Brittanje toe ná sy meesters hom daarvan verdink het dat hy té enig geraak het met die plaaslike mense en dalkies ’n verenigde Suid-Afrika in gedagte sou hê.
Ironies genoeg was eendrag ’n eeu ná die ontstaan van die dorp weer in gedrang: Talle van die bruin huiseienaars is weens die Groepsgebiedewet gedwing om tydens die apartheidsjare te trek.
Vandag is die dorp self veelrassig, maar die werkers woon, om ekonomiese redes, meestal nog op die rand van die dorp, of in Genadendal, ’n toenmalige sendingstasie wat 5 km padlangs, of ongeveer 2 km te voet, van Greyton is.
Die begraafplaas aan die rand van die dorp is oop vir almal. Hier sien ’n mens talle vars grafte, ook van die armer inwoners wat nie grafstene kan bekostig nie.
’n Hele aantal bergfietsroetes begin hier neffens dié grafte. ’n Mens kan nie anders om te dink dat van daardie fietse dikwels meer kos as wat die meeste van diegene wat hier begrawe is, ooit in ’n jaar sou verdien het nie.
Daarom is toerisme so belangrik vir dié dorp.
In ’n land soos Suid-Afrika waar een werkende persoon ’n enorme uitgebreide gesin onderhou, is toerisme baie mense se brood en botter. Letterlik.
’n Besoek aan Greyton is nie net goed vir jou eie siel nie, maar ook vir diegene wat hier werk.
Eitemal se “Wandellied” het ’n tweede en derde versie wat min mense ken.
Die tweede vers handel oor “die eensaam wandelaar na die lekker landstreek wie-weet-waar”. In Greyton het ek al talle mense, mans en vroue, op hulle eie sien stap, of draf, of fietsry in die veld. Hier voel ’n mens veilig. Hier voel ’n eensame wandelaar welkom.
Die derde strofe van Eitemal se lied klink so:
En die blou plafon wat oor die velde strek sal saans my sluimer dek.
En die sterreheer sal kom en gaan oor die maanverligte hemelbaan
en vriend'lik wink van ver, en vriend'lik wink van ver.
Ook dit herinner aan Greyton. Die lug is skoon, die sterre is helder.
Saans, om ’n vuurtjie, hoor ’n mens die natuur. Soos die “Wandellied” eg Afrikaans is, en tog ook so Duits, so is Greyton ’n mengsel. Hier loop perde voor duur motors in die pad. Hier skuur rykes en armes skouers. Hier praat inwoners talle tale. Hier is die besoekers van buite noodsaaklik om die plaaslike mense te laat eet. Hier behandel die plaaslike mense jou soos ’n koning, al is jy ’n eensame kaalvoetwandelaar.
As jy moeg word vir die lewe in die stad, bespreek ’n bietjie sielsrus in Greyton.