Wellington

  • 0

Hierdie artikel is geskryf voor die huidige drankverbod (ingevolge COVID-19-maatreëls). ‒ MvH, Voertaal (11/01/2021)

Daar is vele goeie dinge wat jy aan die Bolandse dorp, Wellington, kan toeskryf: dis die plek waar die gevierde skrywer, Breyten Breytenbach, as kind gewoon het. Dis die geboorteplek van Piet Retief en generaal J.B.M. Hertzog; dit spog met ’n hele klomp Kaap-Hollandse huisies en was een van Suid-Afrika se wamakersentrums, skryf Maryke Roberts.

Maar dis die pragtige Afrikaans om jou, die mooie natuurskoon en die mense, wat toeriste keer op keer hierheen laat terugkeer.

Dis die Tuin van Digters 2020, ’n jaarlikse kultuurfees by die Breytenbach Sentrum ─ ja, reggeraai, dis vernoem na Breyten Breytenbach ─ waar ’n vriend, Joubert Stander, een van die feeskunstenaars is, wat ons weer na die dorp laat terugkeer. Sy werke fokus op die werke van die feesdigter, Daniel Hugo. Die naweeklange fees is gevul met musiek, voorlesings, kunsuitstallings, gedigte en praatjies. Die pragtige digterstuin en geboue daar, is oortrek met gedigte en inspirasiewoorde, teen die mure, op teëls en vensterruite, in bome, op mosaïek by tuinbankies en langs die rustige fontein, wag allerhande kwinkslae jou in.

Dis die Tuin van Digters 2020, ’n jaarlikse kultuurfees by die Breytenbach Sentrum waar ’n vriend, Joubert Stander, een van die feeskunstenaars is, wat ons weer na die dorp laat terugkeer. Sy werke fokus op die werke van die feesdigter, Daniel Hugo.

Jy kan ure in die boekwinkel ronddrentel en ook meer te wete kom oor die sentrum se gemeenskapsprojekte.

Ons deel ons verblyf tussen twee pragtige wynlandgoedere: Val du Charron en Doolhoof se Grande Dédale, wat aan weerskante van die pragtige vallei lê. Charron is die Franse woord vir “wa” en dus heel gepas vir die pragplaas se ligging.

Saans voor aandete, drink ons vonkelwyn op die stoep by Grand Dédale.

Die uitsig van ons kamer by Val du Charron kan jou maklik laat glo dat jy in een of ander eksotiese oorsese bestemming is.

Die eerste stop op ons ontdekking is Jorgensens Distillery, waar Roger Jorgensen in 1994 pionierswerk vir die handgemaakte gin in die land begin het. Die stokery op Versailles-plaas, is in 2018 oorgekoop deur Nadia en Quinn Roos.

Die kraaie gaap van die hitte en Nadia kom laggend nader en groet: “Welkom in Hellington!”

Ons proe saam met haar hul Jorgensens-reeks gin, vodka en absint, en ook hul eie reeks, Wild Rose, op die stoep van die Kaap-Hollandse herehuis, wat uit 1812 dateer. Dis koeler daar en die uitsig op die berge ’n lafenis vir die siel.

Ek hou van die naam Wild Rose en vra waar dit vandaan kom. “Ons van is Roos en my seuns is wild en met my man (wat op sy eie nog drie seuntjies is!) net so wild, het ek gedink Wild Rose werk goed!” vertel sy met ’n knipoog.

Op die grasperk speel twee seuntjies met ’n bal. Hul bababoetie jil van plesier, terwyl ’n klein hondjie uitgelate blaf en ook die bal probeer gryp. Nadia kyk na dié prentjie en haar oë word sag. “Ons is ’n familiebesigheid en alles is baie informeel. Dis lekker as die kinders kan baljaar, terwyl hul ouers die gin-proe doen en skemerkelkies ná die tyd kan geniet.”

Wild Rose het fynbos-, hibuskus-, pepper- en blue pea-gins; ’n vodka en brandrissie-vodka; terwyl Jorgensens ook fynbos-, hibuskus- en pepper-gin, maar ook ’n rooibos-gin het en dan dieselfde geure vodka en ’n absint het. Albei spog met verskeie toekenningsplakkers op hul wange.

Ná ons gin-proe, ontspan ons op die stoepie by Jorgensens Distilleerdery, met ’n gin en tonic.

Vir jou R80-proe, kan jy aan die einde ’n drankie van jou keuse kies, wat Nadia met vars vrugte, baie ys en verskillende tonikums bedien. Ons gaan loer ná die proe na hul potketel, Ugly Betty, voor ons in die pad val na Bosman Familie Wingerde.

Die Bosman-familie is al vir agt generasies druiweboere en aan innovasie en volhoubaarheid is hier geen tekort nie. Nie alleen het die plaas verskeie bemagtigingsprojekte nie, maar daar speel ’n oulike video teen die klipmuur van die proelokaal met die plaas se hoogtepunte, glimlaggende werkers en mooi koorsang van die plaas se eie koor. Die proelokaal-assistent, Charlene Ferreira, is een van die plaas se suksesverhale, deur haarself op te werk van creche-werker tot die proelokaal.

Die eerste Bosman wat aan die Kaap geland het, was Hermanus Lambertus Bosman, wat 1707 voet aan wal gesit het. Hy was Drakenstein se sieketrooster en die familiewapen is vandag nog geloof, hoop en liefde, net soos hy destyds versprei het. Die plaas, Groenfontein, het verskeie eienaars gehad, voor dit in 1810 deur die Bosmans gekoop is.

Die plaas was nog altyd bekend vir sy wyne, maar in 1957 het hulle begin met wingerdstokkies aan die wynbedryf en is vandag een van die bekendste en grootste produseerders. Dit word onder Bosman Adama gedoen. Dis vernoem na een van die plaas se werkers, Adam Apolis, wie se bynaam Adama was. Hy het diep spore hier getrap en die Apolisse werk al vir vyf generasies hier.

Carla Bosman verwelkom ons met ’n yskoue glas MCC Loose Canon en nadat sy ons op die kelder se dak uitneem om te wys waar die wingerde oor die heuwels strek, gaan sit ons in die 280 jaar oue kelder en proelokaal. Dis hiér waar ons hoor dat die Afrikaanse uitdrukking “stokkies draai” wat beteken dat jy sonder toestemming wegbly, van dié plaas afkom. Kinders het skool gebank om eerder die wingerdstokkies te gaan vasdraai waar dit op die stamme geënt is. Wanneer die onderwyser sou vra waar hulle is, was die antwoord: “hulle draai stokkies”.

Ons hoor die landgoed het Suid-Afrika se derde oudste Chenin Blanc-wingerd, wat in 1952 geplant is en danksy die ingryping van die wynmaker, Corlea Fourie, nie uitgetrek is nie, maar vandag bekroonde wyne van dié 3255 stokke lewer. Ons teug aan die Optenhorst 2017 wat uit hierdie blok kom. Carla gaan in die vinoteek in en bring ook ’n bottel van die 2012-oesjaar wat ’n trotse vertoonstuk van hoe goed die wyn verouder is. “Ons is deel van die Old Vine Project, wat wingerde ouer as 35 jaar bewaar. Optenhorst beteken ‘rusplek op ’n heuwel’ en dis presies die vrede wat jy ervaar as jy daar tussen die ou bosstokke staan,” gesels sy.

Corlea word bygestaan deur die dinamiese jong Natasha Williams, wat een van die Diners Club finaliste vir die Jong wynmaker van die Jaar-toekenning was met haar Bosman Family Vineyards Twyfeling Cinsaut 2018. Carla laat ons hierdie wyn proe, waarvan die wingerde in die oorgangsfase tot heeltemal organies is.

Buite is ’n fotograaf besig om foto’s van ’n jong paartjie te neem en hul ouers staan en toekyk met ’n glas vonkelwyn in die hand. Daar is blykbaar gereeld fotograwe wat trou-, matrieksafskeid- en verlowingsfoto’s om die historiese geboue kom neem.

Die laaste wyn wat ons proe, is die Nero, Suid-Afrika se eerste en enigste wyn wat van die Siciliaanse rooidruif, Nero d’ Avola, gemaak word. Petrus Bosman, Carla se man, het die stokkies in Sicilië gaan haal, maar net twee het die vlug oorleef en hiervan is steggies gemaak. ’n Tien jaar lange reis kom nou tot uiting in hierdie prag-wyn. Dis soos die Optenhorst nie vir proe beskikbaar nie en ons is baie bevoorreg toe Carla vir ons die oop bottels saamgee om saam met ons pizza by ons gastehuis se restaurant, Pizza Vista, te gaan geniet.

Hoe lekker gly die spesiale wyne van Bosman Family Vineyards in jou keel af, as jy die storie agter die wyne hoor.

Petrus, Carla en hul drie kinders gaan elke jaar terug Sicilië toe om daar met die pars te gaan help.

Op pad deur die vallei, ry jy verby plaasname soos Naby en Vergesig; Dankbaar; en Onverwacht. Daar word wyne gemaak met name soos Erfenis en Twyfeling. Soos die son teen die berge begin ondergaan, kry hierdie name nuwe betekenis.

Ons gooi ons sakke neer by Val du Charron in die Bovlei. Ons kamer is meer soos ’n klein woonstelletjie met sy eie stoepie, braai en privaat swembadjie, wat deur twee palmbome omraam word. Ons koel gou af in die swembad en toe die laaste goue strale die pieke omlyn, smul ons aan pizza by Pizza Vista. Onder by die waterspeelparkie voor die restaurant, baljaar kinders uitgelate en daar is ’n heerlike naweek-gevoel in die lug.

Die pragtige olifant-standbeeld op die reuse-grasperk, blink vir oulaas in die son.

Die uitsig van ons kamer by Val du Charron kan jou maklik laat glo dat jy in een of ander eksotiese oorsese bestemming is.

Dis lekker donker toe ons met die plavei-paadjie tussen die wit rosies deur terugstap na ons kamer waar ons tee drink op die stoep en sterre kyk.

Ná ontbyt die volgende oggend in die landgoed se The Grillroom, wat die res van die dag ’n lekkerbek steakrestaurant is, gaan kuier ons by Bontebok Ridge Reservaat saam met Tom Turner.

Met die inklimslag in sy ou Landrover, vertel hy dat hy sy dummy as baba uit hierdie einste Landy gegooi het.

Soos ons ry, vertel hy dat hulle hier met al “die probleme boer ─ soos wildevark”. Hy het lank aan die voorste restaurante in Kaapstad, waaronder The Test Kitchen, wyn verskaf, maar kon nie voorbly nie. Die reservaat het ook ’n oulike stoor neffens die woonhuis, wat uitkyk op ’n dam en hier word daar gereeld bruilofte gehou en baie films gemaak. Met die ongereptheid van die reservaat en omringende berge, kan jy verstaan hoekom filmmakers gaande daaroor is.

Tom se oupa het die grond in 1966 gekoop en daar was altyd wingerd. Daar is steeds dertien hektaar wingerd, maar hulle verskaf nou ook grasperk-sooie. Die druiwe vir Suid-Afrika se eerste Wit Pinotage, kom juis van hier en word deur Welling ton Wines gemaak. Met die namiddag-wildrit, kry gaste elkeen ’n glasie van dié uitsonderlike wyn.

Tom is ’n wild-hervestigingspesialis en het al reg oor Afrika in groot parke en reservate gewerk. Hy wou weer van die wild wat oorspronklik hier voorgekom het, vestig. Sy vrou, Katja, het hy juis op een van sy Afrika-kontrakte ontmoet en hulle het in 2007 hier op die 500 hektaar grootte plaas kom vestig. Hulle het twee pragtige seuns, Jack en Harry, wat op ’n jong ouderdom ook veld-slim is.

“Ons het ’n ‘leef en laat leef’-filosofie op die plaas. Ek leer my kinders ook dis lekker om lekker te wees,” gesels hy, terwyl ons ’n wyle stop om na die elande in die renosterveld te kyk. Daar is ook blouwildebeeste, gemsbokke, bontebokke, klein vaalribbokke en vele meer in die reservaat.

Die grootste deel renosterveld is hier teen die hange van die Limietberg in die Renosterveld Bewarea, waar onder meer erikas en besemgoed, baldadig groei.

Die plaas spog met ’n reuse-strook renosterveld en ons stop weer; dié keer om na sebraspore in die nat sand te kyk en na die roep van ’n bokmakierie te luister. Hy wys na die blou lug. Daar draai ’n paar groot voëls in die lug en hy vertel dis die bruinjakkalsvoël, “al die pad van die Russiese Steppes”. Tom sê wanneer die koring geoes word, is hulle daar om die muise te vang.

Tom wys ons geneesbos, luisiebos en ander fynbos-plante, voor dit tyd is vir koffie en bonkige beskuit by hul oulike oornag-fasiliteite teen die dam.

Terwyl ons uitkyk oor die veld, som hy dit mooi op: “As jy die veld bekyk en weet wat daar aangaan, hoef jy nie eers baie wild te sien nie. Die veld is só ryk. Ons het ’n verpligting om die norm te breek dat daar ‘niks te sien is’ as daar nie grootwild is nie,” gesels hy, terwyl hy die oulike permanente tenthuisies wys. Daar is ablusiegeriewe en ’n gemeenskaplike eet- en kuierplek.

Die Bontebok Ridge Reservaat is ook deel van die Kaapse Camino en Tom vertel dat hy baie interessante mense ontmoet op dié staproete en ook wat kom vir die wildritte. Hy het hier ook al aardvark en aardwolf op kamerastrikke gesien.

Op ’n klein eilandjie in die dam voor die huisies, staan twee bloukraanvoëls. Dié gewoonlik-rustige voëls is egter ongedurig en roep na mekaar. Tom sê hulle broei elke jaar op die eilandjie, maar iets het vanjaar hul kuikens opgevreet en hulle roep die heeltyd onrustig na mekaar.

Ons harte is vol vreugde en ons longe vol van die vars lug van die ooptes, toe ons vertrek vir middagete by Dunstone Landgoed. Op pad ry ons by Bosman se Twyfeling- en Optenhorst-wingerd verby en dit verbaas my altyd dat mens vergeet dit begin alles hier.

Ons ry enkele minute later deur Shiraz-wingerd op pad na die restaurant en proelokaal.

Givemore Pokoto behartig ons wynproe, terwyl kinders op die stoep en grasperk baljaar. Hy is al vier jaar lank ’n wyn-ambassadeur op die plaas en het verlede jaar by Quest for the Best ’n sertifikaat ontvang vir uitstekende diens vir ’n proelokaal-verteenwoordiger. Quest for the Best is ’n jaarlikse kompetisie wat streef om voortreflike diens en wyn te bevorder. 

“Dunstone is ’n boetiekwynkelder met 10,5 hekaar onder wingerd; agt variëteite in die wingerd en nege wyne, maar Shiraz is waarvoor ons bekend is. Dis ook ons grootste aanplantings,” vertel hy. Jy proe ses wyne: die Sauvignon Blanc, Shiraz Rosé, Chenin Blanc, Dunstone Merlot, Stones in the Sun (Syrah) en Dunstone Shiraz. Die verskil in laasgenoemde is die manier waarop hulle gemaak word; hul verouderingstyl en tyd in die Franse eikehoutvate, verduidelik Givemore.

Hy sê die nuwe Reserve Shiraz en Reserve Grenache is uitsonderlik en ons moet beslis daarvan ook proe.

Met ons glase vol Shiraz, smul ons aan die wildevark-burger en ribbetjies, en ek is so opgewonde om vir Givemore te vertel dat ons net vanoggend die wildevarke op Bontebok Ridge gesien het.

Die rustige musiekspeellys met, onder meer, Daniela Andrade, help om die loomte verder in ons lywe in te vryf en ek wil nie regtig die plaas groet nie.

Ons vleg tussen die plase op klein paadjies deur, terug gastehuis toe. Daar is iets romanties en opwindend aan Vrydagwasgoed. Dis die fyngoedjies en kleurvolles wat dan wapper. Dis asof alles regmaak vir die naweek, vir laat slaap, kuier, jou vryheid ’n bietjie leisels gee.

By een plaashuis blêr Jerusalema oor ’n boksagtige luidspreker en ’n paar plaaskinders doen die dansie wat al vir my sinoniem met 2020 en die pandemie geword het.

Ons ry ook by die “Welkom in Wellington”-bordjie verby en net daarna die Old Tannery, waar dit Vrydagmiddag-happy hour is. Hier is oulike winkeltjies, ’n koffiekroegie, brouery en ander snuffelplekkies.

Ons het een lekker aktiwiteit voor middagete ─ dis nou asof vanoggend se spek en eier by Val du Charron nie genoeg was vir ’n hele familie nie ─ die Andrew Murray-sentrum vir Spiritualiteit. Ons ontmoet Elna Mouton, kapelmeester. Prof. Mouton het aan die einde van 2017 emeriteer as dosent in die Nuwe Testament aan die Fakulteit Teologie van Stellenbosch. Sy was die eerste voltydse vroulike dosent daar en ook die eerste (en steeds die enigste) vroulike dekaan aan die fakulteit.

Sy wys dat al die geboue ─ die historiese Samuel-koshuis wat in 1883 ingewy is tot die nuwe kapel ─ met ’n kruismotief in die sement verbind is. Die gerestoureerde koshuis is nou ’n herberg vir retreat-gaste.

Die historiese Samuel-koshuis

Onder die bome in die tuin is oulike bankies waar jy kan stilword en net na die voëls luister.

Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit se nuwe kapel met die oulike bankies buite waar jy kan sit.

Elna sê haar hoop is dat besoekers in die gemaal van die lewe, die stilte in die groen omgewing sal geniet en tot rus kom. “Ons wil daardie koelteboom vir die moeë siel wees.”

Die pragtige ou huis, Clairvaux ─ waar die teoloog en skrywer, Andrew Murray van 1892 tot 1917 gewoon het ─ kyk uit oor ’n lieflike tuin en dis hier waar hy ure sit en skryf en lees het. Vandag is dit ’n navorsingsentrum en studente van reg oor die wêreld kom hierheen om navorsing te doen oor spiritualiteit en op ’n geestelike retreat te gaan.

Die pragtige kapel met sy reuse-ruit, wat soos ’n klein ark bo die tuin onder uittroon, was voorheen ’n perdestal en Murray het jare lank sy gemeentes per perd besoek. Ou solderplanke is vir die lang Nagmaaltafel gebruik. “Dis aanstaande jaar 200 jaar gelede wat die Murrays in Suid-Afrika geland het. Hy was ’n ongelooflike leier en spreker,” vertel sy.

Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit se nuwe kapel. Foto: Neil Buchner

Baie Nederlanders kom hier, vertel sy, om te kom ervaar waar die ontwikkeling van Missionale Spiritualiteit en die voortsetting van die Nederduits-Gereformeerde Kerk se werk soveel groei ervaar het.

Baie vroue wat hier by die Hugenote Seminarie opgelei is, was alles in hul gemeenskap en dit was presies sy visie. Hul koppe, harte en hande is opgelei. Die Sending Instituut is in 1877 gestig, met die spesifieke doel om in Afrika diens te doen. Andrew Murray het in Utrecht studeer, voor hy na Suid-Afrika gekom het.

Hier is tot 1962, toe die opleiding Stellenbosch toe geskuif het, 556 studente vir Afrika-kontekste opgelei. Verlede jaar het ’n afvaardiging van Afrika-leiers die sentrum kom besoek om te kyk waar hul voorgangers se wortels lê en toe ’n klomp geelhoutbome langs die Donkiebos geplant. Die bos is so genoem omdat sendingstudente destyds “donkies” genoem is.

Ná die lekker stilte, is ons honger. Ons middagete is by Diemersfontein se nuwe PROE-deli. Dit bied jou die geleentheid om jou eie mandjie vol kaas, koue vleis, ingelegde lekkernye, vars brood en olywe te pak. Dit word dan in die kombuis verwerk tot jou eie pasmaat-proebord, wat binne die deli of buite op die grasperk geniet kan word.

Voeg daarby ’n wynproe of sommer ’n paar bottels wyn en jou middag in Wellington is erg feestelik. Jy kan selfs jou vierbeen-vriend saambring en onder die bome in die koelte ontspan. Daar is oulike piekniekkomberse in die deli, as jy sommer ’n vinnige uiltjie-knip langs die dam by jou lang kuier wil insluit.

Dié PROE-idee is Johann Olivier, deli-bestuurder, s’n. Jy kan al die landgoed se wyne ook per glas geniet, wat lekker werk as daar verskillende voorkeure in jou groepie is.

Vir die kinders is daar ’n toffie-en-koeldrank-proe en vir die grootmense is die brandewynproe net die regte manier om die middag af te sluit, veral as daar ’n stukkie handgemaakte Rose’s Handmade Confectionary-nougat in jou kies is.

Gaste snuffel tussen die oulike malbec- en pruimkonfyt; Pinotage-; Shiraz- of jalapeno-blatjang, en in elke mandjie gaan ’n pakkie brosbrood. Daar is ’n tafel met botteltjies waar jy alles kan proe. Daar is varsgebakte ciabatta en Johann se oë blink as hy sê: “Ek wil die warm brood sommer ’n drukkie gee met gesoute botter,” en my mond water sommer, veral toe ek Diemersfontein se eie olyfolie langsaan sien staan.

Johann vertel dat die lemoenmarmelade wat Hannelize Louw, die plaas se bemarkingsbestuurder, kook, ideaal is om deur jou gin en tonic te roer, vir ’n pikante andersheid. Ek pak ’n potjie in my huis-toe-drasak!

Hannelize het tydens inperking haar hand aan allerhande ingelegde lekkernye begin waag en dis super-gewild.

Maar ons moet eers ons keuses maak, wat ek saam met ’n glas Pinotage Reserve 2018 ─ iets waarvoor die plaas bekend is ─ en my geliefde ’n glas Rosé 2020, bestel. Ons oorhandig ons drasak aan Johann, wat in die kombuis verdwyn.

Danksy ’n masjien en glasbottels, kan jy water met of sonder borrels geniet wat van die plaas af kom. Die koel proelokaal, heerlike kos en kuier, voel soos ware naweek. Ons vleis-en-kaasborde kreun onder die kos en ek is dankbaar dat Johann en Hannah saam eet, anders sou ons nooit alles kon baasraak nie. Tussen die gesels deur, sny ons nog brood, knibbel aan neute en druiwe en gou word een glas wyn, sommer twee.

Ons weerhou ons van nagereg, want daar wag wortelkoek en koffie by Welvanpas Family Vineyards. Ons is só versadig, dat die kort stappie voor die soetgoed, heel gepas is. Jy koop jou permit by Retha Retief in die horingoue geboutjie waarin die koffiewinkel gehuisves word en waar jy ook ’n verskeidenheid van haar tuisgebak en vrugtestrope kan proe en koop.

Van die tuisgemaakte produkte wat by Welvanpas Family Vineyards gekoop kan word.

Retha se man, Dan, is die tiende geslag Retiefs op die plaas en die Voortrekker-leier, Piet Retief, is een van sy voorvaders. Die plaas lê aan die voet van die Bainskloofpas, en die Hawekwa- en Groenberge. Die plaas dateer uit 1704 en is ’n heerlike bergfiets- en stapmekka. Daar is tans twee bergfietsroetes ─ die 15 kilometer lange Blou-roete en die 29 kilometer lange Wit-roete.

Die staproete is 7,5 kilometer lank en duur sowat 2,5 uur. Jy stap al langs die Krommerivier, tot by ’n pragtige waterval. In die koel poel lawe ons ons warm lywe, voor ons verder stap. Daar is pragtige veldblomme en fynbos onderweg, en bo by die uitkykpunt teen die Groenberg is daar ’n mooi uitsig oor Wellington.

Welvanpas Family Vineyards lê aan die voet van die Bainskloofpas, en die Hawekwa- en Groenberge.

Die pad kronkel ook verby ’n lemoenboord en jy ruik die bloeisels lank voor jy die bome sien. Welvanpas is ’n werkende plaas met wingerde, fynbos en sitrus.

Die wortelkoek en koffie is voorslag. Retha sê met ’n groot glimlag: “Ek bak net een koek, dus moet hy lekker wees!” Maar die toebroodjies wat sy uitneem na ander gaste, lyk net so lekker. Dis van haar tuisgebakte plaasbrood gemaak.

Ons koop van haar nuwe lemoen-en-roosmarynsout en ook Shiraz-en-boegoesout.

Terug by ons gastehuis, dwing die hitte ons weer swembad toe en ’n uiltjie knip op die gemaklike stoele in die koelte. Die ligte windjie wat net die blare roer, sus ons aan die slaap en skaars ’n uur later, voel dit of ons ure gerus het. Die Dunstone Reserve Shiraz wat ons gekoop het, is heerlik toe ons laatmiddag elk met ’n glas op ons stoepie sit en aan kougoed van Diemersfontein se PROE-deli peusel.  

Ons kruip vroeg met ons boeke in die bed en slaap vas.

Vroegoggend is ons terug op die stoepie met koffie, voor ons laaste ontbyt by die gastehuis. Ons skuif net voor middagete aan na Linton Park Wines op die plaas, De Slange Rivier.

Dié plaas het vier wynreekse en ’n lywige aanbieding: Louis Fourie Reserve, Linton Park Cap Classique, Linton Park Estate en The Rhino Range. As jy al die wyne kon proe, sou jy 26 in totaal in jou glas kon geniet! Die Louis Fourie Reserve-reeks bring hulde aan die plaas se eerste eienaar, die Franse Hugenoot, Louis Fourie. Hy was destyds een van die vallei se wynpioniers. The Rhino Range het al meer as R300 000 vir renosterbewaring ingesamel.

De Slange Rivier aan die voet van Groenberg, het ’n pragtige herehuis en elke besoeker gaan eers ’n selfie neem op die grasperk, met die pragtige Kaap-Hollandse gewel uit 1809 en slaweklok as agtergrond.

Die plaas behoort sedert 1995 aan die Britse maatskappy, Camellia Plc en die herehuis is pragtig gerestoureer en spog met antieke meubels, maar dis nie oop vir die publiek nie.

Pieter Nel neem ons wynproe waar en vertel dat die plaas ’n baie interessante grondprofiel het en klein hoeveelhede van sekere reekse produseer en daarom in staat is om plek-spesifieke wyne te maak.

Ons sit buite onder die oulike druiweprieel en geniet ons wynproe. Ons kies ses wyne uit die verskillende reekse en kan verstaan hoekom die plaas so gewild is onder wynliefhebbers: daar is ’n wyn vir elke smaak en prysklas, en aan toekennings en goue plakkers is daar geen tekort nie. Sommige wyne is donker en misterieus, ander is lig, maklik om te geniet en laat jou gou van die somerhitte vergeet.

Ons kuier lekker onder die prieel met ons Linton Park wyne.

Pieter sê 2020 was ’n goeie wynjaar vir Wellington en dat ons beslis wyne van dié oesjaar kan dophou.

Ons smul later aan Pieter Mostert van Red Pepper Mill se hoenderpastei en ’n vars slaaitjie. Ek geniet die Linton Park Limited Release De Slangrivier 2017, ’n versnit van Cabernet Sauvignon, Cabernet Franch en Merlot; terwyl my maat die Linton Park Estate Chardonnay 2018 verkies.

Bo die proelokaal bou twee swaeltjies ywerig nes. Kort-kort is een daar met ’n bekkie vol modder.

Skuins ná 15:00 gly die reuse-gietysterhekke by Grand Dédale vir ons oop. Dié luukse gastehuis op Doolhof Wynlandgoed, lê as’t ware in die hoekie van die vallei en dit voel asof die wêreld hier doodloop. Grand Dédale beteken dan ook “groot labirint”. Die wingerd, woud en fynbos is 380 hektaar groot en die plaas word op drie plekke deur berge begrens. ’n Totaal van 40 hektaar is onder wingerd en die plaas het vier wynreekse: Limietberg Eksklusiewe Wyne; The Legends of the Labyrinth; The Signatures of Doolhof en The Cape Series.

Die pragtige Grand Dédale-vyfstergastehuis op Doolhof Wynlandgoed.

Twee wit variëteite, Sauvignon Blanc en Chardonnay; en sewe rooi variëteite, Cabernet Sauvignon, Cabernet Franc, Petit Verdot, Malbec, Merlot, Pinotage en Shiraz, is op die plaas geplant en elkeen in sy beste grond en -helling.

Nadat ons motor namens ons parkeer is, skrop ons nes in die Hawequa-dakkamer. Die lugversorging laat staan die haartjies op my arm regop en die reuse-bed lok my. Gelukkig mompel my man iets van koue bier en swem en ek is agterna. Ons lê heelmiddag by die swembad. Sekere drankies is komplimentêr en die yskoue Doolhof Cape Crane Chenin Blanc 2020, laat my boek ook sommer lekkerder lees. Bo ons koppe baklei ’n valk en spreeus. Die valk hang onderstebo aan die spreeunes en verorber seker kleintjies of eiers, te oordeel aan die spreeus se lawaai.

In die grasgroen kampe onder die gastehuis, wei beeste en kort-kort stap besoekers van die proelokaal af langs die rivier, vertoef by die beeste om ’n deel van die rustigheid te ervaar en stap dan die labirint, wat neffens die populierbos uitgelê is.

Labirinte het net een ingang, een pad na die middelpunt en jy stap dieselfde paadjie terug na die uitgang. Dit vorm deel van ’n meditasietog en as jy rustig raak, jou oë af en toe toemaak en net op jou ore staatmaak, hoor jy die populierbos waar die blare in die windjie ritsel.

Deur die dag kan gaste kies en keur uit die Wes-Kaap se beste wynplase, restaurante, gholfklubs en inkopieplekke. Maar teen skemer kom almal terug gastehuis toe, net soos die voëls wat terugkeer na hul neste.

Vroegaand stap ons uit om na die pienk sonsondergang oor die vallei te kyk. Daar word Pierre Jourdan Belle Rosé MCC geskink en gaste kuier op die rottangbanke voor ons tafels toe skuif.

Die paartjie neffens ons het laatmiddag gaan wynproe in die proelokaal ’n katspoegie van die stoep af en bestel al hul gunstelinge per glas saam met die keurige driegangmaaltyd.

Angelo Casu, die gastehuisbestuurder, kom maak seker almal is gelukkig en gee sommer raad oor ’n lekker wynkeuse. Ek kies die Signatures of Doolhof-enkelwingerd Merlot 2017, wat as wenner by die Novare SA Terroir-toekennings in 2019 uitgeblink het. Dit pas heerlik by my wildevark-ravioli. Ja, reggeraai, weer wildevark van Tom se Bontebok Ridge! Die Merlot is ewe lekker met ’n ryk seekosdis met koningklip, kreefstert, groen aspersies en gemarineerde artisjokke. My man is in sy noppies met sy Pinotage 2018 uit dieselfde reeks.

Bloubessie-en-tonkaboonkaaskoek met heuningkoek smeek toe vir ’n Upland Leonardo 15 jaar oue brandewyn. Upland is een van Wellington se bekendste organiese wyn- en brandewynprodusente. Ons gaan sit in die gastehuis se oulike bibliotekie op groot leunstoele en blaai deur van die mooi koffietafelboeke.

Ons gaan kruip in en kyk by ons dakvenstertjie na die sterre, terwyl die koel luggie oor ons sagte duvet waai. Daardie selfde oop dakvenstertjie bring die volgende oggend potblou lug en die reuk van varsgemaalde koffie. Ontbyt op die stoep is ’n groot affêre en ons eet langsaam om die oomblikke te laat rek.

Toe ons 11:00 in die pad val huis toe, voel dit asof ons baie langer as 20 uur gekuier het. Die keurige gastehuis voorsien waarlik in elke behoefte – selfs dié wat jy nie eers geweet het jy het nie!

Toe die hek agter ons sluit en ons die kronkelende pad verby die plase ry, sit my man die liedjie, Wellington, van Valiant Swart aan.

Ons sing saam: “Wellington, ek dra jou saam, altyd saam, Wellington.

“Ek sien die berge deur die venster blou, ek kan die somers onder die akkerbome onthou ...”

 Kitsfeite
  • Bespreek jou gin-proe by Nadia van Wild Rose op 021 864 1777, 071 319 2959 of www.jorgensens.co.za.
  • Bespreek jou verblyf by Val du Charron Wine and Leisure Estate op 021 873 1256 of www.vdcwines.co.za.
  • Bontebok Ridge Reservaat is op Facebook en ook by www.turnercorp.co.za en is ’n heerlike naweek-wegbreek of lekker vir ’n wildrit.
  • Gaan stap of ry fiets by Welvanpas Family Vineyards, maar moenie ry voor jy nie wortelkoek en koffie geniet het nie. Besoek www.welvanpas.co.za.

 

♦ Woorde: Maryke Roberts
♦ Foto’s: Clifford Roberts

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top