........
Nou, 12 jaar later, is die dorp vir my op haar mooiste. Met leivore, grondpaadjies hier en daar, maar met ouwêreldse sjarme en ’n dorpshotel wat vanjaar 150 jaar oud is, is dit regtig die vervlegting van oud en nuut.
........
Daar is soveel verskillende redes hoekom jy Prins Albert in die Klein Karoo wil besoek: Dis wyd bekend as die streek se juweel, tuiste van die Journey to Jazz-fees (J2J) en vier vanjaar sy 262ste verjaardag. Om nie te vergeet nie dis nou wêreldbekend danksy die gewilde televisiereeks Recipes for love and murder, skryf Maryke Roberts.
Boonop is dit smulpaap-hemel – met of sonder moord, elkeen se persoonlike keuse!
Ons ry altyd die N2 tot by Swellendam, draai dan weg, oor Barrydale waar ons eers vertoef by Diesel & Crème vir een van hul dik melkskommels en ’n “ontbyt”-burger (klein kaasburger), voor ons verder deur Calitzdorp, dan Oudtshoorn en oor die wêreldbekende Swartbergpas ry. As jy dan Prins Albert inry, is dit net mooi betyds vir ’n laat middagete by The Lazy Lizard op jou linkerkant.
Ons het destyds by ’n local op die dorp gehoor dat jy nie regtig kan spog dat jy in die Karoo gekuier het as jy nie dié pas gery het nie. So dan ook gemaak sedertdien en elke keer met hernieude opgewondenheid oor die mooiheid van die natuurskoon daar. Dis die kortste roete tussen Prins Albert en Oudtshoorn en word ook getel as een van die wêreld se mooiste grondpad-passe.
Die historiese Swartbergpas is slegs 27 km en lê sowat 5 km buite die dorp op die R328. Dis heelpad grondpad; dis baie steil en daar is bedrieglik baie draaie – vra my geliefde wat dit op sy bergfiets aangedurf het!
Hier en daar word die pad deur handgepakte droëklip-stutmure ondersteun. Ek het iewers gelees dit is Thomas Charles Bain se handelsmerk. Hy was ’n padingenieur en het wêreldwyd bekendheid verwerf met sy bergpasse. Die Swartbergpas is ontwerp as deel van ’n regeringsprojek om betroubare roetes tussen die binneland en kus te bewerk en die pas is tussen 1881–1886 gebou.
Bouwerk is in 1881 onder leiding van Jan Tassies begin, maar hy speel binne 13 maande bankrot en slegs 6 km van die pas is in dié tyd voltooi. Thomas neem die projek oor en voltooi dit met die hulp van gevangenes binne ’n rekordtyd. Die pas is op 10 Januarie 1888 ingewy en word ’n eeu later tot provinsiale erfenisgebied verklaar.
By die hoogste punt op 1 585 m bo seespieël is daar altyd ander toeriste van regoor die wêreld wat in vervoering oor ons land is en dis met ’n warm hart wat jy dan anderkant afry, dorp in.
.........
By Eerstewater stop ons om in die koel bergwater wat oor die stukkie sementpad spoel, ons warm voete af te koel.
.........
By Eerstewater stop ons om in die koel bergwater wat oor die stukkie sementpad spoel, ons warm voete af te koel.
By ons tafel met varsgebakte appeltert en koffie besluit ons oor die program vir die res van die dag: Eers ons tasse neersit by ons verblyf, voor ons deur die dorp wil gaan stap om te sien wat alles nuut en interessant is. Die kuier hier met Karoolug in jou longe, Karoosterre in jou oë en die vlaktes se sagte vingers wat jou gees weer tot sy gesonde self streel, is net wat ons nodig het.
Straat af, verby die dorp se indrukwekkende NG Kerk. Vroegoggend en skemeraand verwelkom of groet gekleurde wolkstrepe oor die toring, die eerste of laaste sonstrale.
Terwyl ons daar tussen die locals sit en kuier, voel jy hoe die stadstres met elke happie wegsyfer.
Vir ons eerste aand se braai, draf ons by Karoo Slaghuis in. Dis ’n interessante skakering rooipienk geverf en ons hoor dis omdat dit in ’n fliek gebruik is. Daar kan jy gereeld ook wildsvleis koop en hul koedoesalami is heerlik. Maar dis hul boerewors en lamstjoppies wat ons altyd laat terugkeer.
Die pragtige NG Kerk se pastorie is een van die oudste (en mooiste) huise op die dorp en jy sal dit herken van die film Liewe Kersfeesvader, hoewel dit toe ’n ander kleur was.
Die Fransie Pienaar Museum is ’n wonderlike kykie in die streeksgeskiedenis. Buite swaai die bordjie “Beste Museum in die Wes-Kaap” voor die deur. Dis in 2016/2017 deur die Wes-Kaapse regering aan die museum toegeken.
Tree jy binne die koel gebou, kan jy baie interessante fossieluitstallings ervaar; lees en sien hoe die Swartbergpas gebou is. En min plekke kan spog dat hulle ’n boekie met prins Albert, koningin Victoria se man na wie die dorp in 1846 vernoem is, se toesprake op uitstalling het.
Die dorp se geskiedenis strek natuurlik baie verder terug as 1846. Prins Albert het sy oorsprong in ’n leningsplaas wat terugdateer na 1762. Met die naam Kweekvallei, is die plaas vir ’n jaar deur Zacharias de Beer verhuur. In 1842 het die Sinode van die NG Kerk die aankoop van ’n deel van die plaas vir die bou van ’n kerk goedgekeur. En in 1845 is die klein dorpie tot Prins Albert geproklameer, ter ere van koningin Victoria se gade, en sy naam amptelik ’n jaar later in gebruik geneem.
Dis in 2012 aangewys as die Wes-Kaapse wenner in die gesogte kykNET Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie.
Die munisipale distrik sluit omliggende plase in saam met die dorpe Klaarstroom, Prins Albertweg en Leeu-Gamka. Vandag se boere het die nomadiese bestaan van die verlede verruil ten gunste van omheining van hul vee en gewasverbouing. En sodoende voer hulle ’n voortdurende oorlog teen roofdiere, droogte en ’n versengende hitte, mymer ons vriend toe ons daardie aand om die braaivleisvuurtjie met ons lamstjoppies wat singend op die rooster lê, kuier.
........
Nou, 12 jaar later, is die dorp vir my op haar mooiste. Met leivore, grondpaadjies hier en daar, maar met ouwêreldse sjarme en ’n dorpshotel wat vanjaar 150 jaar oud is, is dit regtig die vervlegting van oud en nuut.
........
Nou, 12 jaar later, is die dorp vir my op haar mooiste. Met leivore, grondpaadjies hier en daar, maar met ouwêreldse sjarme en ’n dorpshotel wat vanjaar 150 jaar oud is, is dit regtig die vervlegting van oud en nuut.
Die hotel is een van die plekke waar ons wil gaan kuier. Hul intieme Victoria Room – ja, jy het reggeraai, dis na die koningin haarself vernoem – het onlangs onder die keurige hande van die glanssjef Bertus Basson en dekorkenner Misi Overturf op die televisieprogram In die sop ’n nuwe jas gekry. Lees meer oor my gesels oor die reeks hier.
Die hotel se deure is vir die afgelope een en ’n halfeeu oop as verblyf en moes net vir ’n kort tydjie tydens die grendeltyd sluit. Dis in 1864 deur John Dyason as hotel ingerig en met sy dood in 1878 bly sy weduwee in die hotel aan.
Die hotel word drie jaar later aan M Eksteen verkoop, wat dit die Eksteen Hotel noem, maar skaars vier jaar later koop Jan Haak dit en noem dit die Prins Albert Hotel, hoewel dit plaaslik as Haak’s Hotel bekend was.
In 1919 verwissel die hotel weer van eienaar: L Levenson herdoop dit na The National Hotel en dis in sy besit tot 1947, toe MDJ Odendal en ID du Plessis dit koop. Hulle bou in 1952 die rondawels buite, wat vandag as die Garden Cottages bekend staan, en verander die naam na die Swartberg Hotel, om hulde te bring aan die mooie berg waarteen die dorp skuil.
Die hotel is die afgelope ses jaar onder bestuur van die Mont d’Or-groep met Danie en Ronél Pieterse as rentmeesters. Dis ’n nasionale gedenkwaardigheid en spog met die mooi koperteken by die voordeur.
Daar is ’n lekker ginkroeg, The Green Prince, waar jy vir ure mense kan kyk van die breë stoep af, ook ’n deli met varsgebakte brood vir huis toe neem of iets te ete, ’n lekker kuierkroegie, ’n spa en dan natuurlik die spogeetkamer met twee reuseskilderye wat glo spook.
Ronél vertel die skilderye, deur Frank Hider in 1894 geskilder, wys ’n jong meisie wat haar vryer vermoor het, nadat hy haar verneuk het. By kers- of kaggellig kan jy die bloed op die water sien...
Die etes in die Victoria Room neem jou terug na jou kinderdae, toe kelners nog bakke vol lieflike trooskos op trollies gestoot het, met onderbaadjies en strikdasse langs jou mooi gedekte tafel gestaan het. Messe- en breekgoed uit ouma se trousseaukis. Die tafellinne is amper Victoriaans en die astrante pienk liggies super modern. Oud en nuut vat ook hier hande.
Soggens word ons – pure plaas – om 04:24 deur ’n haan wakker gekraai. Nadat hy drie maal sy stem laat hoor het, bly hy stil. Ek vermoed dis die onverwagte hitte in laatherfs wat sy kuif en kop deurmekaar klits. Hy bly darem stil tot 06:00.
Soggens as die haan vir die regte redes op die regte tyd gekraai het, is ons by Gay’s Guernsey Dairy op die eindpunt van Kerkstraat, vir hul tuisgemaakte dik drinkjoghurt met amper-swart suurkersies. Langs die oulike proelokaaltjie waar jy ook melk, die heerlikste kase, vrywei varkvleis en tuisgebak kan koop, kan jy die koeie buite in die veld hoor bulk. Die kaas is lekkerder as die ander een, en saam met die hotel se varsgebakte brood, olywe uit die kontrei en vars of gedroogde vye van Weltevrede Vyeplaas, is jou tafel ’n feesmaal. Met meer as 2 000 vyebome kan jy daar vye in elke moontlike formaat koop. Ons het altyd ’n paar in die spens om ’n kaas- en vleisbord op te kikker.
........
Die wynproelokaal lê in die hartjie van die dorp en van die wyne is te proe. Die druiwe kom alles van die dorp en omgewing.
........
Voeg daarby ’n bottel of twee wyne van Fernskloof – Wines of Prince Albert en alles loop sommer klopdisselboom. Die wynproelokaal lê in die hartjie van die dorp en van die wyne is te proe. Die druiwe kom alles van die dorp en omgewing. Ons koop ’n kis van die Tempranillo Rosé 2022 en Tinta Barocca 2022 daar tussen die ou houtvate waarin die wyne verouder. Ons hoor dié gebou was van 1885–1890 ook ’n wynkelder en het nou volsirkel gekom onder Diederik le Grange wat sedert 2010 hierdie wyne maak. Sy doelstelling is om wyne te maak wat uniek aan Prins Albert en sy terroir is.
Gepraat van vleisborde: Ons eerste kennismaking met Jeremy Freemantle was deur sy kouevleise daar by die hotel. Hoe lekker om een aand daar op die sementstoep van sy nuwe restaurant, Jeremy’s Restaurant and Wine Bar, te sit en sy disse te kan geniet. Dis kleinbordjie-styl, wat jou toelaat om vier of vyf disse te deel en sodoende nie op een van die lekker geure uit te mis nie!
........
Prins Albert se Mediterreense klimaat is nie net goed vir Karoolam, gekuurde vleis of goeie wyn nie. Dis ook een van die plekke met die lekkerste verskeidenheid olyfprodukte, van olie tot ingelegde en gedroogte olywe. D
........
Prins Albert se Mediterreense klimaat is nie net goed vir Karoolam, gekuurde vleis of goeie wyn nie. Dis ook een van die plekke met die lekkerste verskeidenheid olyfprodukte, van olie tot ingelegde en gedroogte olywe. Dis selfs in lekker sout en vleisgeurspeserye beskikbaar. Baie van die olyfplasies het proelokale waar jy alles oor olyfolie sal leer. Mens koop nie gou weer enigiets ingevoer as daardie unieke Karoo-olyfolie op jou tong gedans het nie.
Dis ná ’n paar dae in die Groot Karoo baie duidelik hoekom dit die streek se juweel genoem word.
- Die vernuwing van die Victoria Room is op episode 11 van In die sop se derde seisoen op kykNET en is ook op Showmax en DStv Catch Up beskikbaar.
Kitsfeite
- Moenie jou besoek aan dié mooie dorp begin nie sonder om raad te vra by die toerismekantoor by tourism@princealbert.org.za of chair@princealbert.org.za. Bel 023 541 1366, e-pos office@princealbert.org.za of besoek https://princealbert.org.za/ vir alles wat jy oor die dorp en streek wil weet.
- Prins Albert is 393 km via die N1 uit Kaapstad geleë. As jy die N1-, N2-, R62-roete wil volg soos ons graag doen, is dit 531 km.
- Die Journey to Jazz-fees word elke jaar in Mei gehou. Meer inligting daaroor hier: https://journeytojazz.co.za/.
- Bespreek jou ete by die Victoria Room in die legendariese Swartberg Hotel by 023 541 1332 of reservations@swartberghotel.co.za.
- Saterdagoggende is die markie in die hoofstraat van 08:00 tot 12:00 die plek vir lekker kuier en eet. Hier kan jy van Griekse kos, houtkerfwerk, ingelegde vrugte, vars pannekoek, tot olywe met allerhande interessante geurmiddels koop. Die gees is gemoedelik; daar is boeretroos en jy kan sommer al die dorp se nuus hoor.
- Gaan kyk ’n vertoning by die mooie The Showroom-teater, wat ’n huldeblyk aan die Art Deco-boustyl is. Meer inligting by https://theshowroomtheatre.co.za.
Lees ook:
Pafuri: twee geleenthede vir onvoorwaardelik oorgee aan die natuur