Pafuri: twee geleenthede vir onvoorwaardelik oorgee aan die natuur

  • 0

 

Die grootste koorsboomwoud in die suidelike halfrond, dalk die wêreld, val binne die Makuleke se grond. Foto’s: Clifford Roberts

......
Al wat jy moet doen, is om tot stilstand te kom. Om oor te gee aan die natuur; die stilte in jou ore te hoor.
......

Dis nie aldag dat jy kans kry om na die verste punt van die Kruger Nasionale Park na ’n privaat-tentkamp te gaan nie. En dan nie net in luuksheid te bly en ongewone ervarings te hê nie, maar ook te kan deel in goedvoel-stories. Pafuri-tentkamp is spesiaal op verskeie vlakke: Nie alleen is dit ’n suksesresep van mense wat hul grond in die donker jare van apartheid verloor het en weer 30 jaar later teruggekry het nie, dis ook ’n plek waar jy waarlik tot stilstand kan kom, skryf Maryke Roberts.

Pafuri lê aan die noord-oostelike kant van die park en die konsessie strek tussen die Limpopo- en Luvuvhurivier. Jy kan óf deur die Pafuri-hek óf die Punda Maria-hek van die wildtuin indraai, maar hoe dit ook al sy, dit gaan jou enigiets tussen agt en 10 uur per motor neem.

Toe ons dit hoor, het ons besluit op gemak – om in gemak met ’n gerieflike 4x4 te ry én eers in Johannesburg oor te slaap ná ons vlug van Kaapstad, voor ons die pad vat.

Dit het ons ook sommer die kans gegee om ’n paar vriende te sien in die Goudstad. Die City Lodge Hotel Newtown in die hartjie van Johannesburg was ons blyplek, want sien, ons wou ook by die bekende Markteater ’n katspoegie verder gaan inloer en by die Rand Club gaan eet (meer daaroor in ’n volgende storie, want mensig, wat ’n ervaring was dit nie).

Terug by die Pafuri-reis. Die Ford Next-Gen Everest XLT waarvan Ford se bemarkingsmateriaal iets gepraat het van “gehard buite, pure skuilte binne” se ruim deurhouers het lekker boepens gestaan van die varsgebakte mini-oliebolle en cappuccino’s wat die personeel met groot glimlagte aangedra het.

Die Ford Everest XLT waarmee ons gery het, het die langpad gemaklik gemaak.

As mens so vroeg deur die verkeer vleg, is iets in elke kies darem maar lekker.

Die ure gly verby; ons stop vir koffie, ons eet iets, ons geniet elke oomblik van die reis want dit gaan mos nie oor die bestemming nie. Of wag, is dit ’n ander fabrikaat se slagspreuk?

Die son trek water toe ons laatmiddag uiteindelik die prag-tent sien. Die luukse tente is op die oewers van die rivier by Crooks’ Corner opgerig.

Mens kan vergewe word as jy vergeet om jou lyf in te seep, of die sjampoe uit jou hare te spoel, want met soveel verskillende bok- en voëlsoorte wat gras vreet of saadjies pik reg langs jou handdoek in die buitestort, is jou aandag elders.

Ons luukse tent met sy afgeskorte badkamer, binne- en buitestort en verwarmer binne die muskietnet, was ’n ware toevlugsoord teen die koue.

 Toe ek laatmiddag ná die avontuurlike stort op die verhoogde loopvlak tussen die tente en ontvangs stap, brul ’n leeu in die verte en ’n reuse-uil sit goed geïrriteerd in die boom bo my kop, want klein grys voëltjies draai al rasende om sy kop in die hoop om hom te verjaag.

Vir ’n oomblik kyk ons mekaar in die oë en dit voel asof hy dwarsdeur my sien. Ek sê so half ingedagte dat die klein geveerde lyfies darem erg irriterend is, waarop hy ewe kordaat sy oë knip en ek heel goed voel dat ons mekaar verstaan!

By die kuierplek by ontvangs gekom, sit mense met glase wyn en verkykers. Verskeie reuse-krokodille lê in die laatmiddagsonnetjie en bak en koedoes probeer versigtig om ’n gleuf te kry om te kom water drink in die dik, bruin rivier.

Om sulke groot groepe olifante te sien, is die rede hoekom baie mense Kruger Nasionale Park besoek.

Met my gin en tonic in die hand, roep die visarend die eerste maal. Ek kyk na my geliefde om te vra of hy dit gehoor het, maar die saligheid en reuse-glimlag op sy gesig bevestig dit. Voor ons ons waardering vir dié bederf kan uitspreek, roep hy weer – en weer. Ons is werklik in die bos!

Ons kon ’n sonsak-wildrit beleef, maar van ry en sit is ons te voos. Vroeg inkruip en bosgeluide luister is nou net wat die dokter voorgeskryf het. Ons lees op oor die Makuleke-mense en besef hulle het ’n ryk menslike geskiedenis wat terugdateer uit die Makuleke-era en selfs steentydperk-nedersettings.

As die son so ondergaan agter die kremetarte, voel jy waarlik soos ’n kind van Afrika.

Die regering het die Makuleke-gebied in 1969 van die Makuleke-mense weggeneem en ongeveer 1500 van hulle na grond in die suide verskuif, waar hul oorspronklike stamgebiede in die groter Krugerwildtuin geïntegreer is. In 1996 het die stam ’n grondeis vir 19 842 ha (198,42 km2) ingedien. Die grond in die noordelike deel van die Krugerwildtuin is in 1998 aan hulle teruggegee.

Ons kuier oor twee dae kry gou ’n ritme: Ons gaan soggens vroeg en teen sonsak smiddae saam met ons Pafuri-gids, Brighton Manganyi, uit.

Ons Pafuri-gids, Brighton Manganyi.

Brighton is deel van die stam wat hul grond verloor het en nou weer hier ’n lewe uit toerisme maak. Hy verduidelik vroeg in die rit dat baie ander reservate net die groot diere aan besoekers wil wys, maar hier is dit ook oor die natuurskoon. RETURNAfrica bestuur die luukse Pafuri-tentkamp namens die stam.

Om ’n hiëna helderoordag te sien, ’n ongewone bonus.

Tussen daardie ritte is ons in die Ford en gaan verken die gebiede waar die Pafuri-voertuie nie mag ry volgens hul ooreenkoms met die park nie.

Sodoende sien ons verskillende dele, soms in verwonderde stilte, soms met ’n handige gids wat dinge verduidelik. Dit word beskryf as een van die belonendste voëlkyk-bestemmings en ons ervaar dat ons letterlik verskillende spesies van ons stoepie kan afmerk in ons voëlboek.

Saans hang ’n bosnagapie rond toe die borde uitgepak word vir aandete en ons lag tog te lekker vir sy manewales. Die lekkerte van jou verblyf by Pafuri is dat jy nie net deur die mense van hier – die Makuleke – bedien word, saam met hulle op wildritte gaan of saam met hulle kan kuier oor koffie om die vuur nie, maar ook dat jou kos en sekere drankies ingesluit is.

’n Klein witkeelbyevangertjie sit kordaat op ’n tak vir ons en loer.

Al wat jy moet doen, is om tot stilstand te kom. Om oor te gee aan die natuur; die stilte in jou ore te hoor.

Twee maal doen ons dié oorgee met absolute volmaaktheid – in oortreffende trap, soos my geliefde dit vir iemand in ’n WhatsApp-boodskap probeer beskryf het.

Die Lanner-kloof van meer as 11 km – die grens tussen die groter Kruger Park en die Makuleke-konsessie – is na die edelvalk (Falco biarmicus, “Lanner” in Engels) vernoem. Jy kan net hier kom as gas van Pafuri.

......
Die eerste een is ’n vroegoggend rit na die ravyn, die Lanner-kloof van meer as 11 km – die grens tussen die groter Kruger Park en die Makuleke-konsessie wat deur die Luvuvhurivier uitgekerf is. Om daar met koffie en beskuit oor die skeure en voue te staar, weer oor te gee.
......

Die eerste een is ’n vroegoggend rit na die ravyn, die Lanner-kloof van meer as 11 km – die grens tussen die groter Kruger Park en die Makuleke-konsessie wat deur die Luvuvhurivier uitgekerf is. Om daar met koffie en beskuit oor die skeure en voue te staar, weer oor te gee. Die rivier kabbel op sommige plekke meer as 150 m onder jou voete. Brighton sê daar is ’n oorvloed voëls, waaronder die edelvalk (Falco biarmicus, “Lanner” in Engels) waarna die kloof vernoem is. Jy kan net hier kom as gas van Pafuri.

Die grootste koorsboomwoud in die suidelike halfrond val binne die Makuleke se grond.

Die tweede onvoorwaardelike oorgee is in die suidelike halfrond se grootste koorsboomwoud (Vachellia xanthophloea). Die geel-groen stamme staan soos reuse-vuurhoutjiestokkies tot sover die oog kan sien. Die bome is nie net gewild onder mense nie, verskeie diere soek skuiling daar: Sommige vir die voedsame boomgom, ander vir die jong blaartjies en insekte vir die blomme se stuifmeel. Die naam kom blykbaar van Grieks af wat geel stam beteken. Die bome is endemies aan Afrika en ek glo dit kan die grootste koorsboomwoud ter wêreld wees, soos sommige webwerwe beweer.

Soos Brighton vroeg gemaan het, dit gaan nie net oor groot diere nie. Ons moet alles waardeer. Die klein bruinkopvisvangertjie kan maklik misgekyk word.

Die boom is ook die enigste in die wêreld waar die stam die fotosintese behartig, in plaas van die blare soos by ander bome en plante, vertel Brighton.

Voor ons die woud inry, skakel Brighton die voertuig in ’n digte strook struike met pienk blomme af. Die witpenssuikerbekkies (Cinnyris talatala) fladder om ons soos bye om ’n blom. Dis ’n oorverdowende kakofonie van klanke, kleure en geure.

’n Natuurwonder wat jou tot stilte dwing, is om die witpenssuikerbekkies te sien jag na stuifmeel.

Hulle druk hul bekkies in die pienk blomme in. Die lyfies, skaars groter as ’n peuselfrikkadelletjie, weeg maar 11 g en moet daagliks ’n derde van hul liggaamsgewig eet. Mens kan nie glo wat jy sien nie en bowenal nie glo die skril tjirp-tjirp kom uit daardie kleine bondeltjie vere nie.

Die bosse vibreer met hul vinnige bewegings, hul voorkoppies is wit van die stuifmeel. Ná hierdie ervaring, is jy stil. Oorgegee.

......
Die bosse vibreer met hul vinnige bewegings, hul voorkoppies is wit van die stuifmeel. Ná hierdie ervaring, is jy stil. Oorgegee.
......

Om by ’n watergat te sit en olifante kom so naby jou voertuig dat jy die haartjies op hul stert kan sien...

Tot die voertuig weer afgesluit word in die koorsboomwoud. Die laatmiddagson skyn deur die takke en stamme. Die grond lyk soos ’n dik tapyt waarop jy jouself wil neervly en nooit weer opstaan om verkeer, stres, korrupsie, hongersnood of woede te aanskou nie.

Brighton sit ook in stille verwondering en verklaar dan opeens: “Ja, ons woon in ’n prentjie hier.”

Inderdaad.

Brighton verduidelik waarom dit ’n koorsboom genoem word: Die eerste ontdekkers van hierdie land het malaria gekry in hierdie woude, omdat die bome gewoonlik in of naby water groei. Hulle het nie besef dis die water wat die muskiete lok en dis wat hulle malaria gee nie.

Ook maar goed ons het darem al bietjie wyser geword oor die natuur sedertdien. Of het ons?

Reuse-kremetarte was destydse deurgange vir die Makuleke-mense, vertel Brighton.

Kitsfeite

  • Bespreek verblyf by Pafuri-tentkamp by https://returnafrica.com/book-now/ of loer by https://returnafrica.com/pafuri-camp/ vir meer inligting. Daar is ook wonderlike stapavonture wat jy deur hulle kan bespreek. Daar is gereeld spesiale aanbiedinge vir Suid-Afrikaners.
  • Ons voertuig, die Everest XLT, is beskikbaar in 2x4 of 4x4. Die 4x4-model, soos ons een, gebruik ’n deeltydse elektroniese vierwielaandrywingstelsel wat 2H-, 4H- en 4L-modusse insluit, asook ’n agterste ewenaarslot as standaard vir moeilike veldrytoestande. Sy vermoë word verder verbeter deur die ses kiesbare ritmodusse wat met die Sport 4x4-, Wildtrak- en Platinum-modelle gedeel word. Die Next-Gen Everest XLT is die goedkoopste in die nuwe Everest-reeks en bied sewe sitplekke vir al die kinders, skoonma’s of vriende. Ons het die lekker groot navigasieskerm waarop ons Google Maps kon volg, baie nuttig gevind.

Foto’s:

  • Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:

Maak voëls deel van jou én die kinders se volgende reis

Lieflike lang dae in die Waterberge

Jou siel is vol in Chobe

Saligheid op die savannavlaktes van Namibië

Baviane van die Krugerwildtuin: Op reis na die familie?

Daar’s ’n hiëna in my truspieël

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top