Dis laat een middag in die ooptes en mooites van die Namibiese savanna buite Windhoek toe ons gids, Balon Teko, so tussen die vertel deur van leeus en bewaring en renosters, noem dat hy Angelina Jolie se gids was hier by Zannier Hotels Omaanda. Dit laat my sommer nog meer regop sit en aandagtig luister.
En nie omdat ek dink hy praat groot – of nonsens – nie, maar omdat hy so beskeie is oor dit wat hier vermag word en die Jolie-Pitt-finansiering wat die rehabilitasiewerk van hier, N/a’an ku sê, moontlik maak. Alles met luukse verblyf en uitstekende kos en wêreldwyne as hart.
Maar voor ek te veel naam rondgooi, kom ons begin by die begin.
Vyf jaar tevore kuier ons in Namibië en ry die land plat. Vir bykans 6 000 km trap ons vore in die stofpaaie suid van Windhoek; maak ons ons eie patrone oor die landkaart. Stywe litte en lam boude is sekerlik die woorde wat ek die meeste gebruik het.
Met die onlangse besoek is ons voorneme toe om so min moontlik te ry en soveel moontlik te ontspan. Om die waarheid te sê wou ons nie eers van die lughawe af ry ná ’n genotvolle twee uur aan boord Fly Namibia se klein vliegtuigie nie.
Met net drie sitplekke in elke ry – een teen die venster en twee oorkant die gangetjie en dus by ’n ander venster – kan jy jou nie van die landskap wat onder die romp verby gly, losmaak nie.
Ek het Namibië só gemis. Die landskap lyk dalk vir die ongeoefende oog plat en dor, maar met Kalaharisand in my are van geboorte af, kyk ek anders. Sien ek die patrone en heuwels en skaduwees wat hierdie maanlandskap in skakerings van bruin, swart, steenkool en room vorm. En voor jy jou kom kry, kronkel ’n rivier soos ’n luislang deur die landskap en kleur die lyne in donkergroen in, voor stroke pienk en wit langs die blou see verskyn.
Dis met daardie beelde in my kop dat ons ervaring van die Zannier Hotels-kultuur op die lughawe begin. Joel Namwasha staan met ’n bord met ons naam daarop met ’n groot glimlag en wag. Hy het in 2018 in die lodge se konstruksie-afdeling begin werk en nou tot drywer gevorder.
Die lugverkoeling in die voertuig is ’n lafenis en daar is koue koeldranke uit ’n koelboks. Nie ver van die lughawe af nie draai ons op die grondpad in vir die 18 km na die lodge. Die houtlattebrug langs die pad se naam is Ritteltit. Iemand hier het ’n sin vir humor!
Joel vertel dat Arnaud Zannier, die innoverende brein agter Zannier Hotels, ook – soos ons – sy hart op Namibië verloor het en in 2018 en 2019 twee lodges, Omaanda en Sonop, geopen het. Soos sy filosofie oor gasvryheid nou maar is, bou hy hier voort op tydlose elegansie, totale afsondering in ongerepte landskappe waar die natuurlike omgewing en plaaslike tradisies ten sterkste respekteer word.
“Die Zannier-reservaat is 9 000 hektaar teenoor baie van die omliggende reservate se 3 000 tot 5 000,” vertel hy terwyl ons “oe” en “aa” oor die uitgestrekte vlaktes waaroor wolkies soos reusespookasembolle dryf.
Deur die hek en ons begin uitkyk vir ons verblyf, maar dis so goed in die landskap versteek dat ons dit eers sien toe ons oor die laaste sandheuwel ry.
Tien luukse hutte rus sagkens om die leefgedeelte, restaurant en swembad in die savannaveld in die hartjie van die reservaat. Zannier Hotels Omaanda se naam is geïnspireer deur die woord Omhanda, Oshivambo se woord vir renoster, en het sy naam te danke aan sy besonderse ligging.
Die Ovambo-argitektuur wat die hutte se uitleg, ligging en dekor inspireer het, is bekend vir sy insig en natuurinspirasie en -respek.
Ons drink gou ’n verwelkomingsdrankie terwyl ons tasse in ons kamer neergesit word, voor ons deur die verhitte swembad duik. ’n Paar salige minute met ’n koel briesie onder die sambreel kon ons oorreed om eerder te bly, maar dis Balon se stralende glimlag toe hy kom sê die voertuig is gereed wat ons oorreed om te gaan.
So stadig maar seker val die stukkies van die legkaart in mekaar, soos Balon brokkies vertel. Arnaud Zannier en Angelina Jolie ontmoet mekaar tydens Jolie se besoek aan Zannier Hotels Phum Baitang in Kambodja. Sy vertel vir Zannier van ’n ander magiese plek – meer as 10 000 km weg – wat in ’n natuurlike omgewing lê wat bewaar en gekoester moet word op dieselfde manier as wat die hotelgroep by die Kambodjaanse oord dit doen. Hier waar ons nou stofspore in die sand trap.
Hy deel inligting oor die diere wat hier ’n tweede kans kry, danksy die lodge se samewerkingsooreenkoms met Rudie van Vuuren en sy vrou, Marlice, van die N/a’an ku sê-stigting.
Die Van Vuurens het dit hul lewenstaak gemaak om die ongerepte skoonheid wat onlosmaaklik deel van hierdie land is, te bewaar en te beskerm. Dit was hier waar hulle besluit het om hul N/a’an ku sê-stigting te skep. N/a’an ku sê streef daarna om die bewaring van natuurlike ruimtes te handhaaf – ’n bewaringsmissie wat perfek belyn is met die waardes van die Zannier-reservaat.
Rudie en Marlice het ’n hospitaal opgerig vir beseerde of verlate renosters en olifante, wat deur die Jolie-Pitt-stigting befonds word. Die doel van die hospitaal is om bewustheid te kweek en mense op te voed oor die behoefte om die wilde wêreld te ondersteun en te bewaar.
“Diere wat elders probleme veroorsaak, of deur heinings breek of beseer is, word hier verwelkom en hervestig. Ons olifante en leeus het almal radiohalsbande en kan dus makliker opgespoor word, sou gaste hulle graag wil sien. Ons jaag nie dierekyk na nie; hierdie ritte is ervaringsgeleenthede waar gaste hulle kan oorgee aan die stilte van die veld,” verklaar hy wys.
Ons sien nie olifante nie, maar hul mis en omgestote bome verklap hul teenwoordigheid. Balon vertoef by die slordige koringvoël (Plocepasser mahali); vertel dié voël bou verskeie neste om slange te verwar. Daar is ook twee ingange en uitgange om te ontsnap. Langs die pad wys hy die witgatboom uit, waarvan oumense van die wortels koffie gemaak het. “Ons Boesmans gebruik verskeie dele van die plant; maak sap van die bessies en stokkies om dikmelk te maak. Bad in die blare-aftreksel vir velsiektes,” vertel hy half ingedagte; sy oë tuur ver.
Die reservaat was voor 2016 ’n veeplaas. ’n Kwêvoel sit op ’n klein dammetjie se rand en skree. Balon kyk na die stofpad en verklaar: “Dis laatoggendtyd se olifantspore. Ek het vanoggend koffie hier gegee en toe was dit nie hier nie.”
Hy praat oor die radio en draai van die pad af in die lang, droë gras in. Ons moet mooi kyk om die drie leeuwyfies te sien wat só goed met die veld saamsmelt. Die swart sterte speel in die sand. Op pad na ons sonsaksopiestilhouplek sit ’n klomp bobbejane op ’n windpomp – ’n veilige slaapplek uit roofdiere se kloue. Bykans 40 gemsbokke draf by ons verby, terwyl die son pienk kwashale deur reënsluiers op die horison verf.
Ons ry in stilte deur die soel aandlug terug lodge toe. Sonbesies skree verbete voort, terwyl dit sterk skemer oor ons koppe trek. En dan, opeens, asof ons deur ’n onsigbare gordyn ry, is die lug koel met ’n vreemde soet reuk.
“Dit reën iewers,” mymer Balon uit die pikdonker kajuit.
Ons is skaars klaar geëet toe ons in die reusestort spring, die lang dag afspoel en op ons stoepie gaan sit en sterre kyk.
Die daaropvolgende dae roer ons nie van die lodge af nie. Dis ontbyt, swem, lees, middagete, slaap, swem, aandete, drankies op die stoep, lank bad voor die reusevenster in ons kamer. Die enigste loop wat ons loop, is een maal spa toe vir ’n massering en ’n hele paar maal na die klein lattekroegie neffens die swembad, vir ’n yskoue gin en tonic.
Om agtuur in die oggend aan die oorvloeirand van die swembad te hang en te sien hoe ’n swaeltjie vir ’n millisekonde sy bekkie in vlug vol water skep of ’n bloedrooi naaldekoker se lyfie te sien patrone maak op ’n spieëlgladde oppervlak is vrede.
Ek het net enkele weke voor ons kuier The Cedarville shop and the wheelbarrow swap deur Bridget Krone gelees en vir LitNet geresenseer. Dié stukkie oor die swaeltjie het toe opgeval en só uitgestaan dat ek dit in my lesersindruk ingesluit het: “Die beskrywing van Sesi, die meisie op wie hy heimlik verlief is, se stem as sy in die kerkkoor sing: ‘Sesi se stem sweef bo die harmonieë. Die klank herinner my aan ’n voël in vlug, soos ’n swaeltjie teen skemer, wat sy bekkie in die rivier doop om te drink.’”
Dis presies die klank wat ek in my kop hoor toe ek daar neffens die donkerblou water sit.
Later plons groot, vet reëndruppels op die swembad neer, maar met soveel mag dat dit van ver af lyk of die water borrel. Die laatmiddagreënvlae in die verte met weerlig op die rante maak dat jy die natuur tot teenaan jou voel opkruip.
En as ons gaan skuiling soek op ons koningsgroottebed, is die hotel se eie musiekspeellys, die Oomanda Selection, jou sussende geselskap terwyl die wind bolseile van ons linnegordyne maak.
Elke hut se dekor is ’n vermenging van antieke stukke wat uit Namibië of buurlande kom, met moderne luukses. Die oorheersing van kurwes, reguit en suiwer lyne, die alomteenwoordigheid van verskillende vorms van hout, die warm kleurskemas wat die aarde en die natuur oproep, gee alles aan Zannier Hotels Omaanda ’n verwelkomende en ontspannende atmosfeer.
Ek het iewers gelees die binnenshuiseversierderspan wat vir hierdie kalm atmosfeer verantwoordelik was, het gesê: “Dis ’n argitektuur wat met die eenvoud en uitgestrektheid van die omliggende landskap meng, wat die Namibiese wortels laat weerklink en in harmonie met die natuur kalmte inspireer en oomblikke skep om te onthou.”
Ons stoep met sy lattedak is een groot platskerm-TV met ultrahoë definisie en suiwer klank. In die verte wei ’n renoster en in die boom reg voor ons huisie eet ’n kwêvoel bekke vol geel blomme van ’n doringboom af. Die vroegoggendwindjie waai sy pronkerige kuif deurmekaar.
As jy daar met jou tone op die randjie van die koel sement staan en sien hoe ’n budgieblou hemel met spierwit wattewolke vergader in poeierblou en grys met sonstrale wat silwer strepe aarde toe maak en reën soos fyn sluiers uitsak, sal jy verstaan hoekom ons weer ons harte in Namibië gaan verloor het. Dié keer sonder die duisende kilometers, stywe litte en lam boude.
Eerder ontspanne, sagte boude en skoongeveede gedagtes.
Kitsfeite
- Bespreek jou salige wegbreek na Zannier Hotels Omaanda by +264 (0) 81 127 2425, reservations@omaanda.com, of besoek www.zannierhotels.com/omaanda/en. Die reservaat en lodge is net 20 minute van die Hosea Kutako Internasionale Lughawe en dis ’n wonderlike manier om jou Namibiese vakansie te begin of af te sluit.
- Ons het met Fly Namibia uit Kaapstad gevlieg. Die lugredery vlieg ses maal per week tussen Windhoek en Kaapstad en het ook binnelandse vlugte na Katima Mulilo, Ondangwa, Oranjemund, Rundu en Walvisbaai. Ons vliegtuig het net 50 sitplekke gehad, wat die hele ervaring van op- en afklim en kosbediening blitsvinnig gemaak het. Daar is ook heelwat kleiner vlugte vir woestyn- en kusbestemmings. Besoek www.flynamibia.com.na vir meer inligting en besprekings.
Woorde: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
Lees ook:
Lesersindruk: Boipelo se slim ruilhandelprojek sal jou nie onaangeraak laat nie
Calitzdorp nie net portstylwyn-hoofstad nie, maar ook kulinêre lekkerte
Groot Vyf nie al wat jou asem hier sal wegslaan nie (Mhondoro Safari Lodge & Villa, Limpopo)