Om by die vuur te sit onder die Afrika-sterre, iets wat ons dalk nie altyd so waardeer nie. Tot jy saam met mense van regoor die wêreld die Melkweg en Suiderkruis sien.
Die Suidooster waai ons as’t ware in die vroeg donkerte tot op die vliegtuig in Kaapstad. Vier uur later, so 20 km voor die Kranskop-tolhek op die N4, staan honderde sonneblomme in hul pragtige goudgeel heerlikheid met hul swart koppe na die son gedraai.
Ek hoor weer my geliefde se oorvertelling van iemand wat iewers geskryf het van hoe die lewe danksy tegnologie verander het en ons ongeduldig is as ’n WhatsApp nie vinnig genoeg deurgaan nie, maar die sein van ’n satelliet in die buitenste ruim moet terugbons.
Die vlug uit Kaapstad en rit tussen die OR Tambo-lughawe en Qwabi wat ons nou ’n paar uur neem, sou ons ’n eeu gelede etlike weke geneem het en mens sou dalk nie die radikale verskil in landskap, temperatuur en kultuur agtergekom het soos nou nie. Jy sou dit ook nie noodwendig oorleef het nie.
Dis nie lank na dié geel skouspel nie wat ons op ’n provinsiale pad afdraai en die eerste wildheinings gewaar. Ek pak onmiddellik my skootrekenaar weg, die vroegoggend traagheid uit my lyf: Dalk sien ons ’n bok of kameelperd. Dis egter die eerste troupant waarvan die vere in pers, blou, roesrooi, groen en pienk in die vaal sonnetjie skitter wat die verandering in provinsie waarlik tuisbring. Dis een van my gunstelingvoëls, maar hulle kom nie in die Kaap voor nie. My een vriendin het altyd gesê hulle bring prag aan vaal dele van die land; in die Kaap sal hulle nie so mooi uitstaan nie, want daar is klaar te veel mooi.
Soos ons ry, is daar borde wat jou inlok na “Goggas en goeters”, “Biltong met geelvet” en ’n provinsiale naambord met “Noodhulp” op. Ek wonder oor dié een...
Daar is ook ’n oulike beskrywing by Piet se Padstal: “Meer as ’n padstal – dis ’n moewiese experience” en ’n entjie verder belowe die “Buffelbar, vir bul, koei en kalf” jou allerhande lekkernye en dit lyk of die Bosvelders se liefde vir die see en Hartenbos hier sy eie persoonlikheid gekry het, met ’n “Hart in bos”-afdraai.
Babohi is die nuutste van die twee lodges en net vir volwassenes. In die eetkamer met sy uitgebreide wynversameling kuier jy te lekker voor die kaggel.
Ons is lekker vroeg by Qwabi Privaatwildreservaat se hek en ons tasse reeds in ons kamer toe die portier vir ons verduidelik hoe die verkoeling en koffiemasjien werk.
Smiddae is daar lekker peuselgoed met tee of koffie voor jy op die wildkykrit gaan.
Dis gesellig by die swembad waar lekker versnaperinge wag en ons teug vinnig-vinnig aan lang, koel drankies. Die sonnetjie maak my lomerig en voor jy kan sê: “Seekoeie in die modder” is ek in droomland – my oop boek op my bors. Die windjie stoot liggies deur my hare en die ander mense se gelag en gesels word heerlike agtergrondmusiek. Die vroegoggend opstaan het sy tol geëis, maar dis die wonder van die bos: Tyd gaan stilstaan en niemand jaag jou aan om enigiets te doen nie!
Qwabi – wat Afrika-wildekat in Sesotho is – is in die Waterberg Biosfeerreservaat, wat deel vorm van die groter Waterbergstreek in die Limpopo-provinsie. Dis een van slegs twee UNESCO-verklaarde savanne-biosfere in Afrika en word deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut as ’n kritieke biodiversiteitsgebied erken. Die Waterberge is bekend vir sy pragtige natuurskoon en oorvloed wild, insluitend die Groot Vyf en diverse voëllewe. Die feit dat jy skaars ’n paar uur van die lughawe is, maak dit nie net vir Gautengers maklik bereikbaar nie.
Tans is daar twee eksklusiewe lodges in die privaatreservaat, Letamo en Babohi, maar moenie geflous wees en dink hulle is twee voëls van eenderse vere nie! Die styl, kos, aanslag en ervaring verskil hemelsbreed.
Om vir die eerste maal in baie jare ’n swartwitpensbul te sien, was regtig ’n belewenis. Mens kan nie glo hul nekke raak nie seer van daardie swaar horings nie!
Ons verdeel ons tyd tussen die twee lodges en wil aan die einde van die drie dae waarlikwaar nie oppak om huis toe te gaan nie! In 11 000 ha, waarvan 10 500 vir die diere beskikbaar is, kan jy regtig tot rus kom. Daar is twee wildritte elke dag; jou gids bly by jou vir die duur van jou verblyf en wat dit spesiaal maak, is dat hy weet wat die groep al gesien het en hy kan dus in ’n ander rigting ry met die volgende rit op soek na iets anders.
Die renosters dra nog enkelbande as deel van hul hervestiging en navorsingsprojekte, maar hul horings groei mooi uit.
Die reservaat is nog bloedjonk en die lodges onderskeidelik maar net meer as agt en agtien maande oop en die diere ook so stuk-stuk hervestig. Die grasveld is weer beplant nadat die grond vir dekades ’n veeplaas was en die meeste van die grootwild het nog tydelike enkel- of halsbande om hul bewegings te monitor. Dis alles deel van die staatsvereistes vir ’n nuwe wildreservaat en hier by Qwabi is die bewaringspan van Suid-Afrika se beste en bekendste.
So af en toe sien ons ’n ander wildkykvoertuig wat ook diere kyk, maar net een voertuig se enjin mag by elke vindplek dreun.
Jou dae is vooruit beplan: Soggens word jy 6:00 wakker gebel vir ’n vinnige koffie en muffin of croissant in elke kies, voor jy 6:30 onder jou kombersie op die wildkykvoertuig inskuif. Jou waterbottel met jou naam op is gevul met yskoue water en tussen die sitplekke is laaipunte vir kameras en fone. Ná jou wildrit is daar lekker ontbyt en teen 14:30 word die snoepgoed saam met tee of koffie bedien. Om 15:30 vertrek die voertuig weer vir ’n sonsakrit. Niks is verpligtend nie, as jy heeldag soos ’n lui seester op jou dagbed langs jou privaatswembadjie wil lê en vonkelwyn met kamerdiens wil bestel, dan maak jy so.
As jy daar in jou klein plonsbadjie afkoel en die diere loer vir jou uit die bosse, is jy waarlik in die natuur.
Maar ek is te bang ek mis iets en daarom is ek paraat vir elke uitstappie.
Met elke rit is daar ’n lekker stopplek in die ooptes vanwaar jy die omgewing waarlik kan ervaar uit elke hoek en koffie, warmsjokolade en beskuit of koekies en saans drankies met biltong, neute of vrugte bedien word.
Ons gids tydens ons verblyf is die jong Darian de Bruin wat 16 maande gelede sy opleiding voltooi het. Hy deel sy kennis oor bome, gras, spore, diere en voëls met groot entoesiasme.
Ons gids tydens ons verblyf is die jong Darian de Bruin wat 16 maande gelede sy opleiding voltooi het. Hy is self ’n kranige fotograaf, wat beteken jy hoef nooit te vra om te stop of vorentoe of agtertoe toe te ry nie; hy weet intuïtief hoe om te parkeer dat almal goed kan sien en goeie foto’s kan neem.
Dit wat hy nie weet nie, gaan vind hy uit en gee terugvoer op die volgende rit.
Dis ons eerste keer dat ons sien leeus klim boom.
Ons sien bykans elke dier in die reservaat, ’n hele paar maal. Selfs leeuwelpies wat boomklim; renosterkalfies wat astrant agter hul mammas uitstap asof hulle die groot voertuig sal kan ore aansit; kameelperde wat nuuskieriger na ons staar as ons na hulle; koedoes, buffels, impalas, blouwildebeeste en selfs skilpaaie, grys muishonde en seekoeie.
Wat egter ’n blywende indruk op my gemaak het, was drie geleenthede: ’n bos-ete onder die sterre; sterrekyk daarna; en om deur ’n jong leeumannetjie gejaag te word.
Dit was ’n “spesiale wildrit”!
Vir die eerste twee is ons verras. Darian praat heelmiddag van ’n “spesiale wildrit” en ons vermoed dis ’n ekstra mooi stopplek vir drankies. Toe ons egter vroegskemer teen ’n koppie uitry en bo is tafels uitgepak, die vure brand en mense staan en gesels met drankies in die hand terwyl die eerste sterre aan die hemel kom hang, is die spesiale wildrit geopenbaar.
Ons is ’n handjievol Suid-Afrikaners daar om die reuse-kampvuur. Die res is Amerikaners, Duitsers en Britte. Hulle staar verwonderd in die vlamme, die reuk van die paraffienlampies wat saam met die reuk van gebraaide koedoelende en heelmielies oor die kole dans.
Ná ete stap almal effe weg van die gloed van die vuur en lampies en Darian gee ’n kort oorsig oor die sterre van die suidelike halfrond. Met sy laserwyser teken hy groen patrone teen die lug en verduidelik waar die Melkweg, Orion en die aandster is.
Hy vertel die storie dat die San glo ’n klein dogtertjie het die sterre geskep. Haar pa het op ’n jagtog gegaan en dit het donker geword. Sy het bekommerd geword oor hom en het as van die vuur in die hemele ingegooi sodat haar pa sy pad kon terugvind by die lig van die sterre en ook die konstellasies kon gebruik om sy rigting te vind.
Om dié ervaring met hulle mee te maak, dit as’t ware deur hul oë te sien, wou my bors laat oopbars van trots.
Daar was verskeie jong diere in die reservaat, ’n teken dat die hervestiging van verskeie spesies suksesvol is.
Die derde hoogtepunt is vroegoggend nadat ’n leeumannetjie baie ergerlik sy gebied afgebaken het om ’n ander, jong leeumannetjie wat net té groot vir sy skoene geword het, op sy plek te sit. Dis ’n gejaag wat sandwalms opskop; pote krap in die grond; tande wys; en ’n aanhoudende lae gebrul wat die hoendervleis teen jou ruggraat laat afhardloop. Ons sit verstar in die aardsheid van die gebare.
Die jongetjie het ons voertuig begin jaag.
Toe Darian die voertuig wil omdraai dat ons beter kan sien, begin een van die ander jong welpies ons voertuig jaag. Welpie is die korrekte Afrikaanse woord vir ’n babaleeu, want die kat wat ons jaag, is skaars 11 maande oud. Maar staan sekerlik hoër as heuphoogte en sy pote is groter as my oopgesperde hand.
Darian se rustige stem kom van voor in die voertuig: “Wees rustig en stil en geniet dit net. Dit wat julle ervaar, is raar.”
En dis presies wat ons doen, effe vreesbevange, maar deeglik bewus dat dié jong man opgelei is vir situasies soos hierdie een en boonop nie kanse waag met diere nie. Toe ons later met Amarula-koffie en varsgebakte koekies in die veld staan, herleef ons elkeen weer die storie.
Dié tipe ervarings maak jou ’n heler mens. ’n Kind van Afrika.
Terug by ons kamer sit ons op die stoep met ’n glas Kaapse wyn. My geliefde swem; ek staar in die veld. Hy merk op die kliphuismure lyk soos die patrone op ’n kameelperd se vel: oneweredige patrone in skakerings van bruin en vaalgeel.
Toe die gholfkarretjie voor ons deur parkeer om ons na ontvangs te neem, is daar drie klipspringertjies in die paadjie. “Klipspringer-traffic,” verklaar die portier. “Julle gaan dalk twee minute later by ontvangs kom...”
Hy kyk om na ons twee op die agterste sitplek en sien die bos het in ons kuite kom sit. Tyd maak hier nie saak nie.
Darian pak ons tasse op die wildkykvoertuig om ons na die bussie te neem wat ons weer lughawe toe gaan ry.
Ons sien drie gemsbokke wat nog van die vorige eienaars hier is, heeltemal uit plek want hulle verkies woestynagtige vlaktes, maar heel gelukkig hier in die savannaveld.
Seekoeie is fassinerende diere, veral as jy dink hulle kan nie swem nie, maar stap deur die water en veroorsaak baie sterftes per jaar, omdat mense hulle onderskat as hulle op land beweeg.
Die dieregetalle is die meeste wat ons nog hier gesien het, amper asof hulle kom groet.
Net nadat Darian die lodge laat weet dat ons 10 minute weg is, vra hy: “Sal ons teen die grensdraad afry en sien of ons die jagluiperd gewaar?” Ons almal glimlag – hy is net so onwillig om ons te groet.
Daardie drie hoogtepunte wat ons gedeel het, duidelik ook vir hom spesiaal.
Kitsfeite:
- Qwabi Privaatwildreservaat is 216 km van Oliver Tambo Internasionale Lughawe en die bussie wat ons oplaai, het ons 2,5 uur ná ons vlug by die lodge afgelaai.
- Foto’s is met die Canon EOS R10 geneem. Dit is baie lig, skaars opvallend in ’n rugsak en neem goeie foto’s in selfs swakker ligtoestande in die reservaat. Die lenstegnologie verskaf ’n hoër-as-gemiddelde skerpte onder uiteenlopende toestande. Twee lense – die Canon RF 24-50 en 55-210 mm – het feitlik elke situasie gedek.
- Bespreek jou verblyf by Qwabi by Newmark wat die reservaat se gasvryheidsvennoot is, by reservations@newmarkhotels.com.
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf