Die lekker aand by The Big Kettle waar ons gekuier het, wat elke Dinsdagaand by die Western Hotel, Royal Square, St Ives vertonings lewer.
...
Die eerste maal dat ons paaie met lewendige jazz kruis, is baie jare gelede in New York – daarom die heimwee in St Ives.
...
Ons beland onlangs heel toevallig een yskoue aand in ’n vertoning by die St Ives Jazz Club in Cornwall en toe ek die program in my hande hou, sien ek hul slagspreuk: “The last jazz club before New York”, en my gedagtes loop wye jazzdraaie – verby New York, Las Vegas en New Orleans, tot by Berlyn en Newtown.
St Ives in die dag
Dié toevalligheid blyk iets te wees wat deel van ons reise geword het. Ons hoor iewers ’n halwe lekker storie en gaan dan op ’n skattejag tot ons iets vind wat ons groot genot gee. Soms is dit só op die nippertjie dat ons nie eers hoef te betaal nie. Maar die beloning is altyd goeie jazz en nuwe vriende.
Die eerste maal dat ons paaie met lewendige jazz kruis, is baie jare gelede in New York – daarom die heimwee in St Ives. Ons het deur ’n Suid-Afrikaner ’n woonstel in Manhattan bespreek, wat hy teen spesiale Suid-Afrikaanse tariewe uithuur. Hy gee so ’n bietjie raad aan dié twee New York-groentjies: waarvoor om op die uitkyk te wees, wat om te vermy en waarheen ons moet gaan. “Hou julle van jazz?” is een van die vrae wat ons antwoord. “Dan is Arthur’s Tavern een van jul eerste stopplekke. En koop ’n CD, maar onthou hulle neem net kontant!”
The Grove Street Stompers is ’n instelling by Arthur’s Tavern in Grovestraat. As jy by die moltreinstasie by Christopher Street–Sheridan Square uitkom, hoor jy die jazzklanke elke keer as iemand die klub se deur ooplos. Die klub is 99 meter van die stasie af. Hulle speel sedert 1962 elke Maandagaand Dixieland en tradisionele jazz by Arthur’s Tavern! In 2022 het hulle hul 60ste herdenking gevier waarin hulle net twee maal nie opgetree het nie: op 25 November 1963 toe die taverne gesluit is vir President John F Kennedy se begrafnis en gedurende die Covid-pandemie.
Nou wonder jy seker ook wat die verskil is tussen wat baie as tradisionele jazz en Dixieland-jazz beskou? Ons natuurlik ook! Toe ons plek kry by ’n tafeltjie en ons drankies bedien word, trek ons die kelner nader. Hy verduidelik soos volg: “Die verskil is basies Dixieland se gebruik van ‘kollektiewe improvisasie’. In plaas daarvan om elke musikant met individuele solo’s te segmenteer, gebruik Dixieland die unieke klank van elke instrument om een harmonieuse klank te skep.” Mondvol, maar waardevol!
Die orkes is deur sy pianis en leier, Bill Dunham, begin wat die laaste staande oorspronklike lid was voordat hy in 2016 oorlede is. Die huidige leier, Peter Ballance, ’n selfopgeleide tromboonspeler en bedags ’n bankier, het in die 1970’s by die groep aangesluit. Hy beskryf die groep se musiek as ’n mengsel van Dixieland en swing, “soort van die Eddie Condon-styl”. Die baskitaarspeler/sanger, Mike Weatherly, is al 14 jaar by die groep. Die klarinetspeler, Joe Licari, het in Augustus 2004 by die groep aangesluit. John Halsey het wyle Bill Dunham vervang en ander huidige lede sluit in Barry Bryson op trompet en Giampaolo Biaggi op tromme.
Die orkes glo aan ’n “insit-beleid” wat professionele en amateurmusikante verwelkom om by hulle op die verhoog aan te sluit. In 1986 het die New York Times geskryf: “Die orkes se spel het die los, ontspanne swing van ’n jamming-groep gekombineer met ensemble-spel wat verbasend skerp was vir die kombinasies wat soms besoekers ingesluit het.”
Ons lees later dat die Wall Street Journal in 2012 met hul 50ste herdenking geskryf het: “Dit is ’n prestasie van 50 jaar van uithouvermoë en deurlopendheid wat feitlik ongeëwenaard is in die stad se musikale geskiedenis, en met goeie rede: Min klubs of orkeste bly lewensvatbaar oor daardie tydperk. Maar The Grove Street Stompers het dit vir vyf dekades aan die gang gehou en Arthur’s Tavern in die West Village het die groep sedert 1962 elke Maandag op sy kalender gehou. Vir jazzmusikante is die Stompers se konsekwentheid beide ’n wonder en ’n inspirasie.”
Twee geboutjies naby ons hotel, die City Lodge Hotel Newtown, wat soos Edwardiaanse ablusiegeriewe lyk, staan nie ver van mekaar nie. Een hiervan was die Kippies-jazzklub en die land se bekendste jazzmusikante, waaronder Hugh Masekela, Jonas Gwangwa, Hotstix Mabuse en Abdullah Ibrahim (wat die klub se naam voorgestel het), het hier opgetree.
En net daar begin ons liefde vir lewendige jazz in weggesteekte klein klubs regoor die wêreld.
Ons sit een aand in ’n motelkamer in Lynchburg, Tennessee, waar ons die volgende oggend na die Jack Daniels-distilleerdery gaan. Met die rondsoek op die televisie vir iets om te kyk, kom ons op My blueberry nights af, die rolprent waarin Norah Jones haar filmdebuut gemaak het. Die jazzklankbaan, met Norah wat die rol van Elizabeth speel, maak ons dankbaar dat ons reis ons volgende na Nashville lei en laat ons ook net daar besluit om met ons volgende Amerika-reis beslis in Las Vegas en New Orleans ook aan te doen.
Die klankbaan word toe natuurlik ook ons reismusiek vir die volgende twee weke. Ons vind selfs ’n radiostasie wat net jazz speel en die insetsel Jazz, jazz, jazz in ’n lae baritonstem gereeld tussen snitte inspeel. Dit word die mantra van ons Amerikaanse padreis in ’n reusevoertuig waarvan die enjin soos ’n tevrede draak pur.
In Nashville is die Bourbon Street Blues and Boogie Bar een van ons uithangplekke. Saans is die musiek, atmosfeer en “koktyls” almal ewe lewendig! In die halfdonker maak jy maklik vriende met die mense by die tafel langs jou, terwyl almal se voete lekker ritmies saam tik op blues- en jazzklanke.
Maxan Jazz in Decatur Boulevard in Las Vegas is nog een van daardie plekke wat toevallig oor ons pad gekom het. Ons sit een aand in die ry vir ’n vertoning van die bekroonde Blue Man Group by die Luxor Hotel. Die groepie agter ons in die ry gesels ywerig oor hul aand by dié klub en hoe lekker die ervaring was.
Daar is geen toegangsgeld nie, maar jy moet ’n minimum op kos en drankies spandeer. Ons is gelukkig om in die week in te loer, dan is dié minimum minder as naweke, wat die plek natuurlik stampvol maak.
’n Kelner vertel dit word besit deur Max en Angie en daarom die Maxan-naam. Hy is oorspronklik van Indonesië en die musikante wat hier optree ook dikwels van die ooste, wat jou die kans gee om minder bekende name op die verhoog te sien. Die spyskaart is enige soesji-liefhebber se droom en dis heerlik om nie enige raserige messe en vurke te hoor tydens die optrede nie, net klappende stokkies wat soesji balanseer!
Straatmusikante
Ons sit elke aand tydens ons kuier in ’n ander klein klub in New Orleans, soms is dit só vol dat ons met ons drankies voor die badkamer- of kombuisdeur moet staan en kort-kort moet opskuif as iemand die deur oop- of toemaak, drankie stewig bo ons koppe om nie een kosbare druppel te mors nie. (Ja, die wisselkoers is ons mos nooit genadig nie en een drankie gewoonlik ’n plaaslike ete se prys.) Soms is die plekkies só klein daar is net 25 mense binne en mense drom buite op die sypaadjie saam vir ’n kansie om af en toe ’n jazzklankie te hoor.
Bedags sit straatmusikante op elke oop stukkie binnehof en speel jazz, heerlike agtergrondmusiek terwyl jy die stad verken.
Die orkes aan boord van die Steamboat Natchez
Een middag onderneem ons ’n veerbootrit op die ellelange Mississippirivier en natuurlik is die vermaak vir gaste op die Steamboat Natchez ’n lewendige jazzorkes. Hoe lekker om jou oor te gee aan die nostalgie van vergange dae met bekende wysies. Die orkes, die Grammy-genomineerde Dukes of Dixieland, is net die regte medisyne vir ’n lang bootvaart.
Ons laaste aand in Berlyn – ook onwetend ons laaste oorsese reis vir drie jaar danksy die pandemie wat Oujaarsdag 2019 in China uitgebreek het – is by The A-Trane, een van die oudste en bekendste jazzklubs in die stad. Dis nie ver van ons Airbnb nie en in Bleibtreustraße, Charlottenburg geleë en ook heel toevallig aan ons genoem terwyl ons die toeristereiskaart by die toerismekantoor koop.
Wynton Marsalis, Herbie Hancock, Brad Mehldau en Diana Krall het al almal hier gespeel. Die klub is vernoem na John Coltrane (wie se bynaam Trane is) en die gewilde jazznommertjie, “Take the A Train”, wat Duke Ellington bekend gemaak het.
Kevin Spacey, wat een aand hier gestop het vir ’n drankie, het glo heel spontaan “Fly me to the moon” uit sy fliek, Beyond the sea, die biografiese film oor die sanger-akteur Bobby Darin waarin Spacey die hoofrol vertolk het en die mede-skrywer, mede-vervaardiger en regisseur was, begin sing. Niemand só bekend was daar met ons besoek nie, maar die lekker musiek het tog die gedemptheid van die virusnuus effe verlig.
Ons dakwoonstel
Maar eers gou terug by die St Ives-klub: Ons huur ’n dakwoonstel bo die ou hotel in St Ives. Onder by die ingang is die Kettle ’n Wink-kroegie wat met ’n deur verbind is aan ons ingang, maar ons kom nooit daar nie, geniet eerder ons eie drankies in ons woonstel. Die teken wat sê daar is lewendige musiek en die klein plakkaat vir die opkomende vertoning vang my oog, maar registreer nie regtig nie.
Ons dakwoonstel was heelbo in die hotel en privaat uitverhuur, daarom was ons onbewus van die lekker musiek in die kroegie.
Ek draf een aand af by die trappies na ons dakwoonstel se deurtjie om melk te koop by die Co-Op oorkant die straat. Toe ek die onderste deur van die hotel oopstoot, kom die jazzklanke in die ooptes tussen die trappe op. Ek gaan koop die melk en bel my geliefde op WhatsApp om af te kom. Die ketel het gekook vir tee, dit storm buite en hy is in sy nagklere, maar ons mis nie jazz nie. The Big Kettle-jazzklub is net een maal per week oop.
Ek kry ’n pamflet en lees: St Ives Jazz Club is in Junie 1998 gestig en sedertdien is topklas-moderne jazz in die pragtige St Ives te hore. Die klub was twee keer op die kortlys in die Parlementêre Jazz-toekennings as Jazz Venue van die Jaar en het dit in 2015 gewen.
Die klub stel van die beste internasionale en Britse musikante, topklas-streek- en inwonende spelers, belowende jong talent en kollegegroepe, alles binne ’n gevarieerde program en oop vir alle ouderdomme, aan die publiek beskikbaar.
Die St Ives Jazz Club kom tans een Dinsdag per maand bymekaar en hul susterklub, The Big Kettle, waar ons gekuier het, vir al die ander Dinsdae by die Western Hotel, Royal Square, St Ives. Die St Ives Jazz Club gaan voort om toerkunstenaars en -groepe te bevorder, terwyl die Big Kettle plaaslike musikante en musikante bevorder wat die aand wil insit.
Ons luister vir ’n uur jazz, drink ’n lekker koue pint voor die kaggel voor ons die twee verdiepings – verkwik – opdraf terug na ons nes.
Op die trein
In die trein terug Londen toe ’n paar dae later is dit plaaslike jazz in ons oorfone, terwyl die skilderagtige landskappe verbyflits.
Sam Mathe se boek, From Kippie to Kippies and beyond, wat nou deel van ons boekversameling is en groot genot verskaf in ons ontdekking van SA jazz.
Ook plaaslik is ons gereeld by die Internasionale Jazz-fees in Kaapstad waar ons twee maal vir Abdullah Ibrahim in aksie kon sien; by die destydse Jazz-fees wat deel van die Hermanus Walvisfees was het ons laataand in skemerklubs uitgehang. En weer met die toeval langs, verlede jaar in Johannesburg staan ons naby die City Lodge Hotel Newtown voor die standbeelde van Brenda Fassie en Jeremiah Morolong (Kippie Moeketsi), nadat ’n vreemdeling ons oor klewerige hoenderdytjies daarvan vertel het. Lees meer oor dié ervaring hier.
Sam Mathe, skrywer van From Kippie to Kippies and beyond, die eerste ensiklopedie van SA township-musiek, gesels by die Toyota US Woordfees met Chris du Plessis onder die titel “From the smoky jazz halls of yesteryear”.
By die Toyota US Woordfees in Oktober verlede jaar bring die praatjie “From the smoky jazz halls of yesteryear” die Suid-Afrikaanse jazzgeskiedenis in perspektief. Met Sam se boek, From Kippie to Kippies and beyond, onder die arm, sit ons menige naweek met plaaslike jazzklanke oor die luidsprekers en ontgin ons land se jazzlegendes. Ek skryf meer daaroor in hierdie berig.
Bedags sal jy nooit kan raai dat die klein straatjie, Rue de la Huchette in Parys, só besig kan wees nie. Die jazzklub is amper onsigbaar; al wat verklap daar gaan iets aan, is die klein swart bordjie links voor in die stegie.
En ons mees onlangse, toevallige jazzgeleentheid is twee weke gelede reg langs ons Airbnb in die Latynse Kwartier in Rue de la Huchette, Parys. Dis een van die oudste (en nouste) straatjies in die stad en loop parallel met die Seine, amper aan die voete van die Notre Dame.
Saans is Rue de la Huchette in Parys ’n perd (straat) van ’n ander kleur en die Caveau de la Huchette dié plek om te wees vir die stad se beste jazzervaring.
Ons sukkel vir ’n paar uur om ons gasheer – en uiteindelik die sleutel – in die hande te kry. Die straat is gepak en ons staan met al ons bagasie op die sypaadjie voor die klein deurtjie na ons verblyf by nommer 7. Die gawe man by die deur van die jazzklub, La Caveau de la Huchette by nommer 5, het ons die klub se Wi-Fi-wagwoord gegee toe ons ons dilemma verduidelik sodat ons ons gasheer kan bel.
Caveau de la Huchette
Die ry vir die jazzklub is baie lank en ons word sommer so spontaan deel van dié ry se lekker atmosfeer. Weer speel die musiek van diep binne die klub uit op die straat, elke keer as die deur oopgaan. Ek vind my irritasie vir ons gasheer verdwyn vinnig toe my voet begin saam tik op die strelende jazzklanke.
Die klub speel al sedert 1946 elke aand jazz in hierdie gebou wat lank voor 1551 al begin het met vergaderings van allerhande geheime organisasies soos die Vrymesselaars, Knights Templar en Christian Rosenkreuz se Rosicrucians. Die twee ondergrondse grotte het vandag steeds tekens van die geheime vergaderings – en teregstellings – wat eeue gelede daar gehou is, met die diep put waardeur alles wat nie vir ander se oë bedoel was nie, verwyder is. Twee geheime tonnels het die grotte met twee verskillende strate verbind.
Ons sit elke aand tydens ons kuier in ’n ander klein klub in New Orleans, soms is dit só vol dat ons met ons drankies voor die badkamer- of kombuisdeur moet staan en kort-kort moet opskuif as iemand die deur oop- of toemaak. Die keuses is legio.
Maar met Frankryk se bevryding het die musiek van New Orleans die straatjies van Saint-Germain-des-Prés oorgeneem en Caveau de la Huchette van die wêreld se voorste jazzmusikante hier laat optree. Mense praat vandag nog oor Sidney Bechet en Lionel Hampton en sy orkes.
Ons eet in die wynkroeg en restaurant, Les Marchands de Vins in Clichy, Parys, en die jazzmusiek is ’n strelende agtergrond. Toe ek badkamer toe gaan, is daar ’n kitaar in die venster en ek wonder hoe gereeld hier ná almal huis toe is luidkeels musiek gemaak word.
Die Caveau de la Huchette het selfs vir Alan Sytner – destyds ’n student in Parys – geïnspireer om die bekende The Cavern in Liverpool te open, wat sinoniem geword het met die Beatles.
Ons is almal in vakansieluim, dis Nuwejaarsnaweek en mense gesels en grap maklik oor en weer. Die klub aanvaar geen besprekings nie, maar mense lyk nie vreeslik gepla om te wag vir ’n plek nie.
Vir die volgende agt dae is die rye elke aand weer net so lank as ons daar verbygaan na ons verblyf toe en my hart word elke keer warm as ek dink hoe welkom die gulheid was toe ons gedink het ons slaap op straat!
Ek kan amper nie wag om te sien waar ons volgende toevallige jazzgeleentheid sal wees nie.
- Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
Lees ook
Borrel, borrel, vele stof tot nadenke by Woordfees | Toyota US Woordfees 2023