Mooi. Goed vir die siel.
Dis ’n baie moeë Britse kollega wat blitsvinnig in Suid-Afrika kuier, wat smeek vir ’n dag in die wynlande saam met ons. Sy lys ’n rits dinge wat sy wil doen om haar kop skoon te maak, goeie wyn te proe en ons uitstekende cuisine te geniet. Ek moet vinnig vir haar sê: “Hokaai perdjie” want een van die dinge wat sy wil ervaar, is die Franschhoek-wyntrem en dis ’n hele dag se avontuur.
As jy die vallei van die ander hoek af benader, is daar Haute Cabrière – the home of Pierre Jourdan.
Sy werk vir Norwegian Cruise Line en woon in Brittanje. Ons het pas agt dae aan boord die Norwegian Dawn saam met haar meegemaak en wil graag vir haar wys hoe mooi ons land is.
Ons het ons kaartjies, ons afslagkoepons en is reg vir die dag!
Die besprekingstoonbank by die Franschhoek Wine Tram se hoofterminaal op die hoek van Hoofweg en Cabrièrestraat is besig: die vyf gekleurde lyne waar trems en bussies wat baie soos trems lyk, arriveer en vertrek en personeel beduie waar jy moet kyk vir jou lyn se kleur en sorg dat almal by die skedule hou. Daar is ’n blou, oranje, pienk, rooi en donkerblou (navy) lyn en alles werk op ’n “bus-eerste” of “trem-eerste” beginsel, sodat jy al twee vervoeropsies in volgorde kan geniet, maar ook by al die plase kan uitkom wat nie langs die spoorlyn lê nie.
Heerlike avonture op ’n mooie trem.
Ons kry koffie en ’n koudingetjie by die terminaal se oulike koffiewinkel, Café Beignet, en ek begin oplees oor die geskiedenis van die trem en sommer om vir haar agtergrond te gee oor hoekom alles hier in die vallei so Frans is!
Daar waar die spoorlyn jou nie per trem kan neem nie, is die trembussie jou maat!
Die oorspronklike spoorlyn waarop die trem ry is in 1904 gelê om as alternatief vir ossewaens te dien, sodat boere hul produkte vinniger op die mark kon kry. Ek wonder hoe hierdie vallei 120 jaar gelede gelyk het.
Vir baie jare het stoomlokomotiewe langs die roete gewerk totdat diesellokomotiewe in die 1970’s oorgeneem het, en toe in die 1990’s, namate die behoefte aan spoorvervoer afgeneem het, het diens langs die spoorlyn afgeneem. Vir meer as ’n dekade het die spoorlyn dormant gebly totdat die lewe in 2012 teruggekeer het en die spoorlyn weer kon begin sing onder treinwiele.
Die oorspronklike enkelvlak-trem, ook bekend as die Brill Tram, is hoofsaaklik gebou om vir die Franschhoek-besoeker ’n splinternuwe manier te bied om die Franschhoek-vallei te verken. Vir die eerste keer kon gaste uitsigte geniet wat voorheen net vir treinpassasiers beskore was en toe ook nie meer nie.
Die nuutgeboude dubbelvlaktrems, wat in 2017 in gebruik geneem is, is geskoei op die Blackpool Corporation Double Deck Balcony Tramcar wat uit 1923 dateer. Die byna vyf meter hoë dubbelvlaktrems gee aan passasiers ’n unieke uitkykpunt van waar hulle die platteland en wynlande kan ervaar.
Die mooi landskap gly stadig buite die trem verby.
Elke trem het sitplek vir ’n maksimum van 76 passasiers op gemaklike omdraaibanke, wat gaste in staat stel om uitsigte in beide rigtings te geniet. Die trem het ’n topspoed van 32 kilometer per uur en ’n totale gewig van ongeveer 20 ton wanneer dit vol gelaai is. Die trems is in Suid-Afrika ontwerp en gebou deur DCD Rolling Stock.
Die afwesigheid van ruite maak dat jy regtig die windjie in jou hare kan voel en toe die eerste klein stasietjie voor ons sigbaar word, dink ek onwillekeurig aan Mehmet Murat İldan se aanhaling dat jou brein jou trem is; jy kan dit na enige stasie waarheen jy graag wil gaan, neem.
Rickety Bridge se piepklein perron
Rickety Bridge se piepklein perron met sy mooi gietysterwerk is beslis een wat kwalifiseer, dink ek so in die stilligheid.
Die treindrywer blaas die fluitjie en elke keer is daar ’n luide gejuig onder die gaste. By elke stasie wag daar ’n trekker met ’n sleepwa en die opgewondenheid onder die besoekers is tasbaar en die gebabbel in elke denkbare taal word al harder.
Een van ons gidse, ’n jong man, Naithan Naidoo, verduidelik dinge baie mooi: “As jy enigiets – insluitend jouself – op die trem verloor, moenie paniekerig word nie. Agterop jou kaartjie is ’n nommer wat jy kan bel. Ons stuur ons ‘soek-en-red-span’ om jou te kom haal en jy kuier net lekker verder.”
Hy verduidelik dat jy jou tyd goed moet bestuur: As jy te lank by een plaas kuier, verkort jy jou tyd by die ander. Beplan ook só: uur vir wynproe; uur vir eet. As jy dus albei wil doen, gun jouself twee uur om rustig te kuier, te proe en te eet, jou rekening te betaal en gou ’n draaitjie te loop, voor jy terugklim op die sleepwa om terug te gaan na die trem.
Ons “Safari Ferrari”
Hy help ons almal geduldig op die sleepwa en verklaar dis nou ons “Safari Ferrari”, wat natuurlik almal laat skaterlag en na hul fone laat gryp, want o, sosiale media kan natuurlik nie uitmis op hierdie mooie video van ’n groep luide toeriste agterop ’n sleepwa deur die wingerde nie.
Tata Mondi is ons drywer en sekerlik die mees gefotografeerde trekkerdrywer in hierdie vallei!
Die span by elke plaas waar ons stop werk soos ’n goed geoliede masjien. Wanneer die trekker arriveer, word jy verwelkom, gewys waar die ablusiegeriewe, proelokaal en restaurant is. Hulle herinner jou aan die vertrektyd van die trekker en sleepwa en antwoord enige vrae. Die toeriste verdwyn in elke hoekie, soos water oor droë aarde.
Hoe anders kan mens ’n lekker naweekdag deurbring as op ’n mooi wynplaas met yskoue borrels?
Elke lyn het spesiale aanbiedinge by verskillende plase en ons doen Cap Classique, rooi- en witwyne soos ons ontdek.
Ons lekker peuselbord by Rickety Bridge.
Ons geniet die peuselbord by Rickety Bridge saam met ons wynproe en ons Britse kollega se reaksie toe sy haar eerste byt in droëwors en later ’n koeksister gee, is iets wat ek vir altyd sal onthou! Die droëworsbakkie is oombliklik onder haar elmboog ingeskuif en alles daarin vinnig verorber; die koeksister is saam met haar laaste slukkie Cap Classique geniet.
Novinophobia
Ons moet natuurlik foto’s neem van die kelners se T-hemde met die woord Novinophobia – die fobie dat jou wyn sal opraak. Ons ken daardie fobie maar alte goed, veral ná Covid se wynverbod en weke se droë kele!
Daar is soveel erfenis vasgevang en mooi bewaar by Grande Provence.
By Grande Provence deel ons ’n tafel onder die horingou akkerbome met mense wat nie op die trem is nie en ook nie veel van Franschhoek weet nie. Ek lees op die wyntrem-webwerf dat die Franse erfenis hier oor meer as drie eeue strek.
Dit begin in die 1600’s ver oor die waters in Frankryk, waar die regerende Katolieke wydverspreide godsdiens-vervolgingstogte teenoor die Protestante gelei het. As gevolg hiervan het meer as 200 000 van hierdie Protestante vlugtelinge geword, aangesien hulle uit hul tuisland gevlug het om elders in Europa – baie op pad na Nederland – te gaan vestig. Die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie het toe al vir ’n hele paar jaar ’n klein kolonie aan die suidpunt van Afrika, bekend as die Kaapkolonie, regeer.
Die eerste Franse Hugenote het reeds in 1671 hier aangeland en teen 1692 was daar reeds 201 Franse vlugtelinge aan die Kaap. Vlugtelinge is na die Kaap gestuur op skepe wat oorspronklik ontwerp is om vrag te vervoer. Dit was natuurlik ’n lang en uitmergelende reis wat etlike maande geduur het. Dan het die arme mense hier aangeland op vreemde grond met bitter min besittings. Tog was die “vryheid” baie meer aanloklik as die vervolging van die Katolieke.
Nege van hierdie Hugenote-families het hulle in Franschhoek – of Olifantshoek soos dit destyds genoem is omdat troppe olifante in die gebied rondgeloop het – gevestig, nadat hulle grond deur die Nederlandse owerheid gekry het. Deur vasberadenheid en deursettingsvermoë het hulle die wildernis om hulle omskep in een van die mooiste valleie in die Kaap.
Tornado
Die mense saam met ons lig hul glase en ons drink ’n heildronk op die Franse se deursettingsvermoë en is dankbaar vir die mooie erfenis wat by dié landgoed bewaar gebly het. In die galery hang ’n beeldhouwerk van Anton Smit as deel van die solo-uitstalling, fragments, waar ’n klomp hande vervleg is. Dis getiteld Tornado.
Ek lees by die uitstalling: “Anton Smit se nuwe werke weerspieël ’n sterk geestelike perspektief op die kompleksiteite van die menslike bestaan. Hy beklemtoon die teenstrydighede in die lewe: lyding en vreugde; oorlog en vrede; plesier en pyn. Ons leef in ’n wêreld waar ons gebombardeer word deur visuele beelde van menslike pyn, maar Smit bied ons ’n gevoel van hoop met sy pragtige beeldhouwerke.”
Ons gas is mal oor dié ervaring en die diepe bepeinsing wat dit bring. Die vallei en die wyne en ons is waarlik #trotsSuidAfrikaans!
As jy gelukkig is, kry jy dalk die wynmaker van Chamonix, Neil Bruwer, wat besig is in die kelder, vir ’n vinnige geselsie! Ons klink ’n glasie saam met Neil daar tussen die wynvate.
Sy wil by Babylonstoren indraf vir ’n paar geskenke, maar ons verduidelik dis in die ander rigting en boonop op ’n ander kleur tremlyn en sy moet nou kies of sy die uitsigte van Chamonix en Dieu Donné hoog teen die oorkantse berge wil geniet, of wil inkopies doen.
Daar is natuurlik hopeloos te veel opsies om van te kies, maar van ons gunstelinge is Arkeste deur Richard Carstens op Chamonix.
Ons belowe darem om haar laatmiddag ’n paar ander mooi landgoedere te gaan wys dat sy die diversiteit van argitektuur en wynaanbiedinge tussen plekke soos La Motte en Paserene, of Le Lude en Boschendal, of Plaisir en Bartinney kan sien.
Ryan Shell se nuutste restaurant, Eleven.
Tussendeur het ons middagete bespreek by Eleven, die nuutste restaurant in die bekroonde sjef, Ryan Shell, se trilogie van Eleven, Ōku en Yama Asian Eatery. Laasgenoemde het beide volpunte op Tripadvisor en vier vanjaar hul vierde jaar. Eleven is die baba en het sy naam te danke aan sy straatadres in Hugenotestraat. Ons sit op die stoep en geniet hul nuwe middagete-aanbieding, terwyl die heerlikste wyne van die Kaap teen ons glase patroontjies maak.
Ek kan heeltemal verstaan hoekom ons Britse kollega soveel dinge op een dag wou inpas – ons land is regtig ’n besoekersparadys.
Liplekker by Franks Corner Bar and Grill.
Ek is wel dankbaar dat ons die riglyne gevolg het en deurentyd iets geëet het, genoeg water gedrink het, ons sonhoede onthou het en ons selfone se batterye volgelaai was, want genade, mense neem baie foto’s!
Franks Corner Bar and Grill
Ons is vrolik, maar stokflou etlike ure later toe ons onder die bome by Franks Corner Bar and Grill inval. Die son sak goud oor die vallei en maak patroontjies teen die spierwit geboue. Daar is lekker gees in die strate en ek is dankbaar om my eie land weer só deur ’n oorsese kuiergas se oë te kan sien en ervaar. Die bier is yskoud, die Nashville-hoender het ’n lekker byt, die koolslaai is krakerig en geurig en die mielies met parmesaan liplekker.
As jy laatmiddag in ’n wingerdboord kan staan en vry kan wees...
Dis die passieprojek van die Amerikaanse entrepreneur – en trotse Franschhoek-inwoner – Frank Rodriguez wat sy goeie vriend en bekroonde sjef, Reuben Riffel, se kulinêre vaardighede en die gasvryheidsvernuf van sy sakevennoot en mede-eienaar van die restaurant, Alex McCormack, ingespan het om ’n kontemporêre eetbestemming te skep, wat ’n vars benadering tot moderne Amerikaanse kookkuns bied.
Net om ons kollega vir oulaas te koggel met die skoonheid van die Kaap.
Kitsfeite
- Bespreek jou kaartjies vir die Franschhoek Wine Tram by 021 300 0338 of info@winetram.co.za of loer by https://winetram.co.za/ vir meer inligting oor die lyne, bestemmings en meer. En deel natuurlik na die tyd jou herinneringe op hul sosiale media-bladsye: Facebook: www.facebook.com/winetram; Instagram: www.instagram.com/winetram; of X (Twitter): www.twitter.com/WineTram.
- Bespreek vir jou middag- of aandete by een van Ryan Shell se lekker restaurante by https://eleveneats.co.za/. Al drie restaurante is in Hugenotestraat en ’n katspoegie uitmekaar.
- Bespreek jou tafel buite onder die bome by Franks Corner Bar and Grill via www.franks-corner.com.
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf