Meer as twee dekades gelede kom die geleentheid oor ons pad om Provence in Frankryk met ’n kampeerwa plat te ry. Ek volg my neus en snuffel elke denkbare laventelland uit, want ná grootwordjare in die rooisand van die Kalahari wou ek myself oortuig daardie rye en rye pers is meer as foto’s op jou rekenaar se tuisskerm.
Die heuwels met wuiwende laventel, ooms wat op klipharde klein dorpspleine pétanque speel en aan pastis – daardie anysgegeurde drankie wat so eie aan Frankryk is – teug en lang middagetes by staaltafeltjies met gedraaide pote en marmerbladjies onder berke-, olyf- of vyebome, het my waarlik laat lééf en droom.
Ek het oral my neus in laventelsepies, -kersies en -olie gedruk tot ek die soetste een uitgesnuffel het en daarvan vir al my vriende huis toe gebring het.
Iets aan laventel vertroos my al sedert my kinderdae, maar met my liewe moedertjie al vir jare onder die grond kan ek nie eers by haar seker maak presies watter verbintenis ek daarmee het nie.
Nou wonder jy, liewe leser, seker hoekom ek nou op só ’n nostalgiereis is. Goed dat jy vra. ’n Paar weke gelede beland ek toe weer in laventellande. Nou wel nie op die Franse platteland nie, maar weer onder ’n boom. Dié keer ’n reuse-, ou akkerboom buite Franschhoek in ’n stuk aarde wat sekerlik meer keer gefotografeer is as die Hugenotemonument op die einde van die dorp se hoofstraat.
Iets aan die historiese ou veepos, ’n klein geboutjie met witgekalkte mure en wat tradisioneel jare gelede ’n rietdak sou hê, met die rook wat by die skoorsteentjie uitwarrel, troos my toe 23 jaar ná my Frankryk besoek.
Die geleentheid is ’n nostalgiereis van reusagtige betekenis vir elke Suid-Afrikaner wat dit meemaak en ’n kulinêre fees vir oorsese gaste. Jan Hendrik van der Westhuizen, Suid-Afrika se eerste Michelin-ster sjef wat ’n internasionaal-gerekende restaurant in Nice, Frankryk bedryf, het ’n kos-en-wynverrassing in die voormalige veepos.
Maar wag, voor ek die wa voor die perde inspan, kom ons begin by die begin. Jy arriveer by die historiese La Motte-wynplaas aan die buitewyke van Franschhoek. Die son maak pienk en oranje en grys wolkies bo die berge. Die swaar ysterhekke gly oop. Die laning bome na die herehuis waar die liggies verwelkomend brand, is effe skemer toe ons parkeer.
’n Jong man kom haal ons by die motor met ’n reuse-, swart sambreel. Misreën draai nou lekker tiekie tussen die ou akkerbome en die herehuis se donkergroen bodeur staan verwelkomend oop.
Binne brand die La Motte Cap Classique 2018 yskoud en beskuiterig op my tong. My maag laat van hom hoor en ek besef die ontbyt van baie ure gelede het nou sy doel gedien. Ons honger ons al heeldag uit vir die fees wat oorkant die pad wag.
Groepies van vier of ses mense word in ’n budgieblou 1972-Volkswagen-kombi na die veeposhuisie deur Rayno Kroeger aangekarwy.
Die reuk van laventel vul die aandlug soos jy tussen die bossies afstap na die huisie. Asanda Sweli se glimlag is gul. Die luike van die klein venstertjies is oop, uitnodigend. Binne brand kerslig geel en verwelkomend. Teen die muur leun twee rietbesems neffens ’n ou houtleer asof iemand vaneffe nog werf gevee het.
Die knop in my keel is van lekker onthou, van goeie kinderjare toe jy nog kon glo jou ouers sal vir altyd alles vir jou uitsorteer en dat mense gaaf en lief is. Van werfhoenders en besems waarom stofwolkies draai en wit, gestyfde lapservette en groot eetgerei met been of ivoor vir handvatsels.
Tree by die lae deurtjie in die halfskemerte in en sien daar is net een langtafel. Ons is effe skugter vir die ander gaste, ken niemand nie. Voor jy kan paniekerig word oor hoe jy heelaand gaan geselsies maak met vreemdelinge, is Tina Titus by en nooi dat ons eers moet hande was. Die waskom en beker in Delft-blou en wit, die wit en blou koekblik met netjies-gevoude afdroogdoekies en die horingoue emaljekommetjie vir die nat doekies wag eenkant op ’n tafel met ’n gehekelde tafeldoek bo-oor.
Die louwarm boegoewater loop oor my hande. My oë skiet vol trane. Die onthou, die verlang na mense wat lankal stof is, die onskuld van kaalvoet grootword vlak in my bors.
Met ons skoon hande gaan sit ons by die tafel, stel onsself bekend en drink ’n lekker verfrissende boegoedrankie met lemoensap en La Motte se Cap Classique wat Tina vir ons in fyn wynglase bedien.
Die reuse-lapservet met Jan Hendrik se voorletters op geborduur, is toe linne en bedek my bobene en knieë soos ’n outydse kniekombers. Troos.
Ek kyk op na die riete wat die plafon bedek en hoor hoe die Laurika Rauch-liedjie “Sonvanger” speel tussen die gedroogde laventel en skaapbos en kalbasse wat tussen die houtbalke hang, deur.
“Kyk of jy vir my die son kan vang;
Daar’s ’n kamer in die huis waar ons die son kan hang;
Dis donker by die venster in die middel van die dag;
Onthou jy hoe helder die kamer kon lag.”
Hoe gepas. ’n Mens sou die son hier tussen die gedroogte bossies bo die ou kersblakers en wit tafellinne kon ophang.
Die eerste kos-kunswerkie word voor ons almal neergesit. ’n Ingewikkelde patroon in ’n wit servet wat met kruiestokkies aan die kant pronk. In die middel is drie klein happies: Biltong-lamingtons, ’n braaibroodjie-makrolletjie en bobotie-jaffle choux met ’n glas koue Vin de Joie Rosé 2018.
Sous-sjef Cornel Abrahams sê: “Ruik die wilderoosmaryn op jou bord. Druk die fynbos tussen jou vingers en ruik dit. Laat dit jou neus vul. Ons hou van forage en nooi jou saam.” In die kombuis kook Martin Beukes, Louise Wessels en Betty Morgan vir ons.
Elke happie is ’n ontploffing nostalgie op jou tong: Kerkbasaar, begrafnisse, draadtuinstelle op dik groen grasperke, safaripakke, lang sokkies met kamme in, Brylcreem en motors met aaneen-sitplekke voor en agter. Inry.
Skielik is die Afrikaanssprekendes langs ons nie meer vreemdelinge nie. Ons deel herinneringe uit ons kinderdae, lag vir mekaar se opmerkings en help verduidelik vir ’n Duitse vrou ’n paar stoele aan oor wat ons eet, die geskiedenis, hoe onlosmaaklik deel van ons wese ’n braaibroodjie op die kole met kaas, tamatie, uie – en soms blatjang – is.
Sy geniet ons beskrywings en herinneringe, maar vir haar is dit net hemelse kos. Heel moontlik neem die geure op haar tong haar ook na ander wêrelde, maar dis nie ons gedeelde wêreld in die sagte lig van die vuurtjie nie. En dis goed so.
Hoe verder die aand vorder, hoe stiller word die groepies vriende. Elkeen verdwaal in sy eie grootword; herleef sy eie troos in sekere smake.
Ons verduidelik nie meer die geregte vir die Duitse vrou nie. En ons kan sien dis goed so.
Die sjefs kom om die beurt uit die kombuis om te vertel wat op ons borde is, wat in ons swaar kristalglase geskink word.
Ons eet forel-en-komkommer-somerslaai met Pierneef Sauvignon blanc 2022; koolstoof-roosterbrood-consommé met koue botter en babamosbolletjies met La Motte Chardonnay 2020. Die warm consommé word in elke sjampanjeglas geskink voor die sagte botter met “klein laventelstokkies om die laventellande buite te eer” in die louwarm broodjies insmelt.
Ek druk die laventel tussen my vingers en maak my oë toe, toe ek die geure opsnuif. Ek kan amper weer die pétanque-balle teen mekaar hoor klap; die soet pastis op my tong proe. Die laventel bring weer ’n onverklaarbare troos.
Die gevriesde appel, tête de moine, Bergrivier-tilapia met skelvismelk-velouté met die JAN White Blend is liplekker en daar word verduidelik die tête de moine se patroontjies is geïnspireer deur Jan Hendrik se ouma se gunstelingblom, die angelier.
Toe die spyskaart aankondig die volgende gang is kookkos met die Pierneef Syrah Viognier 2019, gons die tafel. Wat sou vir Jan Hendrik “kookkos” wees? Boontjiebredie? Bobotie? Skaapboud? Gebraaide hoender met goudbruin aartappels?
Elkeen raai en elkeen het ’n storie oor ouma se kookkos, daardie Sondagmaaltye om die langtafel met die blinkgepoleerde vloere, die staanhorlosie wat in die hoek die minute aftik en jy wat as jong kind net wil gaan speel en die grootmense en hul geselsies wil agterlaat.
Dis toe inderdaad ’n mengsel van vele van die disse wat ons geraai het, van tong met mosterdsous tot slaphakskeentjies (soet-suur, ingelegde uitjies) en ingelegde beet. Dis alles daar. My oë skiet weer vol trane. Die kelnerin kom sit ’n bordjie met pampoenpoffertjies met karamelstroop in die middel van die tafel neer.
Die verlang na my ma brand my bors. Hoe sal ek ooit vergeet hoe sy hulle gebak het en vir elke paar wat uit die kokende olie kom en met kaneelsuiker besprinkel is, mag ek en sy een proe “om seker te maak hulle is reg vir ons gaste...”
Die reuk van moerkoffie wat al heelaand op die vlammetjies in die oop vuurherd prut, vul die vertrek. Die musiek wat jy af en toe bo die gesels hoor, is nou Frans; Françoise Hardy – my oorlede skoonpa se gunsteling. Ons eet papbrandsel, kaas en konfyt met die JAN Red Blend; Nina Simone en Nat King Cole streel die gemoedere. Daar word tussen die nostalgie deur nuwe vriendskappe gesmee. Ons ruil telefoonnommers uit.
Die kaastafel is ’n Jan Vermeer-skildery. Die kerse en skynsel en ou silwer is amper te mooi om te eet en niemand wil die prentjie versteur nie.
Die tameletjie-meringue geniet ons laaste met die Boekenhoutskloof Noble Late Harvest Semillon. Die koffie is donker en sterk en bitter en net reg saam met mignardises. Een paartjie vier hul 26ste huweliksherdenking en een gas koop vir hulle ’n JAN-kookboek en vra dat almal – ook die sjefs en kelners – die boek teken en ’n spesiale boodskap skryf. Hierdie aand is een wat nie een van ons sal vergeet nie, maar boodskappies in ink is net soveel meer blywend.
Die besoekersboek kom verby. My geliefde trek die pen nader. Hy skryf vir Jan Hendrik van sy ouma, van Novilonvloere en vroue wat maaltye kook wat gaste se lippe laat blink het, van grootmense wat ná ete gaan skuinslê het en van verveelde neefs en niggies wat kattekwaad aanvang en wil huis toe gaan.
Die maan hang laag oor die vallei toe ons bykans middernag uit die intieme ruimte tree; die kerslig en geselligheid en gloeiende kole agterlaat. Terug in die budgieblou kombi is dit dieselfde liggame as ’n paar ure tevore wat na hul motors vervoer word, maar nie dieselfde geeste en siele nie.
’n Nostalgiereis met kos en wyn met ’n tydgenoot soos Jan Hendrik is iets wat jy moet ervaar. Dis OK om vir een aand weer te hunker na eenvoudiger tye, toe ooms met lang pype en hoedjies met ’n klein veertjie in by jou pa ’n brandewyn kom drink het voor hy die vuur aansteek vir braaivleis, dik boerewors, aartappelslaai en braaibroodjies en vir afsluit, basaarpoeding (yskaspoedings, vla, jellie en soms ingelegde vrugte).
Dan kuier die ooms met die hoedjies oor hul knie, terwyl die skaaptjoppie se vet teen hul ken afdrup en my pa tevrede glimlag oor vriendskap en samesyn en nuwe herinneringe maak in die laaste vlammetjies van die braaivleisvuur.
En jy weet daardie oorskietbraaibroodjie is môreoggend joune met koffie met kondensmelk in. Maar nooit sal jy dan kan weet van die mag van nostalgie wat in die reuk van laventel of kaneelsuiker of slaphakskeentjies lê nie.
Dit kom veel later.
- JAN La Motte keer van September vanjaar terug vir die tweede somerseisoen-opskiet.
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf