Paarl, die derde oudste dorp in Suid-Afrika, ná Kaapstad en Stellenbosch, vier vanjaar sy 335ste verjaardag. Dis ’n mengelmoes van argitektoniese skatte, die tuiste van die Afrikaanse Taalmonument, lappies wingerde in en om die dorp en heerlike kuier-ervarings op wynplase.
Maar nie elke ou herehuis met sy indrukwekkende Kaaps-Hollandse gewels is geskiedkundig en eeue oud nie, hoewel die vrede en atmosfeer wat jy daar ervaar, herinner aan die dae toe dinge nog eenvoudiger was.
Dis netjiese wingerdrye wat bak tot volryp en barstend, wat die geplaveide pad omsoom, toe ons by die nuwelingwynplaas in die vallei, Brookdale Landgoed, se hek indraai. Verder teen ’n heuwel wink die herehuis. Agter staan die Klein Drakenstein-berge amper beskermend soos ’n besorgde ma wat oor haar kroos waghou.
Die eerste ding wat jou opval as die reuse-onderdeur oopswaai, is die heerlike reuk. Terwyl jou neus nog in welbehae die geure inadem, kom ’n tweede geur verby: die reuk van varsgebak uit die kombuis. Die hitte buite word uitgesluit wanneer die reusebodeur toeswaai en ons ons warm gesigte met ’n yskoue lappie afkoel en ystee op die stoep geniet voor ons na ons kamer gaan.
“Dis Wild Olive se produkte wat jy ruik,” vertel die hoofbestuurder, Yvonne Coetzee, voor ek nog kan vra. En toe sy sien ons snuif die lug na die kombuis se kant: “Gary, my ander helfte en ons uitvoerende sjef, is besig met broodrolletjies vir aandete.”
Ons kamer kyk uit oor die wingerde, swembad en berge. Die swaar gordyne doof alle skerp lig en klanke uit en vir die paar uur wat ons op die bank lê en lees tot die ergste middaghitte bedaar en ons kan gaan swem, is die kamer ’n koel kokon.
Die swembad is ’n ervaring op sigself, want toe ons koppe uit die kristalhelder water opduik, vra ’n kelner of ons lus is vir ’n glas yskoue chenin. “Die druiwe is van daardie ou wingerde daar agter die bome,” verduidelik hy. Ons moet egter gaan aantrek – die tafeltjie en sambreel in die wingerde voor die herehuis wag met ’n wynproe.
Nadat ons in die kamer ge-oe en ge-aa het oor die tuisgemaakte olywe van die plaas, wat jy sommer met jou vingers uit die potjie haak, en varsgebakte koekies uit die kombuis wat in jou Nespresso verdwyn, is ons gelinne en gehoed vir wynproe.
Dis daar waar ons by Jacus Marais, die wynverkoopsbestuurder, hoor dat die landgoed eintlik ’n ware Aspoestertjie-verhaal is: Brookdale was eens oorgroei en verwaarloos. Die Rudd-familie van die Verenigde Koninkryk het die eiendom se potensiaal raakgesien en die 67 hektaar in 2015 gekoop.
Binne die bestek van ses jaar is daar nou ’n luukse gastehuis, nuwe wingerde is aangeplant, en ’n enkele blok ouwingerd-chenin blanc – na raming sowat 37 jaar oud – is gereed om in 2017 Brookdale se eerste wynvrystelling te word. Hier word Mediterreense variëteite, ’n unieke Paarlse terroir en ongewone wynmaaktegnieke saamgevoeg onder die visioenêre hand van Tim Rudd en die talentvolle jong wynmaker Kiara Scott.
Tim vertel ons oor ’n glas van dié chenin: “Die wynmaker Duncan Savage (Savage Wines) het Kiara se potensiaal vroeg raakgesien en haar as sy assistent aangestel. Hy is ons konsultantwynmaker by Brookdale. Met Kiara aan sy sy het hy die eerste oesjaar van die Brookdale Chenin Blanc in 2017 geskep.
“Die wyn het wêreldwyd aansien gekry en Brookdale se reputasie as ’n produsent van ’n wyn van karakter en elegansie gevestig. Kiara se ervaring onder haar mentor het gelei tot haar aanstelling as wynmaker by Brookdale en sy het vanaf die 2019-oesjaar die leisels oorgeneem.
Sy sê: “Ek het ’n eenvoudige en minimale inmengingbenadering tot wynmaak. Ek glo dat goeie wyne in die wingerd gemaak word. Jaar na jaar poog ek om ons wingerde en grond beter te verstaan om die werk in die kelder makliker te maak.”
Die Brookdale Chenin Blanc 2019 is die derde oesjaar van die landgoed se premium chenin blanc en het 93 punte van beide Greg Sherwood MW en Tim Atkin MW ontvang, en ’n 17,5 uit 20-telling van Jancis Robinson MW ontvang.
Die Rudd-gesin met Tim aan Brookdale se hoof het 27 hektaar wingerd aangeplant, uitheemse plantegroei verwyder en inheemse plante geplant, waaronder 3 700 bome en ’n uitgebreide tuin vir gaste van die Manor House om te verken.
Net agter die rantjie vorder die bouwerk aan ’n reusekelder en 80-sitplek-restaurant wat teen die draai van die jaar sal kan etes aanbied, en met die 2023-oes sal die druiwe op die plaas verwerk word. Tans word die wyn buite die perseel op die naburige plaas Avondale gemaak tot die voltooiing van die kelder en proesentrum.
Brookdale produseer tans drie wyne onder die Mason Road-etiket: ’n chenin blanc, syrah en rosé. Hierdie mediumvlakreeks word gemaak van druiwe wat deur die wingerdstokke rondom die herehuis geproduseer word.
Die Mason Road Serendipity Rosé is nie sommer net nie. Dis ’n versnit van syrah, grenache noir en cinsault, en terwyl die smaak van waatlemoen, aarbei en pomelo, met subtiele blomgeure, op jou tong talm, dra kelners snoepgoed van die kombuis aan.
Die plaas het verlede jaar geskiedenis in Suid-Afrika gemaak met die eerste oes van 'n 16-variëteit-White Field Blend. Altesaam 16 verskillende soorte druiwe is saam in dieselfde wingerd geplant, geoes, saam gegis en saam gevinifieer in die strewe om 'n skaars wyn van kwaliteit en onderskeiding te produseer.
Tim verduidelik: “Hierdie antieke benadering tot wynmaak was eens die norm toe Ouwêreldse wynmakers variëteite saam geplant het vir rypheid, sommige vir suur en ander vir kleur. Geurprofiele van veldversnitte wissel na gelang van die druiwe en word geprys vir die vlak van kompleksiteit, balans en elegansie.
“Brookdale se veldversnitwyne sal gemaak word van dieselfde druifvariëteite wat al eeue lank in Frankryk se Rhôneriviervallei, die Mediterreense kuslyn en die Iberiese Skiereiland floreer. Die groeiende gewildheid van hierdie variëteite spreek van ’n wye spektrum geure sowel as die veelsydigheid en genot saam met kos.”
Jacus verduidelik verder dat die 16-variëteit-White Field Blend enkelevariëteite insluit wat nie algemeen in Suid-Afrika voorkom nie, soos roussanne, vermentino, marsanne, petit manseng, alvarino, palomino, piquepoul blanc, verdelho, clairette blanc en macabeau. Almal lek nou hul lippe af vir die vrystelling op 11 April.
Brookdale het ook ’n 20-variëteit-Red Field Blend geplant wat tempranillo, touriga franca, souzao, grenache noir, agiorgitiko en alicante bouschet insluit. Dit gaan nog ’n paar jaar neem voor dié versnit vrygestel word.
Tim voeg trots by: “Vir Brookdale beloof ons wit en rooi veldversnitte wat ’n duidelike en uitdrukkingsvolle manier sal wees om nie net tradisie te vereer nie, maar ook om die wingerd se terroir ten toon te stel.”
Die herehuis, bekend as Brookdale Manor House, het laat in 2021 sy deure die eerste maal vir gaste oopgeswaai om gesinne, klein groepe vriende of individuele reisigers te akkommodeer. Die boetiekhotel kan 12 volwassenes akkommodeer (en twee kinders onder die ouderdom van 12 wat met ouers deel), voorsien in vyf en suite-slaapkamers in die hoofhuis en ’n sesde en suite-slaapkamer in die gebou langsaan.
Gary en Yvonne is gasvryheidspesialiste. Jy staan nie meer as ’n paar sekondes met ’n leë glas of koppie in jou hand voor Yvonne of een van die personeel dit by jou neem nie. Jou gemak is hul voorreg en soos wat jy deur die gastehuis kuier, is iemand by om jou ervaring nog meer genotlik te maak. Hulle het meer as tien jaar se bestuursondervinding by Singita in Sabi Sand, gevolg deur ’n dekade se versorging van die Kerzner-familielandgoed Leeukoppie in Houtbaai.
Wild Olive se produkte word regdeur die gastehuis gebruik en die reuke hang met aandete om al die gaste, wat varsgestort en -geroom uit hul koel kamers kom.
Aandete is ’n fees: Ons eet kammossels met habanero, komkommer, tandoori, blomkool met baba ghanoesj, pangebraaide geelbek met chenin blanc-sous, springbok met saffraan en gekaramelliseerde pekanneut en grenadella bavarois met sorbet. Die plaas se wyne is die perfekte pasmaat vir Gary se kookkuns.
Die rustigheid van Wild Olive se laventelgeure in ons kamer maak slaap ’n wonderlike, rustige ervaring.
Die volgende oggend is ons voor die son uit die vere, vir ’n stappie op die plaas saam met Tim. Hy beduie waar al die wingerdblokke geplant is waarvan ons die vorige dag gehoor het; ons gaan loer in die halfklaar kelder en luister hoe hy opgewonde van die glasmuur tussen die houtvate en restaurant vertel.
Ons kan nie wag om terug te keer as die restaurant en wynkelder klaar is en die twee veldversnitte deel van die plaas se aanbieding is nie.
Voor ontbyt is ons in die koel swembad, want die Paarl kan lekker warm word.
Voor ons ry, stap ek vir oulaas deur die kruietuin, waar ’n graaf argeloos teen ’n plantkrat leun. Mens se vingers jeuk sommer om ook in die vrugbare grond te skoffel. Die tuin is die handewerk en trots van Cleophas Kajekere, en dis hier waar Gary sy vars kruie en groente oes.
Toe ons groet, is ons motor gewas en Yvonne gee ’n reusesak grenadellas aan wat pas uit die welige rankplant langs die swembad geoes is.
Dis lank nadat ons weg is dat die soet reuk van die vrugte nog in ons neuse hang en die gulheid van die plaas met ons saamry.
- Foto’s: Brookdale Landgoed
Lees ook:
Jongste, unieke wynroete neem jou tot die suidpunt van Afrika