Die Agulhas-wyndriehoek (Agulhas Wine Triangle, of ATW) strek oor drie munisipaliteite: Kaap Agulhas, Overstrand en Swellendam, en word só genoem omdat dit ’n driehoek vorm van Gansbaai in die weste, tot by Napier, oor die Buffeljags en Malgas in die noordooste tot anderkant Elim in die suide. Dis Suid-Afrika se jongste wyngroepering – en uniek, omdat jy nêrens anders in die wêreld kan spog dat jou druiwe van die suidelikste punt in Afrika kom nie, skryf Maryke Roberts.
Die wynplase se name is nie onbekend nie: Lomond in die weste; Sijnn in die ooste; Black Oystercatcher Wines, The Berrio en Strandveld Vineyards in die suide. The Drift Estate is in die middel en Giant Periwinkle in Baardskeerderbos daarneffens; Olivedale Private Vineyards is naby Swellendam in Buffeljags. David Nieuwoudt van Cederberg Wyne se bekroonde Ghost Corner, sommige van Trizanne Barnard se Signature Wines en Land’s End word van Agulhas-driehoek-druiwe gemaak, so hulle is ook lede, vertel André Morgenthal, bemarkingsbestuurder van die wynroete, my oor ’n glas wyn.
Die groepering, wat soos ’n roete gery kan word, is verlede jaar gestig om die unieke terroir van die Agulhas-streek te vertoon. Die Wyn van Oorsprong Agulhas-etikette wat jy sien, verwys na ’n distrik binne die Kaapse Suidkus-wyk.
Die wyne van die streek het weens die koeler klimaat natuurlike lae pH en hoë sure, wat die wyne ook ideaal maak vir veroudering.
“Behalwe die vermoë om unieke wyne te maak, wat harte én medaljes regoor die wêreld verower, deel al die wynplaaseienaars ook ’n liefde vir die natuur. Lidmaatskap van verskeie bewaringsorganisasies is deel van die pakket, en soos wat indringers uitgeroei word, herstel die fynbos; die diere, voëls en plante keer terug en waar jy voorheen dalk ’n uil op ’n kamerastrik kon afneem, is dit nou luiperds, bosbokke en bakoorjakkalsies wat vir die kamera poseer.”
Elke plaas het iets endemies aan die streek in hul logo’s, etikette en slagspreuke gebruik. Die bedreigde swarttobie is daar; so ook die baardskeerderspinnekop, die suikerbekkie.
Dis ’n onverwags nat seisoen in die Kaap, en soos ons ry, maak die afgelope paar dae se reën klein watervalletjies onder die fynbos uit, wat klein riviere weerskante van die grondpad vorm.
Die glibberige pad dwing ons om stadiger te ry, maar ons draai ons ruite af en die fynbosreuke kom skop nes in ons neusgate.
Die lang grondpad kom uiteindelik tot ’n einde en ons draai links in by Lomond Wyne se bordjie. Dit kondig met trots aan dat die plaas die tuiste is van die Gansbaai MTB en my man steek sommer net vir sommer sy hand uit en vat aan sy bergfiets wat bo-op die kar se dak vasgemaak is. Lomond is die grootste plaas in die driehoek.
’n Paar koeie vreet in die veld langs die heining en kyk nuuskierig op toe ons inry. Hul groen plastieknaamplaatjies in albei ore laat dit lyk asof hulle groot oorbelle dra en is nogal komies.
Skaars 8 km verder is die klein vissersdorpie Gansbaai.
Die plaas se proelokaal, The TastingRoom@Lomond, het ’n pragtige houtdek op die dam en ek is dankbaar ons het die lekker kaas-en-vleis-bord bestel.
Ons sit in die loom sonnetjie en kyk hoe die ligte windjie golfies op die water maak. Oorkant die dam staan die kelder waar die volgende paar jaar se lieflike wyne in houtvate verouder.
Saam met die wynmaker Hannes Meyer proe ons die nuutste oesjaar se sauvignon blanc en die merlot rosé, een van hul beste verkopers, saam met die sauvignon en merlot. “Mense dink hierdie is net witwynwêreld, maar ons rooies is net so goed,” vertel hy trots.
Die peuselbord op ons tafel kreun van die plaaslike produkte en mens weet nie waar om te begin eet nie.
Hannes sê die wingerde lê om die dam en vele sportgeleenthede word hier aangebied, omdat dit die skoonste damwater in die land is. Dit is 4 km lank en gewild vir swemkompetisies.
“Wat dié area uniek maak, is dat dit nie gekommersialiseerd is nie. Baie dae kan besoekers soos julle in die middel van die week alleen hierdie saligheid geniet. En boonop maak elke plaas in die omgewing unieke wyne.”
Die eerste druiwe is in 2002 geplant, maar hy vertel dat Lomond in 2017 van Distell gekoop is en die nuwe eienaars, Geoff McIver en David Mostert, die plaas herbedink het. Die ou melkstal is keurig omskep in ’n proelokaal en die kelder is beplan. Hannes het in Junie 2018 by die plaas aangesluit, nadat hy tien jaar by Simonsig Wynlandgoed buite Stellenbosch as wynmaker gewerk het.
“Daar het net 82 dae verloop vandat die eerste masjinerie in die kelder arriveer het, tot ons die eerste druiwe ingeneem het. Die ouens wat ons aangestel het, het geen kennis van die wynmaakproses gehad nie en daardie eerste oes, 2019, was ’n uitdagende een,” vertel hy nou met ’n groot glimlag.
Hy sê voorheen is die druiwe Stellenbosch toe gery; nou is dit binne ’n halfuur nadat dit gepluk is, verwerk of in die koelkamer.
“Ons kon onmiddellik die verskil proe.”
Lomond het 130 ha onder wingerd en sauvignon blanc en shiraz is hul hooffokus, hoewel hul merlot ook baie gewild is. Die plaas het sy eie sauvignon blanc, merlot, shiraz, sémillon, nouvelle, cabernet sauvignon, pinot noir, mourvedre en viognier. Hulle het twee reekse: die landgoedreeks en die enkelwingerdreeks wat in baie klein hoeveelhede gemaak word.
Hannes het sy hand vanjaar aan sy eerste MCC gewaag – die 2017 oesjaar met pinot noir van die plaas en chardonnay van Cederberg. Die volgende oesjaar het chardonnay van Steenberg af, maar die 2019-oesjaar se chardonnay is van Quoin Rock se wingerde nie ver van Lomond afkomstig nie. “Dan is ons MCC se druiwe alles van Agulhas.” Hy droom van die dag wanneer hy chardonnay reg langs die kelder kan plant en geen druiwe meer hoef in te koop nie.
“Aandag aan die fyner besonderhede is iets wat ek by Simonsig geleer het en dit het ook hier nuttig te pas gekom toe ek my eie vonkelwyn wou maak.”
Hul hooffokus sal egter voortaan sauvignon blanc wees. Dis die kultivar waarvoor Agulhas-terroir bekend is.
Elke wyn in hul reeks is na ‘n fynbosspesie wat endemies is aan Kaap Agulhas vernoem. Hannes sê die sauvignon blanc van Agulhas is uniek, en hy glo dis die “mineraliteit en sysagte mondgevoel wat dit onderskei. Die pincushion is die beste sauvignon blanc van my loopbaan,” verklaar hy trots voor hy ’n slukkie neem, voor ons groet.
Ons ry deur Baardskeerdersbos en ek lag toe ek onthou hoe ons jare gelede hier was vir ’n Wêreldbeker-rugbywedstryd wat ons op die groot skerm by Marietjies Pub & Grill kom kyk het. Ek het meer vir die locals gekyk – en gelag – as na die rugby. Die dorp is bekend vir sy eklektiese inwoners.
By drie vate langs die pad draai ons links in na The Giant Periwinkle. Die plaas word besit deur Pierre Rabe (keldermeester), Karen van Helden en Robert Stelzner en lê aan die voete van Perdekop. Pierre vertel glo hy is al wynmaker vandat hy nege is “en die laaste tien jaar amptelik”. Hy het as garagis begin met gehuurde grond.
Sy eintlike nering is dié van advokaat en hy werk voltyds in Kaapstad.
De Wet Groenewald sê: “Dis ’n naweekplaas dié, maar die wyne se kwaliteite getuig van voljaartoewyding.”
Die wynetiket het nou sy eie wingerde, proelokaal en handelsmerk op South Cape Vineyards. Hul eerste oes was 2018 en die 2019-sauvignon blanc is die plaas se eie, vertel De Wet ons met die proe van die blanc fumé, ’n gehoute sauvignon blanc.
Die proelokaal, wat in 2017 geopen het, was voorheen ’n motorhuis en hy onthou die dae toe ’n Land Rover met ’n oop enjinkap hier op oliekolle op die vloer gestaan het.
“Die transformasie is merkwaardig,” gesels hy terwyl hy nog wyne oopmaak om te proe. Die plaas het net minder as drie hektaar onder wingerd.
Pierre se bosbaard is maar net een deel van die rede vir sy Baardbek-wynetiket (’n rooi rhône-versnit), wat mense natuurlik van heinde en verre laat ry. Die ander deel is natuurlik dat die dorp sy naam te danke het aan die baardskeerderspinnekop. Pierre het baie van sy wyne vernoem na een of ander verbuiging van die spinnekop se naam of ‘n sinoniem, soos Wind Scorpion of Sun Spider. Die plaas, en ook van die ander wyne, is vernoem om Pierre se liefde vir die see te huldig, soos Kelp Forest. Met beskrywings op die etiket agterop die bottel: “Ideaal met vars kabeljou op die kole”, water jou mond onwillekeurig.
Een van hul wyne is pinotage, die Sun Spider, en De Wet sê hy vermoed dis die suidelikste blok pinotage in die land. Dis lekker lig gehout en ideaal vir die somer ook.
De Wet het op Baardskeerdersbos kom aftree en heel toevallig die werk as proelokaalbestuurder losgeslaan. Hy gesels graag en waar wynskrywers praat van “skeutjies” dit of dat wat in versnitte gebruik word, gebruik hy “katspoegie” – ’n vars briesie in ’n bedryf wat maklik oor jou kop kan praat.
Ons groet met ’n paar bottels onder die blad en kies koers na Black Oystercatcher, die eiendom van Dirk en Sandra Human.
Ons ry deur die sendingstasie Elim, wat in 1824 gestig is, om by ons verblyf te kom. In die geplaveide pad deur die dorp lê daar mis en ons sien hoe ’n paar perde tussen die oulike afgekalkte huisies wei. Wasgoed wapper in bont skakerings teen die potblou lug. Lui honde knip uiltjies op deurgetrapte drumpels en ek moet lag as ek by een tuinhekkie – skaars kuithoogte – ’n teken sien dat jy versigtig moet wees vir die hond. Ja, dis nou die lui brak wat hom nie eers verwerdig om sy kop te lig toe ons verbygaan nie!
By ’n ander huisie lê ’n vissersbootjie, White Horse, en ek wonder of dit na die wit perdjies wat die branders maak, verwys of nie dalk na die voggies nie.
By Black Oystercatcher sit die vier selfsorghuisies naby die pad, maar met ’n pragtige uitsig oor die velde en heuwels in die verte.
Vroeg die oggend wip ons uit die vere en sit met ons koffie en beskuit die dag en verwelkom. Daarna is dit gaan stap op die plaas tussen die wingerde, of my man verken die omliggende grondpaaie met sy bergfiets. Verskeie plase in die omgewing het bergfietsroetes.
Dirk het ’n baie oulike kaart ontwerp om die hele wynmaakproses te verduidelik en ook een van die omgewing, wat jou allerhande insigte gee in lekker dinge om te doen.
Bedags verken ons, stap, of sit en verkyk ons aan die natuur. Ons sluit ’n paar keer ons motor af op ’n grondpad terwyl ons tussen die plase ry. In ’n dam langs die pad bad en wei sowat 40 flaminke. Sommige se vere is skelpienk; ander is gespikkelde wit-en-swart hope vere wat hoog bo-op stokkiesbene rus en hulle soos reuselolliepops laat lyk.
Die reën het effe bedaar en die plat vlaktes tussen die heuwels is oortrek met voëls wat in elke moontlike bossie en waterpoeletjie bad, skrop of pik. Die lug is daardie helder wat jy net ná reën kry en alles is groener, blouer, witter, bruiner en swarter op die oog.
Die heuphoogte groen vet koringgerwe wieg effe in die laatmiddagwindjie. Daarlangs skree goudgeel kanola om aandag.
’n Ent verder gewaar ons die reusesekretarisvoël wat in ’n plaat goudgeel veldblomme loop. Hy verpoos hier en daar, trap-trap-trap op die grond; buig lag, pik en sluk. Ek weet nie watter arme prooi sy einde teëkom nie, maar die stilte van die veld en die voël ongehinderd deur ons priemende oë is só spesiaal dat ek vir ’n oomblik my simpatie met die prooi verloor en net te dankbaar is vir hierdie klein gawe. Die voël stap later stywebeen tussen die graspolletjies weg.
Een middag stap ons oor na die proelokaal en restaurant en loop ons vas in die Britse wynmaker Fraser Crighton wat etlike jare gelede sy geliefde bierhandelsmerk, Frasers Folly, hier kom vestig het. Ek kry die gevoel dis ’n lang storie, maar hy nooi gul dat ons kom bierproe.
“Bier is die moeilikste ding om te maak, want daar is soveel aanslae van kieme en swamme wat wil groei,” vertel hy trots toe hy ons genoegdoening vir sy yskoue Red IPA sien. Hy probeer elke maand iets nuuts en al sy mout kom uit Engeland, want hy glo aan die beste bestanddele. Sommige biere word in eikehoutvate verouder vir sy suurbiere (sours); ander kry rooi muskadel, vars vrugte, groente of kruie in die brouproses by. My man is mal oor sy moerkoffiebier wat met twee sopies espresso gebrou word.
Hy eksperimenteer met vatveroudering en sê hy poog om die sinergie tussen bier en wyn te vind. “Die terroir van bier kom uit die water wat jy gebruik,” vertel hy terwyl ons die mentsjokolade-stout en sy Hoppy Lager proe.
Sy lekker bierproe laat mens se mond water en ons bestel sommer een van die lekker pizzas en sit op die groot sementstoep met ons pizza en bier. Oor naweke is dit glo dié kuierplek in die omgewing, en ek kan verstaan hoekom. Nie alleen is die wyn en bier yskoud en heerlik nie, die glimlagte is gul en dis pure platteland hierdie!
Laatmiddag drink ons die merlot MCC van Black Oystercatcher wat heeldag in die yskas kon verkoel, voor ons die Triton 2016 nadertrek. Saans braai ons op ons stoep: óf vars vis van Struisbaai wat ons met soetpatat met baie plaasbotter geniet, óf biefstuk en wors met braaibroodjies.
Twee visarende roep na mekaar en jy voel hoe die rillings van lekkerkry, van Afrika, teen jou rug afkruip. Dirk het juis vertel hoe mense van regoor die wêreld hier kom voëls kyk in die ongerepte natuur.
Dis vroeg een oggend toe Dirk se bakkie voor ons huisie stop. Ons gaan wild kyk. Dis een van die dinge waaroor Dirk geweldig passievol is. Die Nuwejaars-vleilandekostelsel is in 2003 begin om ’n gedeelte van die landbougrond weer natuurlike veld te maak waar wild vry kan rondloop. Die intensiewe land is omhein en 23 grondeienaars het saamgespan.
Sewe biome kom hier bymekaar. Die gebied beslaan altesaam 46 000 ha, waarvan 22 000 ha vleiland en fynbos is. “Ons wil die natuurlike wild wat jare terug hier voorgekom het, weer hier vestig,” vertel hy terwyl hy deur sy verkyker loer.
Daar is elande, springbokke, bontebokke, waterbokke, sebras, buffels en volstruise, wat neffens plaasgrond stap. Aan die een kant van die draad groei koring of kanola; ’n boer jaag skape aan met sy skaaphond; duskant die grondpad ploeg ’n trekker en hier neffens ons stap waterbokke.
“Dit is die hele idee: dat agritoerisme en wild en bergfietsroetes en wynproe alles deel van jou ervaring vorm,” vertel hy.
Hulle praat van luukse tentkampe, meer voëlskuilings, begeleide staproetes en vele meer. Maar omdat hulle sonder regeringsfondse funksioneer, draai die wiele maar stadig.
By die uitkykpunt waar toeriste skemerkelkies kan geniet, beduie Dirk na die middel van die vlei. Daar is ses seekoeie, een ’n paar weke oud.
“My oupagrootjie het in 1855 die laaste seekoei hier naby doodgeskiet en vandag is vier van sy agterkleinkinders betrokke by Nuwejaars. Ross Kettles is die projek se bestuurder en almal werk baie nou saam met verskeie bewaringsorganisasies.”
Die seekoeie kom van La Lucia en die pesvrye buffels van Swellendam. Die wildritte met ’n gekwalifiseerde gids in ’n behoorlike wildkykvoertuig is baie gewild. As die bewaringsbeampte en gids, Eugene Hahndiek, agterkom sy gaste hou van voëls of reptiele of plante, maak hy ’n groot bohaai oor die raar goed wat hier voorkom. Heelwat spesies wat vir jare as uitgesterf beskou is, is nou ook hier gedokumenteer. Daar is onder meer hope veldpoue, iets wat jy nie baie in die Wes-Kaap sien nie. Bykans 190 voëlspesies is al hier aangeteken. Ook die Kaapse platanna kan jy hier kom soek.
Ons kom ure later terug by ons huisie vir ietsie om te kou en om ’n vinnige uiltjie te knip. Die sonnetjie het ons skouers pienk verkleur en die vars lug laat my oë toeval.
Dis lekker knus in die sonnetjie waar ons laatmiddag saam met Jackie Rabe wynproe by Strandveld Vineyards. Ons is by die kar verwelkom deur Levinia, ’n oulike swart brakkie wat die res van ons proe uitkyk oor die parkeerarea asof sy nog mense soek.
Sauvignon blanc maak 55% van die plaas se 80 ha aanplantings uit en maak die landgoed amper sinoniem met Agulhas-terroir-sauvignon blanc. Sy eggo alles wat André vertel het oor die diversiteit terroir, grond, mikroklimate en die vier hoof grondtipes wat hier voorkom. Buite die proelokaal is ’n rotstuin uitgelê wat die vier grondtipes – koffieklip, witkwarts, skalie en klei – mooi uitbeeld. Daar is ’n oulike bordjie wat jou vra om hul terroir aan te raak.
Jackie stap saam met ons na die klein dammetjie langs die proelokaal en ons kyk af op die buffels en sebras.
“Hier wil ons ’n houtdek bou van waar ons gaste die wild van naby kan bekyk en ook die son kan sien ondergaan.”
Die plaas het twee reekse wat sedert 2004 onder die meesterlike hand van Conrad Vlok gemaak word: die vlagskip Strandveld-etiket wat uiting gee aan sy unieke terroir en in beperkte hoeveelhede produseer word en die First Sightings wat meer bekostigbaar is en lekker is vir elke dag drink.
In eersgenoemde is daar die Pofadderbos-sauvignon blanc, Adamastor, Syrah, The Navigator (die vlagskip-rooi) wat hulde bring aan prins Harry, die beskermheer van die vroeë Portugese skeepsvaarders wat die nuwe skeeps- en handelsroetes ontgin het. Daar is ook die Anders Sparrman-pinot noir, grenache, viognier en die lieflike Skaamgesiggie-pinot noir brut. Skaamgesiggie is die mooie Afrikaanse naam vir die suikerbos (Protea pudens) wat net groei.
First Sighting het ’n sauvignon blanc, rosé en shiraz.
Jackie sê die witwyne se rypwording is natuurlik suur en stadig omdat die wingerde so naby aan die see lê en dus goed afgekoel word. Dit beteken gelukkig dat die witwyne baie goed verouder. Die wingerde kry maar swaar in die souterige seelug en erge wind en opbrengste is maar laag. Die landgoed se eerste wyne is in 2005 vrygestel.
Oor naweke kan jy hier lekker plaasborde bestel om saam met jou wyn te geniet, en as jy in een van die oulike huisies oorkant die proelokaal (noordhuisie of suidhuisie, of oorkant die pad in Veldhuis oorbly, is daar ontbyt- of braaimandjies beskikbaar.
Die plaas is nie net gewild vir sy bekroonde wyne nie, maar ook vir die 4 km-, 5 km-, 8 km- en 15 km-bergfietsroete.
Toe ons in die oulike proelokaal rondstap, vang my oog ’n uitstalling met Little Friends Syrah 2017 met vrolike etikette met kinderkuns op. Jackie vertel dis die werk van graad 4-leerders van die plaaslike laerskool, Elim Primêr, wat kom help het om druiwe te oes, te trap en waarvan daar toe ’n enkele 300 liter-vat syrah gemaak is. Die skooltjie kry die helfte van al die wyn se profyt.
Daardie aand eet ons kaas en olywe en salami saam met yskoue Skaamgesiggie-borrels en herbeleef die lekker middag by Strandveld Vineyards.
Ons kyk op die klein landingstrook oorkant die pad, sommer so in die bosse, en ek hoor weer hoe Dirk vertel dat van hul gaste soms met ’n klein vliegtuigie kom kuier en dan word die beeste op die aanloopbaan net gou eenkant toe gejaag!
Ons kan natuurlik nie weggaan van die plaas sonder om die wyne behoorlik te proe nie. Dirk is dorp toe vir sake en ons kuier saam met Fraser, wie se passie vir die wyn net so diep loop soos vir sy bier.
Hy vertel: “Terroir is hierdie woord wat so maklik rondgegooi word. Dirk het ’n toets gedoen om sauvignon blanc van drie verskillende grondtipes – ystererts, kwarts en sandsteen – te doen: dieselfde kloon, dieselfde gis, maar dit het drie baie verskillende wyne opgelewer. Die verskil is nie subtiel nie, dis hemelsbreed,” lag hy toe ons die wyne proe.
Fraser vertel dat Dirk en Sandra die bedreigde swarttobie as logo gekies het omdat hulle lewenslank paar en dié filosofie van vennootskap en toewyding presies is wat die Humans nastreef. Die vennootskap van mens en natuur, kos en wyn, vriende en familie.
Ons proe luilekker deur hul White Pearl (sémillon en sauvignon blanc), rosé (cabernet sauvignon en merlot), cabernet merlot-versnit en hul vlagskip, Triton (shiraz).
Ons ry drie dae later met vredige harte uit die omgewing weg. Die kattebak kreun onder die wyn (ook van die handelsmerke wat nie proelokale het nie), biltong en droëwors, tuisgebakte beskuit en Fraser se bier. Die fees wat Agulhas aan ons openbaar het, gaan saam huis toe, om die gevoel ’n effe langer te laat talm.
Ons gaan tuis ons reis herleef met Land’s End Cape South Coast Syrah 2015; die TSW Sémillon 2017; The Berrio Sauvignon blanc 2019 en ’n hele paar Ghostcorner Wild Ferment Sauvignon blancs van verskillende oesjare.
Land’s End het benewens die syrah ook ’n sauvignon blanc; Trizanne Barnard se Signature Wines (TSW) het drie wynreekse met twee wyne elk: die Sondagskloof, die TSW en die Alternative-reeks. Trizanne woon in Kommetjie en maak haar wyne in Noordhoek. Sy koop druiwe van hierdie streek en ook van Stanford en Darling. The Berrio, vernoem na een van die skepe in Vasco da Gama se ontdekkingsvloot van 1497, word deur Francis Pratt besit en hy skryf op sy webwerf dat hulle elke dag dankbaar is vir die koel wind (wat soveel ander elke dag verwens!), vir die unieke eienskappe wat dit na hul druiwe en wyne bring. Daar is nog twee wyne in hul stal benewens die sauvignon blanc: ’n shiraz en Weather Girl, ’n sémillon-sauvignon blanc-versnit.
David Nieuwoudt van Ghost Corner én Cederberg Wyne is een van Suid-Afrika se mees bekroonde wynmakers. Ek dink nie daar is meer muurspasie om al sy sertifikate, medaljes en trofees uit te stal nie. Sy Ghost Corner wyne sluit ’n sauvignon blanc, sémillon, pinot noir, Wild Ferment sauvignon blanc en The Bowline, ’n sémillon-sauvignon blanc-versnit in. Die wyne het hul naam te danke aan die meer as 130 skepe wat daar op die suidpunt van Afrika weens ruwe seegolwe op die rotse geloop het. Dié wat daar gesneuwel het, se gees hou wag oor al die stories van die verlede.
Kitsfeite
- Geen besoek aan die gebied sal volledig wees sonder jou selfie voor die Agulhas-vuurtoring en ’n paar honderd meter verder die monument waar die Indiese en Atlantiese Oseane bymekaar kom nie. Die nuwe monument, wat ’n kaart van Afrika voorstel, is verlede jaar onthul. Dit moedig besoekers aan om oor die kontinent te stap; die kontoere te voel en die hoogste en laagste punte met hul vingers te bevoel. Meer inligting by https://www.sanparks.org/parks/agulhas.
- Die wyne van die omgewing trek internasionaal baie aandag. Lees gerus meer deur slegs een liefhebber, die gevierde wynjoernalis Tim Atkin, se verslag: https://timatkin.com/product/2020-south-africa-special-report.
- Vir die jongste nuus oor wat alles daar gebeur, loer op Facebook by @agulhaswinetriangle of besoek hul webwerf, https://www.agulhaswinetriangle.co.za.
- As tyd beperk is, gaan loer in by die wynwinkel in Agulhas, Wine on Main, neffens die beste wegneem-vis- en -calamari-winkel. Gesels met Theresa Rabe theresa@wineonmain.co.za wat jou deur die AWT-wyne kan neem waarby jy nie kon uitkom nie. Daar is ’n gespesialiseerde afdeling vir die AWT-wyne, tussen van die beste wyne van ander areas wat ons wynlande kan bied. Theresa se dogter, Melanie, bied joga- en wynklasse aan.
- Besoek https://www.lomond.co.za/visit vir meer inligting om so lekker daar op die houtdek by die dam met ’n kaas-en-vleis-bord te kuier. Lomond word in Duitsland deur Kapvinum versprei. E-pos: info@kapvinum.de of www.kapvinum.de.
- Bespreek jou wynproe by The Giant Periwinkle by https://giantperiwinkle.co.za en by Strandveld Vineyards by https://strandveld.co.za. Strandveld is in België by Elvama te kry. Stuur ‘n e-pos na luc@elvama.be of besoek www.elvama.be.
- Ons verblyf by Black Oystercatcher was heerlik sentraal en die lekkerste plek om te gaan stap of fietsry, tussen die wynproeë deur. Bel +27 (0) 28 482 1618 of besoek hul webwerf, https://blackoystercatcher.co.za.
- Vir meer inligting oor die Nuwejaars-vleilandekostelsel, besoek www.nuwejaars.com.
♦ Teks: Maryke Roberts
◊ Foto’s: Clifford Roberts
Buro: MvH