"Ek moes al my meubels op my fiets na my woonstel toe dra"; interview met Lucinda Watts, student aan het Koninklijk Conservatorium in Den Haag

  • 0

Lucinda Watts

Lucinda Watts is een Zuid-Afrikaanse uitwisselingsstudent. Tussen september 2017 en juli 2019 volgde ze een mastersopleiding muziekpedagogie aan het Koninklijk Conservatorium in Den Haag. Ze ontdekte hoe belangrijk het is om mensen om je heen te hebben die om je geven en die klaar staan om je te helpen.

Waar en wanneer het jy in Nederland studeer? Wat het jou studie behels?

My studie het uit drie pilare bestaan: navorsing, prakties en teorie. Vir die navorsing moes ek ’n tesis skryf oor ’n onderwerp van my keuse wat ek oor die twee jaar kon ondersoek. Dit is wel aanbeveel dat die navorsingsonderwerp oor ’n praktiese aspek van my eie opvoedkundige loopbaan en belangstellings handel.

Vir die praktiese aspek moes ek instrumentale lesse (klavier) by ’n dosent neem. Hier het ek ook die vryheid gehad om self te bepaal wat ek deur die loop van die twee jaar wil leer. Weer eens is dit aanbeveel dat die praktiese vaardighede, en wat ek by my dosent leer by my opvoedkundige loopbaan inskakel.

Die teoretiese aspek van die studie het uit ’n verskeidenheid klasse bestaan waar ek oor opvoedkundige teorieë geleer het, asook ander praktiese aspekte soos ensemblespel en improvisasie. Ek moes ook twee keusevakke per jaar kies waar ek saam met ander meestersstudente moes klasloop.

Uit die keusevakke was entrepreneurs- en projekbestuur die nuttigste vak, omdat ek daardeur my eie musiekprojek (KRAB Muziek) kon ontwerp en stig, wat na my studies steeds voortgaan.

Gedurende die twee jaar moes ons as studente verskeie toetse skryf en aanbiedings en opdragte vir assessering inlewer, en aan die einde van die twee jaar moes ons die tesis inlewer, asook ’n aanbieding daarvan gee, wat saam met die finale instrumentale eksamen vir ons eindpunt getel het.

Hoekom was dit vir jou belangrik om dié studie juis in Nederland te volg? Was dit ’n spesialiteitskursus wat nie in SA aangebied word nie? Of het jy gekom om ’n ander land en ’n ander kultuur te leer ken?

Die rede hoekom ek die musiekopvoedkunde meestersgraad in Nederland kom studeer het, is ’n kombinasie van die feit dat die spesifieke kursus nie op dié manier in Suid-Afrika aangebied word nie en omdat ek na ’n ander land toe wou kom.

Van kleins af was dit nog altyd my droom om in ’n ander land te bly en om ’n ander land se kultuur te leer ken en beleef. Nadat ek my voorgraadse studie voltooi het, het ek ’n werksaanbod by ’n laerskool gekry, wat ek aanvaar het met die oog daarop om ervaring in die musiekonderwys op te doen en ’n idee te kry oor hoe musiekonderwys in Suid-Afrika lyk, met die gevolg dat ek my ervaring in my meestersgraad kon gebruik. Ek het dus vir twee jaar as musiekonderwyseres by Laerskool Bastion gewerk.

Ek kon maklik ’n musiekopvoedkunde meestersgraad in Suid-Afrika studeer, maar die groot verskil was dat die studie in Suid-Afrika alleenlik uit navorsing bestaan en tot ’n tesis lei. Dit was nie wat ek wou gehad het nie. My doel was om my kennis in verskillende vakgebiede te verbreed en ook om ’n platform te hê waar ek my eie kreatiwiteit kan ontwikkel en uitbrei.

Uit my ervaring het ek geglo dat Engeland vir my hierdie tipe geleentheid kan bied en het dus soontoe verhuis. Gedurende die ses maande wat ek in Engeland was, het ek gesoek vir ’n musiekopvoedkundige studie waarvan ek hou. Ek het geweet ek wou iets studeer waar ek by verskeie dosente kan les neem en saam met ander studente kan klasloop.

Ongelukkig kon ek ook nie daar ’n studierigting kry waarmee ek tevrede was nie, maar in daardie tyd het ek toe van die meestersgraad in Den Haag gehoor. Nadat ek daarna gekyk het, het ek besluit dit is presies wat ek wil doen en aansoek gedoen. Ek was baie gelukkig toe ek gehoor het dat ek vir die studie aanvaar is en natuurlik was dit ook baie opwindend om te weet dat ek in Nederland sou kon studeer, waar ek ’n nuwe land, stad, mense, kultuur en fantastiese musikale geleenthede kon leer ken en bywoon.

Hoe vergelyk die opleiding, die studente en die studentelewe in Nederland met opleiding en studente in Suid-Afrika?

Dit is baie moeilik om die opleiding, studente en studentelewe met Suid-Afrika te vergelyk, hoofsaaklik omdat Suid-Afrika so groot is en dus baie groot verskeidenheid binne die land self het. Ek was baie bevoorreg om my voorgraadse studie in Stellenbosch te voltooi, wat een van die beste universiteite in die land is, met van die beste dosente, opleiding en kursusse, asook fantastiese kampuslewe.

Die grootste verskil is wel die feit dat jy by enige kampus in Suid-Afrika alleenlik saam met ander Suid-Afrikaners en die toevallige uitruilstudent studeer. Die Konservatorium in Stellenbosch was nie so groot nie, so almal het mekaar baie goed leer ken en maklik vriende gemaak omdat almal baie eenders is. Die instansie was goed georganiseer en almal het geweet wat van hulle verwag word.

Die Koninklijk Conservatorium in Den Haag is ’n onafhanklike organisasie wat nie aan ’n universiteit behoort nie. In my ervaring het dit ’n groot impak op die opleiding en algemene organisasie van die instansie. In vergelyking met Stellenbosch het ek gevoel dat daar baie meer vryheid by die KC was. Ek kon enige klasse neem waarin ek belanggestel het, my persoonlike leerbehoeftes nakom in my navorsing en individuele instrumentale lesse, en sodoende was daar veel meer klasse by die KC as in Stellenbosch beskikbaar, soos jazz, sonologie en voorgraadse kursusse wat ek nie in Stellenbosch kon doen nie. Daar mag ’n mens net jou eie rigting se klasse bywoon en volg. Aan die ander kant was die klasse by Stellenbosch baie meer gestruktureerd en jy het presies geweet wat van jou verwag word en wat jy kan verwag, wat nie die geval was by die KC nie.

Ek glo egter wel dat die vryheid en aanpasbaarheid van die KC hand aan hand hiermee gaan. In my afdeling by die KC was ’n student se mening altyd in ag geneem en daar is geluister na voorstelle en klagtes in ’n poging om die ervaring vir studente beter te maak. Ek het ook die indruk gekry dat die dosente se kennis oor musiek en opvoedkunde baie meer vooruit is in terme van die nuutste navorsing in die veld, asook meer prakties aangelê.

Dit het vir my gevoel asof ek meer van ’n egte wêreldse ervaring by die KC gekry het in vergelyking met Stellenbosch, omdat baie van my vakke prakties gebaseer was en praktiese geleenthede vir leerervaringe aangebied het. Die belangrikste ding wat ek wel besef het, is dat geen konservatorium of universiteit perfek is nie; alle onderriginstansies doen maar net die beste wat hulle kan om hulle studente op te lei, en selfs in ’n wêreldbekende, internasionale, eerstewêreldinstansie is daar gapings.

Die KC is een van die grootste en oudste musiekskole in Nederland en het as gevolg daarvan, in my ervaring, ’n onmiddellike effek op die studente en die studentelewe. Soos ek genoem het, was almal by Stellenbosch Suid-Afrikaans, wat maak dat ’n mens klaar iets in gemeen het – dieselfde kultuur, taal en lewenskwaliteite. Maar in die KC was ek en my vriend die enigste Suid-Afrikaners in die hele skool, wat uit ongeveer 1 000 studente bestaan. Dit beteken dat jy baie minder met jou medestudente in gemeen het, en daarbenewens het hulle ook nog minder met mekaar in gemeen. Dit was duidelik dat studente wat die selfde kursus studeer, of van dieselfde land af kom, meestal slegs met mekaar tyd spandeer en nie die geleentheid gebruik om tyd saam met ander te spandeer nie, wat ek nogal jammer gevind het.

Uit die nie-Nederlandse vriende wat ek gemaak het, het die meeste alleenlik hier kom studeer vir die gesogte kwalifikasie, omdat dit veel beter is as in hulle eie land, en was hulle nie van plan om na hul studie in die land aan te bly nie. Hulle het dus min moeite gedoen om bekend te raak met die land se kultuur of om Nederlands te probeer leer praat. Aan die ander kant het ek ook nie baie goeie Nederlandse vriende gemaak nie, want nes die ander nie-Nederlandse studente, het die Nederlandse studente ook alleenlik met mekaar tyd spandeer.

Ek het wel gevind dat die KC nie veel moeite gedoen het om die grense tussen studente te probeer afbreek nie. Die grense was ook sigbaar onder die personeel van die skool – dosente van verskillende departemente het nie eers van mekaar geweet, of geweet watter ander tipe musiek in die skool aangebied word nie, en nie mekaar se konserte bygewoon of moeite gedoen om musiek as bindingsmiddel te gebruik om mekaar beter te leer ken nie. Dit is wel een ding wat by Stellenbosch gebeur het: Almal het mekaar ondersteun en daar was ’n baie aktiewe sosiale lewe onder studente. Veral in die Konservatorium het almal mekaar geken, tyd saam spandeer en was daar gereeld aktiwiteite en byeenkomste gereël waaraan enigeen kon deelneem.

Behalwe vir die sosiale en akademiese interaksie het ek ook die indruk gekry dat my medestudente by die KC baie minder belangstelling en toewyding in vergelyking met my medestudente in Stellenbosch getoon het. Daaruit het ek agtergekom dat hul stiptelikheid in terme van hulle verpligtinge en klasbywoning, asook die hoeveelheid voordeel wat hulle uit geleenthede geput het, minder was. Miskien is dit ’n kulturele verskil, in die opsig dat stiptelikheid en volharde toewyding vir Suid-Afrikaners ’n teken van erns is, of dalk net omdat ek so grootgeword het, maar dit was nie die geval met die ander KC-studente nie.

Deur die loop van my studies oor die afgelope twee jaar het ek gevoel dat ek baie bevoorreg is met die geleenthede wat ek by die KC aangebied is, veral omdat ek nie soortgelyke geleenthede in Suid-Afrika sou kon kry nie, en ek wou dus alles wat ek kon aanpak en niks misloop nie. Ek het geweet dat dit miskien die enigste kans sou wees dat ek so ’n geleentheid sou kon kry, maar van die ander het ek nie daardie indruk gekry nie.

In watter taal was jou klasse en jou navorsing? Watter taal het jy met jou medestudente gepraat? Het jy Nederlands moeilik of maklik gevind? En hoe het die Nederlandse studente gereageer as jy Afrikaans gepraat het?

My klasse was meestal in Engels omdat daar meestal studente uit ander lande in my kursus was. Ek het wel een van my keusevakke se klasse in Nederlands gehad, alleenlik omdat daar net Nederlandse studente en ek in die klas was. Terloops, as daar Nederlandse liedjies in van die klasse gebruik is om musiek te leer, was die nie-Nederlandse studente ongelukkig daaroor. In my klas was ons vier buitelandse studente en die ander drie was almal Spaans, so hulle het Spaans met mekaar en Engels met my gepraat, maar buiten my klas was die meeste studente van ander lande en ons het dus Engels met mekaar gepraat.

In die begin het ek Nederlands moeilik gevind, maar ek het vinnig aangepas en myself gedruk om soveel Nederlands met Nederlandse mense te praat as wat ek kon. Die probleem daarmee is dat die meeste Nederlandse mense ook hul Engels wil ontwikkel en dan onmiddellik oorslaan na Engels as hulle hoor dat jy ’n aksent het. Maar na twee jaar voel ek, en hoor ek van ander af, dat my Nederlands al heel goed is. As Nederlandse studente gehoor het dat ek van Suid-Afrika af kom, was hulle baie verbaas en beïndruk, en het dikwels gevra dat ek Afrikaans praat sodat hulle kan hoor hoe dit klink. Nadat ek ’n sin of twee gepraat het, het hulle gelag en gereageer deur te sê dat hulle my kan verstaan en dat Afrikaans soos ’n vreemde Nederlands klink. Hulle het ook dikwels die bekende Suid-Afrikaanse woorde opgenoem wat hulle geken het en snaaks vind.

En wat het jou verder opgeval in die Nederlandse samelewing – positief en negatief?

Toe ek aanvanklik na Nederland toe gekom het, het ek dit baie moeilik gevind om ’n blyplek te kry. Daar was verskriklik baie mense en studente wat in Den Haag blyplek gesoek het en die eiendomsagente en woonstelbestuurders het dit nie vir ’n mens maklik gemaak nie. Daar was allerhande reels oor maande vooruit betaal, ’n Nederlandse persoon wat vir jou borg moet staan, registrasievereistes, ’n sekere grootte ruimte wat vir elke mens voorgestel is en vereistes dat studente sonder werk nie in die woonstelle mag bly nie.

As ’n mens ’n plek gekry het waarin jy belanggestel het, moes jy dit onmiddellik neem, anders spring iemand anders jou voor. Wat daarmee saamgehang het, was dat mense nie baie verwelkomend voorgekom het nie. ’n Mens kry die gevoel dat almal daarop uit is om na hulleself te kyk en nie veel omgee oor die ander om hulle nie. Natuurlik veralgemeen ek nou, want dit is nie altyd die geval nie.

Ek was desperaat om ’n plek te kry omdat ek al drie weke lank in ’n ander dorp by vriende moes loseer en elke dag moes trein ry Den Haag toe, en het toe op die ou einde ’n plek gekry wat ver van die KC af is en op ’n baie besige straat is. Ek moes ook die hele woonstel self meubileer en selfs my eie ligte en gordynkleppe ophang, waarby ek nie kon uitkom nie omdat die dak so hoog is! Die probleem hiermee is dat wanneer jy alleen in ’n ander land is, daar nie familie en vriende is op wie jy kan steun om jou te help nie. Jy moet alles self doen en dit maak dit ’n lang en stadige proses.

Tweedens het ek byna niks geld gehad nie, so die meubels en toerusting het maar stuk-stuk bygekom soos wat dit noodsaaklik geword het. Daarbenewens moes ek ook alles self met die hand na my woonstel toe gedra het, op my fiets gelaai het, of op ’n trem of ’n bus vervoer. Die proses het natuurlik baie tyd geneem, en so terloops is alles wat ek gekoop het of gegee is, tweedehands. Dan was daar nog al die administrasie wat gedoen moes word, soos om by die gemeente te registreer, aansoek te doen vir huurtoeslag en zorgtoeslag, te registreer by die Kamer van Koophandel om musiekles te kan gee, en om my verblyfsdokumente in orde te hou.

Al hierdie dinge was ’n groot proses wat aanhoudend bygewerk moes word en wat ’n mens nie in Suid-Afrika hoef te doen nie. Maar ek het nietemin uitgehou en alles het eindelik uitgewerk en ek bly nou heel gelukkig steeds in dieselfde woonstel. Ek moet ook bysê dat ek baie gelukkig was dat ek saam met my vriend hiernatoe gekom het, so darem was daar twee van ons wat alles saam kon takel.

Wat ek baie in Nederland geniet, is die vryheid wat ek hier ervaar. Dit is vir my baie gerieflik om te weet dat ek baie maklik enige tyd die aktiwiteite en aanbiedings kan bywoon waarvoor ek lus is. Om meer spesifiek te wees, geniet ek dit baie om te weet dat ek enige tyd op my fiets, ’n trem, ’n trein of ’n bus kan klim om klavierlesse vir kinders by hul huise te gaan gee, konserte en musiekfeeste by te woon (waarvan daar tonne meer hier in Nederland toeganklik is), werkswinkels te gaan bywoon en om vir my vriende in ’n ander dorp te gaan kuier.

Wat ek ook baie geniet, is dat alles goed werk soos dit moet. Ek kry die idee dat almal weet wat hulle plig in die samelewing is en hulle hou daarby. Dit is ook duidelik dat so ’n sisteem help om seker te maak dat almal werk het en ’n dak oor hulle kop het. Dit is een van die grootste verskille wat ek hier ervaar in vergelyking met Suid-Afrika, waar die land se basiese dienste nie in plek is nie. ’n Mens moet sukkel met ’n eenvoudige ding, soos om ’n brief te pos, want jy weet nie of dit ander kant gaan uitkom of hoe lank dit gaan neem nie. Hier kan ’n mens maklik die dienste vertrou, soos jou internet- en selfoonmaatskappy, en weet dat die dienste waarvoor jy betaal by jou tereg gaan kom.

Tweedens, soos almal weet, is haweloosheid en armoede ’n massiewe probleem in Suid-Afrika, wat lei tot diefstal en geweld, en hier is ek nie bang dat my eiendom van my afgeneem kan word of dat my lewe in gevaar is nie. Ek weet nie wat die rede is dat mense soveel meer welaf is in Nederland in vergelyking met in Suid-Afrika nie, maar dit veroorsaak wel dat ’n mens makliker kan slaap en meer tyd en energie het om op die dinge wat vir jou belangrik is te spandeer.

Wat is die waardevolste les(se) wat jy in Nederland geleer het? 

Ek dink die waardevolste les wat ek in Nederland geleer het, is om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie. Die rede hoekom ek so sê, is omdat ek gedurende my tyd hier en deur al die struikelblokke wat ek moes oorkom, besef het dat die dinge waartoe jy maklik toegang het nie altyd tot jou beskikking is nie.

Die grootste beperking wat ek hier ervaar het, was dat ek in Nederland nie mag werk nie. Die visumreëls is dat ek 10 uur lank per week onder kontrak mag werk, maar die organisasie of instansie waarvoor ek wil werk moet geregistreer wees om my deur die Immigratie- en Naturalisatiedienst te borg sodat ek wettiglik kan werk. Die probleem hiermee is dat kleiner organisasies soos skole, musiekskole, restaurante en naskoolsentrums nie geregistreer is nie, so hulle kon my nie onder ’n kontrak aanstel nie. So, om privaat musiekles te kon gee, moes ek eers by die Kamer van Koophandel registreer as ’n selfstandige ondernemer. Dit het my die geleentheid gegee om vir ’n paar studente les te gee, maar die probleem hiermee is dat dit baie moeilik is om studente te kry.

Een voordeel waarvoor ek baie dankbaar was, is dat ek ’n bietjie Nederlands kon praat en dus in Nederlands les kon gee, omdat die meeste Nederlandse kinders nie Engels kan praat nie. Gedurende my “zoekjaar”, waarop ek nou is, geld dieselfde reëls. So, ten spyte daarvan dat ek nou ’n kwalifikasie in Nederland gekry het om musiek as vak op skool te gee, mag ek nie aangestel word nie. Ek het dus geleer om nie die reg tot werk as vanselfsprekend te aanvaar nie, juis omdat ek dit nie hier het nie.

Tweedens, na die gesukkel om blyplek te kry en my blyplek daarna in te rig, het ek geleer dat ’n mens nie die dinge wat jy besit as vanselfsprekend kan aanvaar nie. En terselfdertyd ook die mense wat jou help en vir jou omgee. Eers toe ek besef hoe ’n mens ander nodig het, het ek geleer om mense te waardeer, om waardering vir ander te wys en om mekaar te help. Ek is baie bevoorreg dat mense my wel gehelp het toe ek hier aangekom het en voel dat dit nou my plig is om ander wat in my situasie is ook te help.

Laastens het ek oor die laaste twee jaar besef hoe bevoorreg ek is om na ’n ander land toe te kon kom. Nie net om my eie opvoeding te kon verbeter nie, maar ook om tyd te kan spandeer in ’n land waar my passie, musiek, grootliks waardeer word. Terwyl ek hier in Nederland gebly het, het ek meer konserte, vertonings en kulturele byeenkomste bygewoon as wat ek ooit in Suid-Afrika kon doen. Dit is duidelik dat daar ’n groter klem op hierdie tipe geleenthede in Nederland as in Suid-Afrika is, wat vir my ’n jammerte is. Maar dit het my geleer om die geleenthede en voorregte wat ek het, baie meer te waardeer en nie as vanselfsprekend te aanvaar nie.

Hoe sien jy jou toekoms na hierdie studieperiode in Nederland? Wat vat jy saam? Wat kan jy in Suid-Afrika toepas?

Ek sal die vraag beantwoord deur bekend te maak hoekom ek besluit het om in Nederland verder te studeer. Die meeste mense dink dat ’n mens verder studeer, en veral in die buiteland, om ’n beter beroep te kry en ’n beter salaris te kan verdien. Maar in my geval, en as gevolg van my beroepskeuse, werk dit nie so nie. Ek het dus nie na Nederland toe gekom sodat ek met ’n graad kan teruggaan Suid Afrika toe wat vir my meer geld sou kon kry nie. Ek wil teruggaan met ervaringe en kennis wat my ’n beter mens en beter musikant maak, en wat my beter toerus om musiek vir ander te kan leer en om hulle lewensgehalte te kan verbeter.

Ek glo werklik dat musiek ’n hulpmiddel kan wees om ’n persoon se lewe te verryk. Ek het dit al ervaar en wil dit graag met ander ook deel. Dit is juis hoekom ek ’n loopbaan as ’n musiekonderwyseres gekies het. Wat ek deur die afgelope twee jaar, gedurende my studietydperk, geleer het, is dat musiek in baie verskillende vorme voorkom. Maar dit is die manier waarop jy dit oordra wat belangrik is.

Na my studieperiode in Nederland voel ek dat ek baie gegroei het as ’n musikant en ook as ’n mens. Ek het lewenservaring opgedoen en was heeltemal uit my gemaksone gegooi. Deur die proses het ek besef wat belangrik en waardevol is in die lewe. Wat ek saamvat terug Suid-Afrika toe, is ’n baie breër persepsie van wat musiek is, hoe dit aangebied kan word en dat elkeen se musikale persepsie en talent op sy eie manier verdien word om tot sy persoonlike voordeel ontwikkel te word. In die toekoms wil ek graag voortgaan om musiek te speel, vir ander te leer en te geniet waar ek ook al is en waar ek ook al nodig is.

Sal jy ander Suid-Afrikaanse studente aanbeveel om vir ’n tyd in Nederland (of ’n ander land) te gaan studeer, en hoekom?

Ja, ek sal dit 100% vir enige iemand aanbeveel! Ek dink dat Suid-Afrikaners ’n wanpersepsie het oor Eerstewêreldlande en oor hoe maklik dit is om na een toe te trek. Miskien vind sommige ander studente dit makliker as wat ek het om te trek of om aan te pas, of dalk vind hulle die land anders as ek. Maar wat ek besef het, is dat dit nie saak maak waar jy is nie, mense is almal dieselfde. Elke land het sy eie probleme en almal probeer net om die wêreld ’n beter plek te maak.

Ek sal dit vir ander studente aanbeveel omdat dit vir my ’n ongelooflike ervaring was; nie net om in Nederland te kon bly nie, maar ook my kursus en die mense wat ek ontmoet en leer ken het. Ek dink dus dat enigeen by ’n studieperiode in ’n ander land sou kon baat. Al is dit nie alleenlik ’n positiewe ervaring nie, is dit wel ’n kans om lewenservaring op te doen wat jy nie maklik op enige ander manier sou kon doen nie.

Ek sal studente wel aanbeveel om spesifiek in Nederland te kom studeer omdat dit makliker is om mense kan verstaan as gevolg van die taalverwantskap, wat dit onder andere makliker maak met aanpassings. Ook omdat dit ’n baie mooi land is vol geleenthede, met ’n kwaliteit van lewe waaraan ons nie aan gewoond is nie.

Buro: IG
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top