Eksie perfeksie
Regisseur: Corné Koegelenberg
Geskryf deur Corné Koegelenberg en Bibi Slippers
Met:
Emma van Heyn as Dalene
Pietie Beyers as André
Pierre Breytenbach as die verteller
Diane Lecluse as die ewige kelner
Bobby van Jaarsveld as Xander
Johan Joubert as Gerrie
Sean van Noordwyk as Rynoux
Rowlen Ethelbert von Gericke as Scott
Morné Steyn as Jean
Cindy Swanepoel as Jo-Ann
Maude Sandham as Caitie
Michelle Lyle as Kelly
Suzzi Swanepoel as Bertha
Werner Coetser as Lodwyk
Ek het Eksie perfeksie baie geniet.
Dit is vet pret. Boonop steek die film heerlik die draak met ’n uiters goed gevestigde genre in Afrikaans. Eksie perfeksie speel met talle clichés wat ons in moderne romanses vind, maar dop hulle ook een-een om.
Wees egter gewaarsku: Die karakters gebruik nie openbare toilette om te gaan piepie nie en daar is verskeie kragwoorde in die stuk. Emma van Heyn wys ook hier en daar so ’n stukkie van haar lyf.
As jy dus ’n oop kop het, knyp ’n tydjie af om Eksie perfeksie saam met ’n bak springmielies te geniet.
Dit is heerlik. Dit is snaaks. Dit is borrelgomlekkerte, maar deksels slim ook.
Die storie – sonder spoilers
Dis ’n romcom, oukei? Die twee moet bymekaar uitkom.
Dalene is ’n wilde meisie. Sy hou van mans en dis met hulle wat sy gereeld en pligsgetrou na openbare toilette gaan.
Dan gryp sy vir André. Hy besoek ook toilette saam met haar, maar, soos dit hoort in ’n romcom, begin hulle van mekaar hou.
Dalene het egter ’n string ekse wat nog sleutels het tot haar huis en dit lei tot allerlei onmoontlike situasies.
Tot so ver die storie.
Eksie perfeksie is lig, borrelend, stout en het skynbaar, nota bene skynbaar, minder om die lyf as Dalene wanneer sy in die bad winde los. (Ja, dit gebeur ook.)
Maar...
Kom ons gesels hieroor
Ek gaan nie bewustelik die spoilers inbou nie, maar dis moeilik om oor ’n romcom te praat sonder om te laat blyk dat die hoofkarakters mekaar moet vind. Dit is tog die punt van so ’n film. Meer nog: Die titel sê reeds vir ons dat die talle ekse in Dalene se lewe dinge moeilik gaan maak vir arme ou André.
Eksie perfeksie is slim. Dit is ’n film wat sigself en die genre waarin dit werk, die hele tyd ondersoek. Ek hou van enige stukkie kuns, letterkunde, ook lekkerkunde, wat vir sigself kan lag. Eksie perfeksie doen presies dit.
Dalk, as jy van films wat hulself ondersoek hou, moet jy Eksie perfeksie kyk voor jy verder lees. Kom gerus dan terug en kyk of jy met my lees van die film saamstem. Skryf dan asseblief ’n repliek, só kan ons ’n lekker debat aan die gang kry oor hoe ons die Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, filmbedryf kan ondersteun.
Ek sal nou probeer verduidelik hoe goed Eksie perfeksie sigself posisioneer binne die genre waarin dit afspeel, sonder om te veel van die lekker weg te gee.
Iets oor romanses (in Afrikaans) en Romanza as druknaam
Om ’n romcom te verstaan, moet ons die romanse verstaan.
Romanse is ’n baie gespesialiseerde genre en dit verkoop ontsettend goed in Afrikaans.
Ena Murray is die doyenne van die genre. Haar boeke verkoop steeds, al is sy lank terug oorlede.
Die volgende persoon wat romanse in Suid-Afrika na enorme hoogtes geneem het, was Cecilia Britz, ook nou al oorlede.
Britz en Chanette Paul, gelukkig nog met ons, het grondige studies gemaak van genrefiksie in die VSA. Hulle het daardie reëls en riglyne soos twee sersante-majoor in skrywers se koppe ingedril.
So is die Romanza-druknaam begin – een wat steeds elke maand goeie verkope lewer.
Ek was bevoorreg om ’n ruk lank met Britz en Paul saam te werk en om talle van die skrywers van hierdie genre as my vriende te reken.
Daar is streng riglyne vir die skrywers gegee:
- Die man moet mooi wees, en groot. Die heldin moet kan opkyk na hom.
- Geen borshare. Punt.
- En: Die eerste man wat die heldin sien, moet sy uiteindelik mee afhaak.
Ek sê netnou meer oor die manlike helde.
Die heldinne het oor die jare nogal gegroei. Hulle is nie almal meer maagdelik nie en stelselmatig het van die skrywers, soos Elsa Winckler, nogal toegelaat dat daar selfs voorhuwelikse seks in die genre kon insluip. Later sou ook Erla Diedericks en Didi Potgieter die stoom behoorlik laat fluit in sommige tonele.
Is daar ’n “tipiese Afrikaanse romanse”?
Is die romanse getipeer?
Natuurlik moet die twee bymekaar kom. Dis die punt. Net soos ’n speurroman ’n speurder en ’n verklaring vir die misdaad moet hê, anders flop dit, moet ’n romanse ’n bevredigende einde hê.
Romanses, anders as die speurroman, volg egter ’n patroon:
- Die meisie is oulik, maar is dikwels in ’n tipe penarie. Sy hoef nie meer ’n maagd te wees nie, maar sy is eintlik heimlik nogal kuis.
- Die man is mooi en ryk. Hy is ’n baie sterk karakter. Hy weet wat hy wil hê, ook weet hy dat die een ding wat hy nie wil hê nie, ’n langtermyn lover is.
- Die man is beslis nie maagdelik nie, hy moet moes darem weet wat om met ’n vrou te maak; teen die tyd dat die storie begin, het hy al verskeie kere op verskeie vroue geoefen.
- Hy sien haar, sy sien hom. Dinge gaan baie goed.
- Dan gebeur iets; dinge gaan baie sleg.
- Uiteindelik, nes jy dink die storie gaan dit nie maak nie, dan gebeur iets en hulle eindig in mekaar se arms.
Dit is alles baie geldig en dit werk.
Cecilia Britz het gesê dis nie ’n resep nie. Dit is wel stylriglyne wat streng toegepas word.
Ek sê weer: Dit werk. As jy nie van die genre hou nie, los dit. Ander is mal daaroor.
Die bedonnerde mans
Ek het oor die jare nog altyd een stukkie kritiek gehad wat teen ’n hele aantal, maar nie alle skrywers nie, van romanses gerig is. Ek het dikwels gevoel dat die mans aan die begin gewoon mislik is. Baie is aanvanklik steeks, buierig en plein bedonnerd. As my dogter so iemand sou wou hê, sou ek nie opgewonde wees nie. Ek, Izak, voel die feit dat die held teen die einde van die boek swymel, nie genoeg is nie. Sulke mans word nie regtig beter as daar ’n ring aan die meisie se vinger gesteek word nie. Sulke mans word varke in ’n huwelik.
Ek sê weer: Baie van die skrywers het dit anders gedoen. Elsa Winckler skryf byvoorbeeld op haar blad:
I like the heroines in my stories to be beautiful, feisty, independent and headstrong. And the heroes must be strong but possess a generous amount of sensitivity. They are of course, also gorgeous!
Winckler, en baie ander Romanza-outeurs, kan sensitiewe mans skep. Die grompotte in ander se boeke het my egter vies gemaak. Meisies moenie geleer word dis oukei om buffelagtige mans terwille te wees nie.
Wat van vernuwing?
Wanneer ons met ’n letterkundige oog na boeke kyk, ja, ook na ’n romanse, soek ons altyd na iets wat ’n mens laat wonder, iets wat ons anders na ’n situasie kan laat kyk. Goeie letterkunde kan selfs ontstel, móét dalk selfs ontstel.
Hoekom het die romanse dan sulke streng riglyne? Dis maklik. Monique Hellenberg, wat ’n uitstekende jazzsanger is, se popmusiek is tipies. Sy kán dus musikaal vernuwe met haar jazz, maar wanneer Hellenberg popmusiek maak, doen sy presies wat die mark van haar verwag. Hoekom? Mense soek vertroosting in die bekende.
Romanza, die handelsmerk, bied ook daardie vertroosting. Die handelsmerk het nog altyd aan lesers iets beloof. Jy koop ’n Romanza omdat jy weet daar sal nie onaangename verrassings wees nie.
Dit maak egter vernuwing moeilik.
Daarom is uitskieters in die Afrikaanse romansemark dikwels buite die Romanza-stal gepubliseer. Joan Hambidge, byvoorbeeld, het al heerlike “hygromans”, soos Swart koring, geskryf, maar haar aanslag was satiries en nie werklik gerig op die romanseleser nie.
Aan die ander kant is Annie Klopper se lieflike teks Die tragiese saak van Pamina Vermaak ’n briljante voorbeeld van ’n vernuwende en baie heerlike romanse. Dit het in 2018 by Kwela verskyn. Die hoofkarakter is ’n wilde meisie en die man is nie ’n knol nie. Hierdie lekkerleesboek is later verfilm met Carla Smith as Pamina. Die tragiese saak van Pamina Vermaak bly een van my gunstelingromanses ooit.
Toe gooi Alma Rossouw ’n spreekwoordelike spanner in die Romanza-masjien deur al die klassieke riglyne te volg, maar die lang, aantreklike mens op wie die heldin verlief raak, is ’n vrou. Romanza het nie kans gesien nie, maar Johan Jack Smith het hierdie heerlike romanse in 2019 by Wenkbrou uitgegee. Sypaadjie was presies wat ’n Romanza-teks sou wees, Rossouw het die reëls gevolg. Die karakters was net gay.
In 2022 het Romanza dit wel gewaag om Analize Viljoen se Kleur en karamel onder hul eie druknaam uit te gee. Die karakters was gay, maar verder volg die boek ook, soos Sypaadjie, die riglyne van ’n goeie romanse.
Spoiler alert
As jy nog nie Eksie perfeksie gesien het nie, mag jy nou regtig ophou lees.
En dus?
Jy mag vra wat het my relaas oor romanses met Eksie perfeksie te doen?
Die antwoord is: Alles, absoluut alles.
Eksie perfeksie dop die hele genre om.
Dalene, gespeel deur die lieflike Emma van Heyn, is ’n wilde meisie. Sy tel die een lover na die ander op, gebruik veral openbare toilette vir wilde seks en skop dan die arme man uit, net om weer ’n volgende ou op te tel.
Sy bly vriende met haar “perfekte” ekse, maar gryp telkens weer ’n nuwe een.
Dalene is ook ’n suksesvolle beroepsvrou – haar huis is baie mooi. Sy laat winde in die bad.
Dalene speel dus die rol van die klassieke manlike held.
André, die man wat haar voete onder haar uitslaan en gespeel word deur Pietie Beyers, is weer ’n bietjie van ’n sagte ou wat in ’n penarie is. André is nie dom nie, maar hy is geskei. Hy woon by sy suster en het skynbaar nie seks gehad voor hy met sy eks-vrou getrou het nie. Hy het boonop persoonlikheidstrekke wat maak dat hy effens vreemd voorkom.
Kan julle sien hoe Corné Koegelenberg en Bibi Slippers die genre op die kop draai?
André is alles wat ’n mens in ’n suksesvolle heldin sou verwag.
Die ekse as “strooimeisies”
In komiese films met ’n sterk vroulike hoofkarakter is daar dikwels ’n groepie meisies wat voortdurend om die hoofmeisie kloek. Hulle is die tipiese strooimeisies wat nooit tot trou kom nie. In Eksie perfeksie speel die eks-boyfriends hierdie rol.
Hulle is ’n groepie kloekerige manne wat skinder en mekaar in die rug steek en mekaar dan weer ophelp. Hulle doen alles om Dalene se guns te bly wen. Dit is nog eens ’n heerlike manier om die tradisie om te dop.
Xander, wat uitstekend vertolk word deur Bobby van Jaarsveld, sou in alle opsigte die “gewone” held wees. Dit is dan ook geen wonder nie dat hierdie “eksie” wat so na is aan “perfeksie”, teen die einde van die film byna André se hand in die as slaan in ’n poging om Dalene terug te kry.
Maar, onthou, Eksie perfeksie is ’n romcom. Kyk maar self wat aan die einde gebeur.
Gerrie (gespeel deur Johan Joubert) is die loodgieter. En, ja, daar is ’n toneel waar Dalene in die kombuis op die toonbank sit met Gerrie wat voor haar kniel... Natuurlik. Eksie perfeksie spot heerlik.
Sean van Noordwyk speel Rynoux, die gay eks.
Rowlen Ethelbert von Gericke, as Scott, is die Engelsman. Hy is ook die spiertier en die enigste een wat lees.
Jean, gespeel deur Morné Steyn, is weer die sukkelende kunstenaar.
As jy iets van romanses weet, dan besef jy hoe lekker Eksie perfeksie die draak steek met talle template wat gereeld aangewend word om romantiese stories aan vas te pen.
’n Metavertelling
Eksie perfeksie het boonop ’n verteller. Die verteller, wat sedert die dae van antieke Griekse teater leiding gee aan ’n verhaal, erken in hierdie film by tye dat hyself nie mooi verstaan wat aangaan nie.
Pierre Breytenbach is die verteller en hy maak selfs teen die einde sy verskyning. Dan begin die hoofkarakter, Dalene, met hom stry. Die heel einde moet julle maar self kyk, dit is ’n baie oulike manier om die gelukkige einde te bevraagteken. (Onthou ook wat ek gesê het oor mans wat nie verander wanneer daar ’n ring is nie.)
Caitie (Maude Sandham) en haar lover Jo-Ann (Cindy Swanepoel) lewer óók die hele tyd kommentaar op die verhouding tussen André, Caitie se boetie, en Dalene. Dit skep wonderlike komiese oomblikke. Hulle, die twee lesbiërs, word dus ook ’n vertellende instansie wat vir André én die kyker daarop attent maak dat Dalene niks anders is nie as ’n kategorie. Dis bitter snaaks, en bitter slim.
Diane Lecluse is byvoorbeeld ook orals te sien as kelner – selfs André se karakter merk op dat sy orals is. Sy word sienderoë ’n aktant, ’n leitmotief.
Al hierdie tegnieke maak dat ’n mens gedurig bewus is van die heerlike tong in die kies manier waarop die film met sigself omgaan.
Eksie perfeksie daag die genre uit, maar omdat die skrywers duidelik die genre se reëls baie goed ken, word dit ook ’n homage aan die romanse.
So?
Ek dink Eksie perfeksie is eksieperfeksie. Dit is stout, dit bevraagteken die gewone verloop van die genre, dit bevraagteken sigself die hele tyd. Eksie perfeksie bly egter in murg en bene ’n romcom.
Na dese is ek ’n bietjie verlief op Emma van Heyn.
Nee wag, dalk is ek verlief op Dalene.
Of, nee, dalk is ek verlief op Emma wat Dalene speel?
Sien julle?
Dalene is ’n gevaarlike meisie, die soort waarteen my ma altyd gewaarsku het. Ek, weer, is die een wat altyd preek daaroor dat jong meisies nie moet verlief raak op die verkeerde manlike karakters nie. Nou doen ek dit verdomp self.
En dit is presies hoe dit hoort in hierdie genre, veral wanneer dit met sigself spot.
Lees ook:
Sypaadjie-videogesprek: Izak de Vries gesels met Alma Rossouw