.....
“In ’n e-pos wat Eloff aan ’n wye verskeidenheid persone oor sy bedanking gestuur het, lig hy die sluier oor wat agter die skerms gebeur het. Die verklaring het destyds ’n storm veroorsaak op sosiale media sowel as in die hoofstroommedia. De Klerk en sy stigting is wyd daarvoor veroordeel.”
.....
Oudpresident FW de Klerk en sy stigting se 180 grade-ommekeer vroeër vanjaar dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie, kon die skade wat dit reeds aangerig het, nie herstel nie.
Dit, en die feit dat die voormalige uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting en later voorsitter van die stigting se adviesraad, Theuns Eloff, geensins geken is toe die omstrede verklaring op 14 Februarie uitgereik is nie, is die hoofredes waarom Eloff besluit het om te bedank en sy bande met die stigting te verbreek.
Foto: YouTube
In ’n e-pos wat Eloff aan ’n wye verskeidenheid persone oor sy bedanking gestuur het, lig hy die sluier oor wat agter die skerms gebeur het. Die verklaring het destyds ’n storm veroorsaak op sosiale media sowel as in die hoofstroommedia. De Klerk en sy stigting is wyd daarvoor veroordeel.
Eloff sê hy kon homself nie vroeër in die openbaar verdedig nie, omdat hy daardeur die leierskap van die stigting onder verdenking sou bring. Hy het egter besef dat sy geloofwaardigheid by die ander organisasies waarby hy steeds betrokke is, onder verdenking gebring word deur sy voortgesette verbintenis met die FW de Klerk-stigting. “Ek moes daarom afstand tussen my en die stigting bring en bedank.” Hy het die stigting sukses met ’n nuwe pad toegewens.
Soos reeds gemeld, blyk dit dat Eloff en die res van die trustees glad nie in die samestelling en uitreiking van die omstrede verklaring geken of daaroor geraadpleeg is nie. Dit is deur die voorsitter van die stigting, Dave Steward, geskryf en De Klerk het die groen lig gegee dat dit aan die media gestuur kan word.
Eloff sê in die tydperk tussen 14 Februarie en 13 Maart 2020 het daar ’n reeks gebeure plaasgevind wat hom gedwing het om sy voortgesette betrokkenheid by die stigting te heroorweeg.
.....
“Ek is deur talle vriende en kennisse daaroor verkwalik en selfs aangeval – waarskynlik omdat hulle (verkeerdelik) van mening was dat ek steeds aktief by die stigting betrokke was en daarom vir die verklaring verantwoordelik was (of selfs geskryf het).” – Theuns Eloff
.....
“Dit het begin met ’n verklaring deur die stigting op Vrydag 14 Februarie 2020 – een waarin die persoonlike en onsmaaklike aanvalle deur die EFF op FW de Klerk tydens die opening van die parlement ten regte veroordeel is, maar waarin daar ook ontken is dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is (soos besluit deur ’n subkomitee van die Verenigde Nasies). Ek is nie in die samestelling en uitreiking van hierdie verklaring geken of geraadpleeg nie, en het trouens eers op die Saterdag (15 Februarie) daarvan kennis moes neem, toe ’n joernalis my daarmee gekonfronteer het.”
Die verklaring was vir Eloff sowel as die ander raadslede van die stigting ’n verrassing. Hulle het oor die naweek nadat dit in die media verskyn het, telefonies gepraat en e-posse gestuur om hulle kommer oor en teenstand jeens die verklaring uit te spreek. Die verklaring is op Maandag 17 Februarie onvoorwaardelik en met apologie teruggetrek. Beide De Klerk en Steward het om verskoning gevra en gesê dat dit ’n oordeelsfout was, en die gevolg van ’n emosionele oorreaksie op die EFF-aanvalle. Eloff sê die skade aan die stigting en De Klerk se eie geloofwaardigheid was egter reeds aangerig.
Die trustees het ook hulle teenkanting teen die verklaring uitgespreek tydens ’n vergadering wat later plaasgevind het. Steward en De Klerk het tydens die vergadering weer hulle verskoning aangebied. Dit is aanvaar, maar die trustees het daarop gewys dat daar vir die stigting ’n lang en moeilike pad voorlê om verlore geloofwaardigheid, respek en aanvaarding terug te wen. Eloff sê die proses om die stigting te herstruktureer en te herposisioneer is op die oomblik aan die gang.
“Ek het aan die einde van daardie vergadering aangedui dat ek my verbintenis met die stigting sal verbreek en is versoek om my bedanking tot einde April uit te stel. Ek het aan daardie versoek voldoen en die afgelope week my formele bedankingsbrief aan die voorsitter van die stigting se raad van trustees, Dave Steward, gestuur, wat dit aanvaar het.”
Hy sê die verklaring het sy eie integriteit en geloofwaardigheid onder verdenking gebring. “Ek is deur talle vriende en kennisse daaroor verkwalik en selfs aangeval – waarskynlik omdat hulle (verkeerdelik) van mening was dat ek steeds aktief by die stigting betrokke was en daarom vir die verklaring verantwoordelik was (of selfs geskryf het).” In daardie stadium was hy glad nie meer by die daaglikse bestuur van die stigting betrokke nie.
Vanaf 1 Mei 2020 sal Eloff glad nie meer by die FW de Klerk-stigting betrokke wees nie. Dit beëindig ’n betrokkenheid van meer as tien jaar: eers as trustee, daarna as ondervoorsitter en voorsitter van die raad van trustees, toe ’n driejaartermyn as uitvoerende direkteur en uiteindelik vanaf Junie laasjaar as voorsitter van die adviesraad van die stigting. Hy sê hy het by die stigting betrokke geraak omdat hy van mening was dat die Grondwet van Suid-Afrika die fondament van ons grondwetlike demokrasie en ons toekoms is en daarom beskerm en verdedig behoort te word. “Die stigting was die beste instrument om hierdie doel te bereik, aangesien die Grondwet die belangrikste nalatenskap van oudpresident FW de Klerk is.”
Eloff sal steeds konstruktief besig bly deur sy nie-uitvoerende voorsitterskap van Astral Foods, sy voorsitterskap van drie trusts (Die Dagbreektrust, Trust vir Afrikaanse Kuns, Kutuur en Erfenis en Trust vir Afrikaanse Onderwys) en sy voorsitterskap van die onlangs-gestigte privaat maatskappy om nierassige Afrikaanse skole te koop, te bou en te bedryf (die MOS-Inisiatief). Hy bly ook betrokke by ander gespreksgroepe oor nasionale en versoeningskwessies, en sê hy sal aanhou om van tyd tot tyd artikels te skryf.
Lees ook
Buro: MvH