Erentia Bedeker: onopgesmuk, internasionaal bekroon, redelik onbekend in haar eie land

  • 0

Erentia Bedeker is ’n stil mens wat jare spandeer op groot projekte en internasionaal naam maak, maar hier ter plaatse nie bekend is of groot geld van die owerhede ontvang nie. Izak de Vries het haar ingevra.

Wil jy iets sê oor al die toekennings en die swaarkry daarmee saam?

Swaarkry klink darem bietjie erg. Kom ons noem dit eerder sukkel of uitdagings. Ek het darem elke dag kos op die tafel, ’n warm bed en petrol in die tenk. So elke tweede naweek selfs ’n bottel rooiwyn, wanneer daar lekker specials by Checkers of Liquor City is! Al voel ek soms soos een, probeer ek my bes om nie die “arme arm-kunstenaar-badge” te dra nie.

Toe ek in 2020 met jou in gesprek was, het Ruby & Roach pas twee groot pryse gewen. Die film het intussen pryse, benoemings en nominasies bly nadertrek soos ’n magneet sal maak met ystervysels. Hoeveel akkolades is daar nou al vir die twee karaktertjies?

Dis nou al vier jaar later, kan jy glo. Gewoonlik is ’n film se feesleeftyd net so twee jaar, omdat meeste filmfeeste nie projekinskrywings vat wat meer as twee jaar vantevore vervaardig is nie. Maar Ruby & Roach reis nou al vir vier jaar van fees tot fees. Tot op hede is ons kortfilm al vir 77 filmfeeste gekies, het dit 26 benoemings ontvang en is dit bekroon met 18 pryse.

Voor ek oor jou nuwe werk praat, moet ek eers vra: Hoe beland ’n film soos Ruby & Roach op ’n internasionale filmfees? Ek het nie ’n idee van jou wêreld nie en ek vermoed die meeste mense wat hier lees ook nie.

Jy skryf bloot in. Daar is ’n hele paar platforms waarop die verskillende filmfeeste gelys word. Ons gebruik meestal FilmFreeway. Jy skep ’n profiel vir jou film en skryf in vir enige fees wat ’n animasiekortfilmafdeling het. Alhoewel daar ’n paar animasiefeeste is waarvoor jy verniet kan inskryf, het die meeste maar ’n inskrywingsfooi wat varieer van $5 tot $50 en selfs meer. Elke fees het ’n paneel wat die films evalueer en ’n sekere hoeveelheid kies wat by die fees vertoon word. Vir hoe meer feeste jy inskryf, hoe beter jou kans om dalk gekies te word uit soms letterlik honderde inskrywings. Maar die inskrywingsgelde kan nogal begin bymekaartel, so ’n mens moet mooi kies waarvoor jy inskryf. Dorette Nel, die vervaardiger en skrywer van Ruby & Roach, het regtig baie belê om die film vir soveel as moontlik feeste in te skryf.

Wat van platforms soos Netflix en Showmax? Het hulle jou al genader of jy vir hulle? Ek vra regtig omdat ek nie ’n idee het hoe hierdie goed werk nie.

Nee, hulle het my nog nie genader of ek vir hulle nie. Ek het self nog geweldig baie om van my eie industrie te leer, veral die kommersiële kant daarvan. As onafhanklike filmmaker is my wêreld soms beperk tot my studio.

Ek dink Dorette het met Ruby & Roach plaaslik probeer uitsendingooreenkomste vasmaak, maar was elke keer onsuksesvol. Baie min van die streaming platforms stel belang in animasiekortfilms. SAFIA (South African Forum for Independent Animators), met Dorette en Diek Grobler aan die stuur, het so rukkie gelede ’n klomp van ons onafhanklike animeerders se films bymekaargesit en bemark dit nou as ’n pakket. Ek dink dit kan dalk ’n beter kans staan in die toekoms as ’n enkele kortfilm. Ek dink baie van die platforms verkies om met groter studio’s saam te werk omdat die produksiepyplyn vinniger kan geskiet as wanneer jy solo aan ’n film werk.

Kom ons tree ’n oomblik terug: Jy het bekend geword met die film Die berggans het ’n veer laat val. Hoeveel toekennings het dit al gewen?

Berggans het twee pryse gewen. Een daarvan was vir beste oorspronklike klankbaan, waarvoor Wilken Calitz se fantastiese komposisie die lof toekom.

Toe ek met jou in 2020 gesels het, was jy net aan die begin van jou werk aan The stonemason. Intussen het die houtmannetjie, die stonemason, nou al mens geword en ek het hom selfs al sien stap. (Dit was soos om ’n baba te sien loop.) Dis nogal moeilik om aan hom te dink as nie mens nie. Wanneer sal die film klaar wees?

Dit was régtig soos om ’n baba te sien loop. Ek het net die beter pogings op sosiale media gedeel, maar ek verseker jou sy eerste tree was maar baie wankelrig. Dit het my letterlik ’n paar maande geneem om te leer hoe om hom te laat loop. Dis amper soos om ’n marionette te leer manipuleer, jy word net beter hoe meer jy dit oefen (klik om te sien hoe ek dit doen).

Ek dink beslis aan die stonemason as meer as net ’n houtpop. As mens so elke dag met mekaar werk, vorm daar ’n band tussen animeerder en karakter. Ek dink aan hom as een van my beste vriende.

Ons beoog om teen Januarie 2025 klaar te wees met die film as alles goed gaan.

Tydens ons vorige onderhoud het jy ’n mooi ding gesê: “Dit is een van die aantrekkingspunte van stop-motion-animasie vir my. Om die karakters wat jy self gemaak het, te sien lewendig word op die skerm. En hoe húlle op die ou end jóú direct en nie anders om nie.” Werk dit steeds so? Vertel die stonemason-karakter vir jou goed oor hom wat jy nie geweet het nie?

Beslis. Partykeer sukkel ek vir dae met die mees basiese bewegingsekwens, want ek probeer dit perfek kry. Ander kere gaan skiet ek sonder verwagting ’n baie meer komplekse sekwens en kry dit met die eerste probeerslag reg. Dis amper asof ek die stonemason se natuurlike bewegings inhibeer wanneer ek te hard probeer om dit reg en perfek te kry en asof hy makliker en vryer beweeg wanneer ek myself die vryheid gee om sonder oordeel en die verwagting van perfeksie te animeer.

Hy motiveer my ook om aan te hou wanneer dit regtig moeilik is. Hy het sagte oë en al is my animasie hoe sleg, oordeel hy my nooit nie; hy kla nooit as ons dieselfde sekwens oor en oor moet skiet nie.

Dit het jou twee jaar geneem om die 8 minute en 48 sekondes van Ruby & Roach te maak. Het jy ’n idee hoe lank The stonemason gaan wees?

Ek het op die oomblik al 6 minute en 20 sekondes se finale footage. Daar is nog so bietjie meer as ’n derde oor om te skiet, so ek dink ons kyk na so rondom 10 na 12 minute vir die finale film.

Intussen het jy ’n musiekvideo gemaak vir die Skotse band Constant Follower se lied “Wildlife cameraman (summer farm)”. Hoe op aarde het hulle by jou uitgekom?

Via Instagram van alle plekke. Stephen McAll, die frontman van die groep, het van my vorige werk êrens te siene gekry op die internet toe hy op soek was na ’n stop motion-animeerder om vir hulle ’n musiekvideo te maak. Hy kontak my toe op Instagram en vra of ek sou belangstel, of hulle dalk na iemand anders kan verwys saam met wie hulle kan werk. Ek het eers gedink dis te goed om waar te wees en gevra hy moet vir my ’n e-pos stuur met die spesifikasies van die projek. Intussen het ek gaan google om uit te vind of Constant Follower ’n regte band is!

Jou film, Wildlife cameraman, vertel ’n storie. Dit is ’n film. Ja, dit is gekoppel aan die lied, maar jou storie volg nie die woorde slaafs nie. Wie het die narratief vir jou film geskep?

Ek het absolute artistieke vryheid met die film gehad. McAll het net gesê hulle soek stop motion, en hy het my vertrou om op te kom met die res. Dit was tegelykertyd ongelooflik lekker en ook baie angswekkend om soveel vryheid met ’n film te hê, veral iemand anders se film. Wat as hulle nie hou van dit waarmee ek opkom nie?

Om jou vraag te beantwoord, die narratief het ek self geskep. Dis gebaseer op die gedig “Summer farm” deur Norman MacCaig wat in die lied self voorgedra word, en McAll se eie lewensverhaal. Hy is as tiener aangerand en het baie erge hoofbeserings opgedoen wat gelei het tot geheueverlies. Sy herinneringe begin die dag toe hy wakker geword het in die hospitaal.

Die narratief werk met die idee dat ons ware self altyd opgesluit is êrens binne-in ons, selfs al voel dit asof ons dit lankal verloor het. Die blou draad wat die twee karakters verbind, is simbolies hiervan. Fotografie word simbolies van sy verlore herinneringe wat hy in die natuur gaan soek deur sy kameralens.

Jou film/musiekvideo, Wildlife cameraman, het intussen ook al pryse en allerlei toekennings gewen. Vertel so ’n bietjie, asseblief?

Tot dusver het Wildlife cameraman al by 32 filmfeeste gewys en drie benoemings en ses pryse ontvang. Omdat die lied ook ’n gedig insluit, kan ons die film inskryf as ’n poësiefilm óf musiekvideo. Ons het al selfs in die kortfilmkategorie van feeste ingekom. Dit was ook interessant en verblydend om te sien hoeveel feeste nou al spesifiek vir geanimeerde musiekvideo’s ’n kategorie insluit.

So musikante en korporatiewe ghoeroes kan jou kontak as hulle jou wil betaal vir iets radikaals om hulle te bemark? Is ek reg?

Ja, beslis en asseblief. Ek is altyd opgewonde om saam met nuwe mense te werk.

Kom ons praat verder oor geld. Jy spandeer jare op ’n film. Intussen doen jy enige iets om die pot aan die kook te hou. Ek het jou leer ken as ’n handearbeider. Ons het saam bokse gedra en rakke gebou vir ’n boekwinkel. Tog is jy ’n kunstenaar. In Europa sou die staat jou baie betaal het om jou kuns te beoefen. Hoe oorleef jy? Kom daar darem ’n paar dollars na jou kant toe as jou film pryse kry?

Ruby & Roach: Best Stop Motion by Varsity Film Expo 2023

Ongelukkig is daar baie min feeste wat kontantpryse toeken. As ek nou reg onthou, was daar slegs twee of drie feeste waar Ruby & Roach ’n paar rand gewen het, wat ons onder die span verdeel het. Dis maar meestal ’n mooi sertifikaat. En party feeste het mooi trofees, maar gewoonlik moet jy as kunstenaar self die koerierkoste van oorsee na SA dek. Om gekies te word vir feeste en pryse te wen lyk baie mooi en indrukwekkend op jou CV, maar beteken ongelukkig nie veel vir jou bankrekening nie.

Dit klink dalk esoteries, maar ek oorleef op geloof. My bankrekening was nog nooit dolleeg nie. Wanneer een projek afgekeur word, dan is daar altyd op die regte tyd ’n volgende geleentheid wat kom aanklop.

Dis ’n moeilike en onsekere leefstyl, maar ek glo die heelal voorsien wanneer jy besig is met die regte ding en bereid is om hard te werk vir dit waarin jy glo.

Op ’n meer praktiese vlak, oorleef ek deur te doen wat my hand vind om te doen. Soos jy genoem het, het ons ontmoet toe ek by die Woordfees die boekwinkel help bou het. Ek is nie bang om buite my veld ook te werk om my kuns lewendig te hou nie. En ek is baie ernstig oor spaar. Ek sorg dat, wanneer daar geld inkom, dat ek altyd ten minste ’n derde daarvan wegsit. So daar is altyd iets om op terug te val in ’n noodgeval.

Ek is ook ’n gekwalifiseerde onderwyser, so as die nood regtig druk kan ek gaan skoolhou, maar ek hou dit as die last resort ...

Jy het intussen ook ’n musiekvideo gemaak van Mart-Marie Snyman se “Fynbos”. Aan hoeveel projekte kan jy gelyk werk?

Ek het nog nie aan meer as twee gelyk probeer werk nie. Ek is nie goed met multi-tasking nie en hou niks daarvan nie. Wanneer twee projekte oorvleuel, probeer ek om tye opsy te sit om op elkeen te fokus. Wildlife cameraman het byvoorbeeld oorvleuel met The stonemason. In so ’n geval, waar die een my persoonlike projek is, sal ek vir tyd en wyl werk staak en eers die kommissieprojek afhandel. Terwyl ek aan die musiekvideo gewerk het, het ek net so hier en daar tyd aan Stonemason ook spandeer. Ek verkies om op een ding te fokus en dit af te handel as dit moontlik is.

Nog eens die vraag: Hoe lank het “Fynbos” se video geneem om te maak? En hoe lank het jy spandeer aan Wildlife camaraman?

Wildlife cameraman het drie maande geneem. As ek reg onthou, het “Fynbos” my so twee maande besig gehou. Dit was ’n baie ontspanne projek omdat dit bloot vir die liefde van die taak was en daar geen verwagtinge van my was nie. Mart-Marie het bloot gevra of ek visueel iets vir die musiek kan maak sodat sy dit op sosiale media kan gebruik. Mense verkies om na iets te kyk in stede van om net na die musiek te luister.

Diek Grobler was die regisseur van Bianca Juliette O’Neill se kortfilm Yellow daisy butterfly, waarby jy ook betrokke was. Verduidelik asseblief jou rol en hoe jy betrokke geraak het?

Ek was een van die karakteranimeerders. Aanvanklik was die plan om die karakters in die film met papier cut-outs te animeer. Diek het my genader om daarmee te help omdat ek reeds ondervinding gehad het met die medium. Maar weens tyd- en begrotingbeperkings het hy toe besluit om die hele film digitaal te animeer. Hy het al die ontwerpe van die karakters digitaal gedoen en dan het ek hulle in Photoshop geanimeer.

Diek was ’n mentor baie jare gelede, nie waar nie?

Diek is steeds my mentor en ook goeie vriend. Dit is te danke aan hom dat ek ’n loopbaan as stop motion-animeerder het. Elkeen van my projekte gaan ten minste een keer onder sy kritiese blik deur, sodat hy kwaliteitbeheer kan doen. Sy terugvoer is altyd 100% eerlik en daar is altyd geleentheid om by hom te leer en my eie werk te verbeter onder sy leiding.

Toe jy Die berggans het ’n veer laat val verfilm het, was papier jou medium. Ruby & Roach was ook papier, ditto Wildlife cameraman. The stonemason is hout, Yellow daisy butterfly was tekeninge (dink ek) en die video vir “Fynbos” is gemaak met objekte wat jy in die veld gekry het. Hoe en wanneer besluit jy op die mediums waarmee jy werk?

Begroting en tyd speel ’n groot rol. Papier is goedkoper as hout. Die tweedimensionele papierstel en -karakters vir Ruby & Roach was goedkoper en vinniger om te bou as The stonemason se volle driedimensionele stel en ten volle geartikuleerde houtkarakters.

Yellow daisy butterfly was, soos reeds genoem, digitale cut-outs in plaas van papier. Die karakters is deur Diek geteken en dan geskandeer as elektroniese cut-outs wat ons in Photoshop raam vir raam geanimeer het. Dit bespaar tyd en materiaal.

Die onderwerp van ’n film kan ook aanleiding gee tot sekere keuses. Fynbos as plantspesie is vir my ’n paradoks: fyn en delikaat en tog bestand teen die elemente. Die musiek het vir my dieselfde paradoks vasgehou en gebalanseer: nuanses van teer- en weerbaarheid teenoor weerstandigheid; ’n gevoel van “jy is sterker as wat jy dink”. Vir “Fynbos” se musiekvideo het ons geen begroting gehad nie. Vir my was die uitdaging om alles wat ek in die film gebruik, in en om die huis te vind.

As opgeleide puppeteer het puppet-animasie my nog altyd aangetrek, daarom was ek halsstarrig genoeg om dié medium aan te pak vir The stonemason, al het ek nul ondervinding daarmee gehad. So dit hang van baie dinge af!

Wanneer en waar sal ons The stonemason kan sien?

As alles goed gaan, behoort The stonemason teen Januarie 2025 klaar te wees. Die wáár sal ek julle nog laat weet. Hier is solank ’n voorsmakie van waarna julle kan uitsien: The Stonemason Promo Screener.

Ons is in die proses om ’n crowdfunding campaign van stapel te stuur om so bietjie ekstra fondse vir postproduksie in te samel. Een van die belonings vir ondersteuners sal ’n aanlyn première van die film insluit en miskien ’n in-persoon-première vir diegene in Johannesburg. Ons is nog in die beplanningsfase van alles. Volg ons gerus op Facebook en Instagram om op hoogte te bly van verwikkelinge.

Diegene wat nie meer lus is vir sosiale media nie, kan inteken op my blog, Pensive Press, om deel van ons e-poslys te word en só op hoogte te bly. In my volgende blog skryf ek meer oor die uitdagings waarmee onafhanklike animeerders en filmmakers te make kry en hoekom crowdfunding al meer die gekose roete word om projekte te befonds. Ek deel hier ook meer in-diepte-, agter-die-skerms-brokkies nuus oor wat in die studio gebeur.

Wat kom ná The stonemason? Droom jy van ’n internasionale deurbraak?

Weet jy, Izak, dis op die oomblik ’n vraag wat ek nie regtig kan antwoord nie. My planne is bietjie omvergewerp toe twee nuwe projekte vir volgende jaar afgekeur is vir befondsing. So ek is beskikbaar as enige iemand vanaf Januarie ’n stop motion-animeerder en -regisseur benodig!

Ek dink onsekerheid en onduidelikheid oor die toekoms is deel van meeste onafhanklike kunstenaars se beroep en ek dink dit is ook die moeilikste deel daarvan. Ek was nog nooit só seker van wat ek moet doen en terselfdertyd so ónseker oor hóé om dit te doen nie.

Ek droom van volhoubaarheid. Solank ek kan films maak en die wêreld se skerp hoeke so bietjie kan sagter maak met my kuns, is ek gelukkig. Hetsy op eie bodem of internasionaal. Solank ek dit emosioneel en finansieel volhoubaar kan doen. As ek êrens langs die pad dalk ’n Oscar wen, dan is dit ’n bonus.

  • Alle beeldmateriaal verskaf deur Erentia Bedeker.
Lees ook:

Ruby & Roach se animasie: geen taalgrense nie

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top