Francois van Coke (Foto: André Badenhorst)
In Februarie 2017 het Francois van Coke sy tweede vollengte-solo-album, Hierdie is die lewe, bekendgestel. Die album is uitstekend ontvang deur die massas aanhangers van ’n man wat die golf van sy loopbaan en talent ry vir al wat dit werd is. Vir Francois – in 1980 gebore as Francois Badenhorst – was die pad tot op dié punt egter vol kinkels – sommiges lig, sommiges uiters donker, sommiges lewensbedreigend.
Die musiekvideo vir “Dit raak beter” – ’n enkelsnit vanaf bogenoemde album – bevat trouens vele flitse van hierdie tog. Van Francois se laer- en hoërskooldae as ’n belowende rugbyspeler, en ook jong aspirantmusikant, tot die wilde koorsdroomagtige oomblikke van Fokofpolisiekar-gigs.
Dié musieklus het vir die tiener Francois ’n uitlaatklep gevind in die Christenkerke – ironies genoeg het hy en van die ander lede van Fokofpolisiekar, wat uit die staanspoor uiters krities was in hul lirieke oor kerkdogma en alles wat daarmee gepaard gaan, mekaar juis in dié “Christen-scene” ontmoet. Hoewel Francois en sy predikant-pa nou ’n goeie verhouding het, was die impak van Fokofpolisiekar se aanslag groot genoeg dat hy sy verhoognaam van Badenhorst na Van Coke verander het. (Baie buitestanders reken “van Coke” verwys na kokaïen, maar die storie is eintlik heel vervelig: die lede van Fokofpolisiekar het ’n vriend gehad wat by ’n Coca-Cola-fabriek gewerk het, en die feit dat almal na hom verwys het as “die ou van Coke” was vir die orkeslede histeries snaaks.)
Veral die vroeë Fokofpolisiekar-vertonings was dikwels chaoties – in die dokumentêre film Forgive them for they know not what they do is Francois onder meer gepols oor die gereeldheid waarmee hy dronk was by vertonings en selfs op die verhoog sou vomeer.
Dit was egter die minste van die punkrockers se probleme. As voorman van die groep was Francois ook die mees herkenbare gesig in die groep, en ná die gewraakte oomblik toe Wynand Myburgh, baskitaarspeler, “Fok God” op ’n aanhanger se beursie geskryf en sodoende ’n mediastorm ontketen het, het die groep selfs bomdreigemente ontvang – ’n onstuimige tyd, om die minste te sê. En dus ook nie verrassend dat ’n jong, passievolle mens alternatiewe toevlug in middelmisbruik sou soek nie.
Dit het bloedsweet gevat, maar Francois sou uiteindelik dié deel van hom oorwin. In ’n latere onderhoud op Netwerk24 het hy oor sy pogings om van drank weg te tree gesê: “Ek’t shows gedoen waar ek nie eers kon onthou dat ek daar was nie. En obviously was dit sleg vir my verhoudings en werk ... Alles wat verkeerd gegaan het, was as gevolg van booze.”
In hierdie stadium was Fokofpolisiekar reeds op hiatus, maar Van Coke Kartel – Francois se nuwe groep – was meer gewild as ooit, met talle toere, optredes en albums wat elke jaar volgepak het. Wat hom gehelp het om “groot te word” (sy eie woorde), was die feit dat hy uit Kaapstad na die Bellville-woonbuurt Boston getrek het – ’n klipgooi van sy grootwordplek. In dieselfde Netwerk24-onderhoud het hy gesê: “Ek gaan nooit uit in Bellville nie, ek weet nie wat de fok daar gebeur nie.” Verder was sy jare lange verhouding met Lauren ook ’n anker – asook dié met sy bulhond, Ringo (wat in 2017 heengegaan het – ’n emosionele plettervat vir Francois, wat sy hart op sosiale media uitgestort het oor Ringo se dood.)
Met die bekendstelling van Francois se eerste solo-album in 2015 het ongekende hoofstroomsukses gekom: meestal te danke aan die wegholtreffer “Toe vind ek jou”, wat hy saam met Karen Zoid opgeneem het. In ’n latere LitNet-onderhoud het hy oor dié sukses gesê: “‘Toe vind ek jou’ het alles verander en vir die eerste keer was daar kinders, ouers en grootouers wat na my musiek kon luister op dieselfde tyd.”
En “alternatiewe hardebaarde” wat hom sou kwalik neem oor die hoofstroomsukses? Francois is min gepla: “Ek het van die begin af gesê ek sal op enige plek speel vir soveel mense as wat ek moontlik kan. Dit is hoekom ek begin musiek maak het. Saam met my vriende in ’n kamer, om dit eendag vir mense te speel. Nou het ek die geleentheid en ek gaan dit vir soveel as moontlik mense speel as wat ek kan.”
Enige vrae wat nog gehang het oor “grootword”, is ook uitgewis met die geboorte van sy dogter, Alex, laat in 2016. In dieselfde LitNet-onderhoud het Francois later gesê: “Ek gaan probeer om elke oomblik wat ek saam met my gesin het, myself heeltemal aan hul te gee, want ons tyd saam gaan minder wees. Dit is ’n groot aanpassing, maar ek dink ek het darem baie ervaring van min slaap en laat nagte, soos dinge in ’n huis is met ’n nuwe baba.”
’n Vreemde tipe opvoeding, dus: wilde, onvoorspelbare, gevaarlike nagte van ruk en rol, wat Francois perfek voorberei het vir die uitdagings van ouerskap.
Buro: MvH