Die rocker Francois van Coke is terug met sy derde solo-album, Dagdrome in suburbia.
Dié album fokus op sy lewensperspektief vanuit die voorstede van Kaapstad. As kind wou hy lank Bellville verruil vir ’n plek minder banaal en tradisioneel, maar nou is hy terug in die plek wat hy deesdae “tuis” noem.
Die album bestaan uit 11 musieksnitte, met verskeie kunstenaars soos Spoegwolf, rymkletser Riky Rick, The Voice SA-wenner Tasché, en Hunter Kennedy wat ook ’n verskyning maak op die album. Karen Zoid, Johnny de Ridder en Die Gevaar het ook liedjies vir die album geskryf. En dis nie al nie – selfs Riaan Cruywagen kan op die album gehoor word.
Francois het as solokunstenaar die eerste keer aandag getrek met die liedjie “Toe vind ek jou” van sy eerste solo-album, wat hy saam met Karen Zoid sing.
Francois vertel meer oor wat dié album inspireer het.
Francois, vertel asseblief meer oor jou derde solo-album, Dagdrome in suburbia, wat onlangs bekendgestel is. Van waar die inspirasie vir die album en wat maak hierdie album anders as jou vorige albums?
Ek het grootgeword in die ’burbs en wou my hele lewe wegkom. Vanuit Bellville was Kaapstad baie ver en vol mistiek. Ek het vir myself uit suburbia uit gedroom toe ek ’n kind was. Ek het gesoek na iets anders as die vervelige, tradisionele bestaan. Die titel gaan oor daardie gevoel. Ek bly nou weer in die ’burbs na ek getroud is en die album som ook op hoe ek ons land en die wêreld ervaar vanuit suburbia. Ek het ’n klomp goed vir die eerste keer gedoen. Ek het saamgewerk met Spoegwolf, Riky Rick en Tasché. Hunter Kennedy het ’n rap verse op die album gedoen. Dit is ook ’n bietjie meer van ’n rock ’n roll-album as my vorige solowerk.
Een van die liedjies – dis nou behalwe “Dagdrome in suburbia” saam met Spoegwolf, wat tans oral gehoor word – is “Daarsy boys”, ’n lekker tong-in-die-kies-liedjie waar jy en Hunter Kennedy so effens met julself spot. Vertel ons asseblief meer oor hierdie liedjie.
Ja, ons het ’n aand in die Spur spandeer met ons families en die song het daarna ontstaan. Dit is vir ons snaaks dat ons as punk-pa’s nou opgeëindig het in die ’burbs en ons wou ’n bietjie daarmee spot. Ons wou ook ’n bietjie ’90’s channel in daardie tune, so die rif is so ’n bietjie grunge en die rap-dele herinner bietjie aan Beastie Boys rap vibes uit die ’90’s. Dit is inderdaad baie tong-in-die-kies, soos jy sê, en ek is bly mense vind dit snaaks.
Daar is verskeie samewerkings saam met verskillende kunstenaars, onder andere Spoegwolf, Hunter Kennedy en Tasché, op die album. Is dit vir jou belangrik om saam met ander kunstenaars op ’n album saam te werk? Watter dinamiek bring dit na die album?
Ja, ek hou daarvan om saam met ander kunstenaars te werk en my discography sal getuig daarvan. Ek voel ek leer altyd by iemand as ek saam met hul skryf. Ek dink dit dra ook by tot groter variasie op die album en ek wou graag ’n klomp verskillende goed op hierdie album doen.
Een van die interessante mense wat ook op jou album gehoor kan word, is Riaan Cruywagen. Vertel asseblief meer hieroor – hoe het dit gebeur?
Ek het baie gehou van die lyn “rugby en die weer en die openbaring” in die eerste song, “Ek probleem”. Ek het op ’n stadium gedink dit is die album se titel, maar dit het nie gebeur nie. Ek wou graag nog steeds klem lê op die frase en gedink dit sal die beste gedoen word met Riaan Cruywagen wat die reël vir ons voorlees soos hy die nuus sou lees. My bestuurspan het met hom in kontak gekom en hy was bereid om dit te doen. Ek het ’n WhatsApp van Riaan onvang waarin hy vra wat ek wil hê hy moet doen. Hy was ongelooflik vriendelik en hoflik en sy Afrikaans is onberispelik. Baie bly hy was oop vir dit.
Die bekendstelling van die album is deur duisende mense bygewoon – kry jy “stage fright” of nie sommer nie. Hoe berei ’n mens voor om voor soveel mense op te tree?
Ek kry stage fright as ek nie ordentlik voorbereid is nie. Vir die bekendstelling en Francois van Coke en Vriende was ek en my span baie goed voorberei en dit was ’n ongelooflike aand en ’n voorreg om van die nuwe songs voor so baie mense te kon speel en om ’n klomp ander collabs van oor die jare te kon vier.
Francois, as jy nou so terugkyk oor die jare – hoe sou jy sê het jou musiek verander en saam met jou as mens gegroei?
Sjoe, ek probeer om nooit dieselfde album te maak nie. So die musiek verander konstant, maar dit is ook vir my belangrik om te stick to my guns. So, ek probeer altyd daardie balans regkry. Ek is ’n ander mens as wat ek was in 2003, toe ek begin het, maar my denkwyse bly nog baie dieselfde.
Jy was nie altyd bekend vir jou solo-loopbaan nie, maar het eerder bekendheid verwerf as lid van groepe soos Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel – hoe verskil solo optree daarvan om in ’n groep op te tree vir jou?
Daar is nie so ’n groot verskil nie, want ek speel nog steeds met ’n band en daar is nog steeds ’n tipe demokrasie, ek het net die finale sê op alles. Die een ding wat anders is, is dat my naam op die album cover staan en ek ook die meeste van die kritiek moet vat, maar ook seker die meeste van die prys kry.
Wat is die beste raad oor die bedryf wat jy ooit van iemand ontvang het?
Ek kan nie dink aan goeie raad wat ek al gekry het nie. Dalk vergeet ek van iets. Ek kyk tog op na Valiant Swart en Coenie de Villiers as goeie voorbeelde van hoe om cool te bly as hul ouer word.
Wat hou die toekoms vir jou in?
Ek speel shows tot aan die einde van jaar, regoor die land en in Nederland. Dan gaan ek in Januarie vakansie hou saam met my familie en daarna sal ek begin dink aan wat volgende gaan gebeur, maar my definitiewe planne is nog musiek en groter shows!
Buro: MvH