.............
“Die verbod, asook die kwessie van alkoholverkope tydens grendeltyd, het glo spanning in die nasionale bevelsraad sowel as in die kabinet veroorsaak.”
.............
Bespiegelings oor ’n moontlike kabinetskommeling deur president Cyril Ramaphosa om ontslae te raak van ’n paar omstrede swaargewigte in sy kabinet, het sedert die naweek op verskeie mediaplatforms kop uitgesteek.
Volgens die gerugte wat na bewering uit die ANC se binnekring kom, hang daar ’n swaard oor die koppe van ’n paar senior ANC-ministers. Daar word al hoe harder in die wandelgange gefluister oor die moontlikheid van ’n kabinetskommeling ondanks die feit dat die land steeds vasgevang is in die koronaviruspandemie.
Die ministers wat volgens die gerugte in Ramaphosa se visier is, is Lindiwe Sisulu, Bheki Cele en Nkosazana Dlamini-Zuma. Dit is almal ministers wat tydens die ramptoestand hulle gewig op verskillende maniere kwaai rondgegooi het.
Politieke waarnemers waarsku egter dat Ramaphosa versigtig moet wees om nie sy hand te oorspeel nie. ’n Moontlike kabinetskommeling wat hoofsaaklik deur die ANC se faksiegevegte gemotiveer word eerder as oor regeringsake mag dalk in sy gesig ontplof, word gesê.
IOL berig dit kan die president veral duur te staan kom as hy ontslae raak van swaargewigte soos Sisulu en Cele sonder die steun van Luthuli-huis.
Tinyiko Maluleke en Metji Makgoba het albei aan die Sunday Independent gesê daar is onenigheid tussen Cele, Dlamini-Zuma en die gesondheidsminister Zweli Mkhize aan die een kant en Ramaphosa aan die ander kant oor die verwarring wat ontstaan het oor die verbod op die verkoop van tabak gedurende die grendeltyd. Die verbod, asook die kwessie van alkoholverkope tydens grendeltyd, het glo spanning in die nasionale bevelsraad sowel as in die kabinet veroorsaak.
.............
“Dit is volgens hom [Maluleke] van groot belang dat die president nou sy kaarte reg moet speel as hy nie wil hê enige besluit wat hy nou neem, moet in sy gesig ontplof nie.”
.............
Die koerant sê die ANC moet op verskeie fronte vir sy paaltjies keer. Terwyl daar gespartel word om die skade wat die koronavirus aanrig te bestuur en lewens sowel as die ekonomie te probeer red, is die interne faksiegevegte binne die ANC steeds aan die toeneem.
Die redakteur van Vrye Weekblad, Max du Preez, het Maandag in sy daaglikse nuusbrief ook geskryf oor die politieke kultuur van die ANC wat die land se vooruitgang kniehalter.
Volgens Du Preez het ministers soos Dlamini-Zuma, Cele, Mbalula en Lindiwe Zulu die ramptoestand as ’n lisensie gesien om hulle beheer oor hulle onderdane uit te brei, eerder as om sensitief en pragmaties te wees en die bevolking deur oorreding deel van die nasionale poging te maak.
“Suid-Afrikaners was aan die begin gretig om saam die gemeenskaplike vyand aan te durf, maar verspotte, irrasionele regulasies wat die mense probeer mikrobestuur het, het dié gretigheid gou in renons verander.”
Die stryd tussen die twee groot faksies binne die ANC was immerteenwoordig, sê Du Preez. “Dlamini-Zuma se absoluut belaglike verbod op sigarette, terwyl almal deeglik weet die meeste rokers sou in elk geval rook en dat dit bloot ’n ontsaglike kriminele netwerk geskep het, maar dit was haar persoonlike obsessie en die ou Zuma-faksie het haar gesteun net om die punt te maak dat hulle nog mag het. En Ramaphosa en sy kamp wou nie slapende honde wakker maak nie.”
Maluleke het aan die Sunday Independent gesê hy hoor al sedert die middel van Junie en selfs vroeër gerugte van ’n moontlike kabinetskommeling. Hy sê die feit dat die gerugte nou weer in omloop is, bevestig die vermoede dat daar waarheid in steek.
Volgens hom kan dit óf Ramaphosa se hand binne die ANC sterk óf sy posisie verder verswak as hy sy hand oorspeel. Hy meen egter Ramaphosa het sy stempel duidelik op nie net die kabinet afgedruk sedert hy die leisels oorgeneem het nie, maar ook op die ANC as party. Dit is volgens hom van groot belang dat die president nou sy kaarte reg moet speel as hy nie wil hê enige besluit wat hy nou neem, moet in sy gesig ontplof nie.
Lees ook
Buro: MvHPolitieke ontleders stamp kop oor Ramaphosa se posisie in ANC