Toe Mabel Malherbe in 1912 die Afrikaans-Hollandse Leesunie gestig het, het die South African Home Reading Union reeds nege jaar lank bestaan met ’n tak in Pretoria waaraan sy self ook behoort het. Sy was egter diep bekommerd daaroor dat die Afrikaanse vroue van Pretoria nie Nederlandse of Afrikaanse boeke gelees het nie en dit ook kwalik sou kon skryf. Dié saak wou sy regstel en sommer ook die ontluikende Afrikaanse letterkunde ondersteun.
Leeskringdeelname het ’n gewilde aktiwiteit geword en het duidelik ’n behoefte vervul want teen 1940 was daar ’n waglys van 100 vroue wat wou aansluit. Dus word die Mabel Malherbe Leeskring gestig met veelal dieselfde doelstellings, nl.
… om belangstelling vir en kennis van die Afrikaanse en Hollandse letterkunde te bevorder. Dit word nagestreef deur die behandeling en bespreking van boeke, oorspronklik of vertaal, in Afrikaans en Nederlands ...
Aanvanklik het die jaarprogram bestaan uit helfte Afrikaanse, helfte Nederlandse boeke vir bespreking. Later sou dit afplat en sedert 1983 is daar slegs een Nederlandse boek op die program. Nederlandse boeke is met sorg gekies – 33 van die boeke wat sedertdien bespreek is, is bekroon of was van skrywers wat vir hulle oeuvre bekroon is. In 1952 teken die leeskring in op Het boek van nu (https://www.dbnl.org/titels/tijdschriften/tijdschrift.php?id=_boe001boek00) om op hoogte te bly van die nuutste Nederlandse en Vlaamse boeke maar verruil dit in 1956 vir Kritisch Bulletin. In 1954 word daar gedebatteer oor of hulle nie meer Nederlandse boeke moet bespreek omdat die Afrikaanse boeke nie op peil is nie maar daarteen besluit, onder andere omdat Nederlandse boeke nie maklik verkrygbaar was nie. Die Staatsbiblioteek (voorganger van die National Library of South Africa) het destyds as ’n leenbiblioteek gefunksioneer en het meerdere kopieë van die boeke aangekoop en dit apart gehou vir leeskringlede om te leen benewens die biblioteek se algemene versameling Nederlandse boeke waarvan hulle kwartaalliks ’n lys van nuwe aanwinste aan die leesunies gestuur het.
Die Pretoriase leeskringe het ook ’n noue band gehad met die ambassades van Nederland en België. Leeskringlede is gereeld genooi na skrywersoptredes wat hulle aangebied het soos met Karel Jonckheere se besoek in 1961. Dit is opgevolg deur ’n inisiatief van die Heer L. Vandenbrande van die Belgiese Ambassade om by wyse van ’n “Gallup-poll van 12 beste Afrikaanse romans en in Zuid-Afrika twee mees geliefde Noordnederlandse en Vlaamse romans” te kies. Ongelukkig is die uitslag nie bekend nie. Die gades van die ambassadeurs was lede van die leeskring.
Kontak met Nederlanders
Mettertyd het dit moeilik en baie duur geword om Nederlandse boeke aan te koop. ’n Toevallige ontmoeting het hierdie verbintenis van ondergang gered. Tydens ’n Europese reis in 1989 ontmoet Wilma Goosen mev. Jeanette de Jongh, afgetrede skoolhoof en lid van die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen Nederland – Zuid-Afrika (https:// http://stichtingnedza.nl/). Hulle was geesgenote en het mekaar se leesliefde gedeel. Deur mev. De Jongh se bemiddeling besluit die Stichting om betrokke te raak by ons leeskring. Sedert 2002 ontvang die leeskring jaarliks ’n bedrag geld van die Stichting waarmee ons nuwe Nederlandse boeke koop en verdienstelike sake ondersteun (https://voertaal.nu/stichting-tot-bevordering-van-culturele-betrekkingen-nederland-zuid-afrika-n-onderhoud/).
Van die boek wat bespreek word, koop ons vyf kopieë sodat almal dit vooraf kan lees asook ’n paar boeke vir lekkerlees. Om Nederlandse boeke uit Suid-Afrika te koop is nie vanselfsprekend nie. Familie en vriende wat uit Europa kom kuier of wat in Nederland ’n draai maak, kom dikwels terug met boeke in hulle bagasie. Ons leenbibliotekie bestaan tans uit 72 boeke. By elke leeskringbyeenkoms word die nuwer boeke uitgestal en kan lede boeke leen. Die res is opgeneem in die versameling van die Alkantrantbiblioteek en dus beskikbaar vir die publiek.

Lekkerleesboeke kan by elke byeenkoms geleen word: Santie Albertse, Wollet Barnard, Marna de Klerk en Thea Heckroodt (Foto: Monica Hammes)

Thea Heckroodt, Monica Hammes en Helena Goosen (Foto’s: Gina Malherbe)
Nog goeie gevolge van die NEDZA-skenking
Oor die jare is verskillende sake uit hierdie fonds ondersteun soos studentebeurse, boekpryse vir skole en projekte by Bandhulp vir Blindes en die Prinshof Skool vir Blindes. Sedert 2005 borg ons die prysgeld vir die Eugène Marais Kreatiewe Skryfkompetisie wat jaarliks plaasvind by die Eersterust Sekondêre Skool en Prosperitus Sekondêre Skool in Eersterust, ’n voorstad van Pretoria waar hoofsaaklik bruin mense woon. Die kompetisie was die breinkind van Daleen Bekker, die moeder van Koos Bekker, en word gedryf deur Nerine Ahlers en Alet Venter, skrywers van jeugverhale.
Deelnemers uit graad 10 en 11 skryf onder gekontroleerde omstandighede ’n Afrikaanse opstel. Die drie beste opstelle in elke graad ontvang ’n kontantprys en elke deelnemer kry ’n Afrikaanse boek. Hierdie boeke, regte tiener- spannings- en liefdesverhale, word op skool onder mekaar gesirkuleer met uitkringende goeie gevolge.
NALN, waar ons dokumente gehuisves en ontsluit word, word ook uit die fonds ondersteun.

Annelien Diedericks met ons dokumenteversameling

Irene Harms wat die NALN-verbintenis tydens hulle verblyf in Bloemfontein aangegaan het, skryf haar naam op die besoekersmuur. (Foto: Elmarie van der Walt)
In 2024 het ons bygedra tot die vertaling van Multatuli se Max Havelaar deur Ena Jansen as deel van Protea Boekhuis se vertalingsprogram (https://voertaal.nu/multatuli-se-grote-max-havelaar-nou-afrikaans-danksy-ena-jansen-se-vertaling/).

Madelief Mulder en Connie Luyt (Foto’s: Gina Malherbe)
Nederlandse vroue as lede
Deur die jare was daar altyd lede met sterk Nederlandse bande: Fenna Klooster wat as jong meisie na Suid-Afrika gekom het om hier verder te studeer, het tot op 90 steeds graag ’n Nederlandse boek bespreek. Elzine Smuts en Ankie Richter is die kleindogters van Hjalmar Reitz en sy Nederlandse vrou en is nie min trots op hulle moeder, Nine van der Merwe, wat ook jare lank aan die leeskring behoort het nie (https://www.litnet.co.za/die-mabel-malherbe-leeskring-is-80-leeskring-in-die-tyd-van-corona/). Jenneke Fehrsen se pa het as jong onderwyser na Suid-Afrika gekom om van tuberkulose te herstel.

Fenna Klooster was dié soort leser by wie ’n uitgewer op sy knieë kan gaan. (Foto: Foto: Monica Hammes)

Ankie Richter en Elzine Smuts met ’n foto van hulle moeder, Nine van der Merwe (Foto: Monica Hammes)
Oor die jare het lede van die Stichting Suid-Afrika besoek en is daar lekker saamgekuier. Die 2023-kuier was soos ’n reünie van ou vriende.

Agter: Thea Heckroodt, Bert van Voorden, Irene Harms, Jenneke Fehrsen, Corrie van Esch, Dioné Prinsloo, Marna de Klerk. Voor: Ellie Kroon, Fenna Klooster, Wilma Goosen
Deesdae
Die meeste lede van MM is seniors wat nog ’n goeie skeut Nederlands op skool en universiteit gekry het en dit dus nie as ’n vreemde taal ervaar nie. Die feit dat ons bemoeienis maak met die Nederlandse letterkunde én ’n Nederlandse leenbiblioteek besit, is een van ons pluspunte en trekpleisters. Ons hou van die taal, die interessante segswyses, die woordeskat. Elzine Smuts beskryf dit as die “lekker woorde en die klank daarvan” wat sy gereeld uit haar ma en Hollandse ouma se monde gehoor het. “Dis ’n poort na die Europese literatuur en lewenswyse met sy totaal ander inslag,” sê Amelia de Jesus. Erika Theron beskryf dit as ’n yslike vergroting van ’n mens se leeswêreld en ’n voorreg om as Afrikaanssprekende direkte toegang te hê tot ’n ander kultuur en perspektief, veral dan ook ’n Europese perspektief. Tinka Wiswe wat ’n jaar gelede aangesluit het, was verbaas dat ons konstitusie steeds vereis dat ’n Nederlandse boek jaarliks bespreek moet word. Dit het haar herinner aan ’n debat jare gelede op universiteit oor “is Afrikaans ’n onafhanklike taal van Nederlands of net ’n dialek?” en laat dink oor die konteks van Afrikaans binne die Europese geskiedenis van die afgelope 400 jaar. “Maar dis ’n avontuur om ’n Nederlandse boek te lees, om die taal soos ’n lied in jou kop te hoor, om dit te verstaan en geniet,” bevestig sy.
Lees ook:
Dit zijn de namen: Mabel Malherbe Leeskring se Nederlandse verbintenis (#2)
Die Mabel Malherbe-leeskring is 80: Leeskring in die tyd van korona
Multatuli se grote Max Havelaar nou in Afrikaans, danksy Ena Jansen se vertaling
Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen Nederland-Zuid-Afrika: ’n onderhoud
