“Multatuli was nie die eerste persoon wat op misstande in Nederlands-Indië gewys het nie. Hy het egter sy persoonlike ervarings in die provinsie Lebak op Java so dwingend en oortuigend verwerk tot sy roman, dat Max Havelaar ‛’n rilling deur Nederland laat gaan het’. Die roman het in ’n belangrike mate bygedra tot die maatskaplike en parlementêre debat oor Nederland se koloniale bewind en daartoe gelei dat belangrike aanpassings gemaak is.”
’n Durende topstuk van die Nederlandse verhaalkuns is nou deel van die Afrikaanse letterkunde, danksy Ena Jansen se soepel vertaling van Multatuli se grootste werk. Sy het oor haar vertaling van die Max Havelaar of die koffieveilings van die Nederlandse Handelsmaatskappy (Protea Boekhuis, 2025) met Willem de Vries gesels.

Max Havelaar of die koffieveilings van die Nederlandse Handelsmaatskappy (Protea Boekhuis, 2025)
Ena Jansen (foto: Emma Bedford)
Die vertaling van Multatuli se roman Max Havelaar of de koffij-veilingen der Nederlandsche Handel-Maatschappij (1860) volg in 2025 ná jou vertaling van Maria Dermoût se roman Die tienduisend dinge (1955), wat in 2022 gepubliseer is. Tussen die publikasie van die twee oorspronklike werke het 95 jaar verloop. Hoe beskou jy die verbande tussen die tekste en hul skrywers?
Meer nog as die publikasiedatums is die tye waarin die romans se gebeure gesitueer is van belang. Albei romans speel af in die koloniale tyd toe die argipel wat tans as die Republiek Indonesië bekendstaan, nog ’n Nederlandse kolonie was en Nederlands-Indië genoem is. Albei boeke word tot die top van die Nederlands-Indiese literatuur gereken, bowendien beskou as van die belangrikste romans in die hele Nederlandse letterkunde. Verder is die boeke baie verskillend.
Die geskiedenis wat in Max Havelaar beskryf word, het tydens enkele weke in 1856 plaasgevind, vier jaar voor die boek se verskyning. Dit is gesitueer in die armoedige provinsie Lebak, op Java, die sentrale eiland van Indonesië waar die hoofstad Batavia, tans Jakarta, geleë is. Dit is dus in die sentrum van die koloniale gebied waar die Nederlandse goewerneurs-generaal gevestig was. Die plaaslike inwoners is deur die Nederlanders deur middel van die sogenaamde kultuurstelsel gedwing om soveel moontlik uitvoerprodukte soos koffie, suiker en tabak te verbou. Javaanse leiersfigure soos die sultans en regente is gekoöpteer om hulle onderdane te dwing om steeds harder te werk. Die gevolg was dat mense hongersnood gely het omdat hulle geen ruimte of tyd gehad het om hulle stapelvoedsel, rys, te verbou nie.
Die eerste uitgawe van die boek het op 17 Mei 1860 by J de Ruyter in Amsterdam verskyn.
Alhoewel die koloniale amptenaar Max en sy jong gesin sentraal staan in die roman, is dit veral ’n politieke boek. Die skrywer Multatuli se regte naam is Eduard Douwes Dekker (2 Maart 1820–19 Februarie 1887). Hy was self ’n koloniale amptenaar en koloniale gesagsverhoudings word vanuit sy perspektief intens bevraagteken, talle amptelike briewe word geskryf en weergegee. Magsmisbruik, uitbuiting en korrupsie word polemies aan die kaak gestel en die roman het verstrekkende politieke gevolge gehad. Alle vertellers wat Multatuli tot lewe geroep het om op bykans postmoderne manier literêr soveel moontlik indruk te maak, word in die laaste bladsye tersyde geskuif. Uitdruklik tree Multatuli sy boek binne en sê dat hy self die pen opneem; hy rig hom direk tot koning Willem III in sy felle aanklag teen uitbuiting en korrupsie.
Foto van Multatuli in 1864 deur César Mitkiewicz (Wikimedia Commons, openbare domein)
Max Havelaar se struktuur en styl blý inspirerend. In my inleiding noem ek dat die roman verfilm is, dat talle toneelstukke, ’n musiekblyspel en ’n pragtige grafiese roman (2020) daarvan verskyn het. Dit alles dui op die veerkragtigheid en aktualiteit van die oorspronklike satiriese roman.
Dermoût (1888–1962) het haar boek eers voltooi en gepubliseer nadat sy reeds dekades lank in Nederland gewoon het. Haar boek is weliswaar 95 jaar ná Multatuli s’n gepubliseer, dus ses jaar ná Indonesië se onafhanklikheid in 1949, maar dit speel ook tydens die koloniale tyd af, ongeveer tussen 1900 en 1915. De tienduizend dingen is gebaseer op Ambon, ’n Molukse eiland, destyds dagreise per boot ver van Java geleë, in die noordoostelike hoek van die eilanderyk Indonesië. Die Molukse eilande was eeue lank beroemd vanweë die speseryhandel.
Dermoût se boek is ’n raamvertelling wat drie oënskynlik losstaande novelles omsluit. In vergelyking met Max Havelaar is De tienduizend dingen baie meer liries met pragtige poëtiese beskrywings van die natuur. Dermoût het ’n unieke styl en sy vertel ’n intens persoonlike verhaal wat oor ’n aantal generasies strek. Die hoofkarakter is Felicia wat Mevrouw van Kleintjes genoem word. Willem, jy het mos ’n lang onderhoud oor Dermoût met my gevoer in 2022. Daar vertel ek nog veel meer.
Multatuli se boek is veral ’n politieke verhaal, terwyl Dermoût s’n persoonliker is, ’n familiegeskiedenis wat aansluit by verskillende fases van die koloniale bestel.
O ja, en voordat ons verder gaan: met Indië word in hierdie onderhoud steeds Nederlands-Indië bedoel en Indies is die byvoeglike naamwoord. Nederlanders gebruik die woord India vir die gebied met Delhi as hoofstad.
Die Max Havelaar blyk ’n roman te wees wat historiese en durende spanningsvelde oproep: die voortdurende aktualiteit van die Nederlandse handelsryk se hantering van haar kolonies en verbandhoudende polemieke, soos die aantygings dat Multatuli in sy tyd nie krities genoeg van die uitbuiting en korrupsie in Nederlands-Indië sou gewees het nie. Terselfdertyd is dit ’n hoeksteen van die Nederlandstalige koloniale letterkunde oor Nederlands-Indië. Hoe het hierdie spanning (maatskaplik én literêr) die lees van Max Havelaar tot vandag gevorm? Waarom is die Nederlandse koloniale literatuur oor die destydse Nederlands-Indië vandag nog, meer as ’n halfeeu ná die onafhanklikwording van Indonesië, steeds van belang?
Om met jou laaste vraag te begin: Die Nederlands-Indiese literatuur is steeds van belang gewoon omdat dit so goed is, omdat dit “ergens over gaat” en in ’n pragtige tradisie staan van meesleurende vertellings!
Indonesië se beroemdste skrywer, Parmoedya Ananta Toer (1925–2006), het Max Havelaar in 1999 in The New York Times Magazine beskryf as “the book that killed colonialism”. Ondanks hierdie Indonesiese kompliment redekawel historici steeds of Multatuli werklik die koloniale stelsel wou uitroei en of hy veral ’n “humaner vorm” daarvan bepleit het. Algemeen word aanvaar dat die roman koloniale misstande en uitbuiting op só ’n unieke manier aan die kaak gestel het en die gelykwaardigheid van alle mense gepropageer het, dat dit steeds van belang bly.
Dis belangrik om te besef dat Dekker/Multatuli/Max Havelaar nie in beginsel gekant was teen kolonialisme nie; hy pleit vir ’n meer barmhartige vorm daarvan. Só twyfel Max as Nederlandse amptenaar nooit aan sy eie uitsonderlike insig en gevoel vir regverdigheid nie; as hý maar goewerneur-generaal van Nederlands-Indië kon word, sou alles immers kon regkom.
Die boek bly belangrik omdat koloniale magsverhoudings en korrupsie in kapitalistiese stelsels steeds op globale skaal bestaan en selfs uitbrei. Amitav Ghosh toon in The nutmeg’s curse (2021) oortuigend aan hoe wreed multinationals arm lande uitbuit en dat die geopolitieke wêreldorde van vandag sy wortels het in die magsmisbruik van Nederlanders op die Molukse eilande tydens die 16de en 17de eeu. Ghosh se meer onlangse boek, Smoke and ashes (2023), waarin die Britse Ryk én Nederlanders se gewetenlose kriminele opiumhandel-praktyke beskryf word wat tot verslawing en verarming in China, Indië en in Nederlands-Indië gelei het, sluit naatloos aan by die uitbuiting en korrupsie wat in Max Havelaar beskryf word.
Terwyl ek met die vertaling van Max Havelaar besig was, het ek voortdurend besef hoe aktueel die roman steeds is. Ja, Multatuli het nie gepleit vir die algehele afskaffing van die koloniale sisteem nie, maar wel op ernstige misstande gewys. Vir hom het dit daaroor gegaan dat Nederland beter toesig moes gehou het oor die binnelandse bestuurslaag wat deur middel van die kultuurstelsel in die lewe geroep is. Dit het bestaan uit die sogenaamde inlandse hoofde wat as regente tradisioneel baie mag oor hulle eie mense gehad het, en wat deur ingewikkelde konstruksies deur die Nederlandse koloniale heersers gedwing is om produkte te laat verbou wat dan in Nederland teen enorme winste verkoop is deur die Nederlandsche Handel-Maatschappij. Die regente het dikwels as slawedrywers van hulle onderdane opgetree om in die guns van die Nederlanders te kom. Hierdie stelsel is in ’n sin vergelykbaar met Westerse maatskappye wat deur onder meer fossiel-brandstofpraktyke regeringsleiers in Afrika en Suid-Amerika daarvan probeer oortuig dat ontbossing en mynpraktyke in die oseaan goed is vir hulle lande se ekonomie. Dít terwyl almal weet hoe rampspoedig en onverdedigbaar dit is in tye van groot klimatologiese dreiging.
In die dertigerjare is CJ Langenhoven in verskeie Nederlandse koerante met Multatuli vergelyk. ’n Berig in die Soerabaijasch Handelsblad beskryf hoe Langenhoven Multatuli beskou het as deel van sy leesgewoonte van “de Bijbel in den morgen, en Multatuli in den avond” omdat dit “zijn geliefde boeken zijn heele leven door” was. C Louis Leipoldt het werk van Multatuli vertaal en oor hom gedig. Willem Frederik Hermans se aanklank by Multatuli het gelei tot sy verkennende boek van 1967, De raadselachtige Multatuli. En dan is daar ook elemente van die Max Havelaar in werk van John Miles en André P Brink en opnuut aandag vir Multatuli in werk van Elsa Joubert. Wat maak Max Havelaar en Multatuli se werk so invloedryk oor geslagte Afrikaanstalige (en Nederlandse skrywers) en lesers heen?
Voor ek antwoord, gou dié opmerking tersyde: Dis vir my interessant dat mense byna altyd van de/die Max Havelaar praat, soos wat ons sê Die Bybel. Dit onderstreep die belangrikheid en bekendheid van die boek.
Sedert die Max Havelaar in 1860 verskyn het, is dit as ’n uitstekende roman in Nederland beskou. Dit was onvermydelik dat generasies letterkundestudente die boek teëgekom het; Afrikaanse skrywers dus ook.
Die nawerking van Max Havelaar is te danke aan Multatuli se kritiese kyk op kolonialisme en onreg, sake wat steeds belangrik is. Multatuli het veral ’n weersin gehad in die feit dat onreg gepleeg word deur mense wat hulleself op hulle christelikheid beroep. Droogstoppel en dominee Wawelaar wat die koloniale beleid probeer goedpraat met Bybeltekste word daarom ekstra belaglik gemaak, iets wat sommige Afrikaanse skrywers kon waardeer. Multatuli se romanheld Max het daarom vir mense soos Langenhoven en Leipoldt geïnspireer om hulle uit te spreek teen valsheid en onreg.
C Louis Leipoldt in 1915
My uitvoerige inleiding tot Max Havelaar is gebaseer op ’n vergelykende artikel wat ek in 1993 in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer het: “Miles se Moleko en Multatuli se Max”. Die artikel was nie ’n “invloede-studie” nie; ek wou daarop wys dat Multatuli en John Miles se hoofkarakters op ’n vergelykbare wyse teen onreg geveg het en dat daar ooreenkomste is in die wyse waarop die romans gekonstrueer is. (Sien Tydskrif vir Letterkunde 31 (1993), nr. 1 (Feb) 22-42.)
Lesers sal onthou dat Miles in 1991 Kroniek uit die doofpot gepubliseer het waarin sy hoofkarakter, ’n swart polisieman wat mishandel word deur ’n offisier, ’n klag indien in ’n poging om gehoor te word. Net soos Max met sy sogenaamde “pak van Sjaalman”, versamel Moleko dokumente – in ’n geel Checkers-sak – in sy tevergeefse poging om bewysmateriaal teen sy meerderes te kan voorlê.
Benewens Langenhoven se eie liefde vir Multatuli se werke (dermate dat hy van sy tekste in Afrikaans vertaal het), watter ooreenkomste bestaan daar tussen dié twee skrywers, tot só ’n mate dat Nederlandse koerante hulle indertyd met mekaar in verband gestel het?
Willem, ek is nie ’n kenner van Langenhoven se werk nie. Dis danksy jou dat ek herinner is aan Wium van Zyl se artikel waarin hierdie verbande bespreek word. Ek dink dis die beste dat Voertaal-lesers dit gaan lees. Dit het in Over Multatuli verskyn en ook in Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans. Van Zyl wys daarop dat Langenhoven nie daarvan gehou het dat mense gedink het hy is deur Multatuli beïnvloed nie. Hy (Langenhoven) het gesê: “Ek het Multatuli deurgelees en ek lees hom nog herhaaldelik oor en oor, nie omdat ek op verre ná met sy inhoud ooreenkom nie, maar omdat sy treffende styl en noukeurig-netjiese uitdrukkingsvorm vir my ’n intellektuele genot verskaf.”
Volgens Van Zyl kan Multatuli se invloed op die Afrikaanse intellektuele lewe nie maklik beskryf word nie. Alhoewel Brink in Aspekte van die nuwe prosa (1967) na die Max Havelaar verwys en hy in sy Droë wit seisoen (1979) ook van die tegniek van dokumentversameling gebruik maak wat herinner aan Max se “pak van Sjaalman”, is Miles na my mening die belangrikste skrywer wat ’n mens met Multatuli kan vergelyk.
Maar dan verwys die titel van Elsa Joubert se Gordel van smarag, ’n reis met Leipoldt (1997) natuurlik direk na een van die beroemdste sinne in die Max Havelaar. Multatuli beskryf Nederlands-Indië as “die pragtige Ryk van Insulinde wat daar om die ewenaar slinger, soos ’n gordel van smarag” (in my vertaling).
Joubert volg in haar reisboek in die spore van haar literêre held Leipoldt wat in sy Uit my Oosterse dagboek (1937) dikwels na Multatuli verwys. Joubert (1997:60; 75) wens dat Leipoldt ’n sterker “kampvegter vir die lydendes” kon gewees het. Haar versugting is: “Miskien was Leipoldt nie genóég deurdrenk van Multatuli nie! Kon Leipoldt óns Multatuli gewees het? Daar in die jare twintig, dertig ...” (Joubert 1997:36). “Miskien, ’n baie groot miskien, sou iets van die onheile van apartheid en die verskriklikhede van die Rasseregistrasiewet, die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike ons gespaar gebly het” (Joubert 1997:85). Ek dink dat Joubert Multatuli nogal oorskat. Hoeseer hy op wantoestande wys en opgestaan het teen onreg en korrupsie was die “orde” van die koloniale wêreld tog steeds vir hom belangrik.
Max Havelaar word vandag as ’n klassieke werk in die Nederlandstalige (koloniale) letterkunde en besonder ryk teks vir postkoloniale studies beskou. Die begrip klassiek is allermins staties. Wat het die werk oorspronklik gewild of omstrede gemaak, en hoe het die beskouings daarvan verander? Hoe verhou dit tot die kanon Nederlandstalige literatuur oor en vanuit Nederlands-Indië en Indonesië vandag en destyds?
Eietydse lesers het dadelik besef dat “ware” gegewens uit die koloniale werklikheid as basiese grondstof gedien het vir die roman. Dit is onder meer te danke aan die gekombineerde titel van ’n fiktiewe karakter, Max, met ’n bekende instelling uit dié tyd: Max Havelaar of de koffij-veilingen der Nederlandsche Handel-Maatschappij.
Multatuli was nie die eerste persoon wat op misstande in Nederlands-Indië gewys het nie. Hy het egter sy persoonlike ervarings in die provinsie Lebak op Java so dwingend en oortuigend verwerk tot sy roman, dat Max Havelaar “’n rilling deur Nederland laat gaan het”. Die roman het in ’n belangrike mate bygedra tot die maatskaplike en parlementêre debat oor Nederland se koloniale bewind en daartoe gelei dat belangrike aanpassings gemaak is. Dié reaksie het sekerlik tot die boek se status as ’n klassieke teks bygedra. Geen ander Nederlandse outeur het ooit weer daarin geslaag om die gemoedere so op te sweep nie. Nederlanders redekawel trouens nog steeds oor Multatuli en die “saak-Lebak”.
Terloops, Nederland het nie uit vrye wil sy koloniale ryk opgehef nie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Japan Nederlands-Indië beset en Nederlanders in kampe aangehou en verneder. Dit het Indonesiese leiers laat besef dat die wit Nederlanders nie onoorwinlik was nie. Onmiddellik ná die bevryding in Augustus 1945 het Indonesiërs ’n bittere bevrydingsoorlog teen hulle koloniale oorheersers begin voer wat gereageer het met wrede “polisionele aksies”. Dit alles het daartoe gelei dat die Verenigde Volkeorganisasie (VVO) Nederland moes dwing om afstand te doen van sy koloniale ryk in die Ooste, 90 jaar nadat Multatuli sy beroemde boek geskryf het. Die onafhanklike Republiek Indonesië het in Desember 1949 tot stand gekom.
Soos gesê: Die feit dat die Max Havelaar ’n intrigerende literêre meesterstuk is, onderskei dit van alle ander geskrifte oor die wantoestande in Nederlands-Indië. Die belang van Max Havelaar is daaraan te danke dat dit ’n meesleurende roman is waarin die verbete, ewig tevergeefse stryd om geregtigheid op ’n ongeëwenaarde manier vorm gekry het.
In die Suid-Afrikaanse literatuur is ons, veral in verband met boeke wat voor 1990 gepubliseer is, daaraan gewoond dat die eis van betrokkenheid en maatskaplike noodsaaklikheid swaar weeg wanneer ’n boek se “waarde” bepaal word. In die Nederlandse literatuur was en is dit minder die geval, alhoewel daar ook belangrike romans is wat uitgesproke gekant was teen byvoorbeeld kinderarbeid en ander sosiale misstande. Die Tweede Wêreldoorlog is natuurlik ook altyd ’n belangrike tema in die Nederlandse letterkunde.
Max Havelaar is onbeskaamd betrokke literatuur. Die Max Havelaar het dít wat as normaal beskou is, bevraagteken. Vrae oor vanselfsprekendhede is natuurlik ’n uitstekende manier om lesers te ontwrig, om hulle nuut na die vertroude wêreld te laat kyk. Nederlanders is danksy Multatuli gedwing om anders te dink oor kolonialisme.
Die roman dien steeds as inspirasiebron vir moderne skrywers, vrydenkers, sosialiste, feministe en humaniste wat hulle teen magsdrif en hebsug verset. Jacqueline Bel, Multatuli-hoogleraar aan die Vrije Universiteit (VU) in Amsterdam, het dit in 2023 weer eens beklemtoon in haar Bert van Selm-lesing, getitel “Schrijven, drukken, schrappen? Max Havelaar in tijden van sensitivity reading, laaggeletterdheid en ontlezing”.
Watter ander skrywers, hedendaags en ouer, staan in noue verband met die mens en werk van Multatuli waarvan ’n mens moet kennis neem, en waarom?
Willem, jy herinner my daaraan dat Kader Abdolah eksplisiet in gesprek tree met Max Havelaar in De kraai, die Boekenweekgeschenk wat hy in 2011 geskryf het. Die migranteskrywer Abdolah speel nadruklik in op Multatuli se teks wanneer hy sy hoofkarakter, ’n Persiese vlugteling, Refiq Foad, ook ’n makelaar in koffie maak, soos wat Droogstoppel in Max Havelaar was. Refiq woon selfs op dieselfde adres, Lauriergracht nommer 37. De kraai is ’n baie “bont” boek met talle verwysings na Nederlandse skrywers soos Gorter, Achterberg, ook na Anne Frank en die Troonrede van die Koning. Abdolah, ’n Irannese vlugteling wat in Nederlands leer skryf het, toon daarmee sy verbondenheid met en kennis van die Nederlandse literatuur aan.
Ek wil veral wys op Dik van der Meulen se biografie van Multatuli (2002) wat volledig op De Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren (DBNL) gelees kan word.
In sy leeftyd het Multatuli vyf drukke van die teks beleef en telkens veranderinge daarin aangebring. Een weergawe het byvoorbeeld heelwat voetnote van Dekker, wat die gevoel van feitelikheid én terselfdertyd fiksionaliteit verhoog. ’n Roman met so ’n uitgebreide publikasiegeskiedenis, ook postuum, plaas ’n vertaler dus voor ingewikkelde besluite. Hoe het jy, gegewe die uitgebreide publikasiegeskiedenis, besluit watter weergawe(s) of uitgawe(s) by jou Afrikaanse vertaling ingesluit of weggelaat moes word?
Ek het gewerk met die gesaghebbendste uitgawe soos bepaal deur Nederland se voorste Multatuli-kenners. Op Wikipedia is daar ’n item, “De uitgeefgeschiedenis van het boek Max Havelaar”, wat ’n indruk gee van presies hóé ingewikkeld dit is. Reeds vanaf die handgeskrewe manuskripstadium van Max Havelaar in 1859 het talle mense, soos die skrywer Jacob van Lennep, hulle met die rangskikking van hoofstukke en gegewens bemoei. Soos jy sê, terwyl Dekker/Multatuli nog geleef het, het vyf drukke van die Max Havelaar by drie verskillende uitgewers verskyn. Vir die laaste – vyfde – druk het Multatuli selfs nog die spelling van die boektitel verander. Hy het trouens ’n belangrike bydrae gelewer aan die eerste vertaling van sy boek in Engels. Daar bestaan ondertussen honderde herdrukke. Soms is dit gebaseer op die weergawe van 1875, soms op die handskrif, maar meestal op die vyfde druk uit 1881. Die drukgeskiedenis van die boek maak dan ook ’n belangrike aspek van Multatuli-studies uit. Talle artikels, byvoorbeeld deur Ton Anbeek, gaan in besonderhede hierop in en Bel (2023:14–23) som dit goed op in haar Bart van Selm-lesing.
Vir my vertaling het ek gebruik gemaak van die vyfde druk wat onder andere ook in 1979 deur Elsevier uitgegee is met ’n inleiding deur die Neerlandikus AL Sötemann. Toevallig het hierdie spesifieke bruin hardebandboek persoonlike betekenis vir my. ’n Vriendin van my, die uitgewer Anneke Geluk, het dit 45 jaar gelede vir my present gegee met die volgende tong-in-kies inskripsie gedateer 28 Julie 1982: “Dit mag, evenmin als Nescio, Marsman en nog enkelen, aan je kennis van de Nederlandse literatuur ontbreken. De rest mag je vergeten.” Jare later het Sötemann tydens ’n besoek aan Johannesburg die boek geteken toe hy by my huis in Melville op besoek was, op 27 Julie 1995.
Hiernaas het ek voortdurend veral Deel 1 van Annemarie Kets-Vree se histories-kritiese uitgawe (1992) geraadpleeg op die digitale platform van DBNL. Deel 2 bevat ’n deel van die sogenaamde “variantenapparaat en aantekeningen”. Terloops, Hermans het in 1993 ’n venynige, kritiese aanval op Kets-Vree gerig in sy boekie Slechte kritieken gaan nooit verloren, goede ook niet, sinds kort.
Ek is beslis nie in staat om ’n oordeel te vel oor al die rusies en “muggensifterij” oor die Max Havelaar nie. Ek het daarom dankbaar gebruik gemaak van die standaarduitgawes en met my vertroude bruin hardebandboek langs my rekenaar sit en vertaal terwyl ek dit ook voortdurend met Kets-Vree op DBNL vergelyk het. My redakteur by Protea, Shané van der Merwe, is self baie goed bekend met variantestudies en ons het fassinerende gesprekke tydens die vertaalproses hieroor gehad. Sy was in alle opsigte ’n uitstekende redakteur om mee saam te werk.
Jy verwys in jou voorwoord na die “talle gesprekke, uitweidings, plekbeskrywings, historiese en filosofiese beskouings, saaklike uiteensettings en newe-verhale” wat tot gevolg het dat baie elemente telkens terugkeer en dan op ’n ander manier gekombineer word. Wat weet ons vandag van die skryf- en publikasieproses van die Max Havelaar en hoe het dit die finale teks (van die eerste uitgawes dus) beïnvloed?
Dis so ’n tegniese publikasiegeskiedenis dat ek volstaan met my antwoord hierbo. Belangstellende lesers kan enkele van die tientalle artikels en boeke hieroor lees wat op DBNL te vinde is. Wel kan ek noem dat Multatuli sy boek geskryf het tydens enkele weke in September tot Oktober 1859 in die kroeg Au Prince Belge in Brussel. Die eerste uitgawe van die boek het op 17 Mei 1860 by J de Ruyter in Amsterdam verskyn.
Afrikaanssprekendes was vroeër só bekend met Max Havelaar dat ’n mens in ander tekste droogstoppel as selfstandige naamwoord teëkom – iets wat gesê word van ’n “saai, vervelende persoon; dor, prosaïese mens; iemand sonder gevoel vir die hoëre of ideële”. Dit is ’n verwysing na ’n onbetroubare en fiksionele verteller in die roman, Batavus Droogstoppel. Waarom het dit so lank geduur voordat die boek in Afrikaans vertaal is?
Vir baie jare het departemente Afrikaans-Nederlands daarvan uitgegaan dat hulle studente Nederlands voldoende goed kon lees. Of dit ooit so was, betwyfel ek, veral met betrekking tot ’n 19de-eeuse teks. As honneursstudent op Stellenbosch het ek byvoorbeeld die boek gelees in opdrag van WEG Louw, en eers later besef dat ek min daarvan werklik verstaan het. Idiomatiese Nederlands in moderne Nederlandse boeke is trouens óók baie vreemd vir ’n Afrikaanssprekende leser. Verder is die Nederlands-Indiese verwysingswêreld vir die meeste Suid-Afrikaanse lesers onbekend en uiteraard ’n ekstra belemmering om deur te dring tot die Max Havelaar.
Dit het vir my belangrik gelyk dat dié boek, wat steeds as die belangrikste in die Nederlandse kanon beskou word, in Afrikaans vertaal moet word om dit meer toeganklik vir ons almal te probeer maak. En ek meen dat ek nogal goed toegerus is om dit te doen. As dosent het ek sowel by Wits in Johannesburg as aan die VU in Amsterdam jare lank oor die roman klasgegee en dit steeds beter begin verstaan. Sedert 1974 het ek die grootste deel van my lewe in Nederland gewoon; meer as 30 jaar permanent. My kennis van Nederlands is goed. Bowendien het ek drie maande lank klasgegee in Jakarta en daarna ten minste agt reise na verskillende uithoeke van Indonesië onderneem. Pamela Pattynama met wie ek 20 jaar lank in Amsterdam saam gewoon het, was ’n bijzondere hoogleraar in Nederlands-Indiese letterkunde. Saam met haar het ek baie lesings en kongresse oor dié letterkunde en die “Indische wereld” bygewoon.
Veral omdat ek dit so geniet het om Dermoût se De tienduizend dingen te vertaal, het ek aan Protea se uitgewer Nicol Stassen voorgestel dat ek ook die Max Havelaar vertaal. Ons het vir die vertaalkoste subsidie gekry van die Nederlandse Letterenfonds. Vir die produksiekoste het die Fonds Neerlandistiek aan die Universiteit Stellenbosch, die Van Ewijck-Stigting en die Mabel Malherbe-leeskring groot bydraes gemaak. En nou het ons hierdie pragtige boek wat deur Hanli Deysel ontwerp is.
Die Afrikaanse vertaling lees natuurlik en vloeiend. Hoe het jy hierdie effek volgehou? Watter elemente van die Nederlands het maklik vertaal en wat het ’n ander benadering vereis?
Die Max Havelaar is so ’n bekende en klassieke teks dat ek my vertaling so na as moontlik aan die oorspronklike teks wou laat klink. Daarom was ek baie ingenome met Kirby van der Merwe se kompliment toe hy op Facebook ’n foto van my vertaling langs die oorspronklike Nederlandse boek geplaas en geskryf het: “Ek lees met dieselfde genot soos toe ek Multatuli die eerste keer gelees het.” Vir lesers wat die boek nie in Nederlands ken nie of so gesukkel het daarmee dat hulle dit nooit klaargelees het nie, wou ek dit moontlik maak om nou danksy my vertaling tot die essensie van die boek se problematiek en karakters deur te dring. Ek behou uiteraard die groot verskeidenheid stemme en bly so na as moontlik aan Nederlands, terwyl die vertroudheid van die Afrikaanse sintaksis alles baie toegankliker behoort te maak.
Die lekkerste karakter om te vertaal was Droogstoppel, die 43-jarige makelaar in koffie wat telkens sy beroep herhaal, asook die feit dat hy op die Lauriergrag nommer 37 in Amsterdam woon. Hy probeer voortdurend indruk maak met hoogdrawende taal, maar maak homself eintlik steeds meer belaglik wanneer hy homself ewe deftig distansieer van sake waarvan hy in ieder geval niks weet nie. Dink maar aan die toneel wanneer hy moet besluit wat om met die “pak van Sjaalman” te doen, ’n stapel papiere wat duidelik die pennevrug van ’n briljante denker en skrywer is. Droogstoppel sê egter in die tweede sin van hoofstuk 1: “Dis nie my gewoonte om romans of sulke goed te skryf nie, en dit het dan ook lank geduur voordat ek daartoe oorgegaan het om ’n paar riem papier ekstra te bestel en met hierdie werk te begin wat u, liewe leser, so pas in die hand geneem het, en wat u moet lees as u ’n makelaar in koffie is, of indien u iets anders is.” Hy gaan dan aan en aan om te sê dat hy “geen romans skryf nie, ook nie ander vals geskrifte nie”, maar tog wil hy die krediet daarvoor hê dat hý die skrywer is.
In voetnote het ek in navolging van Sötemann se uitgawe (1979) allerlei verwysings wat die meeste Nederlandse lesers dalk ook nie verstaan nie, en verál nie Suid-Afrikaanse lesers nie, te verklaar. Tydgenootlike lesers van Multatuli sou byvoorbeeld wel geweet het wie Van Alphen is na wie Droogstoppel verwys. Dit help Suid-Afrikaanse lesers om die noot te lees dat dit Hieronymus van Alphen (1746–1803) was wat moraliserende gediggies vir kinders geskryf het. Enkele van Droogstoppel se beroemdste opmerkings het te make met sy standpunt dat digters altyd noodgedwonge jok wanneer hulle “woorde op ’n ry wil sit”.
Maar moenie iets sê wat nie waar is nie. “Die weer is guur, en dit is vieruur.” Dis alles goed en wel, indien dit werklik guur en vieruur is. Maar as dit ’n kwartier voor drie is, kan ek, wat my woorde nie op ’n ry sit nie, nie sê: “Die weer is guur, en dis kwart voor drie” nie. (bl 37)
Op die laaste bladsy van hoofstuk 1 word Droogstoppel se adreskaartjie afgedruk. Die firma se naam is Last & Co. Sy opmerking hierby is: “Die Co is ek, sedert die Meyers weg is ... die ou Last is my skoonvader” (bl 41). Hoe onbenullig hy eintlik is, word hiermee benadruk.
Stukke wat ek verder baie geniet het om te vertaal, was gedigte en liedere. Die moeilikste gedeeltes was al die amptelike briewe gemerk “Geheim. Spoed” wat Max aan die Resident van Bantam rig (byvoorbeeld op ble 338–41 en 349–53). Dis belangrik dat die formaliteit gehandhaaf bly, maar dat dit tegelykertyd duidelik is dat Max nie doekies omdraai nie.
Ek het die hele teks so noukeurig moontlik op die voet probeer volg. En omdat ek my die tipes wat aan die woord is nogal kan voorstel, het ek hopelik die regte registers getref om hulle karakters na vore te bring. Bowendien het ek, soos reeds genoem, ’n uitstekende redakteur in die persoon van Van der Merwe gehad. Ook was daar goeie proeflesers, Joan-Mari Barendse en Danél Hanekom. Met almal kon ek telkens wik en weeg wat die beste oplossings sou wees.
Die reikwydte, vernuwing en betrokkenheid waarvan Max Havelaar, ’n “boek so bont” sprekend is, is omvangryk. Die Multatuli-genootskap gee reeds sedert 1910 aandag aan sy werk en die roman is al in tientalle tale vertaal, nou ook in Afrikaans. Hoe vergelyk die roman se struktuur en hantering van die tematiek met ander werke uit dieselfde tyd wat fokus op die Nederlandse koloniale ervaring in Nederlands-Indië?
Ek het nie ander 19de-eeuse tekste gelees wat ook só spesifiek met die koloniale amptenary werk wat direk vergelykbaar sou wees met die Max Havelaar nie. Ek ken wel baie ander boeke oor die Nederlandse koloniale ervaring. Louis Couperus se De stille kracht (1900) is sekerlik die beroemdste ander roman waarin alle tipiese elemente van die Nederlands-Indiese letterkunde aan bod kom: die rol van Nederlanders as kolonisator, die posisie van die Indonesiese bevolking, die oorweldigende skoonheid van die natuur, goena-goena (toorkuns), seksualiteit, onderdrukking, geweld en die dreiging van die Islam. Dis ’n spannende verhaal met thriller-agtige elemente en liefdesintriges. ’n Baie spannende driedelige TV-reeks is in 1974 van die boek gemaak; baie Nederlanders onthou die beroemde naaktoneel in die stort waar die owerspelige Leonie (gespeel deur Pleuni Touw) met bloedrooi sirih-sap bespuug word. Ek moet sê, ek sou dit heerlik vind om dié roman te vertaal! Protea sal dan ’n perfekte drieluik met klassieke sterk uiteenlopende Nederlands-Indiese tekste in sy fonds hê.
Ander beroemde romans is PA Daum se Goena-goena (1889), E du Perron se modernistiese Het land van herkomst (1935), Hella Haasse se debuut Oeroeg (1948) en Heren van de thee (1992). Wit Nederlanders, Indiese Nederlanders, Molukkers en Indonesiërs het almal oor die “contact zone” (’n term van Mary Louise Pratt) geskryf. Die tekste gaan oor avontuurlike seereise, die lewe in die trope, die wantoestande van die koloniale sisteem, die Japanse besetting (1942–1945), die Indonesiese dekolonisasieoorlog (1945–1949), maar ook hoe dit is om as kind van Nederlands-Indiese ouers in Nederland te leef. Marion Bloem, Adriaan van Dis en Alfred Birney is bekende outeurs van hierdie sogenaamde “tweede generasie”. En nou is daar al ’n groep wat bekend staan as die “derde generasie” Indiese skrywers wat aansluiting soek by hulle oupas en oumas se geskiedenis.
’n Begrip wat dikwels gebruik word in verband met Nederlands-Indië is tempo doeloe – die “goeie oue tyd” wat nostalgies opgeroep word. Ook was die konkubinaat van ’n wit Nederlandse man met ’n plaaslike vrou, ’n sogenaamde njai, gebruiklik tot redelik laat in die 19de eeu. Byvoorbeeld in 1880 was daar op elke 1 000 Europese mans slegs 472 Europese vroue wat sogenaamde Indiese vroue (van “gemengde bloed”) ingesluit het. In 1860, toe Max Havelaar verskyn het, was daar in die hele Nederlands-Indië slegs 825 vroue wat in Europa gebore is. Max se vrou, die karakter Tine, sou een van dié klein groep gewees het. Die sogenaamde njai is ’n baie bekende figuur in Indiese romans. Hoe meer Europese vroue na Indië gekom het, hoe meer het die figuur van die njai egter ’n probleem geword. Dikwels het spanning tussen ’n wettig-getroude wit vrou en haar voorganger die intrige van Indiese romans bepaal.
Ook kan ek iets sê oor die vertalings van die boek. Multatuli se geboortehuis in Amsterdam is ’n museum en omdat die bibliotekaris Jos Nauta ’n eksemplaar van my vertaling aangevra het, het ek die geleentheid gebruik om te vra in hoeveel tale die Max Havelaar nou eintlik verskyn het. Volgens sy wete was dit tot laasjaar 32 en nou is daar 33. My Afrikaanse boek sal binnekort bo-aan die alfabetiese lys staan, gevolg deur die tale Amhaars, Arabies, Armeens en Azerbeidzjaans. In Duits het die eerste vertaling al in 1875 verskyn; daarna het nog ongeveer agt vertalings gevolg met talle herdrukke. Die eerste Franse vertaling was in 1876, die eerste Engelse vertaling in 1868. Opmerklik genoeg dateer die eerste vertaling in Indonesies eers uit 1981, terwyl nog twee ander Indonesiese vertalings sedertdien verskyn het.
Wat het Max Havelaar in sy tyd ’n belangrike teks oor ’n karakter se “ongebruiklike pligsvervulling” gemaak? Watter eienskappe dra daartoe by dat dit steeds as ’n klassieke teks, een van die absolute topstukke van die Nederlandse letterkunde, beskou word?
Max het nie daarvoor teruggedeins om teen sy meerderes se wil op te tree nie en Multatuli wou die belang van hierdie rebel se integriteit so helder as moontlik voor die voetlig bring. Die boek is nie verniet deur Van Lennep “dat bliksems knappe boek” genoem nie. Dit wou met alle moontlike middele die openbare mening beïnvloed en het dit reggekry. Dit is sowel romanties as realisties, sowel humoristies as ernstig, sowel ’n sleutelroman as ’n fiksionele verhaal en staan op ’n breuklyn in opvattings oor wat literatuur is en kan doen.
Wat maak Max Havelaar ’n werk wat deur verskillende tydsgeeste heen telkens weer relevant raak, en hoekom is dit nou weer relevant vir Afrikaanse lesers in Suid-Afrika? Wat kan lesers in hierdie roman verwag?
Veral omdat korrupsie en magsmisbruik so baie in Suid-Afrika voorkom, kan dit inspirerend wees om te lees hoe een mens hom teen dergelike laakbare gedrag in ’n ander tyd en samelewing verset. Soos wat ek genoem het, is Max nie verhewe bo kleinlike eiesinnigheid en selfs grootheidswaan nie, maar tog dóén hy iets, kom hy in opstand.
Max Havelaar is destyds as omstrede beskou en Dekker as rebel bestempel, later ook as welkome dwars denker. In die Max Havelaar wys Multatuli hoe magshonger, hebsug en korrupsie in die Nederlandse handelsryk gewerk het. Die werk voldoen allermins aan die konvensies van ’n gewilde roman, tóé asook vandag. Multatuli soek kompleksiteit en verdigsel op en span dit in as instrumente in sy stryd teen kolossale onreg. Waarom sou hy hom wend tot gevarieerde literêre en retoriese tegnieke om só lesers se aandag te boei? Het dit die oogmerke wat hy met die teks gehad het, versterk? Wat bring die Suid-Afrikaanse konteks na die lees van die roman?
Dis weer eens ’n uitstekende vraag waarin jy belangrike aspekte verwoord, maar ek dink dat ek in herhaling sal verval omdat ek in antwoorde hierbo reeds heelwat hieroor gesê het.
Om te verstaan hoe Multatuli inpas by die literatuurgeskiedenis verwys ek lesers graag na digitale tekste wat baie toeganklik is en aspekte van die Indiese literatuurgeskiedenis goed verduidelik. Kyk byvoorbeeld na “Dat bliksems knappe boek: Max Havelaar” en “Indië in de Nederlandse letteren”.
In jou inleiding haal jy Jacqueline Bel aan (van wie saam met René van Woudenberg in 2024 De Sjaalman Papers: Verborgen denkwerelden in Multatuli’s Max Havelaar verskyn het). Bel het dit oor die roman se unieke eksperimentering met vorm, ironie, perspektief en humor. Hierdie idees-in-kombinasie val op as bepaald modern. Hoe het dit die roman uniek gemaak in die tyd waarin dit geskryf is?
Op dié vraag het ek ook al nogal vooruit geloop, meen ek. Jacqueline en ek het jare lank ’n kamer aan die VU gedeel. Ons noem mekaar daarom steeds “Buurvrouw”.
Die foto is geneem net nadat Jacqueline Bel (regs) haar intreerede as hoogleraar van die Multatuli-leerstoel aan die Vrije Universiteit gelewer het. Ena Jansen (links) was 16 jaar lank aan die VU verbonde en ook 15 jaar lank bijzonder hoogleraar Suid-Afrikaanse letterkunde aan die UvA. (Foto: Elize Zorgman)
In my inleiding tot Max Havelaar verwys ek na haar Van Selm-lesing en ek vind haar bydrae tot die Literatuurgeschiedenis-webwerf ook baie relevant. Sien “Indië in de Nederlandse letteren”. Met betrekking tot jou vraag. Bel herinner ons aan die belang van ’n postkoloniale lesing van Indiese tekste:
Vooral sinds de publicatie van het boek Orientalism (1978) van Edward Said wordt er vanuit een postkoloniale visie steeds kritischer gekeken naar het koloniale verleden, ook naar de koloniale literatuur: het Westen had een stereotiep beeld gecreëerd van de niet-westerse ‘ander’ om op die manier zijn machtsstructuren te versterken. Postkoloniaal betekent dan ook niet alleen letterlijk ‘na de koloniale tijd’ (‘post’ betekent ‘na’), maar ook ‘cultuurkritisch’, wat simpel gesteld wil zeggen: kritisch over het koloniale verleden. Hierbij wordt op een nieuwe manier, niet meer vanuit een uitsluitend westerse invalshoek, naar het koloniale tijdperk gekeken. Zo wordt de blik bijvoorbeeld niet meer alleen op de witte koloniale bevolking gericht, maar ook op de inheemse en Indische bevolking. Ook kijken we op een andere manier aan tegen de dekolonisatieoorlog.
Wat Max Havelaar so besonder gemaak het, was dat Multatuli se blik intens gerig was op die inheemse bevolking. Die empatiese manier waarop die tragiese liefdesverhaal oor Saïdjah en Adinda sentraal gestel word in die roman, is hiervan ’n voorbeeld. Ook is dit opvallend dat Max nie net sy vrou nie, maar ook die baboe (kinderoppasser) help om uit die rytuig te klim.
Wat aan Multatuli se manier van vertel in die Max Havelaar maak dit verder “onverwags” modern? Wat aan die “vreemde bindings” in die teks maak dat dit voortleef en nie bloot as ’n verouderde vormeksperiment beskou word nie? Wat is jou eie beskouing van en band met hierdie roman?
Niks is verouderd aan hierdie teks nie. Die manier waarop vertellers mekaar afwissel en die vertellerstem aan mekaar deurgee, is hoogs uitsonderlik. Die koloniale amptenaar Eduard Douwes Dekker kies die naam Multatuli as pseudoniem. Dit beteken “hy wat baie verduur het”. In Dekker/Multatuli se boek Max Havelaar is dit duidelik dat Max, ’n amptenaar op Java van wie dikwels gesê word dat hy baie ly, die verpersoonliking van Dekker is. Die basiese gegewe waarmee Dekker/Multatuli werk, is dus sy eie lewensverhaal waaraan in eerste instansie vorm gegee word in die sogenaamde “pak van Sjaalman”. Dekker/Multatuli versin ’n ingewikkelde verhaal waarvolgens die karakter Sjaalman, alias Max, sy pak geskrifte aan die konserwatiewe koffiemakelaar Droogstoppel in Amsterdam gee in die hoop dat hy geld sal kan vind vir die publikasie daarvan. Die verbeeldinglose Droogstoppel gee dit op sy beurt aan ’n jong Duitse werknemer, Stern, om dit namens hom te verwerk. Die indruk word gewek dat hierdie onwaarskynlike tweetal die toutjies in hande het om Max se lewensverhaal te vertel. Op die laaste bladsye van die boek gryp die skrywer Multatuli egter in wanneer hy Droogstoppel en Stern die trekpas gee en self die boek tot ’n slotakkoord van verontwaardiging en verset voer.
Dekker/Multatuli/Max kan tot ’n groot mate aan mekaar gelyk gestel word. Droogstoppel is ’n verregaand-belaglike beliggaming van die gemiddelde 19de-eeuse Nederlander se selfingenomenheid oor hulle sogenaamde godgegewe reg om volkere in die verre Ooste en ander kolonies uit te buit vir eie gewin. Max se edele bedoelings om korrupsie en uitbuiting aan die kaak te stel, kry deur die kontraswerking met Droogstoppel des te meer gravitas.
Daar is trouens steeds in ons tyd baie Droogstoppels; mense wat nie skroom om verregse regerings aan die mag te bring nie en wat oortuig is van hulle meerderwaardigheid slegs op grond van hulle velkleur en Europese herkoms. Dit is niks anders as ’n baie koloniale lewenshouding nie.
Jy het oor die Max Havelaar klasgegee in die konteks van Nederlands-Indiese romankuns. Wat was jou ervaring daarvan om die werk met studente te bespreek? Hoe is dit in verskillende plekke ontvang?
In Jakarta het ek ’n kursus Suid-Afrikaanse letterkunde aangebied en nie oor die Max Havelaar klasgegee nie. Wel kan ek onthou dat my honneursstudente by Wits in Johannesburg onder die indruk was van Max as ’n soort romantiese versetsheld. Dit was tydens die 1980’s en ’90’s. Multatuli se Max was vir hulle vergelykbaar met ’n anti-apartheid-romankarakter soos Ben du Toit in ’n Droë wit seisoen (1979): ’n “doodgewone” mens wie se ingebore sin vir regverdigheid geskok is deur die rol van die staat in die moord op sy swart tuinier en dié man se seun. Aan die VU het ek as dosent in Nederlands uit die verre Suid-Afrika sekerlik klem gelê op die belang daarvan om teen onreg in opstand te kom. Ek sou Max se aktivisme beklemtoon het. Vir die Nederlandse studente was die soort onreg waarteen Max en Ben du Toit in opstand gekom het, moeiliker voorstelbaar as vir studente aan Wits. Ek dink die VU-studente het destyds veral in die ingewikkelde struktuur van die roman belang gestel.
Dis sekerlik gepas om nou te noem hoe toeganklik Multatuli se werk die afgelope jare geword het danksy ’n fantastiese webwerf. Hierop is sy volledige werk te vinde, plus films, artikels, lesings, ’n atlas, ensiklopedie, leksikon en absoluut alles wat ’n mens maar oor hom sou wou weet.
Die Max Havelaar maak ’n mens opnuut bewus van woorde wat Afrikaans en Nederlands verryk, waaronder amokh, kabaai, pikol, sarong en talle ander. Wat dink jy van die maniere waarop die boek op allerlei maniere bly deurwerk in verskillende wêrelddele en tale?
As Afrikaanse vertaler was dit lekker dat ek Maleise woorde soos pisang nie hoef te vertaal het nie. In die teks het ek trouens die meeste Maleise woorde behou omdat dit so belangrik is vir die couleur locale, om die verhaal in sy konteks te plaas. Multatuli het Maleise woorde in sy teks gebruik sodat ook lesers in Nederland wat nooit in Nederlands-Indië was nie, gekonfronteer sou word met dít wat hulle nie ken of verstaan nie. Ek wou hierdie “vreemdheid” sekerlik nie glad stryk vir Afrikaanse lesers nie en het daarom Maleise woorde behou. Dit word wel in voetnote en die woordelys verduidelik.
Om op te som: Max se storie van 165 jaar gelede het steeds relevansie vandag. Kapitalisme op wêreldskaal is sekerlik vergelykbaar met kolonialisme. Soos wat Ghosh aandui in sy boeke wat ek vroeër genoem het, is die mag van moondhede soos Amerika en multinationals niks anders as imperialisties nie. President Joe Biden het by sy uittrede gewaarsku dat dit nog veel erger kan word. Dat soveel mag nou in die hande van ’n paar superryk wit mans in die kombinasie Trump en Musk beland, het hy as ’n uiters gevaarlike oligargie beskryf. Daarteen moet in opstand gekom word.
Die krag van kapitalisme lyk vir baie mense onomkeerbaar; die impak daarvan laat hulle magteloos voel. Ursula K le Guin (1929–2018) het in een van haar laaste toesprake daarom daarvoor gepleit dat skrywers in die naam van vryheid hulle stemme teen mag moet gebruik.
Ursula K le Guin in 1995 (Foto: Marian Wood Kolisch, Oregon State University, via Wikimedia Commons [CC BY-SA 2.0])
Skrywers wat hulle andere wêrelde kan verbeel waarin vryheid voorop staan, is vir haar baie belangrik. Le Guin sê: “Any human power can be resisted by human beings. Resistance and change often begin in art, the art of words.” Multatuli se boek is só ’n kunswerk wat inspireer en oproep tot weerstand. Selfs al is Max Havelaar sekerlik nie ’n perfekte literêre held nie, is sy oproep om op te staan teen onreg hard en duidelik. Ook in ons tyd.
Ek dink dat die Afrikaanse vertaling van Max Havelaar die boek nou tot ’n mate deel maak van ons eie letterkunde. Hierbo het ons reeds gepraat van Leipoldt en Joubert se belangstelling in Indonesië. Ook ID du Plessis (1900–1981) het ’n baie groot belangstelling in Java gehad. Onder andere ek het artikels geskryf oor Afrikaanse tekste in verband met Indonesië.
Die afgelope jare is daar danksy veral Achmat Davids (1939–1998) en jong Kaaps-Afrikaanse skrywers en kunstenaars van wie talle gedeeltelik van Indonesiese herkoms is, ook meer belangstelling in Indonesië, die Indiese Oseaan-wêreld en die sogenaamde Global South. Miskien kan Max Havelaar ’n bykomende rol speel in die interkulturele en transliterêre gesprek tussen Suid-Afrika en Indonesië danksy die derde been van hierdie driehoek: Nederland en die boek wat deur Neerlandici steeds as hulle belangrikste roman beskou word.