........
Skrywers met ’n Nederlands-Indiese herkoms neem ’n steeds belangriker plek in die Nederlandse letterkunde in: Rudy Kousbroek, Adriaan van Dis, Hella Haasse, Marion Bloem en Alfred Birney. Terwyl Multatuli, Louis Couperus en E du Perron reeds dekades lank tot die absolute top van die Nederlandse letterkunde gereken word. Ook Maria Dermoût.
Ek dink dit het baie daarmee te make dat die Indiese wêreld en verhoudings waaroor hulle skryf, baie meer kompleks en veelkantig is as die gemiddelde "navelstaarderige" Nederlandse skrywer s’n, dat hul taal- en beeldgebruik so ryk is. Postkoloniale verhoudings het dié besef versterk. Dit is redes waarom ek dink dat Afrikaanstalige lesers groot aanklank by die Nederlands-Indiese letterkunde kan hê.
........
Hoewel Maria Dermoût (1888–1962) se verhale in haar leeftyd en in Engelse vertaling as gehaltewerk gereken is, is dit veral weer die afgelope dekade dat dit in Nederland opmerklik nuwe aandag kry, vertel Ena Jansen aan Willem de Vries. Haar Afrikaanse vertaling van Dermoût se tweede roman, De tienduizend dingen, as Die tienduisend dinge het pas verskyn.
Wanneer het jy Dermoût se verhale en die roman De tienduizend dingen (1955) die eerste keer teëgekom? Vertel asseblief van jou kennismaking met haar skryfwerk.
Ek het nooit tydens my studie op Stellenbosch van Maria Dermoût gehoor nie. Ook nie toe ek literatuurwetenskap in die jare ’70 in Utrecht gestudeer het nie. Soos in Suid-Afrika is ook letterkundestudente aan Nederlandse universiteite oorspoel met romans van na-oorlogse skrywers soos Willem Frederik Hermans, Jan Wolkers, Gerard Reve en Harry Mulisch.
........
Dermoût is dus, soos byna alle ander vroueromanskrywers, destyds oor die hoof gesien; min van hulle maak deel uit van die Nederlandse kanon. Hierin kom eers die afgelope tien jaar of so verandering. Wat dit betref, is die Afrikaanse letterkunde sedert die Sestigers eintlik baie meer geëmansipeer, met skrywers soos Elsa Joubert, Anna M Louw, Marlene van Niekerk en Ingrid Winterbach wat sonder enige bevraagtekening al dekades lank tot die kanon gereken word.
........
Dermoût is dus, soos byna alle ander vroueromanskrywers, destyds oor die hoof gesien; min van hulle maak deel uit van die Nederlandse kanon. Hierin kom eers die afgelope tien jaar of so verandering. Wat dit betref, is die Afrikaanse letterkunde sedert die Sestigers eintlik baie meer geëmansipeer, met skrywers soos Elsa Joubert, Anna M Louw, Marlene van Niekerk en Ingrid Winterbach wat sonder enige bevraagtekening al dekades lank tot die kanon gereken word.
Ek het Dermoût se boeke eers leer ken toe ek tussen 1998 en 2018 saam met Pamela Pattynama in Amsterdam gewoon het. Sy is van Nederlands-Indiese herkoms en het Molukse voorouers: Haar pa se familie kom van die eiland Ceram waarna ook in De tienduizend dingen verwys word. Dermoût is haar gunstelingskrywer. Die eerste boek wat ek van haar present gekry het – dit was in 1996 of 1997 – was ’n antikwariese uitgawe van Dermoût-verhale. Kort voor lank het ek ook De tienduizend dingen leer ken. Sien ook mariadermout.com.
Behalwe dat ek bijzonder hoogleraar Zuid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam was, was ek ook 16 jaar lank lid van die vakgroep Nederlandse letterkunde aan die Vrije Universiteit. Ek moes jaarliks ’n kursus doseer oor wat ek as hoogtepunte van die laat 19de eeu tot die huidige tyd beskou. Dit het begin met Multatuli se Max Havelaar (1860) en geëindig met Arnon Grünberg se Tirza (2006), wat in 2015 by Protea verskyn het in ’n vertaling deur Lina Spies. Ek het De tienduizend dingen ingesluit by die kursus en jare lank daaroor klas gegee.
Dermoût was vanaf haar debuut in 1951 geliefd by ingewydes, dikwels lesers van Nederlands-Indiese herkoms. In die tyd toe Pamela die bijzondere leerstoel Nederlands-Indische letterkunde aan die UvA beklee het, het steeds meer belangstelling vir Dermoût ontstaan. Haar intreerede het as hooftitel selfs ’n reël uit De tienduizend dingen gehad: "‘… de baai … de binnenbaai …’ Indië herinnerd" (2007). Die rede se begin gee ’n aanduiding van sowel die inhoud as die belang van die boek:
Op de laatste bladzijde van Maria Dermoûts onvergetelijke roman De tienduizend dingen klinkt een stem. Felicia, de oude mevrouw van Kleyntjes, hoort die stem.
Verzonken in herinneringen zit zij in haar tuin. Daar, in een van de enkele overgebleven specerij-‘thuynen’ aan de binnenbaai op een Moluks eiland, hoort zij langzaam, van ver weg, met lange tussenpozen, zeggen: "– de baai – de binnenbaai – je zult toch – nooit – de binnenbaai – vergeten – o – ziel – van – ?"
De zin die Felicia hoort is raadselachtig. Het kan een bezwering zijn, een opdracht, een verzuchting of een vrees. Misschien is het wel een van de "honderd dingen," klaagdingen die gereciteerd worden voor een dode.
Felicia luistert en de doden komen voor haar staan: haar gesneuvelde zoon, drie kleine meisjes – vergiftigd – een vrouw van het eiland die Constance heette en liep als een verbannen vorstin, de valse posthouder die aan de buitenbaai had gewoond en een Rumphius citerende professor die Felicia wat "potsierlijk," maar toch "erg aardig" had gevonden. Felicia herinnert zich de doden die zij oproept wel, maar zij kende hen niet allemaal persoonlijk, niet uit eigen ervaring. Zij kende hen, zo staat er, omdat "alle verhalen haar altijd werden verteld". Het is, met andere woorden, niet haar eigen geheugen dat spreekt daar aan de binnenbaai; Felicia verwierf haar kennis door middel van verhalen.
Het is op deze wijze, door middel van verhalen, dat ook wij – hedendaagse Nederlandse lezers – onze kennis over Indië verwerven. Indië bestaat niet meer, niet als kolonie en niet als geografische tijd-ruimte. Weinig mensen kunnen nog bogen op een Indisch autobiografisch geheugen. Ook voor hen, misschien juist voor hen, is Indië wijlen. Verleden tijd. Voorbij.
Pattynama betoog dat, in weerwil van die onverbiddelike verbygaan van tyd en die postkoloniale moderne staat Indonesië, die ou Nederlands-Indië tog steeds bestaan, naamlik in verhale: "Het is een Indië dat, bezield door de evocatieve kracht van de taal, leeft en vóórtleeft."
Die verhale wat in De tienduizend dingen vertel word, is intens, die taalgebruik inderdaad evokatief, meeslepend en subtiel. Die wêreld wat beskryf word, is onmiddellik voorstelbaar, selfs al ken jy dit nie. Sinne wat ’n mens raak, is byvoorbeeld: "Wie stond op het strand toen en staarde over de drie golfjes van de branding heen en over de baai heen en waarheen? Een stilte als antwoord, een stilte van gelatenheid en verwachting tegelijk; van voorbij en niet voorbij."
Dermoût is gebore en getoë op Java, maar sy het ook in Nederland skoolgegaan en van 1933 tot aan haar dood daar gewoon. Saam met haar man (wat ’n magistraat en later hoofregter was) het sy talle plekke in die destydse Nederlands-Indië goed leer ken. Van belang vir De tienduizend dingen is dat sy van 1910 vier jaar lank op die Molukse eiland Ambon gewoon het. Hier het sy kennis gemaak met Carolina Hendrika van Aart (1854–1929) van die speserytuin Katé Katé (wat Kleyntjes in die roman genoem word). Dermoût het haar hoofkarakter Felicia op dié vrou gebaseer. Sy het ook die 17de-eeuse bioloog Rumphius (1627–1702) se monumentale boeke oor Ambon leer ken en verwys dikwels daarna.
Toe ek De tienduizend dingen aan die vertaal was, kon ek my kennis van sowel Dermoût as haar Molukse wêreld benut en my daarom baie goed voorstel hoe ek die boek wou vertaal. Dis belangrik om nie Dermoût se besondere skryfstyl en wêreld te vereenvoudig of te probeer verafrikaans nie. Haar idiosinkratiese gebruik van dubbelpunte en beletseltekens (die puntjie-puntjie-puntjies waarvoor sy beroemd is) moet byvoorbeeld nie gestandaardiseer word nie, haar onaf sinne moenie gladgestryk en afgemaak word nie. Dit alles maak deel uit van haar treffende toon en verteltrant. Ek het talle "Maleise" woorde vir veral plante, kos en kleredrag behou. Ook Nederlandse lesers sonder ’n Indiese agtergrond ken dit nie, en dis juis die moeite wat jy moet doen om te weet wat dit beteken wat die vervloë wêreld oortuigend na vore help bring. Ek verduidelik hierdie woorde wel in ’n woordelys.
Het jy ooit die geleentheid gehad om Ambon te besoek? Watter verskille tussen die wêreld waaroor Dermoût geskryf en dié van vandag is opvallend?
Ja, ek was op Ambon, een van die mees afgeleë eilande. Die Indonesiese argipel bestaan uit 18 306 eilande – die "gordel van smaragd die zich slingert om de evenaar", soos Multatuli dit so mooi beskryf. Slegs 6 000 van hierdie eilande word bewoon. Die Indonesiese wêreld het vanweë ’n baie gemengde bevolking, groot ongelykheid en die invloed van kolonialisme baie raakpunte met Suid-Afrika. Alhoewel dit tropies is met oerwoude en vulkane, is die landskap plek-plek bekend vanweë die lang kuslyn, mooi baaie en berge. Dis die grootste Islamitiese land ter wêreld en die oproep tot gebed word orals van vroeg tot laat gehoor, terwyl daar op Bali juis weer baie Hindoe-gebruike is, soos die klein offerandes wat deur vroue in kleurvolle nousluitende jurke neergesit word, dikwels in bome en aan die soom van die branding.
Ek was in 1998 vir die eerste keer in Indonesië toe ek drie maande lank klas gegee het aan die Universitas Indonesia net buite die enorme stad Djakarta – in koloniale tye is dit Batavia genoem. Ek het destyds nie tyd gehad om veel verder te reis as per vliegtuig na Djokjakarta en Bali nie. Die studente het my ook saamgeneem na Bogor naby Djakarta wat tydens die Nederlandse koloniale bewind Buitenzorg genoem is. Die beroemde botaniese tuin waar Dermoût die ontmoeting tussen haar karakters die Skotse professor en sy assistent Soeprapto laat plaasvind, is daar geleë. Die paleis of kraton waar Soeprapto se adellike familie vandaan kom, is in Djokjakarta. In die jare daarna het ek talle kongresse in Indonesië bygewoon en baie rondgereis. Ek was tot so ver as Nieu-Guinee en Biak, waar Pamela grootgeword het.
’n Belangrike reis later was na die Molukse eilande toe ons van Amsterdam na Djakarta en van daar via Makassar na Ambon gevlieg het. Behalwe snorkel, wou ons veral ook die plek sien waar mevrou Van Kleyntjes gewoon het. In die hoofstad Amboina het ons ’n taximan so ver gekry om saam met ons op soek te gaan na die geel-en-wit-geverfde huis wat inderdaad aan die sogenaamde binnebaai geleë is, aan die ander kant van die landengte by die stad Paso wat die twee skiereilande Hitu en Leitimur aan mekaar verbind. Om op die stoep of "galerij" van daardie huis en op die strand aan die binnebaai te staan was ’n aangrypende ervaring: in die soel hitte onder die ruisende platane waar Felicia elke jaar gaan sit het om haar seun en ander mense wat op die eiland vermoor is, te gedenk tydens die nag van Allersiele. Ek was ook by die huis waar die Duitse plantkundige GE Rumphius (1627–1702) gewoon het.
Behalwe op Ambon, was ons ook op Banda Neira, ’n veel kleiner eiland. Per vliegtuigie heen en ’n week later midde-in die nag ure lank oor die stormagtige see terug na Amboina op die vragskip wat tussen die eilande vaar. Voortdurend moet skepe steeds met getye en storms rekening hou, net soos in die tyd wat Dermoût beskryf. Op Banda Neira het ’n volksmoord in 1621 plaasgevind toe Jan Pieterszoon Coen (1587–1629; sekerlik dié mees kontensieuse Nederlandse VOC-"held") 2 800 Bandanese vermoor en 1 700 tot slawe gemaak het. Die Bandanese is gedwing om die alleenreg om neutmuskaat te verhandel aan die VOC af te staan. Nederland het mede hierdeur "stinkend rijk" geword, soos wat die Nederlanders self sou sê.
Amitav Ghosh het laasjaar ’n aangrypende niefiksieboek oor die wrede rol van multinationals na aanleiding van hierdie gebeure gepubliseer, The nutmeg’s curse. Parables for a planet in crisis. Banda Neira is ook bekend omdat die belangrikste Indonesiese leiers wat Nederlandse oorheersing ná die Tweede Wêreldoorlog teengestaan het, Sjahrir en Hatta, daar aangehou is.
Wanneer Dermoût skryf oor neutmuskaat, wat eintlik die neut van die vrug of pit van die Myristica fragrans-boom is, weet ek presies hoe dit lyk, ook dat foelie die oranjerooi omhulsel van hierdie pit is. Orals in die klein dorpe op Ambon en ander Molukse eilande soos Banda Neira word hierdie speserye op sypaadjies uitgepak om te droog.
Die Molukke is ’n eilandegroep in die ooste van die Indonesiese argipel met ’n ou en ryk handelstradisie waarin Arabiere en Chinese ’n belangrike rol gehad het. Reeds in die 14de eeu het die gebied dus onder Islamitiese invloed gekom, maar vanaf die 16de eeu en later in die 17de eeu het eers die Portugese en Spanjaarde en later veral die Nederlanders met steeds meer gewelddadige middele die handel in naeltjies en veral neutmuskaat verower. Hulle het ook die Christelike geloof daar gevestig. In moderne tye, toe steeds meer Islamitiese Javane hulle op die Molukse eilande gaan vestig het, het veral Ambon ’n brandhaard van bloedige godsdienstwiste geword.
Die Molukse geskiedenis is dus tot op die dag van vandag uiters kontensieus. Dit het alles met die koloniale tyd en die Tweede Wêreldoorlog te doen toe die Nederlanders deur Japan uit "hulle" koloniale gebied verdryf is. In dié tyd het die drang tot onafhanklikheid sterk toegeneem en "Merdeka" (’n oproep om vryheid) was die wekroep. Soekarno, Hatta en ander leiers het eensydig ’n onafhanklike republiek uitgeroep, maar die Nederlanders het dit teëgestaan en probeer om hulle heerskappy te herstel deur sogenaamde "politionele acties". Hierin is hulle bygestaan deur Molukkers wat ’n soort erekorps in die Koninklijk Nederlandsch-Indische Leger (KNIL) gevorm het. As gevolg hiervan is hulle deur ander Indonesiërs as verraaiers van die onafhanklikheidsideaal beskou. Meer as 4 000 KNIL-soldate is daarom met hulle gesinne in 1950 na die veilige Nederland "gerepatrieer", onder die indruk dat Nederland hulle later sou bystaan om ’n onafhanklike Molukse republiek te stig. Dit het egter nooit gebeur nie en die "Molukse kwessie" is steeds ‘n "hete hangijzer". In Desember 1974 het dit fel onder die publieke aandag gekom toe ’n volgende geslag aan hul vaders se frustrasies uiting gegee het deur ’n trein te kaap; van die kapers is doodgeskiet. ’n Mens kan die Molukse jeug se optrede miskien met die skoliere se opstand in Soweto in 1976 vergelyk.
Dié Molukse geskiedenis word glad nie genoem in De tienduizend dingen nie, maar kennis van die vroeë postkoloniale geskiedenis moes sekerlik aanwesig gewees het terwyl Dermoût haar boek in die 1950’s in Nederland geskryf het. Implisiet speel die kompleksiteit van dié geskiedenis veral mee wanneer in die roman verwys word na Himpies se grootmoeder en moeder se ongelukkigheid omdat hy sy mediese studie staak en na die militêre akademie in Breda gaan. Hy doen dit veral omdat dié opleiding korter is en hy verlang om terug te keer na die eiland waar hy grootgeword het. Tydgenootlike lesers sou besef het dat Himpies daarvoor kies om lid te word van die KNIL in ’n tyd toe dit wel nog eerbaar was, maar dat hy nie uit ’n tipiese KNIL-familie afkomstig was nie. Dat hy ’n uniform dra in plaas daarvan om ’n dokter te word, grief sy ma en ouma. Himpies sterf op 20-jarige leeftyd in die 1930’s wanneer hy deur ’n pyl tydens ’n strafekspedisie op die eiland Ceram getref word. Felicia weier om te aanvaar dat hy "eerbaar" gesterf het; sy beskou dit as moord en lewer só indirek kritiek op die koloniale owerheid se inmenging by plaaslike tradisies.
Dié deel van die roman speel ’n dekade of wat voor die Tweede Wêreldoorlog af waartydens Nederland onherroeplik sy houvas op sy waardevolle kolonie verloor het met die Japanse besetting en die daaropvolgende onafhanklikheidstryd.
My Indonesiese reise en kennis van die politieke agtergrond het my sekerlik goed voorberei vir die vertaling van De tienduizend dingen.
Kester Freriks skryf in die nawoord van Dermoût se Verzameld werk dat agter "ogenschijnlijk lieflijke titels als [...] De tienduizend dingen, […] een heel andere wereld schuil[gaat]. Die van gemis, afscheid, tragiek en verlies."
Inderdaad. Ook Maria Dermoût moes talle kere alles agterlaat wat vir haar dierbaar was: die berge, die see, groot koloniale huise en groen ommuurde tuine. In haar debuut, Nog pas gisteren (1951), skryf sy oor haar kinderjare wat sy met heimwee en groot intensiteit onthou. Haar moeder is ses maande ná haar geboorte onder raaiselagtige omstandighede dood. Telkens het haar vader haar weggestuur Nederland toe. Haar seun is tydens die Tweede Wêreldoorlog in ’n Japanse interneringskamp oorlede. Sy en haar man het in 20 verskillende huise gewoon – telkens moes hulle vanweë sy loopbaan verhuis.
Ja, die karakter Felicia het ook groot moeite om haar stil ingehoue verdriet te verwerk. Sy het sowel haar man as haar seun verloor; is die enigste oorlewende lid van ’n ou perkeniersfamilie. In die boek verduidelik ek dat perkeniers "landhere" was van "plase" waarop speserybome gegroei het. Dit was ’n leefwyse wat onherroeplik aan die verbygaan was. Wat Felicia troos, is haar groot liefde vir die natuur, ’n omvattende liefde vir "dinge" – veral skulpe en korale, maar ook ou geregte soos die mosselsouse wat sy maak, ’n armband, musiekinstrumente, die wind, visse, vlerkproue. Sy onthou die geluide wanneer roeispane met ’n klap op die water slaan, hoe die druppels opspat. Sy "snorkel" wanneer sy met ’n bamboes na die wêreld onderwater kyk vanuit ’n prou, ‘n soort katamaranbootjie. Sy is nuuskierig en energiek en beklim alle berge op die eiland. Sy lees met aandag hoe Rumphius eeue vantevore die skulpe en plante van Ambon beskryf het. Die grootmoeder maak vir Himpies ’n rariteitekassie terwyl hy nog maar ’n seuntjie is. Sy leer hom die name van alle skulpies wat daarin gebêre word.
Een van Dermoût se groot bewonderaars is die skrywer Oek de Jong. Hy het ’n aantal tekste uit haar bekendste werk byeengebring en ook hy beklemtoon dat die mees opvallende tema in Dermoût se lewe verlies is: steeds opnuut die verlies van mense, van dinge en plekke. Haar beskrywing van die visioen van die Klapperpalm van die See beskou De Jong as een van die mooiste fragmente in wêreldliteratuur. Deur haar ervaring en beskrywing van die oorweldigende skoonheid daarvan sien sy die "eenheid van die tienduisend dinge".
Die aansien van Dermoût se skrywerskap het reeds in haar lewe posgevat. Vertalings van haar werk versterk dit. Het jy vir jou vertaling enige van dié in ander tale geraadpleeg? Is, na jou wete, vroeër enige vertalings van haar romans of verhale in Afrikaans gepubliseer?
Veral Amerikaanse lesers was diep onder die indruk van haar skrywerskap nadat die Engelse vertaling The ten thousand things verskyn het. Selfs Time het baie aandag aan haar gegee. Ek kón seker na die Engelse en Duitse vertalings gekyk het, maar dit het nie eens by my opgekom om dit te doen nie. Ek het Dermoût in die oorspronklike Nederlands goed leer ken. Nadat ek byna 50 jaar gelede as student Nederland toe is en meer as 30 jaar lank in Nederland gewoon het, is Nederlands die taal waarin ek my naas Afrikaans die meeste tuis voel. Sover ek weet, is niks van Dermoût eerder in Afrikaans vertaal nie.
Die tienduisend dinge het ’n verraderlike eenvoud daaraan. Dit kan op meer as een manier gelees word, struktureel as verhale of as hoofstukke wat saam ’n roman vorm, is al daaroor geskryf. Dit het ook ’n verteller wat ’n bepaalde Oosterse perspektief bring na ’n verhalewêreld aan die einde van ’n koloniale tydperk. Die boek begin dan ook met ’n aanhaling van die agtste-eeuse Chinese digter T'sên Shên.
Dis waar. Dit hang miskien ook saam met allerlei orale tegnieke. Oek de Jong wys op die belangrike rol van opsommings in die boek. Op talle plekke kom ’n mens sulke opsommings teë – van enkele woorde of reëls, soms van ’n paar bladsye. Die langste opsomming is in die laaste verhaal of hoofstuk, "Allersiele". Mevrou Van Kleyntjes verenig só alles en almal uit haar lewe. Danksy die feit dat allerlei elemente uit die voorafgaande verhale in die laaste hoofstuk herhaal word, beskou ek dit as ’n motivering om die boek as ’n geheel, as ’n roman te lees. In elkeen van die verhale staan ’n moord sentraal. Kumulatief versterk hulle die rou en verdriet wat Felicia oor haar eie seun se dood het.
De Jong wys daarop dat dit veelseggend is dat Dermoût hierdie opsommingstegniek ontleen aan ’n ou klaagsang wat sy op Ambon leer ken het in die jare tussen 1910 en 1914 toe sy daar gewoon het. Die lied wat gesing is wanneer iemand sterf, was "Die honderd dinge" – die honderd dinge waarmee ’n mens se lewe herdenk word. Dit kan enigiets wees, van jou man, vrou, ouers en kinders tot besittings soos ’n porseleinbordjie, ringe aan jou hand, jou beursie, die koppie waaruit jy graag drink, die bosduif waarna jy graag luister, die wind, die baai waarna jy kyk.
Geïnspireer deur hierdie ou Ambonese klaagsang het Dermoût die tegniek van opsomming ontwikkel wat so goed by haar temperament pas. Ek dink trouens dat Karel Schoeman iets hiervan by haar geleer het. Hy het ook dikwels dinge opgesom.
Vertel asseblief van Dermoût se skrywerskap en hoe die Nederlandse boekwêreld in die vyftigerjare daar uitgesien het toe hierdie roman, haar tweede, in 1955 verskyn het?
Die 1950’s is oorheers deur die aandag wat plotseling deur die na-oorlogse jong skrywers opgeëis is, digters wat hulleself Vijftigers genoem het: Lucebert, Gerrit Kouwenaar, Bert Schierbeeck, Remco Campert. Ook die nuwe romanskrywers het stem gegee aan Nederlanders se ervarings tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hermans, Reve, Mulisch, Wolkers het hulle stemme dik gemaak teen vooroorlogse voorgangers en het die verbeelding aangegryp. Vir ’n besadigde dame van Indiese herkoms was daar min belangstelling; haar verhale oor vervloë tye het geen kans gehad om deur te dring tot die voorpunt van publieke aandag nie. ’n Mens moet onthou dat dit die tyd was toe Lucebert gedig het oor "onze gemartelde bruid Indonesia" en ’n publiek ontstaan het wat geen geduld sou hê met iemand wat juis, hoe genuanseerd ook, oor die koloniale tyd geskryf het nie.
........
Miskien is die aandag wat digters soos Ronelda Kamfer en Jolyn Phillips in hul gedigte aan ’n seewêreld en verlore tye gee, iewers vergelykbaar met wat Dermoût doen. Ook in die manier waarop Annelie Groenewald in Die skaalmodel (2016) oor die verlore wêreld van Skipskop skryf, herken ek iets van Dermoût se styl. En dan is daar natuurlik Ingrid Winterbach: háár aandag vir noukeurige en dikwels ook liriese beskrywings van die natuur, veral van skulpe, is vergelykbaar met Mevrou van Kleyntjies/ Dermoût se waarnemings wat aangevul word met beskrywings van die botanis Rumphius.
........
Dermoût het haar in De tienduizend dingen verdiep in vrae aangaande soorte skoonheid en aspekte van geweld, asook die omvormende rol van verhale. Wat aan die roman sal Afrikaanse lesers nog herken, al is dit wat tyd en plek betref, van die hedendaagse Suid-Afrika verwyder? Vind haar werk aansluiting by die werke van enige Afrikaanse skrywers?
Ook in die Suid-Afrikaanse literatuur gaan geweld en skoonheid dikwels saam, speel liefde vir die land en skuld oor gepleegde onreg ’n groot rol. Dermoût is wel baie anders as die skrywers aan wie ek nou kan dink. Ek weet dat Schoeman ’n groot bewondering vir haar gehad het en ook hy skryf baie sensitief oor verlies. Maar êrens is haar styl in die eenvoud daarvan meer eksperimenteel; by haar tref jy nie soveel deurdagtheid en deinende volsinne aan nie. Haar beskrywings bied eerder ruimte vir lesers om self aan te vul; daarvoor is al die beletseltekens daar, dink ek. Sy het ook besonder baie empatie met al haar karakters, al skroom sy nie daarvan weg om op hulle onsimpatieke eienskappe te wys nie.
Miskien is die aandag wat digters soos Ronelda Kamfer en Jolyn Phillips in hul gedigte aan ’n seewêreld en verlore tye gee, iewers vergelykbaar met wat Dermoût doen. Ook in die manier waarop Annelie Groenewald in Die skaalmodel (2016) oor die verlore wêreld van Skipskop skryf, herken ek iets van Dermoût se styl. En dan is daar natuurlik Ingrid Winterbach: háár aandag vir noukeurige en dikwels ook liriese beskrywings van die natuur, veral van skulpe, is vergelykbaar met Mevrou van Kleyntjies/ Dermoût se waarnemings wat aangevul word met beskrywings van die botanis Rumphius.
Die roman word bevolk deur verhale. Spoke bly gesels met die lewendes. Stories lewe voort. Daar is iets elegies sowel as troosryk aan die roman. Watter aspekte bly jou by en hoekom?
Ek verwys graag weer na wat Pamela Pattynama gesê het, dat, in weerwil van die onverbiddelike verbygaan van tyd en die postkoloniale moderne staat Indonesië, die ou Nederlands-Indië tog steeds bestaan, in verhale: "Het is een Indië dat, bezield door de evocatieve kracht van de taal, leeft en vóórtleeft."
Iets wat my baie aanspreek in De tienduizend dingen is die manier waarop Dermoût en haar karakters, ondanks alle verdriet, in hulle lot berus. Deur die oorvertel van verhale bly oorledenes aanwesig in die wêreld van die lewendes, veral ook deur die ritueel van Allersiele wanneer mevrou Van Kleyntjes alleen op die strand langs die baai sit en aan almal dink wat daardie jaar vermoor is. Eers dan gaan sy weer huis toe, drink ’n koppie koffie as troos en gaan voort met haar eie lewe.
Dit het Dermoût opgeval dat die plaaslike bevolking van Nederlands-Indië deur Hindoeïsme en ook Boeddhisme gevorm is om hulle lot te aanvaar. Nie net is hulle swaar onderdruk deur inlandse vorste nie (dink maar aan die verhaal van Saïdja en Adinda in Multatuli se Max Havelaar), maar uiteraard ook deur die sisteem van Nederlandse koloniale oorheersing en die na-oorlogse "politionele acties".
Self kon Dermoût nie so "ontheg" wees as mevrou Van Kleyntjes nie. Angs en onsekerheid, ook oor haar eie herkoms, het haar lewe bepaal. Oek de Jong verwys na Dermoût se dagboeke waarin dikwels twee stemme opklink: ’n teleurgestelde, bedroefde, opstandige en verlangende stem aan die een kant, en aan die ander kant die stem van iemand wat haarself met aanhalings uit wysgerige en religieuse poësie tot kalmte maan. Die motto’s in Dermoût se romans spreek daarom boekdele, veral die aanhaling uit TS Eliot se gedig "Ash Wednesday" wat sy gebruik vir Nog pas gisteren: "Teach us to care and not to care." Die lewenshouding wat hiermee uitgedruk word, is dat jy wel diep moet omgee vir mense en al die dinge om jou, maar jou ook nie te veel daaraan moet heg nie; jy moet tegelykertyd sorgsaam wees én sorgeloos, sorgvry. Teenoorgesteldes, lig en duisternis, geluk en ongeluk, lewe en dood, weeg ewe lig en ewe swaar, sou ideaal gesproke in ’n soort ewewig moet wees. Sowel fisieke as psigiese wreedheid en geweld is naas liefde en rus dan ook altyd in Dermoût se lewe en werk aanwesig.
Dermoût het haarself ’n verteller eerder as skrywer geag. Wat verstaan jy onder hierdie onderskeid wat sy getref het?
Ek dink nie Dermoût is valslik beskeie wanneer sy verkies om verteller genoem te word nie. Sy het met toewyding aan haar manuskripte gewerk, het trouens al vroeg in haar lewe enkele verhale in tydskrifte gepubliseer, wat op skryfambisie dui. Maar bo alles wou sy verhale vertel: individue s’n wat sy uit alle lae van die destydse koloniale samelewing leer ken het. Ek dink sy kry dit uitmuntend reg. En dis fantasties dat Afrikaanse lesers nou ook makliker toegang tot hierdie verhale het. Danksy Protea en die Nederlands Letterenfonds.
Verskil die wyses waarop Die tienduisend dinge tot jou as vertaler, leser en as letterkundige spreek?
Toe ek jare lank baie met die Nederlandse vertaler Riet de Jong-Goossens gesels en na haar werk gekyk het, het ek dikwels besef hoe noukeurig sy lees. Dis ook my ervaring – woord vir woord moet jy nadink en keuses maak. Daar’s geen uitkomkans as jy iets nie goed verstaan nie; jy kan nie sommer "daarbo-oor" lees nie. Soos gesê, ek het Dermoût se werk as leser en letterkundedosent oor ’n tydperk van ongeveer 20 jaar goed leer ken. Hierdie vroeë ervaring is deur die vertaling absoluut geïntensiveer. Dit was vir my ’n groot voorreg om dit te doen.
- Die tienduisende dinge sal van die tweede helfte van April in die handel beskikbaar wees.