Gent-Universiteit hang solank die vlae uit vir Antjie se koms

  • 0

Die Universiteit van Gent in België het onlangs aangekondig dat Antjie Krog in Oktober en November 2021 as die eerste literêre gasskrywer deur dié instelling ontvang gaan word. Die universiteit bejeën hul gasskrywers as ’n “kreatiewe inspirasiebron” wat impetus gee aan “kritiese refleksie”-skryfwerk en die uitdagings waarmee die wêreld te kampe het.

Benewens tyd en ruimte om aan haar eie skryfprojekte te werk, gaan Krog tydens die verblyf deelneem aan optredes, gesprekke, lesings en onderhoude waartoe studente, akademici en die publiek toegang sal geniet. Voordat sy in Oktober by Gent aandoen, sal Antjie ’n draai by die Universiteit van Leiden maak om onder meer klas te gee en die Albert Verwey-lesing aan te bied.

Yves T’Sjoen (foto: Naomi Bruwer) en Louise Viljoen (foto: Liné Loff)

Volgens Yves T’Sjoen, hoofdosent in die Afdeling Nederlands van Gent-Universiteit se Vakgroep Letterkunde, word daar “reikhalzend” na Krog se besoek uitgesien. “Wij willen onze schrijversgasten genereus onthalen en de beste condities bieden voor het creatief proces en de geplande evenementen. Schrijven begint bij het denken en een stimulerende omgeving zal daar beslist toe bijdragen.” Tydens die besoek sal Antjie in die hart van die universiteitstad in die huis van Berlinde de Bruyckere, ’n internasionaal gerekende beeldhouer, tuisgaan.

“Dit is my indruk dat poësielesers en -gehore in die Lae Lande as ’t ware ‘geskroei’ word deur die wit hitte wat opslaan uit Krog (én ander Afrikaanse digters) se werk.”

Antjie Krog se gewildheid in die Lae Lande kom al ’n lang pad. Louise Viljoen, afgetrede professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, vertel dat sy in 2019 as besoekende dosent aan Gent-Universiteit opnuut onder die indruk gekom het van hoe hoog Krog daar aangeslaan word. “Dit is my indruk dat poësielesers en -gehore in die Lae Lande as ’t ware ‘geskroei’ word deur die wit hitte wat opslaan uit Krog (én ander Afrikaanse digters) se werk.”

Viljoen sê dat Nederlanders en Belge “verbyster” is deur “die passie en intensiteit” waarmee Krog met die vraagstukke van Suid-Afrika omgaan. In haar loopbaan as literêre navorser het Viljoen dikwels op Krog se werk gefokus en haar boek Ons ongehoorde soort: Beskouings oor die werk van Antjie Krog het in 2009 die lig gesien.

Hierdie LitNet Akademies-artikel, “Antjie Krog as kulturele bemiddelaar: aspekte van haar skrywerspostuur in die Lae Lande”, ontleed juis Krog se internasionale statuur as skrywer.

“Antjie Krog wordt geroemd en valt in de prijzen in de Lage Landen, vooral in Nederland.”

Met ’n gevestigde aanhang en steeds groeiende internasionale reputasie is Krog goed geplaas om haar stem as pleitbesorger vir groter samewerking tussen Suid-Afrika en die Lae Lande te laat hoor. “Antjie Krog wordt geroemd en valt in de prijzen in de Lage Landen, vooral in Nederland,” sê Yves T’Sjoen. “Nog niet zo lang geleden ontving zij als buitenlands auteur de prestigieuze Gouden Ganzenveer. Het gastschrijverschap zal ons en haar toelaten de banden te verstevigen en het intercontinentaal gesprek over Zuid-Afrika, over Afrikaans en Nederlands, te voeren.”

Volgens Louise Viljoen is daar ’n handvol Afrikaanse skrywers wie se internasionale statuur hulle as “kulturele bemiddelaars” posisioneer: Breyten Breytenbach, André P Brink, Marlene van Niekerk, Etienne van Heerden en Deon Meyer.

“Ongetwyfeld Breyten Breytenbach, wie se The confessions of an albino terrorist van 1984 wêreldwyd gelees is en as ’n klassieke werk in die lang tradisie van gevangenisliteratuur beskou word. André Brink was die ander Afrikaanse skrywer wat wêreldwyd gelees is, omdat sy werk in ’n verskeidenheid tale vertaal is, veral sy roman ’n Droë wit seisoen van 1978. Daarnaas is Marlene van Niekerk se romans Triomf en Agaat van Afrikaans se beste ‘uitvoerprodukte’ (as ’n mens dan nou in sulke kommersiële terme daarvan moet praat): Beide die romans, maar veral Agaat, is wyd vertaal en het aan haar ’n benoeming vir die Man Booker International Prize in 2015 besorg. Etienne van Heerden is eweneens ’n Afrikaanse skrywer met internasionale statuur, en so ook Deon Meyer, wie se misdaadfiksie wêrelwyd gelees word en wat al talle internasionale pryse vir die genre verower het.”

Gent, die universiteitstad waar Antjie Krog in Oktober en November as gasskrywer ontvang sal word. (Foto: Pixabay)

Die verskyning van Country of my skull in 1998 het ongetwyfeld momentum aan die ontwikkeling van Krog se internasionale statuur gegee, maar sy was reeds voor dié publikasie bemind as Afrikaanse digter in die Lae Lande. “’n Navorser soos Anthea Garman meen dat Country of my skull op presies die regte tyd verskyn het om van haar ’n internasionaal bekende skrywer te maak,” sê Viljoen, “omdat daar in daardie stadium wêreldwyd groot belangstelling in die werk van waarheidskommissies was en ook in outobiografiese literatuur waarin skrywers hulle persoonlike ervarings weergee.”

Voor 1998 het Krog egter reeds haar toetrede tot die skrywerstoneel van die Lae Lande gemaak, waar sy entoesiasties ontvang is as ’n uitstekende digter en voordrag- of podiumkunstenaar wat terselfdertyd ook ’n politieke aktivis was, vertel Viljoen. “Sy het naamlik in 1992 by Poetry International in Rotterdam opgetree en daar aandag getrek vir die krag van haar digkuns, haar intense manier van voorlees en haar politieke uitsprake oor die nodigheid van ’n demokratiese bestel in Suid-Afrika.”

’n “Vervlegting van faktore” het bygedra tot haar steeds groter wordende bekendheid en statuur in Nederland. “Nederlandse vertalings van die koerantartikels wat later in Country of my skull opgeneem sou word, is reeds in 1996–1997 in Vlaandere gepubliseer, maar ’n vertaling van ’n seleksie van haar gedigte is in Nederland gepubliseer (Om te kan asemhaal, 1999), ’n jaar vóórdat die vertaling van Country of my skull (as De kleur van je hart, 2000) verskyn het.”

Viljoen wys verder op sleutelmomente in Krog se skrywerskap wat dikwels ook draaipunte in haar loopbaan verteenwoordig en wat telkens haar groeiende statuur na ’n volgende vlak geneem het. “Die eerste sleutelmoment was natuurlik die publikasie van haar debuutbundel, Dogter van Jefta, in 1970, wat as ’t ware voortgekom het uit die negatiewe publisiteit oor haar gedigte in haar skool se jaarboek.”

’n Tweede sleutelmoment was die publikasie van Krog se vyfde digbundel, Otters in bronslaai, in 1981. “Die sterk feministies-politiese wending daarin het haar werk na ’n nuwe vlak geneem, en dit was die voorloper van haar sterk politiese bundels daarna.” Vir Viljoen markeer die publikasie van Country of my skull ’n derde sleutelmoment: “Alhoewel dit vooruitgeloop is deur haar eerste prosateks, Relaas van ’n moord van 1995, was dit haar eerste boek in Engels wat gelei het tot ’n reeks soortgelyke boeke in die taal.

“Verder dink ek die publikasie van Met woorde soos met kerse in 2002, waarin sy die beste gedigte in Suid-Afrika se ander inheemse tale in Afrikaans vertaal het, was ook ’n sleutelmoment. Alhoewel dit nie haar eerste vertaling was nie, was dit die boek wat haar oopstelling vir die ‘interverbondenheid’ met die ander inwoners en poëtiese tradisies van Suid-Afrika bevestig het. Dit het ook die etos van haar werk as vertaler en haar betrokkenheid by vertaalprojekte saamgevat.”

"Zij komt naar de Arteveldestad, aan de samenvloeiing van Leie en Schelde, om aan haar schrijfprojecten te werken, om onze musea te bezoeken en het Lam Gods te bewonderen ..."

Vir Gent-Universiteit is samewerking met Afrikaanse skrywers besonder betekenisvol. “Ik hoef het hier niet te hebben over de leerstoel Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij, of over het Gents Centrum voor het Afrikaans en de Studie van Zuid-Afrika. Over Breyten Breytenbach als doctor honoris causa van de UGent en het jaarlijks symposium voor Afrikaans en Zuid-Afrika,” verduidelik Yves T’Sjoen.

T’Sjoen kan sy entoesiasme kwalik verbloem wanneer hy vertel van Krog se besoek later vanjaar: “De aanstelling van Antjie is een universiteit-breed initiatief, niet gekoppeld aan een vakgroep of een faculteit. Zij komt naar de Arteveldestad, aan de samenvloeiing van Leie en Schelde, om aan haar schrijfprojecten te werken, om onze musea te bezoeken en het Lam Gods te bewonderen, mensen te ontmoeten, indrukken op te doen.”

Om Krog, wat in 2022 sewentig word, se supergewildheid te verklaar is egter nie moeilik nie. Louise Viljoen waag dit: “Om reg te laat geskied aan so ’n vraag sal waarskynlik ’n hele tesis verg. Laat ek maar net sê dat ek dink dit is die intensiteit, die hartstog en die gevoel van ’n eerlike en integere worsteling met dit waaroor sy besig is om te skryf, wat lesers vasgryp. Daarbenewens is dit die toegewyde poging om aan dit wat sy ervaar, vorm te gee in taal – dit lei tot voorbeelde van die mees oorspronklike en opwindende taalskepping wat jy maar kan wens om mee gekonfronteer te word in enige taal.”

"As skrywer daag sy ’n mens as leser voortdurend uit om jou eie grense te versit, nuut te dink oor bepaalde kwessies en jouself te transformeer."

En hoe voel dit vir ’n letterkundenavorser van Louise Viljoen se statuur om deurlopend deur Antjie Krog se oeuvre gestimuleer en uitgedaag te word?

“Dit is inderdaad so dat ek Antjie Krog se werk lees vandat ek ’n student is en ’n blywende fassinasie daarmee het. Ek het in die inleiding tot Ons ongehoorde soort gesê dat so ’n versameling opstelle eintlik ’n outobiografie is van die skrywer daarvan en dit is inderdaad so. As skrywer daag sy ’n mens as leser voortdurend uit om jou eie grense te versit, nuut te dink oor bepaalde kwessies en jouself te transformeer. Ek het sedert die verskyning van daardie boek ’n hele aantal verdere opstelle oor haar werk geskryf, wat ’n aanduiding is van die manier waarop haar werk my voortdurend uitdaag.”

Lees Louise Viljoen se LitNet Akademies-artikel, “Antjie Krog as kulturele bemiddelaar: aspekte van haar skrywerspostuur in die Lae Lande”, hier:

Antjie Krog as kulturele bemiddelaar: aspekte van haar skrywerspostuur in die Lae Lande

Antjie Krog gesels met Melt Myburgh oor haar versdrama Met die oog op môre:

Antjie se oog op môre

Kyk na Antjie Krog se toespraak by die ontvangs van die Hertzogprys in 2017:

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top